Forums
Terwyl dit nou redelik stil is hier op Kampforum, dink ek dit kan nogal interessant wees om te luister na interessante stories wat in die Wildtuin ervaar is en wat 'n blywende indruk vir jare gelaat het. Verskoon tog maar vir die ouens wat geen erg daaraan het om in 'n wildtuin te gaan rondry en wild in die bosse te gaan soek nie. Skep gerus nog 'n gesprekslyn van soortgelyke stories by ander vakansie-bestemmings.
Ek het toevallig ...
... net gister begin om my verbintenis met die Krugerwildtuin, van toeka tot nou, op skrif te plaas - en gereken om dit mettertyd (eers as ek klaar is, want daar lê nog baie "werk" vir my voor) stuksgewys op hierdie forum te plaas.
My verhaal bestaan dalk nie uit interessante stories nie, maar daar is baie dinge wat 'n blywende indruk op my gemaak het - sodanig dat ek vanaf my eerste besoek (eintlik my tweede, maar die eerste wat ek onthou) "hooked on" hierdie wonderlike plek geword het.
Kom ek plaas net die eerste gedeelte (inleiding) in my volgende inset op hierdie gesprekslyn. Sê maar of dit gepas is en of ek dit eerder onder "my eie storie" van die wildtuin moet plaas - of eerder niks sê nie. Ek het waarskynlik al van die dinge wat ek noem op dié forum geplaas - verskoon dus as dit herhalings is. En moenie skroom om te noem as dit oninteressante (en dalk vervelige) inligting is nie. Hopelik word dit later meer prikkelend as ek inligting deel rondom my rekordhouding sedert 1987.
Vroeë herinneringe
Alhoewel ek dit nie kan onthou nie, was ek as ongeveer 2-jarige seuntjie vir die eerste keer saam met my ouers in die Krugerwildtuin. Ek herinner my aan ‘n vergeelde foto waar ek saam met my ma in Skukuza (met die Selati-spoorbrug in die agtergrond) afgeneem is.
My eerste werklike kennismaking met die wildtuin was as 11-jarige in 1965. My pa het vir jare gehunker om weer in die wildtuin te gaan kuier, maar as ‘n gewone salaristrekker was fondse maar skraps om só ‘n duur vakansie vanuit die Boland aan te pak. Op ‘n laat stadium het hy wel besluit om dié lank gekoesterde ideaal te verwesentlik – maar akkommodasie in die wildtuin was ‘n probleem omdat hy te laat sodanige besluit geneem het. Ek kan onthou dat my pa het die bespreking deur die AA (Automobiel Assosiasie) gedoen en kon slegs geholpe raak met 4 nagte se kampeerplek in Letaba. Hy en my ma het nietemin besluit om die waagkans te neem om met ‘n tentjie en drie kinders die langpad in ons Zephyr aan te pak. My ouer suster (op daardie stadium 17 jaar) en my laatlam sussie ( slegs 11 maande oud) was saam met my die agtersitplek-passasiers. Ek weet nie hoedat my pa ons tent, kampbeddens vir hulle twee en matrassies vir die kinders, alles in die Zephyr se kattebak ingepas gekry het nie. Dan praat ek nie eens van ons gewone bagasie asook basiese kook- en eetgerei nie.
‘n Neef van my het destyds in Hopetown gewoon. Ons eerste skof was tot daar waar ons vir twee aande oorgebly het. Vandaar het ons tot Potchefstroom gery waar ons die aand in ‘n hotel oorgebly het (die naam van die hotel het ek vir etlike jare onthou, maar dit het my intussen ontgaan). Ons volgende skof was tot in die destydse Pietersburg (deesdae Polokwane) waar ons die aand in die Great North Road Hotel geslaap het. Vandaar het ons die volgende dag vir Phalaborwahek gemik. Dit was my eerste kennismaking met Magoebaskloof, waarmee ek later jare baie bekend en vertroud mee geraak het toe ons vir ‘n paar jaar in Tzaneen gewoon het.
