Koro-Koro
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear
Sionbergh

 

luister nou wereldwyd stereo

superbrulekker reseptenuwe onderwerpgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

56844 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Hoe het..... Ons eerste besoek aan Punda Len Loader -1 minute ago
En wat.... My liedjie oor die laeveld Len Loader -10 minutes ago
Antie, sterkte daar vir oom… Julie 2019 - Koffiekroeg Dusty -1 hour ago
Nice 👍Stuur dit vir Nodfy… My liedjie oor die laeveld Willem Brits -1 hour ago
Noodle sag  Goedkoop kamptoilet vir mans Willem Brits -1 hour ago
Ai Freda, sterkte vir Colin,… Julie 2019 - Koffiekroeg Johann L -1 hour ago
Maggies, ek het nou so lus… My liedjie oor die laeveld Johann L -2 hours ago

Die Marais' mik noord

Boesmans- riviermond
Submitted by Sarel Marais on Fri, 29/03/2019 - 12:45
Forums

Soms is sy Lucy en soms is sy Lucifer, afhangende van die bui waarin sy (en ek )is. Dis nou die antie wat in my GPS woon. As jy vir haar die roete van Boesmansriviermond na Bergkwaggapark vra, sal sy ‘n Lucifer op jou trek en kwaadwilliglik vir jou vertel dat jy Grahamstad toe moet ry en van daar af Bedford oor  Cookhouse toe. Ignoreer dit en vertel vir haar jy wil Nanaga padstal toe gaan en van daar af Bergkwagga toe.  Jy wil nie die Bedford-pad ry nie, veral nie as jy sleep nie. Dis ‘n slegte, smal paadjie met baie hobbels en slaggate.       

By Nanaga stop jy (dis verpligtend) en koop Nanagapaais (een woord vir ons) en filterkoffie. Freda sal ook vir julle vertel Nanaga se paais is wyd bekend.  En onthou om R1-stukke saam te vat anders laat die slot aan die toilet se deur jou nie toe om te gaan piepie nie.

Dis presies wat die Marais’ vroeg Dinsdagoggend, 19 Maart 2019, gedoen het. Toe ons van Nanaga af vertrek, gewapen met Nanagapaais en koffie,  draai ons by die T – aansluiting regs (soos Lucy nou ook aandui) en ‘n klompie kilos later ry ons langs die dorpie Paterson verby. Dis waar jy sal afdraai as jy na Addo olifantpark se hoofhek wil gaan. Nie te lank later nie en ons ry oor die mooie Olifantskoppas op pad Cradock (en Bergkwagga) toe. Tussen die pas en Cookhoouse sien ‘n mens die interresantste plaas-/plekname – Wolwedans, Daggaboer, Gallantskloof, Dassiedeur.

Ons stop op Cradock vir die duurste lamtjops wat wat ek in my lewe nog gekoop het, R195 per kg! Maar wat, ons is met vakansie en in ‘n effe roekelose bui dus betaal ons dit. Ons wil darem die enigste aandjie wat ons in die park gaan deurbring lekker sagte lamtjoppies geniet.

Teen 12:30 het ons vir ons ‘n staanplek gekies (meer oor staanplekke en besprekings later), die Skulpie (Skipper Oyster) oopgeslaan en ons tydelike kampie staangemaak. Ons het dus die hele middag om die park te gaan verken, wat ons ook doen en gou doen die park sy naam gestand

"

Ons kom die troppie Reebokke tee waar os hulle elke keer kry

"

"

Die hekke sluit eers 7 uur en dis skemer teen die tyd dat ons by die kamp terugkom

"

Teen 8 uur die volgende oggend vertrek ons om daardie aand by Reynekepark op Bloem oor te slaap. Of altans, so het ons gedink.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 29/03/2019 - 13:00

....tekort by Bergkwagga, net een nag !  Waar's die fotos van die swartrenosters, jagluiperds en leeus ?

Die troppie Grys Rheebokkies wat julle gesien het, is besonders  -  ons het dit nog altyd gemis.

Het blouape in die kampterrein gepla ?

Ek wag in spanning vir die Reynekepark storie.

Boesmans- riviermond

Sarel Marais

Fri, 29/03/2019 - 13:54

normaalweg is een dag te kort vir Bergkwagga. Aangesien ons egter so middel verlede jaar vir 5 dae daar was ( en 3 renosters en 'n jagluiperd gesien het) het ons besluit om dit net as 'n bonusoorslapie op pad noorde toe in te werk. Dis slegs 260 km van ons af.

