TO
mabalingwe
galago private bush lodge
Zaagkuilsdrift
Sionbergh

 

nuwe onderwerpgraderingsartikels buttonsaamtrekkelekker resepte

75839 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Hier is darem 'n paar mooi… Voëls Johann L -1 hour ago
Ek is so bly julle het weer… Stof in kappie Johann L -2 hours ago
Ek glo 'n batery moet altyd… Karavaan Battery Johann L -2 hours ago
Ja Wessel jou rowwe bliksem  Stof in kappie Voortrekker -2 hours ago
Oops Die Ford en die Exclusive Willem Brits -3 hours ago
Komaan man, jy verdien dit… Stof in kappie Wildehont -3 hours ago
Het jy weer die Ford gestamp? Die Ford en die Exclusive Voortrekker -3 hours ago

Hollies en Glynis Hollenbach - Kaokoland

Daspoort Pretoria
Submitted by Willem Brits on Fri, 17/07/2020 - 12:42
Forums

VOORWOORD

Ek was al baie in Namibië, Suide, Sentraal en Noorde, tot by Epupa watervalle. Op my bucket list was nog altyd die HART van Kaokoland, tot in die Marienfluss. Al baie daaroor gelees en met mense gesels wat al daar was, ek MOET plan maak.

Dis Oktober 2015 en ons, ek & Moeksie en vriende van ons, Barend & Elsa Meintjes, hou ‘n beplannings vakansie in Ballito. Barend en Elsa is gesoute kampers en het ook al ons land en buurlande deurkruis. Barend is die een wat my oortuig het ons MOET Kaokoland toe, hy was ook nog nie daar nie.

Ek het my Flexi punte gebruik en bly luuks in die La Montagne selfsorg woonstelle. Elkeen gewapen met tydskrifte en artikels oor die dele wat ons beplan om te besoek, begin die toerplan lewe kry.

Na die week van beplanning onderneem elkeen om nog soveel moontlik inligting te kry oor die volgende maande om die toerplan verder vleis te gee. Die vertrekdatum is vas, vertrek 15 Julie 2016 en gaan vir 25 dae toer. Ons het op ‘n stadium beplan om na die trip deur Namibië, sommer deur te toer tot in die Luwa Plains National Park in Zambië. Ons besluit daarteen en sal dit ‘n aparte toer maak, oor ‘n paar jaar.

Het al baie mense op toere gevat en gewoonlik is die beplanning net so lekker as die toer self, veral as jy maande vooraf met die beplanning begin. Die opgewondenheid groei elke keer as jy nuwe inligting op die toerplan aanbring en met almal deel.

Dis 14 Julie 2016. Ons is gedurig op die foon, maak net seker alles wat nodig is, is gepak sonder om onnodig te dupliseer. Ons kan baie items deel en hoef, tussen ons, net een van sekere items saam te vat. Ons sleep niks en gaan elkeen net met sy eie tent toer, so spasie is redelik min as alles in die voertuig moet pas.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 18/07/2020 - 12:57

Vrydag 15 Julie

Ons staan 04:00 die oggend op, dis n laaaang pad vandag. Ons het gereël dat ons mekaar 04:30 by die Sasol garage op die kruising van Hendrik Potgieter en die N14 (Krugersdorp – PTA snelweg) ontmoet. Ek met my Toyoata Hilux 4L V6 4×4 outomaties en Barend met sy Toyota Hilux 4×4 3L D-4D handrat.

Moeksie en Hollies

Barend en Elsa

Die 1 112 km na Zeldas in Namibië is al die pad teerpad, die Trans-Kalaharie teerpad, deur Botswana. Ons moet vandag hierdie stretch doen, want ons moet more, Saterdag, ons proviant aankoop in Windhoek. Die eerste verskyning van ‘n kameelperd langs ‘n plaasheining, naby Mafeking, gee ons ‘n groot opgewonde gevoel dat ons die lang verwagte vakansie met baie beplanning, sy eerste verskyning maak. 

Ons is n paar minute voor nege by die Ramatlabama Grenspos. Daar is min mense en word ons dadelik gehelp. Die paspoorte, voertuig dokumente en opgawe van elektroniese items was alles in orde. Die volledige lys van al die verklaarbare items wat ons voor die tyd gemaak het, versnel die proses.  Hulle tik elke item, serial nommer en bedrag wat die item kos, in die sisteem. Botswana Unified Revenue Service se Road fund (return) was P50, MV versekering P50 en Road Permit P90 = P190.

Dis raadsaam om die return opsie te koop, want dit maak die deurgaan net makliker met jou terugkeer. Jy bataal nou reeds vir die uitkom slag deur die grens met die return opsie. Die dame wat ons gehelp het, was baie vriendelik en behulpsaam en laat jou sommer welkom voel! Ons het geen vleis of groente oor die grens geneem nie, want die kans dat dit gekonfiskeer kan word, is nie die risiko werd nie. Ons beplan om die volgende oggend ons aankope in Windhoek te doen. Mens  wil nie onnodige problem vir jouself maak nie. Ons het wel kos voorberei en gevries, wat jy wel mag invat.

Die pad by Kanye verby is in goeie toestand en dis verblydend om te sien hoeveel moeite Botswana doen om hulle paaie in stand te hou. Die wêreld is baie droog en ons wonder waarvan lewe die diere. Die baie water – belangrik om baie vloeistof in te neem – maak dat jy gereeld moet stop. Dorpe is ver uitmekaar, so die klippe en bossies is al keuse en glad nie te sleg nie. As jy n kamper is wat baie toer, dan is dit maar die manier. Dis eintlik wonderlik om op die natuurlike manier die dinge te doen!! Gee ‘n gevoel van vryheid.

Ons volgende stop is Kang, die Engen Garage, waar ons brandstof vol maak. Ons het genoeg Pula, Botswana se geldeenheid, vooraf by die bank gereël. Genoeg vir die grensposte, brandstof en ‘n bietjie ekstra. Betaling met die plaaslike geldeenheid werk makliker in Botswana, alhoewel sommige pompe wel VISA kaarte neem, as hulle aanlyn is. Rand word aanvaar, maar nie teen ‘n regverdige wissselkoers nie en jou kleingeld is Pula.

Ons geniet die Trans-Kalahari teerpad en klets lekker oor die tweerigting radio. Die pad raak sommer korter as ons gereeld iets uitwys of sommer net skerts. Dis so 20km voor Ghanzi waar ons Wes draai na die Buitepos grenspos. Ons tydsberekning is puik en ons is net na vyf deur die grenspos Namibië binne. Die koste is N$259. Namibië se geldeenheid is Namibiese Dollar en gelyk aan ons Rand.

Dis net voor ses as ons by Zelda Game & Guestfarm aankom. Dis n BAIE bekende oorslaap plek vir mense wat deur Botswana na Namibië toer op die Trans-Kalahari roete. Ons was al self ‘n paar keer hier. Barend en Elsa is aangenaam verras met die skoon kampplek. Kragproppe en waterkrane op elke staanplek. Nadat ons die tente opgeslaan het, stap ons deur die kamp.

Warm stort en skoon ablusie met ‘n prop vir jou haardroër was ‘n ekstra pluspunt en ek sal hierdie oornagplek beslis aanbeveel. Daar is ‘n restaurant en kroeg ook. As jy tyd het, kan jy ook na hulle Cheetah gaan kyk wat rustig in die kamp langsaan loop en jou dophou. 

Ons reëling vooraf was dat ons op kosbeurte gaan werk, elke alternatiewe dag aandete en die volgende oggend se ontbyt, of liewer brunch. Vroegoggende is dit gewoonlik elkeen se eie beskuit of pap en later die brunch. Vannaand is ons beurt en ons eet ‘n heerlike bord Oxtail wat Moeksie by die huis voorberei het en net moes warm maak.  Wat ‘n fees!! Ons slaap daardie nag lekker, alhoewel dit baie koud was.

Skielik gee jy ‘n vinnige gedagte aan die elektriese kombers by die huis, maar net so skielik verdwyn daardie gedagte, want nou is jy in ‘n land van vrede en kan jy nie wag op die volgende ontdekking nie.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 18/07/2020 - 13:15

Saterdag 16 Julie

Ons is net na ses uit die vere en geniet eers ‘n lekker koppie koffie voor ons die tente laat val. Dit gaan redelik vinnig en daar is tyd vir ‘n tweede koffie. Ons pad vandag loop deur Windhoek en Okahandja na Omatuzu Lodge waar ons gaan oornag, sowat 393 km in totaal. Ons pak die dag met energie op ‘n heel hoër vlak aan! Dit was vir Barend en Elsa baie lekker toe ons, elke oggend voor ons ry, die nuwe dag eers aan Jesus opdra en dankie sê vir talle seëninge wat ons volg. Hulle sê die kringetjie maak elke oggend, sal hulle altyd bybly. ‘n Gewoonte op al my toere.

Dis net na sewe as die twee Toyota’s hulle neuse in die rigting van Gobabis en Windhoek draai. Die pad van hier af na Windhoek is ‘n baie goeie teerpad en ons sien gereeld koedoe, eland, kameelperde en ander wild op die plase langs die pad. Die 300 km gaan vinnig en ons is net voor 11:00 in Windhoek waar ons by die Mall die nodige voorrade aankoop. Die pad vorentoe is redelik verlate, so ons trollies is VOL, weet nie of al die benodighede vorentoe beskikbaar gaan wees nie.

Dis met die uitklim slag dat Elsa die klein Bonthoutkapper (Acacia Barbet) in hulle modderskerm opmerk wat vroeër die oggend daarin vasgevlieg het. Pragtige voëltjie wat te gou sy lewe verloor het en dit laat n hartseer oomblik! Barend en Elsa is beide Ere-verldewagters en baie lief vir die natuur, veral n sagte plekkie vir voëls.

Ons mors nie tyd nie, het reeds die lysies opgestel van wat als gekoop moet word en ons is gou weer terug by die voertuie. Ek het al baie gehoor van Joe’s Pub hier in Windhoek wat ‘n MOET besoekpunt is vir enige reisiger. Ons het besluit om sommer daar ‘n lekker ontbyt, of is dit brunch, te gaan geniet.

Dis ‘n Pub wat in ‘n skuur is, maar wat jy nie kan beskryf nie – dis vol ou gemors, maar alles maak sin en het sy plek. Ons vergaap ons aan al die dekorasie wat oral uit die dak hang en sommer net rondstaan. Dit laat jou sommer lus voel om te kuier. Daar is redelik baie mense en jy kan sien hiedie is ‘n gewilde plek. Dis ‘n ander wêreld waarin jy stap en ‘n moet om te besoek.

Ons ry net na 15:00, want van hier af is dit net ongeveer 90 km tot by ons bestemming, Omatozu Safari Campsite, wat net Noord van Okahandja geleë is. Dis ‘n netjiese teerpad tot by die afdraai en dan so 3 km netjiese grondpad tot by die lodge. Met die afdraai na die plaas word ons begroet deur verskeie wildsoorte en die radios gons as die miershope met verskillende vorms uitgewys word.

Ons boek in en gaan soek ons kampplek. Ek en Moeksie was al hier en ken die plek. Dis ‘n pragtige lodge met n paar huisies en kampplekke wat ‘n ent van die dam af gebou is.

Met die opslaan van die kamp, voel dit vir ons die tyd wat jy gebruik te veel van jou kosbare minute van die dag in beslag neem. Jy wil so graag alles vaslê om weer later daardeur te kuier. Elsa voel ons moes dalk eerder twee aande hier oorgeslaap het. Hulle is baie ingenome met die kampplek.

Elke staanplek het ook sy eie ablusie wat bestaan uit ‘n kombuis, opwasplek met warm water, toilet, stort, 220V muurprop, ligte en braai fasiliteite. Die braaiplekke is ’n ronde betonblad wat so 7 stene hoog staan, net hoog genoeg om jou voete op te rus as jy hier langs die vuur kuier. Jy maak vuur in die middel en krap kole uit vir die braai of warmmaak van potte op ‘n driepootjie. Aandete en ontbyt is by die lodge beskikbaar op aanvraag.  Hout kan gekoop word en ons koop twee sakke. Swembad is ook beskikbaar. 

Gewapen met ons kameras stap ons tot by die damwal. Hier is baie voëls. Barend en Elsa se kameras kliek aanhoudend. Ons sit op die damwal en staar oor die water, elkeen besig met sy eie gedagtes. Wat ‘n ongelooflike voorreg om hier te kan sit, in die natuur, naby jou Skepper !

