TO
galago private bush lodge
Zaagkuilsdrift
Sionbergh

 

 nuwe onderwerp graderings

89429 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Die niks doen van Chris en… Karoo Nasionale park Lapskag -3 hours ago
Donkiemedisyne Vriendelike debat voering. Len Loader -5 hours ago
Nou kan ek bewys ek lees… Vriendelike debat voering. Johann L -5 hours ago
Willem... Vriendelike debat voering. Len Loader -5 hours ago
Arie, dalk so bietjie vroeg… Vriendelike debat voering. Johann L -5 hours ago
Chris daai berg kwaggas is… Karoo Nasionale park Johann L -5 hours ago

Die Boucher's en die Krugerwildtuin 2021

Kleinmond
Submitted byChris Boucher onThu, 10/12/2020 - 16:02
Forums

Synde Len nou sy draad begin het - en ek nie met my vooruitsigte en beplanning sy draad wil besoedel nie, het ek dit goedgedink om hierdie te begin.

Eerstens hou ons styf duime vas dat alles gaan realiseer. Ek het my 65ste verjaarsdag in Punda Maria gevier in 2019 en as alles volgens plan verloop sal my 67ste volgende jaar weer in Punda gevier word.

Ons beplan om reeds op 15 April hier te vertrek. En ek wil 'n totaal en al ander roete ry as die normale - dit is nou die gedeelte tot Colesberg. Ons kortste pad tot waar ons by die N1 buite Worcester aansluit is via Villiersdorp. Om dié ellendige stuk pad tussen die N2-afdraai tussen Botrivier en Caledon tot naby die Brandvleidam uit te skakel, het ek in 2019 oor Sir Lowryspas gery en vanaf Klapmuts N1-langs gehou. Ons eerste aand was tot by Goudini Spa. Volgende jaar beoog ek om N2-langs te hou tot net anderkant PE en dan eers binnelands te swaai om met die N10 via Cradock en Middelburg te ry alvorens ons by Colesberg by die N1 aansluit.

Ons is baie lief vir ATKV Hartenbos, maar ek het nou-al soveel goeie dinge van Dibiki verneem dat ons besluit het dat dit dalk tyd is om laasgenoemde te beproef. Ek wou vir 6 aande daar bly, maar hulle het 'n 7-nag spesiale aanbod vir pensioenarisse wat inderwaarheid goedkoper uitwerk as wat ons vir slegs 6 nagte sou oorstaan.

Dan mik ek om iewers naby PE (dalk The Willows) oor te bly vir 'n paar aande en daarvandaan deur te druk na Colesberg voordat ons weer ons redelik normale roete sal volg.

Ons skop af in Punda Maria op 3 Mei. Ek oorweeg dit ernstig om 'n aand of twee by Forever Tshipise oor te staan alvorens ons by Pafuri-hek ingaan.

Worcester

Wildehont

Fri, 23/07/2021 - 20:58

Ek is bly julle (wat nou die dag gatvol was vir Kruger) is al weer so lus dat julle al weer oppad daarheen is. Ons het in April 2016 in ‘n rondawel met ‘n uitsig by Olifants gebly vir ‘n week. ‘n Sakspinnekop het vir Salomien gebyt en ons is uit Phalaborwa toe vir antibiotika. Sonder my vooraf medewete vra sy toe ook ‘n swangerskapstoets aan, en daar vind ons uit Kara is oppad. Oppad terug Olifants toe sien ons ‘n pofadder wat ‘n likkewaan vreet.
 

Ek verneem Worcester is woes koud tans. Hier in Shingwedzi was die weer vandag so wispelturig soos ‘n vrou. Ons moet seker regmaak vir wat wag oor net meer as ‘n week...

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 24/07/2021 - 09:58

Lekker 🔥 🍷 👍

Ek sal ook nie terug verlang nie.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 28/07/2021 - 19:54

Hallo Chris !  Ek aanvaar die Bouchers is terug by hulle "huis" by Eiland Spa na hulle heen-en weertjie KNP toe.  Hoe het dit toe gegaan, wildgewys en sinkplaatpaaie ?

