Forums
Terwyl dit nou redelik stil is hier op Kampforum, dink ek dit kan nogal interessant wees om te luister na interessante stories wat in die Wildtuin ervaar is en wat 'n blywende indruk vir jare gelaat het. Verskoon tog maar vir die ouens wat geen erg daaraan het om in 'n wildtuin te gaan rondry en wild in die bosse te gaan soek nie. Skep gerus nog 'n gesprekslyn van soortgelyke stories by ander vakansie-bestemmings.
Tsendze se olifant
Ek het gisteraand met Rodger gepraat. Dit klink of hy darem hulp gehad het om die olifant by die hek uit te kry. Die sein was effe swak, maar dit het geklink of Elina [?] op 'n stadium vinnig moes hardloop tydens die gebeure.
Pretoriuskop
Alhoewel ek lief is vir Pretoriuskop as kamp, is ek nie baie gek oor die omgewing nie. Dit is bekend dat die veld in die omgewing van Pretoriuskop redelik suur is en die bykans oorheersende dekgras (ook Tamboekiegras genoem) wat tot 1,8 meter hoog groei tydens blomtyd is nie gewilde weiding vir grasvreters nie - behalwe vroeg in die groeiseisoen. Die oorheersende boom in die omgewing is die vaalboom wat meestal oneetbaar is vir wild. Gevolglik is wildbesigtiging nie so goed soos in ander dele van die wildtuin nie.
Pretoriuskop (die kamp) het ‘n bepaalde persoonlike nostalgiese waarde vir my. Ek dink die feit dat dit die eerste kamp was waar ek en beterhelfte gesamentlik oorgebly het tydens haar eerste besoek aan die wildtuin, dra by tot hierdie nostalgie. Maar die kamp het ook ‘n voorkoms van kalmte. Dit was die eerste ruskamp in die wildtuin enkele jare na die proklamasie van die park. Tot vandag is dit die enigste kamp waar daar nog uitheemse bome staan. Die flambojante en bougainvilleas vertoon pragtig in die blomtyd. Die hele kamp was op ‘n tyd deel van die plaaslike veldwagter se tuin en genoemde plante is aangeplant voordat daar reëls daarteen was. Die parkbestuur het besluit dat hierdie bome en struike om historiese redes toegelaat moet word om hulle lewens klaar te leef. (Hierdie inligting is uit David Paynter se “Die Krugerwildtuin in Woord en Beeld” bekom).
Tot vandag toe – as ek ‘n kwêvoël sien, of ‘n gewone vleiloerie, kom Pretoriuskop dadelik in my kop. As Bolander, wat nie kwêvoëls geken het nie, was dit die eerste kamp waar ek van hierdie mooi voël bewus geword het. En die Faai-ompad om die kamp het my eerste gewone vleiloerie opgelewer.
Sedert my rekordhouding (vanaf 1987) het ek net 13 nagte in Pretoriuskop oorgebly – en tot my skande moet ek sê dat ek nog nooit daar gekamp het nie. Dié kamp beskik oor 134.7 km toeristepaaie wat binne my kriteria van 75 km val. Ek het al ‘n totaal van bykans 1 239 km op dié paaie gery. Ek kan geen paaie uitsonder in dié omgewing nie, maar het al besondere “sightings” gehad waaronder my eerste (van slegs twee wat ek nog in die wildtuin gesien het) rooikat langs die Voortrekkerpad (H2-2) naby aan die kamp. En dan bly dit maar vir my spesiaal om ‘n witkwasjakkals te sien. Laasgenoemde het ek naby die Albasiniruine gesien – nog voordat die Phabenihek opgerig is. Dan het ek ook ‘n eerste en enigste belewenis naby Pretoriuskop ervaar deurdat ‘n leeu my heel eerste “sighting” in die wildtuin was toe ons by Numbi ingegaan het.
