Koro-Koro
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear
Sionbergh

 

luister nou wereldwyd stereo

superbrulekker reseptenuwe onderwerpgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

Karoo Nasionale Park

Forum Onderwerpe

Algemene Inligting

Resensies

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 06/11/2018 - 10:21

Vir baie jare, toe ek nog jonk en mooi was (nou het nog net die "en" oorgebly, want die "jonk" en "mooi" het vergaan), was die Karoo net 'n struikelblok waardeur jy moes kom om hetsy in die ou Transvaal of terug in die Kaap te kom. En toe trou ek met 'n Karoo-meisie - en my oë gaan oop vir die mooi en die prag van die Karoo. Ek praat nou nie van Ralie nie (maar tóg van haar ook).

In die jaar 2000 het ons vir die eerste keer kennis gemaak met die Karoo Nasionale Park. En sedertdien keer ons (meer as) gereeld terug na hierdie wonderlike oase in 'n andersins dorre wêreld. Ons was nou-al meer as 60 keer in hierdie uitsonderlike park. Soms het dit slegs 'n enkele nag se oorslaap behels, maar ons gaan kuier tot vir solank as 3 weke hier.

Vanaf die ingangshek langs die N1 net buite Beaufort-Wes, is dit 6.3 km (teerpad) tot by Ontvangs en 'n verdere 1 km tot by die baie netjiese kampeerterrein. Die ruskamp lê teenaan die voetheuwels van die Nuweveldberg. Ons is baie lief vir 'n spesifieke staanplek. Hierdie foto is gedurende die afgelope Apr/Mei-besoek geneem.

Karoo

Die ruskamp beskik oor netjiese ablusiegeriewe, 'n kampkombuis, wasoutomate, geplaveide staanplekke en lekker Karoo Soetdoring- of Kareebome as skadu. Voëllewe in die ruskamp is uiters aktief en gedurende die warmer maande is bergskilpaaie baie bedrywig (mag ek maar sê "sekslustig") op die groen grasperke. Kleinkol-muskeljaatkatte is gereelde besoekers in die aand.

Karoo

En ek wil verkieslik nie praat van die ou ystervark wat al menige kampeerder se koelsakke wat buite staan in die nag weggedra het nie. Ons was juis weer een van sy slagoffers gedurende ons laaste besoek.

Die ruskamp-fasiliteite word netjies gehou deur die opsigters Sanet en William, en gereeld besoek deur die ruskamp-bestuurder Brian van Rooyen.

By die chalets is 'n pragtige swembad, 'n winkel wat al die basiese benodigdhede verkoop en'n lekker restaurant wat ontbyt en aandetes bedien. Sou jy iets benodig wat nie in die park verkrygbaar is nie (bv brandstof) is Beaufort-Wes skaars 10 km vanuit die ruskamp. Die ingangshek is saans tot 22:00 beman. Sou jy dus verkies om in die aand by 'n restaurant in die dorp te gaan eet, weet jy dat jy tot en met 22:00 darem nie uitgesluit sal wees nie.

Die park beskik oor 'n paar roetes om wild te gaan kyk. Daar is ook etlike 4x4 roetes, alhoewel die meerderheid met enige hoë 4x2 voertuig gery kan word (behalwe vir Pienaarspas). Op die Potlekkertjie-sirkelpad (vernoem na 'n akkedis-spesie), sowat 50 km, is daar 'n lekker skaduryke piekniekplek (Doornhoek). Die Klipspringerpas is deel van hierdie roete. Laasgenoemde neem jou oor die middel-plato, verby die Rooivalle waar witkruisarende meermale broei, tot weer onder in die Doornhoekvallei.

Karoo

Tussen die ruskamp en die ingangshek is ook die Lammertjiesleegte-sirkelpad (al die pad teerpad).

Die park beskik oor 'n verskeidenheid van wildspesies. Springbokke, rooihartbeeste, gemsbokke en Kaapse bergkwaggas is redelik algemeen te sien.