Ons was met ons vorige 4 besoeke gelukkig om die troppie reebokkies op feitlik dieselfde plek aan te tref. 

Wat die ape betref, ja hulle was daar en het selfs in die ablusieblok ingegaan. 

Ski ja, ons beleef 'n heerlike trip.

Terwyl ek nou hier sit en tik kom hier 'n trop van..., o nee, ek weet nie hoeveel nie, maar dis BAIE, rooibokke by die watergat op Punda aan.

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 29/03/2019 - 15:58

.... hoe kwyl my bek nou vir Punda se watergat. Nog 34 slapies (DV), dan kamp ek ook daar.

Laat waai maar Sarel.

Vaalpark Vrystaat

Johann L

Fri, 29/03/2019 - 21:17

Sarel, dankie vir die deel, en die fotos, julle moet dit geniet en laai die kiekies, ons hou daarvan.

Jy trek noord, ek trek weer suid Dinsdag oggend.

Port Elizabeth

Antie

Sat, 30/03/2019 - 06:55

Ai, Sarel. dit klink nou sommer lekker.  Ja, daai Nanagapaais is die trots van die Ooskaap!   Een prys deur die bank, maak nie saak wat binne (lekker vol) ingestop is nie, almal ewe lekker.  Die curry lamb is my favourite.

Ek sien uit om verder te lees van al jul wedervaringe.  Geniet dit !!

Boesmans- riviermond

Sarel Marais

Tue, 02/04/2019 - 13:01

Gesie, Jou probleem is dat jy ‘n gees is wat voetslaan, daarom weet jy nie hoe ver noord ons mik nie. As jy gesweef het soos dit ‘n opgevoede gees betaam, sou jy al daar gewees het. Nou “wandel” jy met jou bootse al om die huis rond.

Hoe dit ookal sy, ons vat die pad Bloem (Reyneke Park) toe. Reeds toe ons by Colesberg verbywerk besef ons dat ons heeltemal te vroeg op Bloem gaan aankom en besluit om deur te druk Kroonstad toe. Dis ‘n groot dorp en daar moet darem karavaanparke wees. Ons ry by Winburg verby en Suzette Google “Caravan parks Kroonstad”. Twee resultate, nl. Jukskeipark en nog een, waarvan die resensies van so ‘n aard is dat jy besef dat jy nie soontoe kàn gaan nie. Dus bel ons Jukskeipark. “Jammer”, sê die vriendelike dame daar, “ons is stampvol met die jaarlikse jukskeikampioenskappe wat ons elke jaar, reeds vir die afgelope 52 jaar, hier aanbied”. Ons verneem na ‘n ander moontlikheid, maar nee, niks. Ons vra haar na die ander park op die dorp maar sy raai ons ten sterkste af om soontoe te gaan. Wat nou?! Dit raak laat en ons het nie plek om te oornag nie.

Terug Google toe. Op Winburg word ‘n plek met die naam Danke Schön Gastehuis geadverteer wat 6 staanplekke het. Suzette bel maar geen antwoord. Erger nog, die webtuiste sê dat besprekings ten minste 2 dae voor die tyd gemaak moet word. Ons is in die knyp besluit om die kans te vat. Dus terug Winburg toe wat ‘n goeie 10 km van die N1 lê.

Mense, wat ‘n skok. So ‘n vuil, deur-die-gatgetrekte, moedelose (en nog ‘n string ander byvoeglike naamwoorde) dorp het ek nog nie beleef nie. Op soek na Voorterkkerstraat beland ons in die hoofstraat. Stukkende sypaadjies, gate in die teer, mense wat sommer aan die vekeerde kant van die pad ry, plastieksakke wat rond waai. Ons stop om rigting te vra. Die volgende oomblik staan ‘n man voor my venster. “Lanie, hoe lykit daar met ‘n paar galjoene? Ek vekoepit vi ‘n bargain, lanie. En kriewe! Soe vars lat hy nog sy tert klap as hy seewater ruik lanie. Ek sê die lanie wat, vat somme ‘n boks van elk en ek geerit vi die lanie vi ‘n moese bargain”. Ek kry nie ‘n woord in nie en trek maar weg. “Nou ma f@#off dan” hoor ek deur die nog oop venster. Ek maak soos hy sê. Galjoen en kreef op Winburg?? Slat my met ‘n nat vis!

