TO
mabalingwe
galago private bush lodge
Zaagkuilsdrift
Sionbergh

 

nuwe onderwerpgraderings

84744 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Môre môre!  Mei 2021 - Koffiekroeg… Voortrekker -1 hour ago
Goeie môre almal.

Willie…
Mei 2021 - Koffiekroeg… Dusty -1 hour ago
Lekker Wessel Strydoms in Kalaghadi Chris Boucher -8 hours ago
Hoeveel rooiwyn .... Len & Annatjie se Kruger… Chris Boucher -8 hours ago
Dit was 'n baie lekker kuier… Len & Annatjie se Kruger… Koos Mol -9 hours ago
Dis darem lekker as man met… Die Boucher's en die… Koos Mol -9 hours ago
Hi Chris, die besoek is… Die Boucher's en die… Lapskag -10 hours ago

Die Smalle se Kalahari toer Des 2020

Worcester
Submitted byWildehont onFri, 11/12/2020 - 10:47
Forums

Ek klim ook maar nou op die ooms se bandwagon en deel die program vir ons volgende toer uit opgewondenheid. Dis nou wel nie ‘n ellelange toer Kruger wildtuin toe nie, maar ons is baie opgewonde oor die een. Covid het ook maar ‘n invloed gehad op ons program, want ons wou graag drie aande by Polentswa en drie aande by Rooiputs aangehaak het na Mata Mata, maar Botswana het eers teen 3 Desember weer besprekings begin aanvaar. Ek kon toe darem eergister een aand by Rooiputs aanhaak, nadat ons uitvoerende bestuur die pas afgelope Dinsdag ons in kennis gestel het dat ons verpligte verlof moet neem tussen Kersfees en Nuwejaar. Ek moes toe inderhaas op hierdie laat stadium ons program van 26 Desember af aanpas. Ons sou die 26ste weer in Kenhardt geslaap het oppad terug huis toe die 27ste. Nou lyk ons program so:

 

16 Desember

Vertrek uit Worcester na Kenhardt, slaap in ‘n Lekkeslaap gastehuis

17 Desember

Ry van Kenhardt tot by Twee Rivieren, kampeer daar en doen die Leeudril 4x4 roete die namiddag

18 tot 22 Desember

Pak op en ry na Nossob vir vier aande

22 tot 26 Desember

Pak op en ry na Mata Mata vir vier aande

26 Desember

Pak op en ry na Rooiputs vir een aand (al plek wat ek kon kry)

27 Desember

Pak op en ry na Augrabies vir een aand

28 tot 31 Desember

Pak op en ry na Strandfontein vir drie aande

31 Desember

Pak op en ry huis toe vir Oujaar

 

Die een aand by Twee Rivieren is net om my suster, wat met haar kar van Pretoria ry te ontmoet en die dag nie te lank te maak Nossob toe nie. Sy slaap in ‘n hut by al drie kampe. Sy is nooit getroud nie, is ons kinders se peetma, en bederf hulle ook soos ‘n ouma. My pa is dood voor hulle gebore is, en my ma toe die oudste net 5 maande oud was.

 

Die vier aande elk by Nossob en Mata Mata is die kern van die Kgalagadi besoek. Ons sien baie daarna uit. Ons sal vroeg in die oggend en laat in die middag gaan rondry, by watergate sit en wag en die landskap, flora and fauna geniet. Deur die dag sal ons die diere in die kampe se manewales dophou, iets koud geniet en swem om bietjie af te koel.

 

Die een aand by Rooiputs is heeltemal te min, maar ek is bly ons kan darem die proetjie kry. Ek weet reeds ons sal langer daar wil staan, en ek sal DV in 2022 ‘n toer daarheen beplan wat drie nagte elk by Rooiputs en Polentswa insluit. Volgende jaar is dit die Kruger wildtuin se beurt. Die kampeerplek wat ek bespreek het, het ‘n lekker groot boom vir skadu, en daar is ‘n A-raam afdakkie, so ek glo nie ons sal die voltent of afdak opslaan nie. Ons sal maar net al die los goed in die kar pak voor ons gaan slaap, sodat die hiënas dit nie wegdra nie. 

W

Die een aand by Augrabies is net om die afstand op te breek voor ons Suidwaarts begin keer. Dit sal ook lekker wees om die waterval te sien, ‘n entjie te gaan stap van die kamp af en ‘n draai in die wildernesgebied te ry. Ek glo nie ons sal die voltent opslaan die aand nie. Dalk nie eers die afdak nie, tensy ons skadu nodig het.