Ons stap terug kamp toe en die vuur word aangesteek. Die stoele is uit en die bosveld TV het lanklaas sulke mooi programme opgelewer. ‘n Vuur in die bos is my bosveld TV, almal kyk na hom, elkeen ingeskakel op sy eie kanaal. Barend en Elsa vertel om die vuur dat hulle nou maklik gewoond kan raak aan net die beste oornagplekke.

Dis Barend se beurt en die reuk van die braaitjoppies vul die lug. Ons kuier nog ‘n ruk om die vuur voor ons gaan inkruip. Met die skoon lug en die feesmaal het die slaap ons vinnig oorval.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 20/07/2020 - 09:41

Sondag 17 Julie 2016

Ons staan net voor sewe op, die 375 km vir die dag is nie te kwaai nie. Na koffie slaan ons af en ry net na agt by die hek uit, Noorde toe. Vanaand slaap ons in Kamanjab.

Die twee Toyota’s vat ons deur Outjo, Otjikondo na Kamanjab. Die veld sê vir jou dis droog, maar die radios is nie stil met al die voëls wat deur Barend en Elsa uitgewys word nie. Het julle daai pragtige Short-Toed Rock Thrush gesien, kom dit oor die radio? Kort-kort sien ons donkies, beeste wat lekker vet is en natuurlik baie bokke.  Hierdie was ‘n gesig wat ons deurgaans op die toer bewus gemaak het van hoe na aan die aarde hierdie mense leef.

Ons maak brandstof vol op Outjo en koop lekker droëwors en biltong by die slaghuis. Die vleis lyk lekker en ‘n paar stukke val ook op die skaal. Ek en Moeksie ken hierdie slaghuis, het al voorheen hier aankope gedoen. Ons vat die pad en ry rustig, het baie tyd. Ons stop iewers langs die pad en geniet eers ons padkos.

Ons kom net voor vieruur by Oppi Koppi Ruskamp in Kamanjab aan. Dis warm!!  Ons boek in en die tente word op ‘n gelyk stuk grond, tussen klippe en droë bossies opgeslaan, bossies wat jare laas ‘n druppel water gekry het. Tog, die staanplekke is netjies. Elkeen het ‘n opwasplek, afdak met ‘n braaiplek en sitplekke waar jy lekker kan sit terwyl jy kuier-kuier die dag se gebeure herroep. Die ablusie is skoon met lekker warm water.

Nadat ons kamp gemaak het, gaan ek, Moeksie en Barend na die kroeg by ontvangs. Elsa bly by die kamp, sê sy wil net rustig wees en die natuur geniet. Dis altyd lekker om die locals te ontmoet en geen beter plek, as die lokale kuierplek, om al die stories te hoor nie. Daar is ook Wi-Fi en ons lees en stuur boodskappe van ons vordering.

Ons ontmoet vir Marthinus Alberts wat ook kom inloer het. Hy is een van die bekende locals en sy werk behels om leeus wat uitgebreek het uit die Khowarib Schlucht bewaringsgebied op te spoor en terug in ‘n reservaat te kry, voordat hulle deur die lokale beesboere geskiet of vergiftig word. Hy vertel van sy oupa wat ‘n Dorslandtrekker was en ons kan nie ophou luister na al sy stories nie.

Hy ken die area goed, BAIE goed en veral die roete na Khowarib wat ons more gaan ry. Ek gaan haal dadelik my kaart en maak notas van sy aanbevelings. Hy sê ons moet in die rivierbedding bly net na die beheerpunt op die Rooilyn, die pad aan die anderkant van die rivierloop is nag, BAIE stof! Hierdie rivierbeddingpad na Khowarib het toe uitgedraai om een van die juwele van die vakansie te wees!

Ons is terug kamp toe en kan nie uitgepraat raak oor die “engel” wat oor ons pad gekom het nie. Sou verseker nie op eie inligting die regte pad gevat het nie, sou wel by Khowarib uitkom, maar dit sou nie dieselfde gewees het nie.

Die vuur word aangesteek terwyl daar lekker gesels word terwyl ek die vleis braai. Ons het ‘n mooi uitsig van hier bo van Oppi Koppi kampplek af. Jy kan die opgewondenheid in almal se stemme hoor as ons praat van die moontlikheid dat ons dalk leeus, olifante en baie ander wildsoorte op more se pad kan raakloop, aldus Marthinus se vertellings.

Na ete, as die ander gaan inkruip, sit ek nog ‘n tydjie buite en probeer die opgewondenheid verwerk. More se roete is nuut vir my, was al by Khowarib lodge, maar het van die westekant, Sesfontein kant, daarheen gery en gekamp. Sien BAIE uit na more se trip!

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 20/07/2020 - 09:45

Maandag 18 Julie 2016

Die roete van vandag bring groot opgewondenheid, want dit gaan ‘n lekker 4×4 ondervinding wees. Die totale afstand is net 157 km, maar die roete is onbekend. Het die roete al by die huis op die GPS gelaai, maar met die koördinate wat Marthinus met ons gedeel het, behoort dit net makliker te gaan.

Ons is vroeg opgepak en vat die teerpad Noord-Wes in die rigting van die Suidelike deel van die Etosha Nasionale park. Na ongeveer 53 km word daar links afgedraai op die Kamdescha pad, n redelike sanderige grondpad wat later verander in ‘n tweespoor paadjie. Ons kom na 17 km op die sandpad by die Rooilyn en die nodige deursoekings word deur die beamptes gedoen. Dis ‘n veeartseny check point wat seker maak, rou vleis en ander diereprodukte word nie vervoer nie, bek-en-klouseer beheerpunt.

Na ‘n verdere 3 km, redelik stof met tye, sien ons waar die pad afdraai rivier se kant toe. Dit is die Ombonde rivier wat hier loop. Ons stop eers en blaas die bande af na 1.5kPa. Nou gaan ons lekker explore !! Barend sê ek moet voor vat, ek het die GPS koördinate van Marthinus op my GPS ingetik. Die rivierbedding is dik sand en die radios vertel dit word baie geniet. Dis ‘n deel van die toer waarna ons almal baie uitgesien het.

Die groot bome oral in en op die rivierbedding laat ons baie oor die radios klets en voel jy, jy wil sommer net hier onder een van hulle stop en kamp opslaan. By tye is die rivierbedding diep en jy besef dit eers as jy die hoë walle hier langs jou sien. Die eerste gedeelte, sowat 40km, ry ons deur Die Beesvlakte op die Khowarib 4×4 roete en sien heelwat gemsbokke en springbokke.

Ons vat dit redelik rustig en veral Barend en Elsa stop gereeld om fotos te neem. Wat ons hier beleef, moet verewig word op kamera. Ou kees sit ewe geduldig op sy uitkykpunt en wonder, wie is hierdie besoekers wat hier verbygaan?

Soos ons vorder, kan ons nie genoeg uitgepraat raak oor die dankbaarheid vir die inligting wat Marthinus met ons gedeel het nie. Met die beplanning het ons gesê die roete loop langs die rivierbedding en die Tracks 4 Africa kaart het oral tekens gewys van BAIE stof, nie stof nie, BAIE BAIE stof !! Dan, skielik …….aan ons linkerkant, staan 2 olifante en vreet rustig aan takke wat net so vol stof is as hulleself. Vir ons was dit ‘n “whow” oomblik!  Die waardering vir die voorreg om deur die rivierbedding te kan ry styg die hoogte in.

Dis toe die groot bome hier voor ons in die rivierbedding staan, dat ons eers moet stop en inneem wat ons ervaar. Ook ‘n goeie tyd om die kos wat gisteraand voorberei is, te geniet. Terwyl ons uitklim is dit eers stil as elkeen in ‘n rigting stap en net staan en staar. Dan word jy bewus van die mooiste natuur wat jou omvou en jy wonder: Hoeveel het al voor jou en gaan na jou, ook hier vir n wyle op n boomstomp kom sit en net die skoonheid inneem en dit diep binne jou bêre.

Onder protes ry ons verder, wil sommer net hier bly, maar hou links in die Hoarib rivierbedding. Hierdie ongeveer 22km staan ook bekend as die Khowarib Schlucht. 

Die rivierbedding is heelwat smaller en die plantegroei verander ook. Die berge wat ook sigbaar raak, sê vir my ons gaan iewers uit die rivierbedding moet uit en die pad langs die rivier soek. Ou kees hier op sy kluit wil dit beaam.

Op ‘n stadium begin die rivierbedding nat word. Ek en Barend stop, klim die rivierbedding uit, op soek na die pad. Ons besluit om ‘n entjie terug te ry waar ons redelik maklik uit die rivierbedding kan kom. Ons stop by ‘n verlate kampplek waar ons eers wiele pomp. Hier is interessante klippe gestapel om van die bome en ons wonder wat die storie hieragter is.

Die ongeveer 8 km van hier af tot by ons kampplek is nie sand nie, maar redelik hard met die BAIE, ek bedoel BAIE stof. Die stof lê soos water in ‘n poel en verswelg jou as jy daardeur ry. In my gedagtes sê ek net weer dankie vir die inligting van Marthinus, want ek sou nie hierdie stof vir die vol roete kon hanteer nie.

Die son is nog hoog, net na vieruur, as ons by die Khowarib Gemeenskapskamp aankom. Elke staanplek het sy eie ablusie, ‘n netjiese struktuur gebou van latte met ‘n stort en toilet op ‘n sementblad. Die uitsig terwyl jy stort is onbeskryflik, ‘n gevoel van vryheid ! Ons boek in en betaal vir een nag voor ons kamp opslaan.

Daar is ook ‘n netjiese kuierplek met latte gebou en ek en moeksie slaan ons tent onder die afdak op. Die vroue wat op diens is by die terrein, wil weet hoe laat ons warm water wil hê vir die storte, sodat hulle die donkies betyds kan kom stook. Daarna gaan verken ons die omgewing en dis wanneer Elsa so op die walle van die rivierbedding sit en net staar, dat ek weet sy het die dag geniet.

Daar is nog genoeg son om van die stof binne in die voertuie te probeer uitkry. Nie dat dit ‘n groot verskil gaan maak nie, want die res van die toer is grondpad, maar dit troos darem. Die son wat sy kop agter die berge begin wegsteek is die teken dat die vuur aangesteek kan word. 

Ons stort lekker warm en kuier nie te laat nie. More is weer ‘n lang ent pad tot bo by die Kunene rivier.

Ablusie met stort en toilet

Uitsig terwyl jy stort

Wat ‘n ongelooflike dag, al het ons nie die leeus gesien nie, seker een van die hoogtepunte van ons toer!

Môre vriende

Ek gaan nou huerdie draad besoedel met 'n opmerking;

Die mense se toere maak my sommer jaloers, begin ek uitsien na aftrede, en sulke vriende om sulke toere mee saam aan te pak.

Genugtig, moet ons nou in die inperkingstyd blootgestel word aan sulke reise en kampering.

Neef Herman: dis mos nou luuks --- om so met basies net 'n tent en staatmaker vriende en voertuie[?] die natuur te geniet.

Groete

Secunda

Sleep nou

Mon, 20/07/2020 - 11:13

Ek stem saam Wessel man dit lyk regtig lekke al was ek innie Noord Kaap vir n ruk kon jy doen en maak wat jy wou nie die mense het verseker n hond uit n bos gekamp wow die natuur daar is moer mooi skies ek kan dit nie anders se niewink

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 21/07/2020 - 14:54

Dinsdag 19 Julie 2016

Ons vertrek vroegoggend en ry verby Khowarib Lodge, waar ek en Moeksie al verskeie kere gekamp het. Dis nie baie ver van die Khowarib gemeenskapskamp waar ons oornag het nie. Die totale afstand van hier af tot by ons oornagplek, Kunene River Lodge, is 369 km. By die grootpad draai ons regs in die rigting van Sesfontein en na ongeveer 20 km op die mooi grondpad, net voor Sesfontein, draai ons regs op die C43. Van hier af is dit 136 km tot op Opuwo. Ek het al die pad verskeie kere gery, ‘n redelike goeie grondpad.

Daar is redelik baie beeste en bokke op die pad, so ons vat dit maar rustig. Die landskap is ongelooflik mooi en dit wissel van woestyn – klip – stofstorms – droë landskap!! 