Nou maar vertel verder
Dankie vir die lusmakertjie. Ons wag vir die res.
Die Peugeot mekaniek
62 Jaar gelede in 1962 was ek 15 jaar oud en in st. 8. Ek en my broer (2 jaar ouer as ek) is saam met ons ouers in die Wildtuin by Olifantskamp. Die dag toe ons na 'n volgende kamp moes vertrek, is die motor, 'n 1961 Peugeot 403, gepak en my Pa hou stil by die Total petrolstasie (presies daar waar dit nou nog is) om brandstof in te gooi. Met dit gedoen wil my Pa vertrek, maar die Peugeot se stuurwiel gemonteerde handrat wil nie in 1ste rat skakel nie. Die rathefboom gly net heen en weer. En daar sit ons. My Pa het 'n redelike senior pos in die Poskantoor beklee en weet nie veel van karre af nie. My Ma was 'n onderwyseres (al het sy op 'n stadium afgelos as 'n houtwerk onderwyser !) en sy kon nie help nie en het net paniekerig geraak. My broer was van meet af aan (selfs in matriek) 'n akademikus. Hy woon tans in Oostenryk en het pas afgetree as dekaan van die Teologie fakulteit van die Universiteit van Wene. Hy he nog al die jare twee linkerduime en glo hy het tot nou toe nog nooit 'n skroewedraaier of "spanner" in sy hande vasgehou nie. Hy kon dus nie help nie. My panniekerige Ma se hoop was dus op haar jongste (dis nou ek) gestel. Net mooi daar waar die kar by die petrolpomp staan, spring ek onder die kar in en skree vir my Pa om die rathefoom op en af te beweeg. En wraggies, daar sien ek die probleem : 'n skroefie wat die verlengde stel-arm moet vastrek, het losgedraai (gelukkig nie verloor nie) en die twee dele van die stelarm gly nou in en uit. Ek skree vir my Pa om die rathefboom in neutraal te probeer hou en trek toe die skroefie vas met 'n tang, die enigste bekikbare gereedskap. Ek kruip onder die kar uit en sê my Pa moet probeer ry. En wraggies, daar kom die Peugeot in rat en daar gaan ons ! Nodeloos om te sê, my Ma reken toe ek moet die idee om 'n vliënier te word laat vaar en eerder 'n meganiese ingenieur word. Daarvan het ook dadels gekom.
Hier is 'n foto van die 1961 Peugeot 403 en ek, as 15 jarige agter die stuur.
Hou aan maters, dit is nou…
Hou aan maters, dit is nou eersteklas stories om te lees.
en eerder 'n meganiese…
Jy hou so van vroetel en dinge uitsorteer dat ek jou in daai beroep kon sien. Sal graag wou weet hoe het jy toe in Bankwese geëindig (Dit is dalk vir 'n ander gespreklyn)
Hierdie Wildtuin stories lyn gaan nogal interessant raak. Hier is 'n paar geharde Wildtuin kampeerders.
Vroeë herinneringe (vervolg)
Die teerpad tussen Gravelotte en Phalaborwa was nog in aanbou en ons het grootliks op gruis-ompaaie gery. Alhoewel Foskor reeds in 1951 met mynbedrywighede begin het, is die dorp eers in 1957 gestig. Dit was as’t ware ‘n splinternuwe dorp. Phalaborwa-hek was selfs nog nuwer. Dié hek, wat die Malopene-hek (verder noord) vervang het, is eers in 1965 geopen. Ons was dus van die eerste gebruikers van dié hek.
Ek kan onthou dat die hek, het soos bykans alle hekke vandag nog is, ‘n ingang- en ‘n uitgangskant gehad – met ‘n piepklein kantoortjie destyds op die middelman. Ons almal het in die Zephyr bly sit terwyl my pa die ingangsformaliteite gaan afhandel het. Hy’t intussen uitgekom en vir ons ‘n stukkie olifantvel en olifant-sterthare kom wys. Ons was almal verstom oor hoe dik ‘n olifant se vel is, maar nog te meer die hare op sy stert se punt wat soos harde plastiek gevoel het.