Winburg is nie ‘n groot dorp nie en dit neem nie lank om die gastehuis op te spoor nie. Morsdoodstil. Gin siel in sig nie. Net die naambordjie en twee selnommers, o.a. die een wat ons vroeër geskakel het. Ek skakel die ander een.  ‘n Man antwoord en sê ons moet net ‘n bietjie wag, sy vrou sal nou-nou hier wees. Ons wag, want wat kan ons doen? Ons is in die nood.

So 15 minute later daag Brunhilde daar op. Nou weet ons waar die naam “Danke Schön” vandaan kom.

Ons verduidelik ons penarie aan haar en 10 minute later skuif sy ‘n hek bietjie hoër in die straat oop. Wat ‘n verassing! ‘n Klein, spreekwoordelike, oase in die woestyn. Groen gras met plante in die middle en 6 kragpunte verspei oor die terrain. Te mooi. Ons kry ‘n sleutel vir ons eie ablusieblokkie. Dis in ‘n geboutjie aan die een kant van die parkie wat 6 soortgelyke ablusiegeriewe bevat. Stort, toilet, wasbak en hoewel dit ‘n bietjie aandag nodig het, silwerskoon.

Ons was die enigste mense daar. My eerlike opinie is dat daar nie meer as so 3 karavane, miskien 4, op ‘n keer daar behoort te staan nie, behalwe as dit ‘n groep vriende is. Maar wat ‘n plesier. Dis die ideale oornagplek.
 

"

"

"

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 02/04/2019 - 13:32

.................., jy kan baie dankbaar wees dat jy nie Kroonpark in Kroonstad aangedurf het nie.  Die plek is totaal tot niet en 'n uiters gevaarlike plek.

Dankie vir die inligting oor hierdie oornag plekkie in Winburg.

Secunda

Sleep nou

Thu, 04/04/2019 - 02:42

Dis soms lekke as daai GPS nonsens praat jy kom op plekke af wat n ou net eenfoudig verby ry en nie van weet dankie vir jou deel en julle moet veilig sleep en kamp n hond uit n bos gooi maar die fotos ons reis lekke saamsmiley

Middag Sarel

Na jou beskrywing van Winburg, wil ek vir jou sê---welkom hier bo die Oranjerivier. Daardie beskrywing van vuil, verwaarloos papier- en riool besmet pas by die meeste dorpies in Wes Transvaal, Limpopo ensovoorts.

Jy is sekerlik "nuut hier" in onse omgewing.

Ek moet krediet gee aan die Oos vrystaat dorpies soos Fouriesburg, Clarens, Ficjksburg en Bethlehem, dit is verstommend skoon daar.

Groete

Wessel

Boesmans- riviermond

Sarel Marais

Mon, 08/04/2019 - 17:11

Vandag (21 Maart) is ons op pad na Kyleu boskamp in Dinokeng. On s weet nie wat om daar te verwag nie, want al wat ons van die plek weet is wat ons op hul webtuiste gelees het. Maar as dit wat ons gelees het korrek is, het ons beslis iets om na uit te sien,

Maar eers het ons ‘n afspraak om na te kom. Ons ontmoet vir Warren by ‘n Petroport daar iewers tussen Johannesburg en Pretoria om die stofie wat ons vir hom beloof het af te gee. Ons kuier heerlik saam, drink koffie en ruil “war stories” uit, veral oor ons motorfietsdae. Net soos ons is hy ‘n groot motorfietsentoesias. Maar hy moet terug werk toe en ons moet voort Kyleu toe. Dus moet ons totsiens sê.

Warren, baie dankie vir die lekker saamkuier.  Ons het dit eerlikwaar geniet enk hoop dat ons mekaar vorentoe weer sal ontmoet.

So teen 14:30 neem ons die afrit na Hammanskraal en, nadat ons die bloedgeld by NOG ‘n tolhek betaal het, draai ons regs na Dinokeng. Die kaart wat Sherri en Devon (die eienaars)aan ons verskaf het  om by hulle uit te kom is maklik en korrek en ons arriveer so ‘n hlafuur later daar, waar ons gul ontvang word.

"

Net so ‘n bietjie agtergrond oor Kyleu.