Die stukkie teerpad teen die bergpas uit maak jou bly, veral as dit jou eerste keer hier is. Jy dink net die grondpad is klaar, tot jy anderkant die berg kom en die 2 km teer raak weer grond.

Ons stop by die bekende Boabab bend, sowat 40km voor Opuwo en neem eers fotos van die ou reuse.

Ons vorder goed en is net voor 11:30 in Opuwo. Met die aankoms in die dorp, kan jy nie behoorlik die huise en geboue sien nie. Die wind waai sterk en daar is ‘n hewige stofstorm wat die sigbaarheid beperk. By die garage waar ons brandstof gaan volmaak, is dit ‘n miernes van bedrywighede en ons staan in ‘n tou vir volmaak.

Die Himba en Damara vroue raak irriterend as hulle die handgemaakte armbande, vrugte en ander items aan jou wil verkoop. Het al geleer, jy maak nie jou venster oop nie en maak ook nie oogkontak nie. Kry hulle eintlik jammer, moet ook ‘n bestaan maak, maar ja. Net so baie vrouens wat daar rondloop, net so baie voertuie is daar wat probeer brandstof ingooi en ons moet omtrent ons draai agter en voor ken om nie teen ‘n ander voertuig te stamp nie. Dit is opmerklik hoe vriendelik en verdraagsaam almal is wat wil brandsof ingooi!!

Dit gaan stadig, want Barend se brandstoftenk het ‘n air lock wat hulle net nie kan regkry nie en dit neem lank om altwee die tenks vol te maak. Einde ten laaste vat ons weer die pad, dis nog net 56 km grondpad voor ons by die C25 teerpad na Ruacana aansluit.

Mense boer met beeste en bokke. Ons sien ook weer ‘n paar donkies, beeste, Himba- en Damara vrouens langs die pad. Die vroue is tradisioneel aangetrek is vir foto’s @ N$20 – N$50 ’n foto.  Elsa vertel later dat haar kamera nie die bekende klik geluid maak nie en kon sy ‘n ma en kind mooi natuurlik afneem, sonder dat hulle geweet het. ‘n Mens moet egter skryfbehoeftes en mieliemeel, ens. saamneem om uit te deel aan al hierdie kindertjies, want waar jy ookal ry, kom hulle aangehardloop met uitgestrekte handjies en honger ogies. Verkieslik nie koekies en lekkers nie – daar is nie tandartse nie!

Die teerpad is mooi en ons vorder vinning tot in Ruacana, waar ons weer brandstof volmaak. Dit is die laaste brandstof geleentheid vir amper 2 weke tot ons weer terug in Khowarib sal wees. Ons het elkeen ook ‘n Jerrykan wat volgemaak word vir ekstra brandstof. Dis jammer ons tyd is beperk, sou graag by die Ruacana dam en waterval ook ‘n draai wou maak. Dalk ‘n volgende keer.

Van hier af is dit 68 km tot by ons volgende bestemming, Kunene River Lodge, net voor Swartbooisdrif. Die pad van hier af raak uitdagend, ‘n tweespoor paadjie, baie klipperig en dele sand, al langs die Kunenerivier. Barend sien ‘n Himba vrou in tradisionele drag langs die pad met haar man, neem hy aan. Hy klim uit en maak hom gereed om ernstig te onderhandel om ‘n foto te neem en groet vriendelik met “Good morning”. Die man stop hom onmiddellik met ‘n: “Net Afrikaans”. So moes ons meer as 2000km ry om net in Afrikaans te mag praat, terwyl die taal in ons eie land nie orals welkom is nie!

Die pad van Ruacana na Epupa watervalle is in totaal 170 km en kan jou maklik twee dae neem om te ry, veral as dit die seisoen baie gereën het. Dit staan bekend as die Kunene 4×4 roete. Het al geleer, hier praat jy van tyd wat dit gaan neem om van punt A na punt B te ry, dit het NIKS met die kilometers te doen nie. Die toestand van die pad en jou voertuig bepaal die tyd! Hierdie paadjie was al lankal op my bucket list.

Ons word net voor 16:00 die middag begroet met ‘n ongelooflike groen oase van palmbome. Die Kunene River Lodge is ‘n interessante kampplek. Dis in 2 dele verdeel, die voertuie staan op die grond gedeelte en die tente op die gras gedeelte.  Na ons tente opgeslaan het, was daar tyd vir klere was.  Die ablusie is puik met was geriewe, warm water, braaiplek, elektriese punte en bestaande ligte by die braai, asook wi-fi by die kantoor.

Hout is nie te koop by die lodge self nie, maar wel net buite die hek, waar jy by die gemeenskap kan koop. Almal is baie vriendelik en behulpsaam.  Weereens ‘n paradys vir fotografie. Die Kaalwangkatlagter (Bare-Cheek Babbler) was vir Barend en Elsa ‘n gunsteling, asook die likkewaan wat so skaam-skaam by die boot se rant uitgeklim het.  Hy was egter baie geduldig sodat ons ‘n paar foto’s van hom kon neem.

Die braaivleis, pap en sous die aand was heerlik, meer nog die vooruitsig van môre-oggend se laat lê, want ons slaap nog ‘n aand in hierdie mooi paradys!. Die weer was tot dusver baie goed vir ons met hier en daar ‘n bietjie wind.  Die aande is egter baie koud, maar dit is Julie en die beste temperature vir die dag om rond te reis.

Ons kuier ekstra lekker om die vuur vannaand, kan nie uitgepraat raak oor ons ervaringe tot nou toe nie, geseënd!

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 21/07/2020 - 15:03

Woensdag 20 Julie 2016

Die vars lug hier langs die Kunene maak dat ons laat inlê. Vandag is dit net rustig wees hier in die kamp, om net weer tot verhaal te kom na die vorige dae se lang ritte. Ons loop deur die terrein en verken verder. Dit is baie netjies en boomryk met ‘n groot verskeidenheid voëllewe.

Dis ‘n pragtige sonskyn dag en die jetty hier voor ons op die rivier roep hard. Elsa het spesiaal ‘n visstok gekoop vir hierdie toer, wil ook die vis-ding probeer. Ek en Barend gooi spinners maar is nie gelukkig genoeg om iets te vang nie. Dis as Elsa opgewonde hier langs my skreeu : Ek het hom, ek het hom !! Ek sien daar is ‘n redelike vis aan die lyn as die stok kwaai buig. Sy het by een van die tuiniers ‘n miswurm gekry en aan die hoek gesit. Die locals weet gewoonlik beter wat se aas om te gebruik vir die vis.

Na ‘n redelike lang tyd van spook met die vis in die water, kom hy los. Ongelukkig was daar ook nie tyd vir fotos neem nie. Duur les: Moet nooit sonder ‘n net gaan hengel nie! Ten minste was daar 2 getuies, en sy was baie in haar skik met die ± 2 kg barber!!  ‘n Heerlike gevoel nadat sy n hoek verloor het, maar dis deel van die leer proses.

Die middag is ons net rustig, elkeen besig met sy eie ding. Daar word veral baie fotos van voëls geneem en die groot likkewaan kom maak ook seker dat hy deel vorm van ons fotografie sessie. Die eienaar van die Lodge kom maak kennis en ons gesels lekker. Hy noem dat die Lodge baie bekend is onder voëlkykers en heelwat buitelanders kom gereeld hier besoek aflê.

Op navraag oor die pad na Epupa is ek BAIE teleurgestel toe hy ons meedeel dat die rivier pad, soos hy bekend staan, vir nog net ongeveer 15 km aanhou. Daarna klim jy op ‘n nuwe groot grondpad wat hulle nog besig is om klaar te maak van Epupa tot by Ruacana. Dit behoort ons nie meer as 4 ure te neem tot by Epupa nie.

Dis net waaroor ek gereeld praat, moet die dinge doen VOOR alles verander. Het by so baie mense gehoor wat die rivierpad al gery het, wat se wonderlike ervaring dit was. Maar dis nou verby, sal NOOIT weer dieselfde wees nie! Dit is ongelukkig wat hulle noem : Vooruitgang.

Om die vuur kan ons nie uitgepraat raak oor hierdie pragtige kampplek nie. Sal hom verseker aanbeveel. Ons kuier laat, hoef nie more baie vroeg te wikkel nie. Die roete more is nie meer ‘n 4×4 avontuur wat ‘n volle dag gaan neem nie en ek weet nie hoe om daaroor te voel nie. 

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 21/07/2020 - 15:07

Donderdag 21 Julie 2016

Vanoggend word daar rustig opgepak en dis net na agt as ons by die Lodge uitry. Die rivierpad is ‘n lekker uitdagende 4×4 roete en ons praat baie oor die radio om gate, slote en obstruksies uit te wys. Oral langs die roete sien ons Himba vrouens en kinders wat tradisioneel aangetrek is.  Alhoewel die meeste mans egter westerse kleredrag dra, is daar sommige mans wat wel tradisioneel aangetrek is met die haarstyl wat bestaan uit 2 lang punte wat op die voorkop na voor wys. Dit beteken hulle is nog ongetroud. Wanneer hulle trou, word dit bedek met n groot tipe hoeddoek. Die vrouens se hare en lyf is met bokvet en rooi grond (gemeng) gesmeer, asook die haarlokke wat afgerond word met donkie hare op die punte van die lokke.  Baie mooi!

Ons is nie ver op die rivierpad af nie, toe moes ons stop. Daar voor ons is ‘n local se bakkie wat in een van die driwwe vassit. Ons bied hulp aan en dis as jy die glimlagte sien, dat jy weet hulle waardeer die aanbod. Ek ry verby die bakkie, gebruik ‘n tou wat hulle aanbied en trek die bakkie uit. Dis ‘n rookwolk en gille van opgewondenheid as die toeskouers langs die bakkie wat uitgesleep is, kom staan en dankie sê.

Die res van die rivierpad, sowat 10 km, is lekker om te ry en ons geniet die Toyota’s! Die natuur hier langs die rivier is asemrowend en jy neem redelik baie in teen die slakkepas wat ons ry. Voor in die pad lê ’n groot boom wat omgeval het en moet daar mooi gery word, nader aan die onderkant van die rivier. Moet seker maak ons val nie nou vas nie. Dis net toe ons aan die anderkant uitkom, dat daar talle geel monsters staan. Verskeie bulldozers, Front end loaders en padskrapers wat die ‘nuwe” pad aankondig. Dis hier waar die Kunene 4×4 roete stop.

Die Toyota’s draai hul neuse en klim op die nuwe pad wat maar redelik klipperig is, maar ons vorder vinnig. Die natuurskoon, moet ek bieg, bly betowerend, ten spyte van die nuwe pad. Ons ry verby die Lodge eienaar se voertuig en Barend stop eers by hom. Daar is nog ‘n man by hom en hy vertel dat hy ‘n spesifieke voël hier kom soek om vir die besoeker te wys. Was ongelukkig nie suksesvol nie, maar sal weer laatmiddag kom kyk. Hy het hom al ‘n paar maal in hierdie omgewing opgemerk.

Ons sien redelik baie swartneus rooibbokke, steenbokke en verskeie voëlsoorte langs die pad. Die locals op die donkies en perde, oral langs die pad, kondig die waardering vir die vooruitgang aan. Die pad gaan dit baie makliker vir hulle maak om voorraad te gaan koop en vervoer.

Dis net voor 12:00 toe ons by Omarunga Lodge inry, gaan vir twee nagte hier vertoef. Dis ‘n Lodge reg op die Kunene rivier, soos meeste van die lodges hier, almal langs die rivier. Ek en Moeksie was al voorheen hier en ook al gekamp by van die ander plekke. Ons hou egter van Omarunga en kry staanplek nommer 5, reg op die rivier! Dis die uitdrukking op Barend en Elsa se gesigte as ons by die kampplek stop, wat my sê hulle is aangenaam verras.

Daar word kamp opgeslaan, Barend omtrent in die rivier en ons maak seker die tente maak rivier se kant toe oop. Wil die gedruis van die waterval hoor as ons slaap. Daar is net een lodge tussen ons en die waterval, aan die westekant, en hier van ons kampplek af kan jy sien waar die water oor die rotse afloop waterval toe. Die rivier hier is redelik breed en aan die oorkant van die rivier is Angola. Hierdie deel rondom Epupa is werklik ‘n oase, pragtige palmbome oral op die oewer van die Kunene rivier. Hier is ook ‘n redelike groot nedersetting met heelwat locals wat net ‘n bestaan maak uit die toeriste wat hierheen kom.