Met die baie rotsagtige koppies rondom Pretoriuskop is dié ‘n uitstekende omgewing om klipspringers te sien. Dit is ook ‘n goeie omgewing vir duikers, koedoes en rietbokke. Ekself was nog nooit besonders gelukkig met witrenosters waarvoor die omgewing eens bekend was nie. Ek het jare gelede, voor my rekordhouding, ‘n troppie elande noord van Numbihek (naby die Mesteldam) gesien. Ek was baie verbaas en synde ons op pad was om by Numbihek uit te gaan, het ek vir die hekbestuurder gevra of my oë my nie verneuk het nie, want die elande was redelik ver van die pad af. Hy’t my meegedeel dat die elande as ‘n proefneming vanaf die noorde gebring is om te sien of hulle daar sou bly en aanteel. Ek wonder tot vandag toe wat die uitslag van die eksperiment was.
In die geheel gesien is Pretoriuskop egter (in my ervaring) ver onder die gemiddeld t.o.v. wildbesigtiging. Ek het ‘n spesifieke (onwetenskaplike) formule hoedat ek dit meet. As die gemiddelde wildbesigtiging vir die wildtuin ‘n faktor van 100 is, kry Pretoriuskop ‘n punt van 67.7 Ek sal later die onderskeie kampe se punte-gradering verskaf. Op die stadium kan ek egter noem dat die enigste kampe wat meer as die faktor-gemiddeld van 100 kry (volgens my onwetenskaplike formule) is Tsendze/Mopani, Onder-Sabie, Krokodilbrug, Berg-&-Dal/Malelane, Satara, Shingwedzi en Punda Maria. Maar soos reeds genoem – later meer hieroor.
My dogter en skoonseun het ook ‘n groot affiniteit met Pretoriuskop en omgewing. My skoonseun, wat glad nie die wildtuin geken het nie, het dié area leer ken toe hulle by Africa School of Missions (ASM) tussen Witrivier en Numbihek studeer het. Alhoewel hulle in Roemenië woon, is hy 'n wildtuin-verslaafde. ASM was slegs 21 km vanaf hulle blyplek waar hulle vir 3 jaar gewoon het en hulle het gereeld wildtuin toe gegaan op dagbesoeke. Ek kan amper nie glo hoe gelukkig hulle met die groot katte in dié omgewing was nie, want ek het nog maar selde ou vuilbaard en sy familie daar raakgeloop.
Terwyl ek hier tik, hunker my hart na Pretoriuskop. Dit is dalk tyd dat ek dalk ‘n slag daar moet gaan kamp.
Pretoriuskop is tops !
Dankie ChrisB, ek stem saam dat hierdie tog 'n unieke kamp is, al is die wildbesigtiging swakker as baie ander kampe, maar tog duik heerlike interessanthede op. Ons kamp altyd heerlik in die kampeerterrein. Die verskillende paadjies en koppies is 'n heerlike ervaring.
Punda Maria
My eerste besoek aan Punda Maria was in die laat 70’s saam met die “sirkus”. Ek het ‘n militêre kamp bygewoon, waartydens ons o.a. ‘n paar dae by Madimbo militêre basis (tussen Thipise en Pafuri-hek, op die oewer van die Limpoporivier) gebly het. Die primêre doel was om sekere vliegvelde in die wildtuin te verken wat moontlik beskerm sou moes word met lugafweer verdediging in die tyd van Zimbabwe/Rhodesië (toe Abel Muzorewa nog die leier was). Pafuri was toe nog nie ‘n amptelike hek nie. Ons het die eerste dag die een vliegveld noord van die Luvuvhurivier verken. Dit was die eerste (en enigste) keer wat ek met ‘n R1 geweer (met lewendige ammunisie in die magasyn) in die wildtuin rondgeloop het. Ek en nog drie ander manne het die area noord van die huidige teerpad verken. Gelukkig was dit nie nodig om ons ammunisie te gebruik nie. Ons het net ‘n paar bobbejane en vlakvarke teengekom.