Daardie jare was dit nog ‘n gruispad tussen Phalaborwa en Letaba. Ek praat onder korreksie, maar ek dink dit was die huidige S131. Nietemin, terwyl ons by die hek was het mense arriveer wat op pad uit was. Die man het aan my pa genoem dat daar ‘n groot trop olifante by die eerste drinkplek was. By die sement-reservoir en suiping aangekom, het die olifante in ‘n lang streep die suiping verlaat en oor die pad beweeg. Die beeld wat nog in my geestesoog vasgevang is, het dit dat dit by Ngwenyeni-suiping was, want dit lyk vandag vir my soos ek die suiping onthou. Terwyl ons daar gewag het vir die laaste olifante om die pad te kruis, het ‘n veldwagter in sy groot Ford F100 langs ons stilgehou en met my pa ‘n gesprek aangeknoop. Hy noem toe dat ons hom kan volg op die “Geen toegang” paadjie wat na die krip lei, want hy wil vir ons iets gaan wys. By die krip staan toe ‘n klein troppie bastergemsbokke. Hy’t genoem dat ons onsself baie gelukkig kan ag om dit te sien, want baie min besoekers aan die wildtuin kry die geleentheid om hierdie skaars majestieuse bokke te sien. Hy noem toe ook dat dit ons waarskynlik nie weer beskore sal wees tydens ons besoek nie – wat inderdaad die geval was. Ek het vir die eerste keer weer bastergemsbokke by Erfplaas-suiping langs die H9 teerpad gesien toe ons in die laat 80’s in Tzaneen gewoon het – en slegs weer enkele kere daarna.
Punda Maria & Fanus Rautenbach
Ons gesin was een langnaweek in September by Punda Maria kamp. Daardie tyd was daar natuurlik geen elektriese krag nie en elke hut het net saans 'n lantern gekry. Die eerste aand het ons nie gebraai nie, maar ons het 'n blikkie "meat balls" op 'n splinternuwe Cadac gasplaatjie gaar gemaak - dit was my eerste kennismaking met frikadelle in 'n blikkie en 'n gasstofie om op te kook.
Die Saterdagaand het ons wel by die gesamentlike braaiplek (nou nog oorkant die eerste ry oornag kamers) gebraai op vure wat die personeel met hulle blou kortbroek oorpakke aan die gang gehou het - dit was gewoonlik 'n lang boomstomp wat net kort-kort vorentoe in die vuur gestoot is. Wanneer daar kole beskikbaar is, het die werkers dit met 'n graaf opgetel en dit by jou braaiplek uitgegooi. Hierdie werkers kon nie Afrikaans praat nie, net 'n gebrekkige Engels. Ek vermoed hulle het van Mosambiek gekom.
Die ander opgewondenheid was om Fanus Rautenbach van Flink uit die Vere faam persoonlik te ontmoet - hy en sy gesin was langs ons tuis en hy het 'n linkerstuur Volvo gery, daardie modelle met die ronde, gebuigde agterkant (soos 'n piesang). In daardie komende week gesels Fanus oor Flink uit die vere se program met daardie bekende woorde van hom, hy sê "op die Warmbad-pad ry ek Johannesburg toe vanaf die Wildtuin en gehoorsaam maar die verkeersowerhede se versoeke om op daardie besige paaie maar vir die padvarke wat verby jaag, terug te val en plek te maak om in die verkeer in te kom. Ek het toe maar hieraan gehoor gegee, maar met die terugvallery was ek naderhand weer terug in Warmbad".
Interesante gesprek
Hierdie beloof om 'n baie interesante gesprek te wees, kan nie wag vir al die stories wat gedeel gaan word nie.