Hier is nie krag by al die staanplekke nie, net so twee of drie kragpunte op strategiese plekke. Die krag word opgewek deur ‘n kragopwekker en is net beskikbaar tussen 06:00 en 18:00. Die yskaste ens wat op die voertuie is het nie ekstra krag nodig nie, kom goed oor die weg met ons ekstra battery toerusting. Ons ligte is genoegsaam en Barend wil weet waar ek my ligstaander gekoop het. Waar is myne? Is die vraag toe hy hoor ek het hom self gemaak. Liggewig, slaan klein op en baie effektief. Hy het wel syne na die toer gekry.

Die res van die middag word rondom die kamp gespandeer, nie werklik nodig om van jou stoel af op te staan om die natuur te geniet nie. Die water wat hier voor jou verbyvloei, die voëllewe en dan ook die monster krokkodille wat oral aan die oorkant op die walle en klippe lê om te tan. Glo my, hier is GROOT menere!

Die ablusie is ‘n entjie van ons af, baie netjies en ruim. Omdat die water met sonkrag verhit word, word daar vroegaand gestort!

Die braaiplek is skaars 4m van die rivier af en glo my, daar is min braaiplekke met hierdie uitsig! Barend en ek het genoeg hout aangekoop, gaan lekker braai en verseker bosveld TV kyk elke aand. As die son agter die berge wegraak, word die vuur aangesteek. Later braai ons ‘n vleisie en kuier lekker, met die waterval wat sagte agtergrond musiek verskaf. Om die kampvuur besluit ons om more die area te gaan verken en die waterval te gaan besoek.

Op so ‘n toer word daar mos BAIE glasies geklink maar vanaand word daar ‘n glasie geklink  op die afgelope paar dae wat ons vriendskap ‘n dieper betekenis gekry het.  Vanaand gaan ons lekker slaap. Ons is geseënd!!

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 23/07/2020 - 13:12

Vrydag 22 Julie 2016

Daar is min plekke waar jy so rustig wakker word, hoor die rivier en waterval in die verte, die gesang van voëls, sluimer dan weer in, net om weer wakker te word en te besef, dis nie ‘n droom nie. Dis regtig! Ons kamp hier op die walle van die Kunene, by die Epupa watervalle. Wat ‘n voorreg om dit saam met vriende te kan deel, veral as dit nie jou eerste keer is nie.

As ek my kop by die tent uitsteek, sien ek eers vir Elsa, kamera in die hand, besig om alles op kamera te verewig. Barend is lankal op, ook gewapen met sy verkyker en kamera. Moet sê, die foto wat Elsa geneem het van die vink wat onderstebo hang, is besonders. Dit het later in ‘n BirdLife SA uitgawe gepryk. Foto’s van die Rooiwangparkiet (Rosy Cheek Lovebird) het in oorvloed op hulle kameras verskyn, asook allerhande ander voëltjies.

Ons koop by die locals hulle varsgebakte buns wat hulle vroegoggend bak en vars en warm aflewer @ N$3 per bun, wat heerlik is.  Veral ekstra smaaklik met appelkooskonfyt of stroop, het maar ‘n liefde vir die soetigheid. Dit bly egter net vir een dag eetbaar, daarom eet ons alles op.

Na ete stap ons waterval toe, sowat 400m van die kampplek af. Elsa stop by die Himba vrouens hier onder die riet afdak, hulle kiosk, waar sy ‘n armband koop. Almal is oorvriendelik, wil jou oortuig om nog items te koop. Elsa se N$30 is ‘n goeie belegging om die plaaslike gemeenskap te laat oorleef. Ons word oorval deur mans wat hulleself as gidse aanbied met woorde soos : Show you everyting. I know the area. Kom saam, ek ken alles. Come, I will show you nice place.

Die watervalle bestaan uit die hoof waterval, met baie ander kleiner valle oral oor die breedte van die rivier. Water het oor miljoene jare die topografie verander, om weer nuwe valle te vorm. Die kremetarte op die rotse, oral tussen die watervalle, kleur die prentjie net nog mooier in. Dit is uit ‘n ander wereld en is voorwaar ‘n prentjie om te aanskou. Met die huidige watervlak stap ons tot reg by die hoof val en die kameras kliek as die ligte sproei jou afkoel. Kan nie genoeg fotos neem nie.

Ek en Barend stap later na die onderkant van die gorge, waar daar ‘n hele aantal klein strandjies is. Hier kan mens lekker kom piekniek hou. Die paadjie wat ons stap is nie baie rof nie en heel skaflik. Ons stap later in een van die skeure op en kom weer redelik hoog teen die koppie uit, terug waterval toe.  

Terug by die kamp besluit ons om al langs die rivier op te ry en by van die lodges te gaan inloer. As jy deur die Himba stat ry langs die rivier, verby die bakoondjie, kom jy by die Epupa Rafting camp uit.  Hier is dit ‘n oase wat jou laat voel jy het tuisgekom @ N$1,400 pp per nag Bed & Ontbyt ingesluit. Tent 7, 8 & 9 sit op ‘n ongelooflike mooi area en het ‘n pragtige uitsig.

Ek vertel vir Barend en Elsa van ons vorige trip, toe ons die river rafting ding gedoen het. Ons was ‘n redelike groot groep en moes die rivier aandurf. Die gids roei voor en voor elke rapid beveel hy aan watter roete om te vat. Dis as ons rustig roei en hy met sy spaan op die water slaan om die krokodil water toe te jaag, dat jy besef waarvoor jy jouself ingelaat het. Dis te laat, jy is klaar in die stroom. Ek en Anton is die eerstes wat ons boot laat tip. Met die prentjie van die monster wat ons nou net gesien het vars in die gedagtes, is dit sekondes en jy is weer in die boot. Dit was ‘n ongelooflike ervaring!

Ons gaan ook besoek aflê by die lodge geleë op die koppie, Suid van Epupa. Kapika Waterfall Camp is ± 1km vanaf ons kampplek af. Die eienaar verwelkom ons vriendelik en vertel ons die geskiedenis van die lodge. Die Jack Russel wat ons op vorige besoeke by die rivier gesien het, was sy hond. Hy was al ‘n local hier, die hond. Het baie lief geword vir hom die vorige keer en kan nie glo dat hy nooit deur ‘n krokkodil gevang is nie. Hy was river wise. Die eienaar vetel dat hy ‘n paar maande gelede dood is, vermoed dit was hondsdolheid.

Terug by die kamp verkeer ons rustig langs die rivier. Die visstokke moet werk kry en ons gooi ‘n paar keer in. Hier in die einste Kunene rivier verloor Elsa ook haar eerste spinner, want sy het gehoop sy kon verbeter op haar vorige visvangs en hierdie keer het sy gemik vir ‘n tiervis – die vis met die vreeslikste tande!! Na baie probeerslae gee ons moed op, sal maar wag tot by die Okuvango om behoorlik te vang.

Ek stap deur die kamp en gesels met ‘n ander man wat hier kamp. Hy ken die roete wat ons more gaan ry en beveel aan om die noordelike roete te ry na Van Zyl’s Community kamp. Hy is beter as die een wat van Suid af inkom. Hy sê ook dat die pad na die Community kamp amper rowwer is as die pas self. Ek luister mooi wat hy sê, hoewel dit nie alles sin maak nie. Het die roete op my GPS geplot en sal maar daarby hou.

Die cooler boks word gepak met ‘n bottel of drie wyn, glase, chips en snacks. Ons moet die sonsondergang gaan beleef vanaf die uitkykpunt bo-op die koppie, Suid-Oos van die valle. Jy moet nou N$20 betaal om boontoe te ry, was gratis die vorige keer. Seker ook deel van die “vooruitgang”.

Van hier bo af het jy ‘n ongelooflike uitsig oor die valle en die hele vallei. Hier is nou ook ‘n afdak gebou wat dien as ‘n kroeg waar jy ‘n bier kan koop. Daar is ook kuierplekke uitgesit van klip gebou, heel oulik. Ons dra die cooler boks na een van die kuierplekke en neem stelling in. Dit raak eers vir ‘n paar minute stil as elkeen behoorlik inneem wat ons nou sien en ervaar. Jy begin verlang na mense wat jy nie ken nie, ongelooflik dankbaar dat jy dit weer kan beleef. Ek voel klein as ek in stilte die prentjie bewonder.

Die kameras kliek aanhoudend as die son die prentjie voor jou elke minuut laat verander. Jy voel jy wil hier kamp opslaan, sommer vir lank hier bly. Die son is al weg en dis redelik skemer as ons onsself moet dwing om die pad terug te vat kamp toe want dis die laaste aand hier en daar moet nog gebraai word.

Om die kampvuur sê ons vir mekaar dat mens maklik ‘n week of langer hier in die paradys kan spandeer. Die omgewing is ongelooflik mooi en die rustigheid maak nes in jou binneste. Hier kan jy weer mens word, rus vir jou siel kry. Dis plekke soos hierdie waar mense saam kuier sonder om woorde te spreek, elkeen besig met sy eie gedagte, kop skoonmaak. Dis ‘n plek waar jy al die stukkies van jouself kan bymekaar maak!

Dis Barend en Elsa se kosbeurt en ons word bederf met wors, tjops en gekookte aartappels. Die braaivleis vanaand smaak anders, lekkerder, moet die Kunene se lug wees. Ons bespreek vinnig more se program, wil redelik vroeg in die pad wees, want die grootste deel van die roete is onbekend. Vanaand gaan ek lekker slaap, my siel se batterye is weer gelaai.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 23/07/2020 - 13:25

Saterdag 23 Julie 2016

Almal begin vroeg roer, eerste mossie, want ons weet nie presies wat vandag alles gaan oplewer nie. Die onbekende faktor, wat ook die ongewone opgewondenheid hier binne jou losmaak. Daar word vinnig klaar gepak en ry net voor 7 by die lodge uit. Die eerste 72 km ry ons Suid en dis ‘n redelike goeie grondpad tot by Okangwati. Van daar draai die pad regs in ‘n westelike rigting, waar die voertuie, of sal ek eerder sê die bestuurders, se vermoë getoets gaan word. Nou is dit 4×4 op sy beste. Van hier af is dit ongeveer 73 km tot by ons volgende kampplek, Van Zyl’s pas gemeenskapskamp.

Aanvanlik ry ons deur heelwat statte met ‘n twee spoor paadjie wat elkeen vurk in baie rigtings, dis dan wat jy die huiswerk waardeer wat jy vooraf gedoen het en die koördinate op die GPS ingetik het. Jy glo dit is reg en volg die GPS. Die landskap is mooi, berge en heuwels oral langs ons en redelik boomryk. Op ‘n stadium sien ek ‘n Breëkoparend hier in die boom waaronder ons deurry. Ons stop en neem eers ‘n paar fotos. ‘n Land Cruiser kom van voor af, ‘n bewaarder wat by ons stilhou en eers gesels. Hy kom nie van die pad wat ons gaan ry nie, maar sê ons gaan ‘n mooi wereld beleef as ons hom vertel waarheen ons op pad is. Die pad raak al meer uitdagend.

Baie klip met skerp punte is aan die orde van die dag.  Sommige plekke moes ons pad bou en ek het gewonder of ons nie dalk klaar in die Pas is nie.  Sommige plekke het mense klippies in die bome gepak. Op die pad verder het ons baie Himbas gesien met klein kindertjies. Orals is daar nedersettings met veekrale vir hulle bokke en beeste. Daar is ook baie botterbome, kremetarte en ander plante op die roete. 

Die heuwel met die gepaste naam van Heartbreak Hill was ‘n riller. Hy het onverwags voor ons verskyn en daar was nie tyd om te dink nie. Die ongeloof was merkbaar op my gesig as ek na die “pad” hier voor my kyk. Moet ons hier op ???? Die dongas en groot klippe lyk eerder na versperrings as uitdagings! Gou eers gestop, donkierat en in eerste is ons kruip-kruip daar uit.

Die wiele spin en gly as die Hilux, voel vir my na ‘n meter per minuut, die stylte uitklim. Dis nou kalm bly en kop hou as die adrinalien deur die are pomp. Kan nie bekostig om nou ‘n fout te maak nie! Aan die bokant stop ons eers om asem te skep en die ervaring te verwerk. Ek trek diep en lank aan my pyp en rook hom warm.