Die volgende dag het ons ‘n vliegveld, suid van die teerpad na Punda Mariahek, verken. Ek was ‘n Bedford-bestuurder en moes ‘n paar manne buite die wildtuin gaan aflaai om die area wes van die vliegveld te verken – en het toe nie die geleentheid gehad om weer te voet in die wildtuin te loop nie. Daardie middag het ons ‘n braai in die Punda Maria kampeerterrein gehad – my eerste besoek aan dié kamp.
In die vroeë 80’s (my Tzaneen-dae) het ek vir die eerste keer in Punda Maria oorgebly. Sedert rekordhouding in 1987 het ek reeds 27 aande in die pragtige kamp spandeer – die meeste gekamp (waar ek o.a. die eerste keer vir Len in die wildtuin raakgekamp het).
Punda is die kamp wat die naaste aan een van die mooiste dele van die wildtuin, te wete Pafuri, geleë is. Die piekniekplek by Pafuri is na my mening ongetwyfeld die mooiste piekniekplek in die wildtuin. Maar in my persoonlike standaarde is dit té ver om te ry. Ek het wel die paaie in die Pafuri-omgewing minstens drie keer gery deur myself te dwing om só ver op ‘n dag te ry. Die paaie wat binne my 75 km kriteria is (vanuit die kamp en weer terug), beloop ‘n afstand van 105 km. Ek het al ‘n totaal van 1 173 km (uitgesluit die ekskursies na Pafuri) op hierdie paaie gery. Maar die oorgrote meerderheid van hierdie kilometers was op die S99 (die Mahonie Ompad), want dit is amper die enigste pad wat ek daar ry. As ek dit die oggend kloksgewys ry, sal ek dit die namiddag in die teenoorgestelde rigting ry. Mooi troppe buffels en olifante, baie njala’s en kort-kort tropiese grysbokke is redelik algemeen. En ek het al van my mooiste wildehond “sightings” op hierdie pad gehad. ‘n Ander paadjie waarvoor ek ook lief is, is die S98, oftewel die Thulamilapad.
Die watergat voor die kampeerarea is ‘n populêre drinkplek vir groot troppe buffels en olifante. Njala’s koedoes en rooibokke kom bykans reg deur die dag by die watergat voor. Diegene wat bereid is om snags geduldig te wag, word dikwels beloon met luiperd “sightings” by die watergat. Ongelukkig het Punda Maria (blyk dit my) meer blou-ape as mense. Hulle is ‘n meeste kampe maar lasposte, maar ek dink Punda wen die prys.
Ons het een aand, na ons tent-vakansie in Shingwedzi, in een van Punda se safari-tente oorgebly. Daardie aand het ons op ‘n stadium 4 grootkol muskeljaatkatte by die tent gehad asook ‘n nagaap (“bushbaby”). Laasgenoemde was so “hans” dat hy sommer teenaan Ralie, terwyl sy skottelgoed gewas het, in die klein asblik langs die wasbak kom loer het wat te aas is.
Punda Maria is ‘n uitstekende omgewing vir njala’s, grysbokke en wildehonde. Dit is ook ‘n baie goeie omgewing vir duikers en koedoes en ‘n goeie area vir luiperds, bosbokke, koedoes en vlakvarke.
Punda
jip, ek stem, Punda het 'n vreemde bekoring al is die kampie effe bar. Net dalk pak die lus my weer om soheentoe te sleep. Koffie drink by Klopperfontein is ook 'n aangename herrinnering
Klopperfontein
Ek het ook mooi herinneringe aan Klopperfontein. Daar het ek vir die eerste (en enigste) keer gesien hoedat 'n grootwitreier ook kan swem toe hy regdeur die dam geswem het. Ek het nie besef dat reiers ook soms swem nie.
Punda was vir 'n geruime tyd.............
............een van my voorkeur kampe, maar dit het te populêr geword en is tans heeltamal "oorbevolk" van kampeerders.
Klopperfontein was altyd vir ons 'n belewenis. Eenkeer stop ons by die dam en ek sit en wag om 'n foto te neem van twee seekoeie wat voor ons in die water stoei. En skielik staan daar 'n ou groot olifant reg langs ons om rustig te kom water drink. My vrek geskrik.