Ek stel voor jy pas die opskrif van die draad aan om ook vir julle kampeerdery by Eiland Spa voorsiening te maak.

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 28/07/2021 - 19:57

.... nee, ek is eers vanaand in Olifants. Ek sal sodra ek weer rustig by Eiland is. Ons ry môre terug.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 28/07/2021 - 20:12

Ek het van die aand by Olifants vergeet !  Ek sal maar geduldig wag tot môreaand.

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 30/07/2021 - 11:36

Ons is terug by ons kaia by ('n winderige) Eiland Spa na 'n fantastiese 2 dae in die wildtuin. Net toe dit lyk of ons meer tipiese warm winter-Laeveldweer gaan kry, na 'n paar koeler dae, word ons vroegoggend wakker met 'n bykans ongekende suidoostewind wat waai. Die oord is besaai met mopanieblare.

Nietemin, ons is Woensdagoggend teen ongeveer 7:45 hier weg. 'n Minimale paar goedjies is vinnig ingepak vir ons 1-nag ekskursie wildtuin toe. Maar ongelukkig het 'n baie belangrike komponent vir 'n wildtuinbesoek vergete agtergebly by die karavaan, naamlik my lekker Pentax verkyker wat ek spesiaal vir vanjaar se wildtuinvakansie aangekoop het. Dit was 'n groot fout, maar ons het dit oorleef.

En soos Chris WH reeds genoem het, het ons mekaar toe tussen Mica en Hoedspruit gekruis. Na 'n lekker koffie en toebroodjies is ons ongeveer 10:40 uit Orpen uit. Ek besluit toe om wel die S39 aan te pak. En gou-gou het ek agtergekom dat Chris WH nie oordryf het oor die toestand van die suidelike gedeelte van die S39 nie. Die noordelike deel was egter in 'n goeie toestand. Ons was bederf met uitstekende wildbesigtiging op die hele S39 - weliswaar niks van die "exciting" goed wat ons almal graag wil sien nie, behalwe 'n leeuwyfie wat gedoen het wat leeus die grootste gedeelte van die dag goed kan doen, naamlik slaap. Maar algemene wild soos rooibokke, kameelperde, blouwildebeeste, waterbokke en bontkwaggas het om bykans elke draai gewag.

Ons was omtrent 16:45 in Olifants waar rondawel no. 5 aan ons toegeken is. Ons het 'n uitstekende uitsig oor die Olifantsrivier gehad.

Wildtuin

Wildtuin

Wildtuin

Na 'n lekker braai die aand, waartydens 'n muskeljaatkaat kort-kort kom loer het of die vleis nog nie gaar is nie, het ons maar vroeg gaan inkruip.

Donderdagoggend is ons net voor 07:30 uit Olifants weg. Maar skaars 'n kilometer uit die kamp besef ek dat ons nie die rondawel se sleutel ingehandig het nie. Omdraai was dus ons voorland.

Met die terugreis Orpen toe het ons besluit op 'n alternatiewe roete wat ons ook jare laas gery het. Ons neem toe die S92 na Balule. Alhoewel die pad pas geskraap is, het ek maar weereens besef dat ek bly by my voorneme om nie gruispaaie met my 28-jarige ou waentjie te ry nie. Balule sal dus maar altyd (ongelukkig) een van die kampe wees wat nie op my radarskerm sal verskyn nie. Ons is op die laagwaterbrug by Balule deur hierdie pragtige (en geensins inkennige) reuse visvanger begroet.

Wildtuin

Vandaar het ons op die S90 gebly totdat dié pad by die H1-4 teerpad aansluit. Vorige kere was ons altyd by die Bangu-suiping deur groot getalle wild ge-"entertain". Maar dit is ook een van die suipings wat nie meer bestaan nie. En verder het ons minimale wild op die hele pad teengekom. Ek sou geneig het om my broek te bevuil as ek (soos Len) hierdie hele stuk pad moes sleep. Gelukkig is die gedeelte noord van die S41 (Gudzanipad) in 'n baie goeie toestand.