Die man met wie ek gister gesels het, het spesifiek van hierdie uitdaging, Heartbreak Hill, gepraat. Nou verstaan ek, want jou hart kan maklik ‘n paar slae mis as jy hier opry. Hy het gesê dis erger as Van Zyl’s pas self, sal maar wag tot more om te weet. Hierdie was ‘n groot ervaring en toets vir voertuig en bestuurder!

Terwyl daar verder gery word , praat ons gedurig op die radio om skerp klippe, dongas en ander hindernisse uit te wys. Ons geniet die voertuie en is dankbaar dat daar tot nou toe geen teëspoed was nie. Die entjie redelike pad kondig aan dat ons moet stop en die kos, (wors, eiers, kaas, aghurkies en bunseers gaan geniet om ons weer stewig in die sitplek vas te anker. Dis net na 12:00 as ons die laaste skof aanpak.

Die laaste 7 km is ‘n heerlike sandgrond pad en dit voel of jy op ‘n highway ry. Ons is net voor 16:00 by die ontvangs, ‘n rondawel hier eenkant, waar ons inboek. Die Himba agter die toonbank groet ons vriendelik in Afrikaans en heet ons welkom. Verbaas om jou taal in diè uithoek van die wêreld te hoor! Die kampplekke is ‘n ent verder aan, deur die rivierloop en ons kan kies waar ons wil kamp. ‘n Kampplek langs die rivierloop wat lekker omring word deur rotse lyk perfek.

Dit is baie basies, ‘n sementblad waarop jy braai, ‘n kraan en ‘n opwas onder die een boom. ‘n Entjie verder is daar ‘n netjiese rietafskorting waar die toilet is. Langs die toilet is die stort, ook met riet toegemaak. Die toilet word met ‘n emmer gespoel wat jy weer moet volmaak as jy dit gebruik het. Daar is nie water vir die toilet of die stort nie en die enigste water is by die kraan van die opwas onder die boom. Hier gebruik jy jou eie stort sak wat laatmiddag in die son gelê word om warm water te verskaf.

Nadat ons kamp opgeslaan het loop ons rond en verken die wêreld. Net aan die bokant van die rotse, ‘n entjie weg, is daar ‘n beeskraal met heelwat beeste in wat ook maak dat ons elkeen met n boomtakkie sit en vlieë waai, anders kruip hulle in jou neusgate en mond! Die ander kampplekke lyk maar redelik dieselfde en ons sê vir mekaar ons het reg gekies.

Ons steek redelik vroeg vuur aan, wil nie te laat bed toe nie. More is die GROOT dag, die berugte Van Zyl’s pas. Sal more uitvind of die stories oor die pas waar is en of dit nie so erg is nie. Moeksie bak vir ons ‘n perfekte potbrood, wat nog warm is as ons dik snye sny en met botter en konfyt geniet. Dit raak redelik koud as ons om die vuur sit en die dag se ervaringe bespreek.

Ons is lankal in die kooi toe die gedreun van motorfietse al nader kom. Dit klink na ‘n hele paar wat inkom en jy hoor hulle sukkel deur die sand van die rivierbedding. Ook hulle raak vinning stil, glo hulle gaan ook more die pas aandurf.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 23/07/2020 - 13:36

Sondag 24 Julie 2016

Toe breek die groot DAG aan !!! ……. Die opgewondenheid maar ook skrikkerig vir die die onbekende laat die adrinalien lekker sterk pomp!! Ons ry 7:30 vanaf die kamp en pak die dag se roete aan. Die totale afstand is 72 km tot by Camp Syncro waar ons gaan kamp. Die eerste 12 km is die berugte Van Zyl’s pas en vat jou af tot in die Marienfluss. Daarna is dit ‘n redelike maklike sandpad vir 60 km tot bo teen die Kunene rivier.

Die pas, soos ons hom vandag ken, is in 1965 “gebou” deur Ben Van Zyl, destydse Kommisaris van Kaokoland. Dit is die hoogste pas in Namibië en is 948m bo seespieël. Die pas mag ook net in een rigting, van bo af ondertoe, gery word. Dit word bestempel as een van die ergste passe in Suidelike Afrika. Dis te gevaarlik om die pad van onder af op te ry en sal ook groot chaos veroorsaak as voertuie bymekaar moet verbygaan in die teenoorgestelde rigtings. Die aanbeveling is om nie te sleep as jy die pas aandurf nie, hoewel menigte manne dit al gedoen het met waentjies en self off road karavane. Natuurlik met die nodige skade aan die voertuie en karavane as bewys van hulle waagmoed.

Na so ongeveer twee kilometres van die kamp af, kondig die pad aan: Jy is nou in die begin van die pas. Dit was nie lank nie, of die eerste klippe pak het begin en dis waar die verborge talente ook na vore gekom het. Moeksie was die baas klippakker asook ‘n uitstekende “dirigent”. Dis die naam vir die persoon wat voor die voertuig staan en wys, arms swaai na links of regs, of wys jy moet stop. Op baie plekke kan jy as bestuurder niks hier voor, onder die neus van die bakkie, waar die voorwiele is sien nie. Die voertuig se neus wat hemel toe kyk maak dit noodsaaklik om ‘n goeie “dirigent” te hê!

Ons vat die uitdagings baie rustig, wil nie bande verloor of die voertuie seermaak nie. Oral waar ons huiwerig voel oor klippe wat bande kan seermaak, klim ons eers uit, loop oor die terrein om te verken en pak klippe waar nodig. Dan vat ek eerste die uitdaging met Moeksie wat dirigeer en Elsa wat fotos en videos neem. As ek veilig anderkant uit is, kom Barend agterna, maar eers nadat die klippe wat geskuif het weer in posisie geplaas word. So gaan dit met elke rowwe stuk pad wat ons teëkom, en daar was BAIE sulke dele.

Met elke voertuig se eie spaarwiel en net een ektra wat Barend saamgebring het, vat ons dit baie stadig en versigtig. As jy die oorblyfsels van ‘n waentjie of twee hier langs die pad sien staan, dan besef jy : Hierdie pas is nie jou man se maat nie, hy is jou meerdere en jy respekteer hom met alles in jou. Ek geniet nou werklik die krag van my Hilux 4L V6 pertol outomaties. Moet sê ‘n handrat is dalk makliker as jy net ‘n halwe meter oor die klippe wil vorentoe en weer stop. Met die outomaties moet jy baie vinnig jou voet briek toe vat as die wiel oor die klip is, om nie die “dirigent” te stamp nie.

Het al gehoor van BAIE manne wat bande hier verloor het, en ‘n ongeluk gebeur gou, maar ek het tyd en al vat dit ons die volle dag, ek gaan versigtig wees. Die videos wys egter hoe skrikwekkend die rit eintlik was en die hammering wat die bande vat as jy oor die klippe kruip.

Die net as Moeksie en Elsa weer in die bakkies is en ons ‘n ent “redelike” pad kry, wat die ritueel weer begin : Uitklim, verken, dirigent en kameravrou op hul poste, klippe pak en ek en Barend die Hiluxe afbring. Dis ‘n uitdagende pas, maar ons geniet hom! Dis as ons oor die volgende bult kom en die vlakte doer ver in die verte sien, dat ek by myself dink : Ons is amper daar! Jy wil bietjie vinniger, maar dis die klippe hier voor jou wat sê : Jy moet stadig!

Na ongeveer 4 ure se “kruip” kom ons by die uitkykpunt uit, ‘n ongelooflike uitsig oor die Marienfluss. Die vlakte daar onder is bedek met gras en aan die anderkant troon die Hartmansberge wat die Skedelkus en die Marienfluss van mekaar skei. Dis as ons in verwondering staan en die prentjie hier voor jou probeer inneem, dat die eerste motorfiets hier aankom. Later nog een en toe nog twee. Hulle is blykbaar 4 pêlle en het deur Angola ook gereis.

Hulle was papnat gesweet – hulle moes verskriklik deur die pas gesukkel en warm gekry het. Om stadig te ry op ‘n motorfiets, vol gekit, in die son is erg genoeg – dan nog een van die mees vreesaanjaende passe daarby …. Die manne staan ‘n wyle en staar, voor hulle weer die pad vat. Sê die pas was uitputtend en hulle moet nog ver ry vandag.

Ons kuier nog ‘n wyle en neem baie fotos, ook by die hut uit takke gemaak en die beesskedel wat sê : Hierdie is harde wêreld!!

Dis net as ons ‘n ent verder ry en oor die radio sê hoe dankbaar ons is ons is klaar met die pas, dat die ritueel weer begin. Die laaste twee km, van die uitkykpunt tot onder in die vlakte, is net so uitdagend. Wil nie nou haastig raak nie en ons vat hom stadig.

Dis 11:20 as ons onder in die vlakte by die hoop klippe stop wat op mekaar gestapel is. Dit is die Jan Joubert gedenk stapel en elkeen moet ook ‘n klip gaan pak. Ongelukkig het ons nie ‘n coki pen nie, die gebruik is om jou naam en die datum op die klip te skryf wat jy op die stapel pak. Hierdie man was ‘n legende en het hierdie gebied gereeld besoek, ‘n 4×4 fundi en het ‘n GROOT liefde vir Namibië gehad. Die Drive Out tydskrif het na hom verwys as Mr 4×4. Hy is tragies in 2006 naby Gobabis vermoor.

Ons staan onder die boompie hier eenkant, eindelik in die Marienfluss, en omhels mekaar. Opgewonde dat ons veilig die pas kon afry tot hier, sonder enige teëspoed. Ons maak ‘n bier oop en die ching ching terwyl ons mekaar in die oë kyk, kry ‘n ander betekenis van oorwinning. Selfs Elsa het ‘n sluk of twee geneem, ‘n aanduiding dat sy ook die oorwinning wil vier. Die pas was ‘n BAIE groot hoogtepunt en ons besef wat ‘n voorreg dit was om dit te kon doen en sonder skade anderkant uit te kom.  Wat n belewenis en voorreg!!

Dis net as jy wegtrek dat die klip hier langs die pad aankondig, ons is nog 60km van ons bestemming af. Die Toyota’s draai verder noord deur Marienfluss met sy feetjie sirkels en kilometers van grasvelde  en bergreekse wat verander van tekstuur, kleur en die mooiste kurwes. Die feetjie sirkels is kaal ronde kringe, sand kolle tussen die gras, tussen 3 tot 10m in deursnee. Daar is baie legendes rondom hierdie sirkels, maar tot nou toe geen wetenskaplike verklaring nie. Springbokkies wat spring en hardloop, volstruise wat trots regop deur die gras stap. Die gemsbokke in die verte wat ongesteurd staan en kyk wie kom hier aan. Hierdie beelde kan jy nie op film vaslê nie en n mens moet weer teruggaan, want om alles op een slag in te neem, is te veel.

Ons stop by ‘n bossie hier langs die pad, moet nou eers iets in die maag kry. Dis as ek die deur oopmaak, of sal ek sê deur die wind oopgeruk word, dat ek die bakkie so draai dat ons bietjie beskutting kry. Daar word gesels oor hoe ons die vlakte pad geniet, kan sommer lekker spoed kry hier, na vanoggend se pas. Dis lekker, geniet die padkos en vat die laaste entjie pad.

Die pad is ‘n lekker sandpad en ons is vinnig by die eerste tekens van vooruitgang, die klippe wat vir honderde meters weerskante van die pad gepak is, dis die Otjinhungwa vliegveld. Wanneer daar by die winkeltjie op die vlak aan die regterkant verby gery word, weet ek ons is nou naby. Die advertensie van ‘koue bier” op die klip geskryf, vang die oog. Moet dalk enetjie hier kom geniet. Dis net voor 14:00 as ons voor die hek stop. Dis gesluit met ‘n ketting en slot. Ek blaas die toeter en dis net as ek die tweede keer die toeter wil blaas, dat die jong man sy verskyning maak van die huis se kant af en stel homself voor as Ryan. Hy maak oop en wys ons waar die kampplekke is.

