Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus
120492 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Robertson verblyf November gesels Wildehont -21 minutes ago
Die wat daar nou van enjin… Alternatiewe sleepvoertuie neef Herman -1 hour ago
Geert... November gesels Wessel Strydom -2 hours ago
Robertson November gesels Geert -12 hours ago
Grootwind... Alternatiewe sleepvoertuie Wessel Strydom -12 hours ago
Oom Trompie.... November gesels Grootwind -13 hours ago

Namibië en Botswana Toer

Nelspruit
Submitted by Koos Mol on Thu, 25/04/2019 - 21:32
Forums

Die dag waarna ons met groot opgewondenheid na uitgesien het, het toe ook aangebreek. Na dae lange voorbereiding, geboer op die internet en gesels met baie kampers het ons toer na Namibië en Botswana begin. Ons, dis nou ek en Irene saam met vriende Eric en Annette het Dinsdag 23/04 vroeg oggend met baie opgewondenheid en warm harte ons waens gehak en vanuit Hartenbos (ons het die afgelope 2,5 maande op Dibiki gestaan) die twee Rangers se neuse in 'n noordelike rigting gedruk. Ons eerste stop was op Rondeberg net noord van Clanwilliam waar ons een nag oorgestaan het. Vroeg Woensdagoggend trek ons toe verder noord en so om en by 15h00 steek ons die grens oor by Alexanderbaai oppad na Oranjemund. Tans ons 2e nag hier by "Op My Stoep" met net 2 staanplekke en so 20 chalets, en morê (26/04) vertrek ons oor Roshpinah na Aus vir 3 nagte. Vandag 'n rustige, mistige, naterige en koel dag hier op Oranjemund deurgebring. Dis 'n pragtige klein dorpie, baie skoon en netjies met vriendelike mense. Weens die mis was die uitsig by die Oranjeriviermond maar beperk maar tog 'n mooi gesig. Die Jasper House museum op die dorp beeld die diamantbedryf en ontwikkeling hier in die spergebied mooi uit.

Morê, met nog duisende kilometers en mooi Namibië kampdae lê nog voor.............

Reg vir die pad.

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 26/04/2019 - 08:01

Môre-sê Koos !  Dankie vir die "saamry" tot dusver.

Ek sien uit na die res van die toer soos julle vorder, veral die besienswaardighede, kampplekke en die kostes daarvan, brandstofkoste en padtoestande veral vir ons ouens met teerpad-karavane.

Geniet julle reis !

Hierdie een gaan lekker wees om te volg!!!  Ek gaan hom ook fyn dophou en notas byhou vir eendag as ek groot is.....

Veilig ry en geniet. Nam is 'n wonderlike plek.

Nelspruit

Koos Mol

Fri, 26/04/2019 - 22:19

Len, my plan is om so bietjie boek te hou van kostes en ander logistieke data en na die toer so 'n verslaggie saam te flans.

Ons het vanmiddag hier by Aus Haven & Restcamp ingeklok na 'n pragtige rit vanaf Oranjemund. Vir ons wat nie die wêreld ken nie is die landskappe wat jy op die pad teëkom wragties mooi al is dit woestyn. Net jammer dat die mynbedrywighede die area tussen Oranjemund en Rosh Pinah plek plek ontsier. Die verskillende tipe koppies en gebergtes is 'n gesig om te aanskou. Die teerpad vanaf Oranjemund na Rosh Pinah ry soos 'n droom.  Vanaf Rosh Pinah noord is die teerblad so bietjie uitgery (hobbelrig) maar nogtans goed vir 'n padkaravaan. 

Ons ontvangs hier op Aus en ook op Oranjemund was baie gul, die mense hier ken van vriendelik wees. Morê lê ons besoek aan Luderitz met alles wat dit inhou, voor.

Was nou net gou buite om 'n draai te loop en mense kan jy hier die sterre sien, dit lyk behoorlik soos 'n ligtapyt (as mens so kan sê) daar bo jou kop. Hier is nie baie ligbesoedeling wat die prag van die hemelruim verdoesel nie.