My eerste kennis making met die wiltuin was na ek al oor 45 jaar was, dus gaan ek nie werklik stories kan vertel nie, dit was vir werk en baie rond ry en in vaste akkommodasie te bly. Meestal in rondawels, behalwe wanneer daar net die gaste huise beskikbaar was.
Dit was nie lekker om stoksiel alleen in van daai groot huise te wees nie.
Julle vertellinge...
laat my dink aan iets wat ek redelik onlangs gelees het: goeie herinneringe is soos 'n deeglik gebruikte padkaart en dat dit enige vaal dag sommer kan opkikker.
Gesels asb. voort - ek lees lekker saam.
Petrolpompe
Destyds was daar mos nie elektriese krag in die Wildtuin nie. Wat my gefassineer het, was die petrolpompe wat met die hand gepomp moet word. Elke pomp het aan die voorkant 'n ysterstaaf gehad wat dan heen en weer met die hand gepomp moes word. Die neus van die petrolpomp se pyp is in die voertuig se petroltenk-opening geplaas en nie deur die joggie vasgehou nie, want hy moes die werklike pomp-werk doen !
Maar, elke voertuig het sy brandstof op dié manier gekry.
Ablusie-warmwater
Ek het alreeds my eie gesin gehad, seker so 35 jaar gelede toe ons in Shingwedzi gekamp het saam met ons jare-lange (nou nog) kampvriende. Hulle het drie dogters en ons het twee seuns en 'n dogter. Die klein ablusie aan die noorde kant van die kampeerterrein, wat nou nog daar is en ingebruik is, het destyds nie warmwater wat elektries of met gas verhit is nie. Dit was "donkie" gedrewe en net 'n vrag antrasiet aan die agterkant van die ablusie was getuie waar die warmwater vandaan kom. Die werkers het deur die dag die donkie aan die brand gestook, maar na 5nm het hulle afgeklok en dan het die meeste kampeerders vroeg al gaan stort om darem nog warmwater te kry. Ek en my kamppêl het nadat ons gebraai het die kinders aangetree om te gaan stort en dan het ons twee die donkie getakel en 'n moerse vuur daarin gemaak, totdat die donkie se water naderhand kook ! Ons het aangehou om die donkie te stook sodat ons vrouens ook 'n lekker warm stort kon kry. Laaste stook was sodat ons ook warmwater gehad het.
Ai, lekker dae daardie gewees.
Rondom 1969/1970 …
Rondom 1969/1970 ........................................was ek op Nelspruit gestasioneer en het ons begin om in die Kruger se treinstasies alle toerusting uit te haal. Die treine het van Komatipoort deur die Kruger na Phalaborwa gery. Daar was te veel diere doodgery en diesel lokomotiewe beskadig. Daar is toe besluit om die treinspore van Komatipoort via Kaapmuiden al langs die Kruger na Phalaborwa te skuif.
Krag was met ou Lister engin en generator voorsien. Omdat ons toe die Kruger se mense goed leer ken het is ons op nagritte saam met hulle. Infrarooi ligte was toe nie daar nie en het ons met ou halogeen ligte die diere gesoek. Die diere is verblind deur die lig en net stil gelê of staan.
Van my lekkerste tye in die Kruger en alles was verniet gewees. Toe die laaste trein deur die Kruger is was daar 'n groot makietie in Skukuza gehou.
Dankie Jan, ek het.............
..........altyd gewonder wanneer het die laaste trein deur die Wildtuin gery en of die destydse spore dwarsdeur die Wildtuin verwyder is.
Ek kan dink die "free for all" nagritte was iets besonders.
Aap se kind
Ek vermoed ek het hierdie storie al vertel - verskoon tog maar, miskien is hier 'n paar persone wat dit nog nie gesien het nie.