Daar is 5 staanplekke, of liewer kampareas. Hulle is ruim en kan maklik 2 tot 3 tente elk huisves, sonder dat jy op mekaar sal wees. Ons is die enigste kampers en kies die staanplekke hier op die oewer van die Kunene, onder die groot Anasbome. Daar is ‘n groot afdak aan die een kant van die staanplek, met ‘n grasdak. Die rivier se vloei is ‘n hele ent van die kampplek af, maar ons kan die krokodille op die sandbanke mooi van hier af sien. Warm water is beskikbaar en alhoewel alles ‘n buite atmosfeer het, is die ablusie baie skoon.  Die braaiplek is aan die rivier se kant en is ‘n netjiese braai van stene gebou. Met die krokodille in die rivier word ons ernstig gewaarsku om nie te naby aan die water te loop nie.

Ons skrop nes en sit op ons stoele onder die koeltebome, van waar ons die uitsig na die rivier se kant toe waardeer. Dit was ‘n uitputtende, maar tog ook ‘n ongelooflike dag. Die vuur brand terwyl die son agter die berge verdwyn en daar word rustig gekuier om die vlamme. Dis Barend en Elsa se kosbeurt en ons word bederf met klein gebakte broodjies, patats in foelie op die kole en ‘n bredie in die pot. Dis ‘n 5 ster ete !

Na ete val daar nog ‘n paar houtjies op die vuur, moet nog finaal die dag se gebeure verwerk. Daar is geen beter manier, as ‘n glasie wyn in die hand, terwyl jy na die bosveld TV sit en staar nie. Vanaand gaan ek lekker slaap.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Fri, 24/07/2020 - 12:29

Maandag 25 Julie 2016

Ons ontwaak as die son al uit is, het lekker geslaap na gister se opwinding. Vandag is dit net rustig wees en die omgewing geniet.

Ek stap later af rivier toe, baie versigtig en waaksaam. Oral, op die sand en tussen die klippe, sien jy die menere lê. Hier is baie krokodille, meer medium en kleintjies, maar wel ‘n paar grotes ook. Hulle gly vinnig die water in as jy nader stap, seker net om om te draai onder die water en hoop jy kom naby genoeg vir ‘n hap. As jy hier staan en ‘n klip hard gooi, land hy in Angola.

Dis as ek op ‘n klip gaan sit en oorkant toe staar dat die gedagte van die grensoorlog by my opkom. Het self in Ovamboland vir ‘n klompie maande my beurt gehad. Ek wil nie regtig daaraan terugdink nie en stap ‘n hele ent met die rivier op. Hierdie is ongerepte natuur, ‘n skoonheid wat jy nie kan beskryf nie. Ek glo daar is min, baie min mense wat dit tot hier bo in die Marienfluss maak. Ek voel geseënd.

Terug by die kamp is die wasgoed al op die draad gehang om droog te word. Daar word rustig gekuier by die kamp en stap later die middag na die huis toe hier langs die kampplek. Dis waar Ryan en sy vrou Sarah bly. Hulle is ‘n jong paartjie uit Switserland en het die plek in 2011 gekoop, net nadat hy afgebrand het. Hulle het baie in Namibië kom vakansie hou en verlief geraak op die plek, sommer besluit om hier te kom bly. Daar is ook ‘n paar huisies as jy luuks wil bly.

Hulle vertel ons van die omgewing en sy mense. Hulle weet presies hoeveel mense in die omgewing is, dink hy het gesê 128 toe Sarah hom reghelp en sê daar is eergister ‘n baba gebore, so hulle is nou 129. Die locals is almal Himbas en is hulle goedgesind. Hulle gee hulp waar hulle kan en bied baie ondersteuning aan die gemeenskap. Ook die inspekteurs en mense van bewaring wat van tyd tot tyd hier verbykom, kom kuier sommer halfdag hier voor hulle weer ry.

Hulle rekenaars wat buite op die stoeptafel lê is ‘n bewys dat jy is veilig hier, solank die verhouding met die mense reg is. Ryan vertel dat hulle die huis selde sluit en dat hier niks wegraak nie. Die halfgeboude lapa laat hom vertel wat se effort dit is om boumateriaal hier te kry. Daar is ‘n ander roete as Van Zyl’s pas, om vanuit die Suide hier te kom, maar is ook maar rowwe terein.

Ryan & Sarah se huis

Hy wys na sy Land Cruiser en sê alles moet met hom aangery word, hulle eie kos, voorraad vir die lodge se gaste, boumateriaal, alles met daai donkie. Hulle gaan nie te gereeld aankope doen nie en dan is die gewig, veral as hy ‘n paar sakkies sement ook saambring, ‘n GROOT uitdaging. Hulle vertel ook dat hulle gereeld van die buitewêreld afgesny word as dit baie reën, dan loop die riviere aan die onderkant van die Marienfuss maklik vir ‘n dag of twee en moet eers sak voor jy kan deurkom.

Hy vra of ons die waentjie op die pas gesien het, die een wat net die raamwerk van oor is. Dis iemand wat ‘n splinternuwe waentjie gekoop het om in Namibië te kom toer, Van Zyl’s pas misreken het en die as en vere gebreek het. Hy het alles wat hy kon in sy voertuig gelaai en die res, volgens Ryan nog baie toerusting en proviant, net daar gelos. Soos ander mense verby gekom het, het hulle hulleself gehelp aan dit wat nog daar was. Ek onthou die raamwerk daar in die pas wat ons verby is.

Ons doen navraag oor ons roete van more en Ryan beveel aan dat ons die pad, vanaf blou drom, Suid vat. Volgens hom is dit ‘n redelike slegte pad, maar ongelooflik mooi. ‘n Bucket list item. Die ander pad, Suid vanaf Rooidrom, is meer in die berge, nie te rof nie, maar hy glo ons sal die ander een meer geniet. Ryan praat van sy “buurman” by Kunene River Lodge. Soos die voël vlieg, seker nie te vêr nie, maar vir ons was dit ten minste drie dae se stof en klippe kou. Afstand en pad toestande is vir hulle ‘n BAIE relatiewe term, anders sal jy nie hier oorleef nie.

Wat veronderstel was om net ‘n vinnige inloer te wees, het toe sommer ‘n uur of wat geraak. Kan sien die mense is honger vir geselskap en ons gesels sommer lekker. Hulle kan ons nog BAIE dinge in die omgewing gaan wys het, as ons langer kon bly.

Die vuurtjie word met groot sorg en liefde gepak, ons laaste aand hier. Daar is ‘n gevoel van, ons begin more terugry. Hier van die Kunene af omdraai en terug huis toe. Tog herhinner ons mekaar dat daar nog ‘n ongelooflike roete vir die volgende paar dae voorlê, voorwaar iets om na uit te sien.

Die sterre in die hemelruim is baie as jy in die stilte sit en staar en jou emosies doen bokspronge hier binne in jou. Ek voel klein en geseënd.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 25/07/2020 - 12:41

Dinsdag 26 Julie 2016

Dis nie lekker om vanoggend op te pak nie, wil nog minstens ‘n week hier bly, hier waar jy jouself weer beter leer ken. Dis net voor nege as Ryan die hek kom oopsluit en ons voorspoed toewens.

So met die wegry val dit my op. Wat vreemd omtrent die kamp is, is dat Ryan die hek oopsluit om in te kom en weer om die volgende oggend te ry.  Dit kan nie oor veiligheid gaan nie, want hulle rekenaars staan dag en nag in die tuin onder n afdak en hulle het  ‘n goeie verhouding met die plaaslike Himbas. Wonder net. Seker maar vir privaatheid dat enige besoeker nie net kan inry nie.

Ons roete vandag is enige iets tussen 150 en 200 km, weet nog nie presies waar ons gaan stop nie. Ons wil iewers in die Olifants Vloedvlake, in die Kumib rivier kamp. Die eerste 60 km is terug deur die Marienfluss, dieselfde paadjie waarmee ons gekom het. Dis weer die grasvlaktes, springbokke, volstruise en gemsbokke wat jou oral langs die pad begroet. Die berge aan weerskante van die vlakte lyk ook anders vandag, ‘n ander kleur as die son uit ‘n ander hoek die prentjie inkleur. Al baie fotos van die Marienfluss gesien, maar nog nooit so mooi soos dit werklik is nie, moet dit self beleef.

Die eerste stop, nie ver van die afdraai na die voet van Van Zyl’s pas nie, is die wrak van die Land Rover wat tydens die grensoorlog ‘n landmyn getrap het. As ons so langs hom staan, flits ‘n paar beelde deur my gedagtes, die tyd toe ek hier bo was tydens die grensoorlog.

Die terein van hier af verander van vlakte na koppies en berge. Dis ongeveer 10 km in ‘n Suid Westelike rigting tot by Rooidrom. Net sodra jy dink die volgende prentjie kan nie beter wees as die vorige een nie, word jy keer op keer verras! 

Hier is 4 ou 50 galon dromme (200L) wat bekende bakens is vir mense wat hierdie wêreld besoek. Rooidrom, dan Bloudrom 17km reg Wes, Oranjedrom ‘n verdere 10km Wes en laaste Groendrom nog 19km verder, see se kant toe. Dit vorm ‘n lyn wat die Marienfuss in die Noorde en die Orupembe streek in die Suide van mekaar skei. Van elkeen van die dromme af is daar ‘n roete Noord en Suid. Rooidrom is vroeër jare deur Ben Van Zyl hier geplaas, gevul met brandstof daardie jare, vir ‘n volgende keer as hy hier moet verbykom en brandstof benodig. ‘n Ander storie wil dit hê dat dit hier geplaas is deur SA helikopter pilots, was brandstof vir die operasies wat van hier af in Angola uitgevoer was tydens die grensoorlog.

By Rooidrom word daar gestop om eers weer ‘n klip te pak, jou naam en datum op die klip te skryf om te sê jy was ook hier. Dis terwyl die kameras so klik, klik, dat my oog die voertuig raaksien wat uit die Suide ons kant toe kom. Dan stop hy ‘n paar honderd meter van ons af en ek wonder wat aangaan. Ons wag ‘n rukkie en hy kom nader en stop weer. Ek stap nader om kennis te maak en te hoor van waar hulle kom en waarheen is hulle oppad. Dis toe ek my kop by die passasierskant se venster sit dat ek my oë nie kan glo nie!

Hier voor my sit Cobus Wessels en vroulief Liezel. Cobus is ‘n oud kollega en vriend van my en ek ken vir Liezel ook baie goed, sy het vir jare bemarkingswerk vir ons gedoen. Kan nie glo die wêreld is SO klein nie, mekaar hier by Rooidrom moet raakloop!? Hulle klim uit en daar word opgewonde stories uitgeruil. Hulle kom nou van die Suide af, oor die Rooidrom pas en Jouberts pas gery vanaf Orupembe en is oppad na ‘n lodge langs Camp Syncro. Ons wil nie te veel tyd mors nie en ek nooi hulle om saam te ry tot by Bloudrom waar hulle kan omdraai as ons die pad Suid vat.

Hollies, Moeksie, Liezel, Cobus

Dit gons behoorlik oor die radios (het vir Cobus my handradio gegee) as ons verlore jare wil opvang. By Bloudrom stop ons en geniet padkos so tussen die gesels deur. Kan weer nie glo ons loop mekaar hier raak nie. Ons verkyk ons aan die talle items wat hier aangebrings is : ‘n Telefoon hokkie en satelietskottel met byskrifte wat jou laat skater. Cobus en Liezel draai terug en ons vat die pad Suid, nadat ons eers padkos geniet het. Van hier af raak dit weer vlakte, met geen gras nie en net klippe so ver die oog kan sien.

Barend, Hollies, Moeksie, Elsa

Die pad raak nou ongelooflik sleg, sinkplaat en klippe, maak nie saak watter spore (en daar is baie) jy probeer volg nie. Daar is ook nie ‘n goeie spoed nie – alles skud uitmekaar. Die omgewing maak egter op daarvoor, veral as die gemsbokke op die vlakte staan en wonder wat soek ons hier. Dis as jy by die stukkende buitebande verbyry, dat jy spoed verminder en ekstra fokus op die pad voor jou, net nie nou ‘n band verloor nie!

Die sowat 70km vanaf Bloudrom tot by Orupembe neem ons die beste part van 2 ure en is net voor 17:00 by die polisiestasie op Orupembe. Die is ‘n baie netjiese groot gebou en veilig toegekamp. Die polisieman stap nader en groet vriendelik in Afrikaans. Ons doen navraag oor die roete van hier af Purros toe, waar ons môre aand wil kamp. Hy beduie hoe om te ry om by die Khumib rivierpad uit te kom wat ons deur die Olifant Vloedvlakte sal vat tot by Purros. Hy sê dis veilig en kan enige plek in die rivierbedding kamp.