Nou eers gaan slaap tot ....................

Port Elizabeth

Frieps

Sat, 27/04/2019 - 11:38

Dankie Koos.   Ek weet sommer ons gaan nou weer lekker lees.   Ek hoef nie eers te sê nie want ek weet julle gaan elke oomblik geniet.   Dus hoop ek maar net julle gaan altyd veilig en sonder enige teëspoed ry.   Ek sien uit na al die vertellinge en foto's wat gaan volg.  

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 04/05/2019 - 21:34

.............., jy het 'n week laas met ons gesels. Bring ons 'n bietjie op hoogte waar julle nou is en hoe dit gaan, asseblief.

Ons ou tuisblyers is nuuskierig !

Nelspruit

Koos Mol

Mon, 06/05/2019 - 20:51

Ons het vanmiddag by Arebbusch op Windhoek ingetrek. Ek is besig met 'n paar woorde en fotos, sal morê ietsie plaas.

Sover is Namibië "great".

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 06/05/2019 - 21:14

..............ons het 50 jaar gelede (ja 50 jaar gelede !) deur Namibia getoer en ook in die destydse Winhoek Karavaanpark gekamp  -  bestaan seker nie meer nie.  Ek wou nog altyd weer gaan, maar is afgeskrik deur stories van kampering deur Suid-Afrikaners wat uitgebuit word  -  veral in Etosha waarin ek natuurlik belangstel.  Ek wag dus angstig op jou terugvoer.

Middelburg

Noel

Mon, 06/05/2019 - 22:07

Koos, dankie vir saamry. Hierdie maand se Wegsleep/Ry is daar n berig oor groep wat met karavane in Botswana getoer het. Ek was nooit in Namibia gewees nie en dit is nog in my begeerte. Geniet jul toer verder !!

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 07/05/2019 - 06:41

Ek't nog nooit by Arebbusch gekamp nie, maar reeds 3 keer in die chalets oorgebly. Dit is na my mening 'n puik plek. Gaan eet een oggend ontbyt in hul restsurant Koos. Hulle pak 'n uitstekende "spread" uit.

Nelspruit

Koos Mol

Tue, 07/05/2019 - 22:59

 

Oor die grens by Oranjemund

Ons het namiddag 26/04 by Aus Haven & Restcamp ingeklok na 'n pragtige rit vanaf Oranjemund. Vir ons wat nie die wêreld ken nie is die landskappe wat jy op die pad teëkom wragties mooi al is dit woestyn. Net jammer dat die mynbedrywighede die area tussen Oranjemund en Rosh Pinah plek plek ontsier. Die verskillende tipe koppies en gebergtes is 'n gesig om te aanskou. Die teerpad vanaf Oranjemund na Rosh Pinah ry soos 'n droom.  Vanaf Rosh Pinah noord is die teerblad so bietjie uitgery (hobbelrig) maar nogtans goed vir 'n padkaravaan. 

Ons ontvangs op Aus en ook op Oranjemund was baie gul, die mense hier ken van vriendelik wees. Aus Haven & Restcamp is gelee in Aus reg langs die motorhawe. Die staanplekke is grond/sand en elke staanplek het sy eie ablusie, opwasgeriewe, wate en krag aansluitings. Die badkamer is nuut en modern. Daar is ook ‘n klein onderdak stoep. Die staanplek is tipies ontwerp vir kampeerwaens en bakkies met daktente. Met die karavaan ingetrek is daar nie genoeg spasie vir ralley jou tent nie. Daar is 6 staanplekke. Die eienaar is besig om die gemeenskaplike ablusie geriewe te herbou.

Die aand stap ek gou buite om 'n draai te loop en mense kan jy hier die sterre sien, dit lyk behoorlik soos 'n ligtapyt (as mens so kan sê) daar bo jou kop. Hier is nie baie ligbesoedeling wat die prag van die hemelruim verdoesel nie.