Devon was ‘n vliënier wat by ‘n maatskappy in Botswana gewerk het wat plesiervlugte verskaf het. A.g.v. swak onderhoud is hy ‘n ‘n vliegtuigongeluk betrokke en, gelukkkig om dit te oorleef, besluit hy om pad te gee. Hy word ‘n finansiële adviseur waar dit vir die volgende paar jaar met hom goed gaan, maar hy is nie gelukkig in die beroep nie. Hulle kyk rond vir ‘n geleentheid om in te belê en kom so op die eiendom in Dinokeng af. Hulle ontwikkel die boskamp en doop dit Kyleu, ‘n samevoeging van die eerste paar letters van hul 2 seuntjies se name. Tans is daar, as ek reg onthou, 10 staanplekke met eie ablusies maar sonder elektrisiteit . Daar is wel sonkragligte en gasgeisers. Verder is daar ‘n klompie “rivierstaanplekke” waar jy heeltemal en totaal selfonderhoudend moet wees. Die kamp is nie omhein nie en die groot 5 en ander diere kan jou dus kom besoek.

Staanplek 4 word aan ons toegeken en ons is regtig verbaas. Dis nie naasteby die grootste staning nie, maar nogtans is dit gròòt. Die Skulpie met die groter afdak opgeslaan neem slegs ‘n hoekie van die staanplek in beslag. Die ablusieblokkie is lekker ruim met ‘n groot stort, wasbak en toilet.  Buite, maar ook onderdak, is ‘n wasbak vir skottelgoed en klere. Die waterpype loop bo-op die mure en dra by tot die boskampgevoel.

"

"

Die kombuis-/opwasgedeelte van die ablusieblokkie

"

Dis skoolvakansie en dis besig.  Al die staanplekke is vol en op party plekke staan daar tot 3 karavane. Nogtaans is jy gladnie eens daarvan bewus nie aangesien die staanplekke almal minstens 40 meter uitmekaar en heeltemal privaat is. Die bos is dig en jy kan jou buurman glad nie sien nie. Weens die feit dat dit nie omhein is nie, is dit nie ‘n goeie iedee om, veral na donker, van een kamp na die ander te stap om vir jou pelle te gaan kuier nie.

Ons geniet die volgende drie dae daar terdee. Die gras groei geil en is baie lank nà al die goeie reën wat hulle gehad het Dit maak dit plek-plek moeilik maak om die kleiner diere te sien. Ons sien geen katte nie maar baie ander diere en voëls – buffels, blouwildebeeste, kameelperde en baie bok-  en voëlsoorte. Die kaart van die reservaat wat aan jou verskaf word is bedrieglik en ons verdwaal ‘n paar keer. Dit dui bv. nie naastenby al die paaie wat daar is, aan nie. Maar wat, dis alles deel van die pret. Hou maar net aan met ry. Jy sal wel een of ander tyd by ‘n baken uitkom wat herkenbaar is.

"

"

"

"

"

Aanvanklik was ek bekommerd oor ons yskas wat sukkel om die temperatuur waarop ek dit gestel het, te bereik. Dit beteken dat die yskas feitlik aaneen loop en uiteraard baie krag uit die battery trek. Maar uiteindelik het die National Luna dubbelbatterystelsel sy kant gebring en ons het dit sonder probleme oorleef.  Ons ligte was leds wat ekself aanmekaargeslaan het (daardie ledligte wat ‘n mens per rol koop en dan self besluit hoe groot jy dit wil maak) en vanaf 7 ah batterytjies werk.  Ek het die liggies op ‘n plankie vasgeplak en klampies agteraan die plankies vasgeskroef sodat ‘n mens dit dan sommer aan jou tentpale kan heg. Dit het so goed gewerk dat ek nooit eers die hel duur ligte wat ons by Outdoor Warehouse gekoop het, gebruik het nie.

Dinokeng is pragtig en Kyleu is uitstaande.  ‘n Mens kan nie glo dat jy jou slegs 40 minute van Pretoria bevind nie. Soos ek al op ‘n ander gespreklyn gesê het, dis maklik bereikbaar met enige karavaan. Behalwe vir die laaste, sê, 2 km goeie, is alles teerpad.

Wessel, om terug te kom na jou opmerking oor van die dorpies hier rond - ja ek was nogal geskok, bloot omdat ek dit nie hier verwag het nie.  Oor die algemeen is die dorpies daar by ons darem in 'n baie beter toestand, hoewel van hulle ook maar agteruit is. As jy egter na dorpe in die ou Transkei gaan, soos bv Butterworth ens, nou ja.....

 

Boesmans- riviermond

Sarel Marais

Mon, 08/04/2019 - 19:19

En nou roep die jakkalse reg rondom ons. Dis wonderlik. Daar is wel een negatief. Vanaf ons staanplek vannaand (no 9) kan ons daar in die verte enkele stads? liggies sien.