Ons ry eers by die winkeltjie, ‘n geboutjie van 3m x 3m, verby en is nuuskierig om binne te gaan kyk. Die vrou groet vriendelik en sê die voorraad is min, net ‘n paar blikkies baked beans, tamatiesous, olie en seep op die rak. Sy sê dit was ‘n besige naweek en sy is uitverkoop. Wonder so by myself wat “besig” vir haar beteken, dalk 6 of 8 items verkoop ?

So 500 meter verder is ‘n Himba nedersetting met sy tradisionele bokkampe. Ons draai so ‘n kilometer of 2 verder, van die pad af, die rivierloop in. Dis waar die Khumib rivierbedding 4×4 roete begin, weer ‘n lekker 4×4 uitdaging. Die rivierbedding is nie baie breed nie en redelik dik sand, maar hy ry lekker. Oral sien jy die tekens van as van die vuurmaakplek, langs die oewer en tussen die klippe, waar ons voorgangers gekamp het. Moet sê, behalwe die as, is daar geen rommel wat gelos was nie. Skoon soos dit hoort.

Na so ongeveer 5 km stop ons by die boom wat op die oewer staan en so effe oor die rivierbedding groei. Die ideale kampplek en ons besluit om net hier te slaap vir die nag.  In ‘n rivierloop, Barend se droom, hy wou dit nog altyd doen. Ek het ook altyd hiervan gedroom, stop iewers, slaan kamp op en GEEN gedagte van onveiligheid nie, so in die natuur.

Dis so 17:40 as ons begin kamp opslaan en rondgestap word om die area te verken. Ons stap rond en verken die area. Die stilte is oorverdowend as ons later rustig op die stoele sit en ontspan, die oomblik probeer verwerk. Die geroep van die Ludwigse pou in die verte vang ons eers onkant, ken nie die klank nie en moes gaan kyk om te sien waar dit vandaan kom.

Ludwigse Pou

Dis more Elsa se verjaarsdag en Barend het ‘n 50 jaar oue bottel rooiwyn spesiaal vir die geleentheid saamgebring. Hulle het besluit om die bottel vanaand al oop te maak en die verjaarsdag te begin vier. Vanaand geen ek fles vat, die geleentheid is reg. Die kameras kliek as die son stadig op die horison wegraak.

Ons sit tot laataand om die kampvuur en gesels, kan nie uitgepraat raak oor die ervaring tot nou toe nie. Dit het lekker koud geword en ons gooi nog hout op die vuur vir ‘n bietjie hitte  – Elsa het haarself in ‘n kombers toegerol.

More se roete is redelik kort en die pad is nie te rof nie, so daar word besluit ons kan maar inlê more oggend. Dis koud! Vanaand gaan ons naby mekaar slaap!

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 26/07/2020 - 17:22

Woensdag 27 Julie 2016

Dit was verskriklik koud deur die nag en ek het lanklaas so koud geslaap. Ek en Moeksie is vroeg uit, net nadat die korhaan vir Elsa op haar 63ste verjaarsdag kom sing het. Dis ons gebruik om vir iemand wat verjaar te sing, vroegoggend. Die kaartjie wat Barend vir Elsa gee maak dit vir haar BAIE spesiaal. Sy sê dit is maklik die beste verjaarsdag, gister aand se kuier ingesluit, van haar lewe.

Na ontbyt pak ons rustig op, niemand wil regtig hierdie ongerepte natuurskoon, wat so vinnig onder ons vel ingekruip het, verlaat nie.  Elkeen met graaf en die nodige “wit goud”, word daar ook eers “veld inspeksie” gedoen. Dan eers vat ons die rivierbedding verder. Ons is nie haastig nie, want dis slegs 70 km tot by Puros en volgens inligting is die rivierbedding ‘n redelike goeie sandpad.

Die omgewing verander gedurig as ons, dan in en dan langs die rivierbedding ry. Na ongeveer 30 km in die rivierbedding, draai ons links uit op die Woestynolifant 4×4 roete na Puros. Die terrein verander na redelike bergagtige landskap en oral wil jy net stop en fotos neem. Hier is net weer die bewys dat Namibië werklik ‘n land van kontraste is. Dis onbeskryflik mooi! Die roete is ongeveer 17km voor jy in die Hoarusibrivierbedding beland. Op ‘n stadium ry ons deur ‘n gorge waar ons eers stop en padkos geniet. Wil sommer net hier kamp opslaan! Die rotsformasies is aasemrowend!

Ons vat dit BAIE rustig en stop kort-kort om fotos te neem van die ongelooflikste rots formasies of om net die omgewing te bewonder. Niemand is haastig nie. Dis net voor ons hier van bo af afry na die rivierbedding, wat ons eers moet stop om die prentjie voor ons in te neem. Die ongelooflike vallei wat voor ons oopvou en die ongelooflikste Kodak moments bied.

Die 28km in die Hoarusib is ‘n nuwe hoogtepunt en sien kameelperde, volstruise, zebras, voëls en Himbakrale wat kort-kort hulle verskyning maak. Selfs ‘n Kleinsingvalk (Gabar Goshawk) het vir ons die dag spesiaal gemaak. Die rivierbedding is redelik toegegroei en ry meeste van die tyd langs die rivierbedding. Ons is die heeltyd op die uitkyk vir olifante want oral lê redelike vars mis. Op ‘n stadium is daar ‘n koppie aan die rivierkant. Ons ry met die paadjie boontoe en bewonder die uitsig. Kan nie genoeg hiervan inneem nie en vertoef ‘n hele ruk voor ons die pad verder aandurf.

Die laaste paar kilometer raak die rivierbedding lekker wyd oop en geniet die sand. Oral lê die groot boomstompe in die rivierbedding, bome wat deur die water oor jare ontwortel en omgespoel het. Glo ook dit kan die werk van die olifante wees.

Dis 15:30 as ons die vlakte by Puros inry waar die kameelperde ons begroet. Ons ry eers na die verkeerde lodge toe, maar is sommer gou die regte rigting gewys.

By Puros Gemeenskapskamp word ons vriendelik ontvang en gewys waar ons kampplek is. Ons betaal vir een aand en die man loop voor ons uit tot by die kampplek. Dis ‘n lekker beskutte kampplek reg op die droë rivierbedding. Oral is die spore van die olifante sigbaar, gebreekte takke en baie mis. Die man sê die olifante is ‘n paar dae terug hier verby, Suid geloop, maar mag dalk nog in die omgewing wees. Moet maar alles mooi bêre as ons nie skade wil hê nie.

Ek is mal oor ons kampplek! Hier is ‘n netjiese klipstruktuur met ‘n opwas en lopende water. Die sementblad is baie gerieflik vir pak- en werkspasie. Die ablusie is ‘n entjie verder en word met ander kampers gedeel. Dis ‘n riet-omheinde sementblad met ‘n stort en spoeltoilet. Die binnekant is regtig netjies met ‘n wasbak en ‘n spieël! Warm water word deur die donkie verskaf wat self gestook moet word. Nogal verbaas om twee of drie ander kampers ook in die omgewing te sien. Die kampplekke is ver uitmekaar en goed weggesteek tussen die welige plantegroei en bome. Ons gaan lekker kamp!

Na die rit van 7 ure en redelike stof, is ons moeg maar gevul met natuurskoonheid soos min!!   Kan nie wag om ‘n lekker warm stort te vat nie, so die opslaan gaan redelik vinnig. Dis ek en Barend wat my bakkie vat en in die rivierbedding terugry, wil een van daai lekker boomstompe gaan haak en kamp toe sleep. Gaan vanaand GROOT vuur maak.

Moeksie sê ons sal hulle kosbeurt vir vanaand oorneem, Elsa kan ontspan, dis haar verjaarsdag. Elsa kan nie genoeg dankie sê nie en het groot waardering vir die gebaar. Ons gaan een-een stort en jy kan op die gesigte sien van die wat teruggestap kom, dit was LEKKER! Dis tyd om brandstof uit die jerry kanne in die voertuie te kry, die tenks raak leeg. Ons kan eers weer by Palmwag volmaak. Barend sê hy is nog reg, kan nog vêr ry voor hy brandstof gaan nodig kry.

Dis nog redelik lank voor sononder as die vuur aangesteek word, ons het BAIE hout vir die aand. Ons sit rustig en dit raak koel as die son wegraak. As jy so na die vuur sit en kyk, besef jy opnuut dit is wat jou voed, vrede gee en weet daar is n Hemelse Vader wat dit vir ons wil gee, ons moet net wegbreek van die aardse besittings, roem en geld! Ons is bevoorreg om dit te kan doen!

Almal is al kooi toe as ek nog die vuur geniet, wil nie gaan slaap nie, bang dit raak op. Ek gooi die stomp wat brand met sand toe, wil nie moeilikheid deur die nag hê as die wind opkom en die vonke rondwaai nie. Gaan nou lekker slaap.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 28/07/2020 - 15:22

Donderdag 28 Julie 2016

Ons is weer vroeg uit die vere, so by tweede mossie en ons pak op. Vandag se roete is die laaste dag van ongerepte natuur, voor ons weer met die beskawing kennis maak. Die roete is ongeveer 160 km rivierpad tot by Sesfontein en dan nog so 43 km goeie grondpad tot by Khowarib lodge, waar ons gaan oorslaap.

Dis net na 07:00 as die voertuie aangeskakel word, reg om te ry. Die eerste 15 km in die Huarushib rivier tot by Puros Canyon is ‘n nat rivierbedding met stroompies water wat ons gereeld oorkruis. Daar is baie springbokke, gemsbokke en ‘n verskeidenheid voëls. Iewers langs die pad word daar gestop om te voet na die waterbron te gaan kyk. Ons oë dwaal heeltyd rond op soek na die olifante. Die omgewing is asemrowend en die een toneel mooier as die ander en jy wonder of hierdie gedeelte God se gunsteling plek is.

Die Puros Canyon is ‘n nou kloof in die rivierbedding wat jy moet deur en kan jy moeilikheid hê as die watervlak te hoog is. Ons hou stil en die kameras hou aan kliek. Dis ‘n ongelooflike mooi gesig.

Puros Canyon

Die volgende 10km ry ons tussen redelike nou klowe in die berge met die mooiste natuurskoon, tot by die vloedvlakte, waar die Hoarusib rivier Oos draai see se kant toe.

Die aarde maak oop hier voor ons en in die verte, op die horison, is strukture wat lyk na ‘n lodge wat op die berg gebou is.

Dan kom dit oor die radio : Daar is hulle, daar’s hulle, die olifante!!! Dis ‘n bul, ‘n koei en ‘n baie klein kalfie hier in die bosse links van ons. Kan nie ons geluk glo nie en stop om fotos te neem. Die koei is ge-iriteerd as ons te lank na haar sin stilhou, sy beskerm die klein kalf. Na nog ‘n paar fotos word daar verder gery. Die strukture teen die berg was toe inderdaad ‘n lodge, Leylands Drift lodge. Ons neem die bergpad na regs en ry op na die lodge.

Dis verlate en nie ‘n siel in sig nie, maar alles is oop! Dis ‘n baie netjiese lodge met die ongelooflikste uitsig oor die vlakte. Hier is 8 losstaande chalets teen die hange van die berg gebou, 4 elk weerskante van die hoof gebou. Op die dek van die hoof gebou is ‘n baie netjiese eetsaal. Dis as ons voor op die dek gaan staan dat ons die twee olifante en die klein kalfie van vroëer sien wat water toe stap. Woorde en fotos kan nie beskryf wat voor mense-oog afspeel nie, nogtans hou die kameras aan kliek. Ons staan lank en staar voor ons ons emosies met mekaar deel. Wat ‘n ongelooflike ervaring !!

Vanaf die lodge is dit in ‘n Suid Westelike rigting uit die Hoarusib rivierbedding. Dis nou 72 km van meer bergagtige landskap en later deur die Ganias vlakte tot by die Hoarib rivier verder Suid. Die pad loop parallel met die see, wat soos die kraai vlieg, 40 km Oos lê. Die landskap verhoed jou egter om die see te kan sien. Die pad is baie redelik en by tye maak die aarde oop in die ongelooflikste vlaktes waar jy die toekoms kan sien aankom. Van die dele is woestyn met net sand en klip, geen boom of plant in sig nie. Selfs hierdie dele het ‘n bekoring van hul eie, die niks waarna jy kyk.