 

Ek wou weer by Rooiduin Noord van Lambertsbaai gaan staan het, maar hulle is vol bespreek. Anton het met soveel lof van Strandfontein gepraat dat ek toe daar probeer het, en wonder bo wonder plek kon kry vir drie aande. Dis weliswaar nie in die A-blok nie, maar die dame by die kantoor reken ons sal tog die see kan sien. Dit maak ook nie saak nie. Ons wil net drie rustige aande geniet voor ons huis toe gaan en die nuwe jaar aanpak. Ek sou vier aande kon bespreek, maar ek verkies om Oujaar tuis te wees. In ‘n oord gaan dit te rumoerig en besig wees na my smaak. 

 

Die naweek moet ek nou net die laaste paar dinge aan die wa regkry. Dinsdagmiddag gaan ons die wa klaar pak, sodat ons Woensdag vroeg net die Everest kan laai en laat waai.

A

Hello Chris

Ek is bly jy skaar jou by die ooms, dis nou Len en Chris B.

Ek sien julle plaas die fokus op die ander 2 kampe, en Twee Riviere is om pad te verkort.

Jy moet asb breedvoerig terugvoer gee, ook oor die paaie binne die kamp. Ek kan dalk dit reg kry om my bespreking te verander. Tans is ek die volle tyd geboek in Twee Rivieren.

Ek raai jy gaan jou suster se kar veilig los in Twee Rivieren

Groete

Worcester

Wildehont

Fri, 11/12/2020 - 12:33

Wessel

By Kruger Wildtuin standaarde is Twee Rivieren en omstreke nie besig nie, maar by Kgalagadi standaarde is dit. Dis ook reg by die ingang na die park en die kampterrein is heel onder en voor teen die pad. Ons het nog net twee aande daar deurgebring tydens ons eerste besoek 13 jaar gelede, maar goeie wild gesien. Ons het Nossob en Mata Mata egter meer geniet, en ek stel nou reeds voor dat jy ten minste een van die twee insluit. Veral die vallei oppad Mata Mata toe was vir my baie mooi, en ons het goeie wild daar gesien. Ons was egter baie lank laas in die park. 
 

In Kgalagadi is daar nie so baie roetes om te ry rondom kampe soos in die Kruger wildtuin nie. Om by ‘n watergat te sit was egter vir my meer lonend as in die wildtuin. Ek verstaan wel dat baie van die watergate (wat almal kunsmatig is) ook nou droog is. Die beweegrede is blykbaar dat die wild voorheen sonder menslike hulp oorleef het omdat hulle aangepas was by die dorre streek se klimaat, en dat hulle dit weer sal doen. Dit sal vir my jammer wees as al die watergate nou droog is, want dit was regtig goeie plekke om net te sit en aanskou wat alles gebeur. 
 

Ek sal die storie mooi uitpluis en in Januarie terugvoer gee. Dit klink asof die wild getalle ook afgeneem het vanwee die droë watergate. Daar is geen heining wat hulle keer om in Botswana in te loop nie. 
 

Ek glo nie ons sal my suster se VW Tiguan by Twee Rivieren los nie. Ons sal nie genoeg plek vir alles hê nie, en dis ook nie nodig nie. Die paaie kan erg sinkplaat wees, maar word ook gereeld geskraap tussen kampe, en gesleep rondom kampe. Tydens ons eerste besoek het ons mense met platkarre soos bv ‘n Toyota Corolla gesien by Mata Mata. Jou sig sal wel belemmer word en die kleiner wiele skud erger, maar jy sal tot daar kan kom. Al wat my pla van die Tiguan is dat mens nie die lae profiel bande te pap kan afblaas nie. Ek gaan die Everest en Kavango begin op 1,5 en is bereid om af te gaan tot 1,2 as die paaie sleg genoeg is. Vir Rooiputs se sand sal ek dit in elk geval moet doen. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 11/12/2020 - 14:28

Noja ChrisB, wat sal ons twee ou ooms nou sê ?  Miskien net dit : "Follow the leader(s)" !

ChrisWH, dankie dat ons deel van julle beplanning kan wees  -  julle program klink fantasties.

Net gou op jou battery piepie - ou ooms kan nie sommer meer lank terughou nie : volgende maand hierdie tyd (11 Januarie 2021) is alles verby en moet julle begin regmaak vir die nuwe jaar se werk !

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 11/12/2020 - 17:09

.... met "ooms"? Daar word seker nie van my gepraat nie - ek is dan nog nie eens 67 nie

Julle Smalle moet dit geniet. Ons kyk uit vir die terugvoering.