Nog leeus ontsnap uit Kruger Wildtuin
Ek sien vanoggend 'n persverklaring van SANParke dat 'n trop leeus uit die Wildtuin ontsnap het en gesien is in die area van Ngwenya Lodge, langs die Krokdilrivier naby Krodilbrug-kamp. Hulle is blykbaar deur ander leeus uit hul area verjaag. 'n SANParke helikopter en grondpersoneel probeer hulle terug jaag in die Wildtuin in.
Ek wonder of hulle ook verplaas sal word na die noorde van die Wildtuin want daar was 'n groot bohaai oor die ander trop wat daarheen verskuif is. Die bohaai gaan daaroor dat wild op grootskaal in die noorde vergiftig of gestroop word.
Leeus
Leeus waarvan oom Len praat
Ngwenja
Ngwenja is vandag, op my oorlede skoonpa se plaas genaamd," Whisky". Wegloop leeus het in sy dae taamlik skade gedoen op die beeste. Sy benadering was effe minder diplomaties, maar 100% effektief.
Hier erens is ń foto of twee wat geneem is van hom en die loslopers. Sal liefs nie fotos plaas nie, netnou word daar lelike dinge van hom gesê, ek was baie lief vir die ou rowwe man.
Marloth Park se diere kry swaar
Dis nie ver van Ngwenya (of die Krugerwildtuin) af nie, en ek het nou die aand die Carte Blanche insetsel hier onder gekyk so ek deel dit maar hier.
Pretoriuskop
Ge"copy & paste" van Kruger history se facebook blad
Pretoriuskop was the first camp that was developed from scratch, unlike most of that time which had a camp develop at a ranger station, eg Satara and Letaba. For the early phase of tourism, this mwas therefore the flagship rest camp for many years! The first accommodation was established in 1928 and was the wattle-and-daub, being wooden structure of poles with wooden strips (latte), daubed with clay or mud and a thatch or straw roof. Walls were finished with white-wash. This style often attracted termites, ants and other vermin and by 1930 the Selby Style was chosen with concrete or brick-and-mortar walls, initially no windows, a space between roof and walls for ventilation and a a peep-hole in the door to check for safety. In 1930 it was reported that four 20-feet huts were built in addition to the four rondavels alreay in place. In 1931 all huts were provided with windows. This area behind the restaurant, would subsequently be referred to as the ‘old camp’ and included current bungalows 63 – 70, 103 – 108, 135 & 136 and of course the old Wolhuter hut museum (which was of the wattle-end-daub style).
During these early development years, there were divergent views on how tourism should be conducted and what facilities were to be provided. On architect G Moerdyks suggested plans for Pretoriuskop the Board Chair, Judge de Wet, was unimpressed and considered items such as “septic tanks, trading premises, a dining room, etc. superfluous and unwarranted”.
Being the only camp at the time that was open during summer, the need was identified to make the camp more attractive during the hot summer months and after the chronic water provision challenges were addressed, the project could proceed. During 1955, Rembrandt Tobacco Manufacturing donated £1 500 (=R3 000) towards construction of a swimming pool and it, with change rooms and kiosk, was officially opened on 6 December 1956.
Dankie ...
... vir daardie stukkie geskiedenis Geert.
Geert.
Baie dankie vir die intersante geskiedenis
Lekker gelees, dankie Geert
Interessante ontstaan van die kamp. Ek kan net nie onthou dat ons ooit as kinders saam met my ouers in Pretoriuskop tuisgegaan het nie en het al baie hieroor gewonder (soos ook oor ander kampe wat redelik na aan die grense is). Ons het wel een aand in Orpen oornag en dit was waarskynlik omdat dit die enigste plek was wat ingepas het tydens 'n vakansie.
Indien Pretoriuskop die naaste kamp binne bereik is slaap ons baie graag daar oor, al sien ons minder diere in die omgewing.