Karoo

Karoo

Karoo

En as jy gelukkig is kry jy hierdie ouens ook:

Karoo

Of hulle (waar twee wyfies 'n gemsbok teenaan die pad gevang het).

Karoo

Indien jy die Klipspringerpas ry, en jy sien nie die volgende nie, het jy waarskynlik baie vrot gekyk:

Karoo

En met 'n klompie geluk aan jou kant kan jy dalk selfs die rare knapie vind - sommer in die kampeerterrein:

Die Karoo-dwergverkleurmannetjie.

Karoo

Vir die meeste mense is hierdie park slegs 'n oornagplek. Doen jouself gerus die guns en vertoef meer as een dag in hierdie wonderlike plek. Ons is eersdaags (DV) weer vir 6 aande in die park (Paasnaweek ingesluit) oppad Krugerwildtuin en Eiland Spa toe.

Beveel jy hierdie plek aan?
Ja
My Gradering
8 uit 10
Toegangbaarheid
Maklik met enige Sleepkombinasie
Troeteldiere vriendelik
Nee
Elektrisieteit by staanplekke?
Ja
Staanplekke?
Plaveisel met skadu
Swembaddens?
Koue Swembad
Winkel?
Winkel en restaurant
4x4 attraksies
4X4 roetes

Geweet Chris gaan vir ons 'n baie goeie  beskrywing gee. Ook een van my gunstelinge en steun Chris se beoordeling van die park 100%. Ai, verlang ek nou na die Karoo!

Port Elizabeth

Antie

Tue, 06/11/2018 - 11:51

Ek stem ook saam en sekondeer alles wat Chris oor Karoo Nasionale Park sê.   As jy van 'n nasionale park hou, gaan gerus soontoe.

 

Centurion

Voortrekker

Tue, 06/11/2018 - 11:56

Ons het een keer 'n oornag kamp gedoen en ek wens ons kon langer gebly het.  Dit was oppad terug van Paarl af Pretoria toe.   Van wat ons gesien het is dit 'n baie mooi park met 'n heerlike kampplek en netjiese geriewe.    Ons sal weer daar 'n draai moet gaan maak.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 12/11/2018 - 20:23

..........en meer korrekte resensie as dié van Chris hierbo, kan niemand gee nie.  Dankie vir die volledige verslag Chris.

Dis al wat ek kan byvoeg :-

Groot bergskilpaaie altyd teenwoordig in die kampterrein :-

.

Die ingangshek (van binne die park afgeneem) :

.

Die netjiese gemeenskaplike kombuis :-

.

En die ablusie-gebou :-

.

Beveel jy hierdie plek aan?
Ja
My Gradering
10 uit 10
Toegangbaarheid
Maklik met enige Sleepkombinasie
Troeteldiere vriendelik
Nee
Staanplekke?
Gras en plaveisel opsies
Swembaddens?
Koue Swembad
Winkel?
Winkel en restaurant
4x4 attraksies
4X4 boskamp
Vir kinders?
Geen fasiliteite
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 14/11/2018 - 11:33

Ek vind dit ook uiters moeilik om by Karoo Nasionale Park se ingang langs die N1 verby te ry. Dit is of my voet outomaties na die rempedaal se kant toe skuif wanneer ek die afdraai sien en my arms sukkel om die stuurwiel reguit te hou om verby te ry. Wonderlike, wonderlike plek!! Kan nie wag vir eerskomende April se 6 aande nie.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 14/11/2018 - 12:00

.......Hennie, my annerhelfte reken ons ry 40 dae en 40 nagte Wildtuin toe met my 500km per dag storie.  Ek het juis 500km per dag gekies want dit werk mooi uit tot by Karoo vir ons eerste stop.

Ek vind dit ook uiters moeilik om by Karoo Nasionale Park se ingang langs die N1 verby te ry. Dit is of my voet outomaties na die rempedaal se kant toe skuif wanneer ek die afdraai sien en my arms sukkel om die stuurwiel reguit te hou om verby te ry. Wonderlike, wonderlike plek!! 

Ek ervaar dieselfde moeilikheid!