Iewers in 1970 was ek in Volkskas se inspeksie-personeel en terwyl ons by ons Witrivier-tak inspeksie gedoen het, moes ek ook die Skukuza-agentskap van Volkskas gaan inspekteer. Dis toe gereël vir 'n Vrydag en dan kon ek sommer die naweek die Wildtuin besoek. Saterdagoggend gaan ry ek toe 'n draaitjie met my nuwe Ford Anglia en net buite Skukuza spring 'n bobbejaan voor op my kar se enjinkap, hou so ewe vas aan die windskerm-veër en ry saam. Ek probeer die ding verwilder maar hy/sy klou soos 'n neet. Op die ingewing van die oomblik skakel ek die veër aan en die bobbejaan se arm lig toe daarmee saam op. Hy/sy skrik toe so groot, los toe 'n groot tjorts van die skrik op die enjinkap en spring af. Terug by Skukuza moers ek eers die gemors afwas.
Hier's 'n foto.
Len se frikadelle in 'n blikkie..
laat my terugdink aan 'n keer in die 60's toe ons in Skukuza in 'n rondawel tuis was. Van die plaas af is altyd vars melk saamgeneem en ook gaar vleis (hoofsaaklik frikadelle en wors). Die individuele porsies was in 'n groot erdekruik ingelê in gesmelte varkvet. Ek is nie seker of dit was a.g.v. bek-en-klouseer en of dit maar net by gebrek aan koelhouers was nie. Die smaak was nie vir my baie lekker nie, maar jy sal eet wat op jou bord aangebied word....(so geleer).
Na 'n paar dae het die vars melk opgeraak en my pa het by die winkeltjie melk gaan koop. Die winkel, terloops, was 'n piep klein geboutjie. Mens het buite gestaan en die dame wat binne gewerk het het jou dan deur 'n luik bedien. My Pa het teruggekom met drie glasbotteltjies langlewe melk - as ek reg onthou was dit Steri Milk genoem. Lang storie kort: hierdie melk het geen byval gevind nie. Daar is ook nie van ons verwag om die koffie te drink (soos ons geleer is) nie. Almal het swart koffie verder gedrink en die oorblywende botteltjies het nie saam huis toe gegaan nie.
Ek het vandag nog die erdekruik maar dit is nou 'n ornament.
Werk in die wildtuin
Jan laat my nou dink aan my drie jaar wat ek daar gewerk het, ek kon ook ry net waar ek wil, mits die pad dit toegelaat het. So kon ek natuurlik baie wild sien wat nie van die normale roetes gesien kon word nie. Bedoelende waar die diere dieper in die bosse was en tydens die rus periodes, warm tye van die dae.
Ongelukkig het 'n computer virus so klompie jaar terug my rekenaar vernietig en duisende fotos en videos is daarmee heen. Nie eers groot rekenaar plekke kon die harde skyf red nie.
Ek het maar bitter min na donker alleen buite die kampe gewaag, net soms saam met die toeriste voertuie gery, maar dit was nie vir my so groot ding nie. Hulle het streng op die roetes gebly.
Vroeé herinneringe (vervolg)
Ek kan vandag beswaarlik glo dat ons 5 persone in daardie klein tentjie kon slaap. Ons het snags behoorlik ingeryg langs mekaar gelê. Maar kuier het ons gekuier in Letaba. Ek onthou die groot vuur wat saans gemaak is en waar al die kampeerders bymekaar gekom het om gesellig te verkeer. Ons het ook naby ons tent een van daardie warmwater donkies, wat met steenkool gestook was, gehad waar jy enige tyd van die dag kon gaan kookwater tap. Die kampeerterrein was toe aan die noordekant van Letaba geleë. As jy ingekom het by die hek het jy links gehou – in teenstelling met deesdae waar jy regs hou. Synde ons tydens die winter-skoolvakansie daar was, was daar elke aand filmvertonings waarvan ek nie een gemis het nie. Iets wat my bybly van een van die aande is toe ‘n man wat die filmvertoning aangebied het, gesê het dat as jy nie een van die groot katte tydens jou besoek aan die wildtuin sien nie, is dit ‘n mislukte besoek. Ons besoek daardie jaar was dus, volgens sy kriteria, ‘n mislukte besoek. Maar oor die jare het ek besef watter klomp strooi die man kwytgeraak het. Die belewing van die wildtuin gaan nie oor roofdiere of die sogenaamde Groot Vyf nie.