Saterdag 27/04 lê ons besoek af aan Luderitz met alles wat dit inhou. Die teerpad na Luderitz is baie goed, waarlik 'n plesier om op so 'n blad te ry. Die omgewing, al 120km daarvan is net te mooi om in woorde te beskryf. Vir vele forumlede is dit seker ou nuus maar ek dink die woestyn wêreld skep natuurtonele wat pragtig is, elke paar kilometer verander die landskap, waarlik ‘n wereld van kontraste. Die oop vlaktes lyk soos geel koringlande na die oes en van die berge en koppies lyk soos maantonele en dan weer kry jy sandduine.
Ons besoek aan Kolmanskop was heel interressant en insiggewend, veral die geskiedenis van die ontstaan daarvan en dan sy verval. Die blink klippies het darem maar 'n groot invloed op menige mens se lewe gehad, veral met die droom van groot geld wat daarmee saamgaan. ‘n Mens staan verstom as jy dink waartoe die mense 100 jaar terug in staat was met die groot afstande en weersomstandighede waarmee hulle moes regkom. Hulle het vars water ingevoer vanaf die suide en dan in hulle ysfabriek ys gemaak wat gebruik is om die koelkaste koud te hou en al die mense het ook daagliks ys gekry.
Dit het ons weereens opgeval, soos in Oranjemund, Rosh Pinah en Aus, hoe skoon Luderitz is. Ons het Diaz punt besoek waar die koue windjie ons na ons baadjies laat gryp het. Na 'n heerlike burger by die Cosy Corner Coffee Shop het ons weer die pad gevat terug na Aus net om weer in verwondering te staan oor die pragtige landskap.
Die wilde perde was egter 'n teleurstelling, ons het drie troppe van elk tussen 4 en 6 perde gesien. Na verneem word het die hiënas onder die jong vulletjies gemaai en het die getalle drasties veminder.

Sondag 28/04 besluit ons om rondrit te vat om die wêreld te verken. Ons vat die C13 na Helmering Hausen, draai af op die D707 tot by Spes Bona en terug met die C13 na Aus via Helmering Hausen. Die wêreld is baie mooi, landskap verander elke paar kilometer. Ons het op die D707 by Kanaan Lodge gestop vir 'n heerlike oggend tee. Met 'n heerlike koppie tee in die hand tuur jy vanuit die hoogtes oor die vlaktes uit en dit tref jou dat hierdie wêreld van verlatenheid en baie droogte eintlik straal van prag. Ek kan verstaan dat mense sê die plek groei aan jou. Die grondpaaie is in ‘n goeie tot redelike toestand, van die paaie ry soos teerpaaie, al die paaie is lekker breed. Langs die pad ook ‘n snaakse windpomp gesien. (sien die foto) Google gerus “The Tower of Tiras” vir ‘n interressante verhaal. Gereeld kry jy gemsbokke en springbokkies langs die pad.

Met ‘n voldag agter die rug, ‘n koue bier en ‘n lekker nagrus sluit ons toe ons besoek aan Aus af. Morê  lê die pad voor na Keetmanshoop.

 

 Ons eerste staan op Rondeberg, Clanwilliam.

Die gemsbokke het voorkeur reg in die strate van Oranjemund

 

.................. die jakkalse ook.

 

Die koue byt maar op Oranjmund

 

Ontbyt stop tussen Rosh Pinah en Aus.

 

Kolmanskop.........Ons was daar.

 

Kolmanskop ....... wonder watter werker het hoeveel jare terug in hierdie boots gepas

 

Kanaan Lodge

 

Pragtige woenstyn uitsig

 

Eric op hekdiens.

 

Tower of Tiras

 

Ons twee staanplekke op Aus.

 

My stoephoekie.

 

Oppad na Luderitz.

 

Nelspruit

Koos Mol

Tue, 07/05/2019 - 23:06

Vanaf Aus Haven .......... na Maritz Lodge op Keetmanshoop .......... na Pappot op Maltehöhe .......... na Arebbusch op Windhoek waar ons nou staan, volg.

Vanmiddag so lekker bui reën gehad hier in Windhoek..... Namibië is baie droog.