Die wêreld voor ons verander skielik van rotsagtige omgewing na sandvlakte. Dis toe dat ek weet ons is nou naby aan die Ampspoort gorge. Ons kom eindelik by die Hoarib rivier uit en draai Wes, see se kant toe. Volgens ons beplanning wil ons graag ‘n ent in die Amspoort gorge afry om die gebied te verken. Hier is dit harde vlaktepad en ry jy gemaklik 50 – 60 km/uur. Dis na ongeveer 5km dat ek vir Barend oor die radio sê ons sal nie verder kan gaan nie, my brandstof raak min. Ons stop en kyk in die verte na waar die gorge wegraak, sou graag verder wou ry ,maar ek moes ‘n call maak. Ons ry terug waar jy in die Hoarib rivier ingekom het en stop onder ‘n groot doringboom waar ons gaan piekniek hou.

Groot is die verbasing as ons vele ander voertuie sien wat hier onder bome geparkeer staan en mense wat rondstaan en kuier, van die mense sit by kamptafeltjies en eet. Dit is toeroperateurs wat mense van Sesfontein, Palmwag en die omgewing vir daguitstappies tot hier bring. Die Hoarib 4×4 roete is BAIE gewild as gevolg van die verskeidenheid en getalle wild wat jy op die roete sien. Hier is olifante ook en as jy baie gelukkig is, sien jy renosters en leeus ook. Het die artikel gelees van die 5 musketeers, die 5 leeus was hier oorleef. Die een leeu is ongelukkig deur die locals vergiftig net voor ons die toer begin het, hy het uit die bewaringsgebied beweeg en beeste gavang. Ons het later gehoor nog 3 is doodgeskiet. Die oorlewende mannetjie is blykbaar geskuif, weg van die beskawing af.

Die net voor 14:00 as die bakkie se flap agter oopgemaak word en as tafel dien. Die padkos smaak soos nog, nie die honger nie, maar die omgewing wat dit ‘n ander smaak gee. Die groot Annasbome oral in die rivierbedding is asemrowend. Dis pragtig hier en ek wil sommer net hier in die rivierbedding kamp opslaan, maar die tekens sê duidelik : NO CAMPING! Ek stap na een van die operateurs se voertuie en begin gesels. Hulle het heelwat olifante, kameelperde, gembsbokke en springbokke gesien op pad in, maar geen leeus of renosters nie. Miskien gelukkiger met die uitgaanslag.

Net na 15:00 is almal weer mobiel en pak die laaste 100 km vir die dag aan. Die rivierpad is nog ongeveer 50 km, waarna jy uit die rivierbedding ry en dan die 10 km stofpad, BAIE BAIE stof, al langs die rivier vat tot by die grootpad na Sesfontein. Daar is baie wild en ons stop oral om fotos te neem. Die rivierpad ry lekker en ons geniet die 4×4 in die dik sand. Die olifante is volop en sommer naby vir mooi fotos. 

Na ongeveer 30 km kom ons by Die Poort aan, ‘n baie nou deurgang in die rivierbedding met rotse weerskante. Weer eers stop, uitklim en probeer inneem en fotos versamel. Hier is ook baie olifantspore en hulle moes die afgelope dag of twee hier deurbeweeg het.

Die Poort

Die Poort

Dis net na 5 as ons by die Elephant Song village uit die Hoanib rivier moet uit. Dis ‘n verlate nedersetting, blykbaar te veel deur die olifante gepla en besluit om elders te gaan bly. Die 10 km tot by die grootpad stel nie teleur nie, soos hulle gewaarsku het, stof, baie stof, eintlik meer ‘n poeier. Dis soos water in poele as jy daar deurry en bedek die voertuie sodat jy vir sekondes NIKS kan sien nie. Dis erg !!!!

By Sesfontein moet ek eers gou by die bottelstoor in, my proviant is laag en wie weet, miskien, net miskien, word daar fles gevat vanaand, want ons is nou terug in die beskawing.

Ek ry eers ‘n draai by die Fort om vir Barend en Elsa die lodge te gaan wys.

Dis net voor ses as ons by Khowarib Lodge inboek. ‘n Baie netjiese plek en selfs ‘n swembad by die lodge area. Die ablusie is baie netjies, skoon en die donkies doen weer die ding vir warm water.

Daar word ‘n lekker vuur gemaak en deel die dag se gebeure. Wat ‘n ONGELOOFLIKE dag! Ek moet erken, dit was seker een van die beter dae in my toer-lewe, al het ons nie die renosters of leeus gesien nie.

Die sterre lyk weer naby vanaand, so helder en so baie. Ons gaan, soos elke ander aand, weer lekker slaap.

Môre vriende

Ek wonder wie word ook groen van jaloesie om die draad te volg. Ek raak sommer lekker bitterbek as ek die beskrywings lees, en na die fotos kyk.

Ten minste blus dit die lus vir kampering gedurende die inperkingstyd.

Groete 

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Wed, 29/07/2020 - 10:10

Vrydag 29 Julie 2016

Van vandag af is dit net grootpad ry, wel gedeeltelik grondpad, maar ons is klaar met die 4×4 gedeelte van ons toer. Die gedagte daaraan bring ‘n bietjie heimwee, voel amper of ons nou “klaar” getoer het. Die totale afstand vir die dag is 405 km tot by die Modjila lodge, geleë so 10 km voor die Anderson ingangshek na Etosha. Ons is baie stadig met die oppak en ry eers 11:00 by die kamp weg, na ‘n heerlike ontbyt by die lodge. Wou onsself bietjie bederf en dit was die moeite werd!

Die 75 km pad van Khowarib na Palmwag is ‘n mooi grondpad en ons wikkel vinnig. Dis net voor 12 toe ons by Palmwag stilhou om brandstof vol te maak. Ons besoek die lodge en hulle kampplekke lyk baie netjies, moet dalk volgende keer hier kom kamp.  Die mense wat oral sit en ontspan maak my lus vir ‘n bier, ‘n yskoue een. Dit was die regte besluit en hy val mooi. ‘n Redelike mak kwikkie laat toe dat Elsa weereens na hartelus met die kamera kan speel. Ook die Rosy Cheek Lovebirds was inskiklik. As die mense na die draad hier voor die lodge begin beweeg, sien ons die ou grotes. Die woestyn olifante het ons kom baai sê, wat ‘n voorreg om hulle so naby jou te kan beleef!

Ons is skaars by die hek uit as Barend oor die radio roep hy moet stop. Sy roofrack het losgekom en begin agtertoe skuif. Gelukkig het geen boute of moere verloor nie, net los vibreer en doen gou die herstelwerk.

Van Palmwag af is dit 120 km grondpad tot in Kamanjab en die pad vat ons oor die pragtige Grootbergpas met die mooiste natuurtonele. Op die pad sien ons gereeld kameelperde, springbokkies, vlakvarkies, beeste en “swart” bobbejane. Ja, Namibia se bobbejane lyk baie donkerder as SA sin. 

Van Kamanjab af gaan dit vinnig, lanklaas so luuks gery as ons oor die radio die teerpad verwelkom. Ons stop weer in Outjo om voorrade aan te vul en weer brandstof vol te maak. Koop ook genoeg kos vir 4 dae, twee nagte by Mojali en twee nagte by Halali in Etosha. Sal weer aanvul in Grootfontein op ons roete verder.

Ons draai 28 km voor die hek na Etosha regs af op die D2779. Na ongeveer 3 km op die grondpad is die hek na die lodge. Die tweespoor paadjie van 2 km vat jou tot by die ontvangs. Dis net voor 5 as ons hier stop en is verras met die netjiese plek. Ons betaal vir die twee nagte en ry ‘n entjie terug tot by die kampplekke. 

Dis WOW!! Elke staanplek is lekker gelykgemaak hier tussen die klippe met lekker koeltebome. Die welige groen gras lyk aanloklik, hier gaan ons lekker kamp! Elke staanplek is effe privaat, so in die bos ingemaak en Barend en Elsa vat een langs ons. Die ablusie is naby, is skoon en netjies. Hier is ook kragpunte by elke staanplek en genoeg gratis hout om water in oorvloed warm te maak met die donkies.

Ons het lankal nes geskrop as die son stadig agter die koppie verdwyn. Die braaiplek is effe weg van die grasperk af, met ‘n effense uitsig hier agter oor die koppie. Die vuur brand lekker, daar word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Praat onophoudelik oor die afgelope paar dae, hoe bevoorreg, geseënd en dat ons nie teespoed ervaar het nie. GROOT genade!

Die braaivleis en braaibroodjies is net wat die dokter voorgeskryf het, soos ek daarvan hou. Ons kuier tot laat en die weer is ons goedgesind, koel maar nie koud nie. Die velle roep en ek is gehoorsaam, gaan ekstra lekker slaap.

Môre Hollies

Ekskuus, ek aanvaar dat ek maar so kan aanspreek. Ek stel vreeslik belang om te hoor;

1] watter model/jaartal bakkie jy het

2] hoeveel kilometers jy met dit afgelê het, en of jy nog daarmee ry.

3] of jy enige ongewone, behalwe normale onderhoud, probleme ondervind het.

In vergelyk met jou vriende wat met 'n turbo diesel Hilux ry, sou jy sê dat daar soms rytoestande en plekke was, waar jy met die petrol 'n wesenlike voordeel bo hulle gehad het. 

Ek vra die vrae bloot omdat ek binnekort my "laaste" trokkie wil aanskaf, en sukkel om te besluit tussen die V6 of die turbo diesel weergawe.

Groete

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 30/07/2020 - 11:35

Saterdag 30 Julie 2016

Niks jaag ons nie en lê laat. Moeksie en Elsa maak gebruik van die geriewe om op te vang met die wasgoed. Barend het opgemerk dat die bakkie se laaisisteem, agter in die bak, ook losgekom het. Hierdie is nie ‘n vinnige herstelwerkie nie en ons pak eers alles agter uit die sy bakkie. Van die boute wat losgeskud het is maklik om weer vas te kry, maar die twee aan die voorkante onder, se boutjies is soek. Dis ook onmoontlik om maklik jou hand by hulle te kry sonder om die hele stelse uit te haal, wat NIE nou gaan gebeur nie.

‘n Boer maak ‘n plan en ‘n skroewedraaier word met ductape aan ‘n besemstok vasgemaak. Dan word die boudjie met prestik aan die skroewerdaaier “geplak” en onder die laaistelsel deur, vorentoe beweeg tot in posisie. Dis eers na die derde poging dat ons die eerste een reg het. Die tweede een gaan bietjie vinniger en na so twee ure is als weer reg. Die roofrack word ook weer nagegaan om seker te maak hy is vas.

Ek laai my bakkie ook leeg, het nou die tyd om alles lekker skoon te spuit en was. Die stof is oral in en dit vat ‘n uur plus voor die ergste stof uit is. Nie te veel gepla nie, solank die ergste stof uit die kajuit is, is ek gelukkig. Ons gaan nog heelwat grondpad ry en sal weer by die huis ‘n valet laat doen. Barend was sy bakkie ook.

Later stap ons lodge toe en kuier ‘n wyle daar. Die dekor aan die binnekant is rerig uniek en baie oorspronklik. Die swembad voor op die gras kan ‘n wenner wees as die weer dit toelaat, maar dis nog effe koel daarvoor. Die uitsig van hier bo af Noorde toe is baie mooi. Die beskikbaarheid van Wi-Fi maak dat ons langer vertoef, wil net eers vir almal laat weet ons is veilig.

Die res van die middag is almal rustig om die kamp. Ons pak alles weer terug in die voertuie nadat dit eers afgevee is. Stap later in die veld en kyk na die ander kampplekke. Daar is ‘n paar wat groter groepe kan hanteer indien hulle op dieselfde plek wil kamp. Almal het gras en ek sal weer hier kom oorbly.

Net sodra die sonnetjie weg is, word daar vuur aangesteek. Gaan vanaand weer braai. Ons kuier weer tot laat as ons nie uitgepraat kan raak oor die toer nie. Dis nog nie klaar nie en sien uit na ons kuier in Etosha.