By Satara gekom het ons 'n lekker "brunch" by die restaurant gaan eet. En kan met alle eerlikheid sê dat ons lekker geëet het. Hulle koffie was 'n wenner. 'n Vrou vertel ons toe daar van 'n luiperd met sy prooi in 'n boom langs die S40, skaars 500 meter vanaf die H7 (Satara/Orpen-pad). Skaars uit die kamp, wys 'n aankomende voertuig ons moet stop - en hulle deel ons mee van dieselfde luiperd.

Aangesien dit slegs 500 meter vanaf die teerpad is besluit ons toe om wel te gaan kyk. Daar aangekom kon ons aan die voertuigspore sien dat daar iets interessants plaasgevind het, maar dit was ons ongelukkig nie beskore nie. Selfs die prooi was nêrens te bespeur nie - slegs 'n enkele hiëna wat nog daar rondgedwaal het.

Ons besluit toe om maar met die S12 verby Girivane watergat terug te keer na die teerpad. By die watergat sien ons toe darem 'n prag maanhaarleeu, wat weereens besig is om te doen wat leeus graag bedags doen, naamlik slaap (soos 'n dooie ding).

Tot by Orpen het ons weereens min wild gesien. Maar al's en al's was dit weer 'n lekker wildtuinbesoek. Na 'n klompie inkopies in Hoedspruit was ons net na 17:00 terug by ons "huis". En in my agterkop sit ek alreeds en wonder of ons nie iets soortgelyks binne die volgende drie weke (voor ons vertrek by Eiland Spa) moet aanpak nie.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 30/07/2021 - 14:19

....bly julle het dit geniet. Maar ek huil my morsdood as ek net een nag in die Wildtuin kan oorbly.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 31/07/2021 - 21:37

Na 45 slapies in die wildtuin is 'n addisionele nag (selfs net 'n enkele nag) sekerlik nie te versmaai nie. M.a.w. 12.6% van 2021 was in die wildtuin spandeer. En 18.1% van 2021 is by Eiland Spa oorgebly. M.a.w. meer as 30% van 2021 is in die Laeveld spandeer. Watter voorreg!!

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 02/08/2021 - 15:12

Ek weet nie waar om te soek vir 'n vorige bespreking rondom die toemaak van watergate, al dan nie, in die Krugerwildtuin nie.

Almal wat aan die debat deelgeneem het sal onthou van my skeptisisme teenoor hierdie nuwe beleid. Ek onthou dat Neef Herman o.a. vir Len 'n boek, getiteld "Shaping Kruger" laat kry het. 

Ek het hierdie boek tydens my afgelope wildtuinvakansie gekoop. En .... my oë het sonder twyfel vinnig oopgegaan. Hoe meer ek lees, besef ek dat ek as leek gereken het dat my insigte is beter as die van natuurwetenskaplikes. Ek begin al hoe meer besef dat dit in belang van die wildtuin se toekoms is waarom daar besluit is om van die watergate toe te maak. En dat ek as kortsigtige wildtuintoeris terug verlang na dít wat ek oor die jare leer ken het.

Wat ek wel sal wil sien is dat die klomp flentergat windpompe, wat nou net 'n seer oog is, afgetakel sal word.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 02/08/2021 - 15:19

Mooi so ChrisB  -  fantastiese, insiggewende boek.

Stem saam oor die onooglike windpomp-rame.

...hoe lank gaan die be-oogde omkeer proses en die impak op die natuur neem, voordat mens die voordele waarneem.

Ek erken ruiterlik dat dit darem maar mooi en lekker is om by 'n suiping, pan of dam te kom, en dit wemel met 'n verskeidenheid diere.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 02/08/2021 - 18:11

Ek stem saam met jou Wessel. Dit is lekker om by 'n suiping/dam te kom met baie wild wat daar bymekaarkom. Maar as jy die hoofstuk in genoemde boek lees wat handel oor bastergemsbokke, swartwitpense, tsessebe's en elande - dan sien jy in waarom sekere besluite geneem is. Genoemde boek (wat eintlik 'n wetenskaplike publikasie is) swaai nogal 'n mens se opinie - altans myne.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 09/08/2021 - 12:33

.... Wessel - dis 'n "scortcher" hier by Eiland Spa vandag - voorspelling is vir 33°. Maar môre koel dit weer af tot 20° maksimum. Ons geniet egter nog elke oomblik van ons Eiland verblyf. Ek weet net nie hoe oorleef die ouens wat in die somer hier kom kamp nie.