Die paaie in die wildtuin was nog alles gruispaaie. Daar is eers in Augustus van daardie jaar begin met die konstruksie van die eerste teerpad. Ek onthou ons besoek aan Olifants, wat toe nog ‘n nuwe kamp was (geopen in 1960) baie goed. Die uitsig van daarbo af was in my ingebrand. Ek was dadelik verslaaf aan die Krugerwildtuin. Dit was vir my die vakansie van alle vakansies as ‘n kind – al was dit net enkele dae lank.
My pa het besluit om by Numbi-hek uit te gaan na ons vier aande in Letaba. Maar toe ons in Skukuza aangaan, het hy op die ingewing van die oomblik lus gehad om te verneem of daar nie akkommodasie beskikbaar sou wees vir die een aand nie. Ons het ‘n 5-bed hut gekry. Dit het vir my gevoel soos ‘n weelderige slaapplek na ons 4 aande in die tent.
Lekker lees
Ai, die stukkies wat uit die geheue- argiewe kom maak die omie nostalgies. Laat loop met die vertel, daar is nog 50 jaar se opvolg episodes. Moet sê, julle manne se are is nog nie verkalk nie, onthou goeie detail
'n Wildtuinverslaafde
Ek het sedert die eerste besoek aan die wildtuin ‘n nimmereindigende begeerte gehad om weer in hierdie plek, wat my hart geheel en al gesteel het, uit te kom. Maar dit was my nooit weer beskore tot 1971, my matriekjaar, om net ‘n skamele dagbesoek aan hierdie utopia te beleef nie. Ons het by my broer in Johannesburg gaan kuier tydens die winter-skoolvakansie. Maar weereens is daar té laat besluit om in die wildtuin te gaan oorbly. Ons was aangewese op akkommodasie by Hazyview, vanwaar ons slegs ‘n dagbesoek aan die wildtuin gebring het. Ek onthou dit soos gister – toe ons vroegoggend by Numbihek ingegaan het, padkos-ontbyt in Pretoriuskop geëet en daarvandaan via die Doispanne-pad na Skukuza gery het. Daarvandaan is ons vort via Tshokwane na Satara en uiteindelik net voor toemaaktyd by Orpenhek uit. Vanaf laasgenoemde was dit nog gruispad in die donkerte na Acornhoek en Bosbokrand tot by ons blyplek by Hazyview. My verslawing aan hierdie wonderlike plek het net vererger na hierdie kort besoekie.
Die volgende geleentheid was eers twee jaar later toe ons weereens net ‘n dagbesoek aan die wildtuin gebring het. Ons het by vriende van my broer-hulle in Magoebaskloof oorgeslaap. Daarvandaan is ons die volgende oggend vroeg by Phalaborwahek in en via Letaba, Olifants, Satara, Tshokwane en Skukuza by Krugerhek uit – wat ons net-net in tyd gemaak het. En toe nog terug Johannesburg toe in die donker waar ons naby aan middernag arriveer het. Dit was die eerste keer wat ek tekens van ‘n grootkat in die wildtuin gesien het – naamlik ‘n vars vangs (rooibok) van ‘n luiperd, opgehang in ’n boom knap langs die pad tussen Tshokwane en Skukuza. Ongelukkig was daar geen teken van die luiperd nie.
Nog ‘n dagbesoek het in September 1976 gevolg – Ralie se eerste besoek aan die wildtuin. Sy was swanger met ons dogter en het die (té) lang rit in die wildtuin glad nie geniet nie. Ons het in Witrivier in ‘n hotel oorgebly (saam met my ouers) en by Numbi in- en uitgegaan. Ons het so ver noord as Tshokwane gaan draai en weer suid gery tot by Krokodilbrug, vanwaar ons weer na Numbi gery het. Steeds was ek “katloos” in die wildtuin.