Die oord was gepak met langnaweekgangers sedert Vrydag. Skielik was hier weer so 'n lekker vakansiegees. En die naweekgangers het uitstekende weer geniet.

Ja, ons tyd is besig om vinnig uit te loop hier by Eiland Spa. Ons vertrek (DV) op Vrydag 20 Augustus. Die gedagte is om eers die naweek in die Bela-Bela omgewing deur te bring alvorens ons die pad huistoe aandurf. Ek het gereken om dalk nog Suid-Kaap langs te ry en dalk enkele aande by Wildernis en/of Hartenbos deur te bring. Maar ek kan agterkom dat die "government" voel dat as sy hier omdraai wil sy by die huis kom - vanwaar ons alreeds op 15 Apr vertrek het.

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 10/08/2021 - 17:11

Aangesien ons volgende Donderdag (19 Aug) sal moet oppak, moet ek seker noodwendig begin met beplanning vir die terugreis wat 20 Aug afskop. Aangesien dit 'n Vrydag is wat ons hier vertrek, en meeste oorde vereis dat jy minstens 2 aande oor 'n naweek moet vertoef, het ek maar besluit om vandag te begin plek soek vir die naweek.

Ons eerste keuse was ATKV Klein-Kariba, wat wel kon help met 'n staanplek. Maar dit is hulle sogenaamde "kuiernaweek" waartydens daar verskeie kunstenaars optree en dit jou 'n addisionele R295 per persoon sal kos. Ek en Ralie is egter nie lus vir so-iets wat ons nie sal benut nie. 'n Alternatief moes dus gevind word.

Ek skakel toe vir Waterberg-oord in dieselfde omgewing.  Ek het gehou van wat ek op hulle webwerf sien. Die privaat- ablusies was vir Ralie 'n plus. My eerste oproep was ongeveer 08:45 - met geen antwoord. Ek dink toe hulle kantoor maak dalk nie voor 09:00 en skakel toe weer om 09:20. Weereens vrugteloos.

Ek skakel toe vir Eden Park naby Naboomspruit, oftewel deesdae Mookgopong. Hulle kry ook goeie "ratings" op CP.com en bied ook privaat-ablusies. Gou-gou was ek geholpe met 'n staanplek-bespreking @ R600 vir die naweek.

Om 10:07 het Waterberg-oord terug-geskakel - weliswaar te laat.

Op dié stadium blyk dit dat ons waarskynlik maar ons gewone roete (N1) sal terugry. Alhoewel ek nie daarvan hou om op 'n Sondag op die langpad te wees nie (ingeval van probleme), verkies ek wel om op 'n Sondag die N1 verby Pretoria, Midrand en Johannesburg te ry - beslis nie my gunstelingpad met 'n karavaan nie. Dit sal beteken oornagstoppe by Aldam, Forever Gariep en ons groot gunsteling Karoo Nas Park. As dit baie koud blyk te wees by Aldam, boek ons sommer by 'n rondawel in. En as die weer nie te ongunstig is in die Karoo nie, bly ons dalk langer in Karoo Nas Park.

As alles volgens plan verloop, voorsien ek dus om nie later as end-Aug by die huis te wees nie. Seker hoogtyd, want dan sal dit 4 en 'n half maande van die huis af wees.

Terloops, na gister se vrekwarm dag hier by Eiland beleef ons 'n koelerige, winderige dag hier. Vanaand kuier ons maar in die wa sonder ons tradisionele kampvuur. Daar's niks wat 'n glasie of twee van Nuy se wit muskadel nie kan regmaak nie.