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 11/12/2020 - 18:50

Ek moet seker maar weer 'n keer my Kgalagadi-"lus" gaan bevredig. Ek het die klompie kere wat ons daar was elke keer baie geniet. Ons eerste besoek was in 1986 toe ons saam met vriende deur SWA/Namibië gaan toer het. Ons het afgeskop met 2 aande by Augrabies, opgevolg met 2 aande elk in Twee Rivieren en Mata Mata. Namibië was nog nie onafhanklik nie en jy kon nog vryelik deurbeweeg na Namibië vanaf Mata Mata. Met ons eerste "game drive" by Twee Rivieren was ons gelukkig om 'n luiperd te kry - my eerste van die groot katte in Kgalagadi, toe nog bekend as die Kalahari Gemsbokpark. Na verskeie besoeke tussenin het ons eers weer vir die eerste keer weer 'n luiperd in dié park in 2006 gesien - nee, drie luiperds ('n wyfie met haar twee welpies) sommer naby Twee Rivieren.

2006 was ook ons laaste besoek toe ons 13 nagte in die park gebly het. Twee jaar gelede was ons net vir 'n dagbesoek in toe ons buite die park by Kgalagadi Lodge gebly het.

Jou toerprogram skep nou 'n lus in my om weer daar te gaan kuier. Wonderlike plek!

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 12/12/2020 - 04:42

ChrisWH, ek sien uit na jou verslag en fotos van julle Kgalagadi besoek.  Vanuit Kaapstad is die aantreklikheid, die Kgalagadi, is "net" 1000km ver terwyl my gunsteling wildpark (die Kruger Wildtuin) is 2000km ver.  Maar met ons teerpad karavaantjie is ons beperk tot Twee Rivieren en ek wil in my oorblywende karavaan-leeftyd van ogeveer 6 jaar in geen ander akkommodasie as ons karavaan bly nie.  Ek sê dit omdat teerpad-karavaan-eienaars word aanbeveel om te sleep tot by Twee Rivieren en dan verder tuis te gaan by ander kampe in chalets of tente  -  vir ons twee oues gaan dit ongelukkig nie werk nie.

Ek sal maar terugdink aan ons lekker kuier in die Kgalagadi terwyl ek ChrisWH se beloofde fotoverslag van die Smal-gesin se toer gaan deurlees.  Hier is so 'n paar van my herinneringe :-

Die Ontvangs-kantoor by Twee Rivieren :

.

Die kampterrein by Twee Rivieren :

.

Ons "hotel" opgeslaan by Twee Rivieren :

.

Na 'n heerlike Kalahari reënstorm :

.

En hier lê hulle sommer langs die pad !

.

As jy die koning van die diereryk is, mag jy maar so "brag" !

.

Gemsbokke is volop :

.

More almal

Dis geen wonder dat Len so vroeg wakkerskrik met koorsdrome nie. As ek darem al daar was, en weet dit is mooi, EN dis die helfte nader, sal ek ook keer op keer teruggaan.

Kom nou julle "ooms" van die Wes Kaap, sluit aan by die"leerling omie" van Brits, gedurende Mei 2021 in Twee rivieren. 

Len: onthou net die sleepstrop opmerking, gelukkig is daar 2 Hiluxe wat jou kan rondpluk as jy sou sukkel devil

Worcester

Wildehont

Sat, 12/12/2020 - 07:50

met ons teerpad karavaantjie is ons beperk tot Twee Rivieren

Lekker foto’s! Nou laat oom my dink aan wat daar in die Kavango is wat kan lol as die pad erg sinkplaat is soos wat dit kan wees daar. Ek sal mooi moet kyk hoe ek die ys/vrieskas pak. Verder is alles darem mooi vas. Dit gaan die Kavango se vuurdoop op lelike paaie in my eienaarskap wees. Ek weet die vorige eienaar was lief vir Mabuasehube, so ek glo alles sal in een stuk bly. 
 

Hier is ‘n gedagte vir oom; wat van julle huur ‘n boswa vir net een sleepvakansie Kgalagadi toe? Of is julle te gewoond aan die Exclusive? 

More Chris WH

Het jou wa dan nie ook die vasmaak stroke op die vloer nie? 

Ek sal oor 2 goete  bekommerd wees, eerstens die battery se montering, is dit geplak aan die vloer, of gebout? Tweedens die koel/yskas of 2. Is dit stewig vasgetrek op hulle rollers, en werk daardie stop-knip.

Voorspoedige reis en ry veilig

 

 

Oudtshoorn

neef Herman

Sat, 12/12/2020 - 08:04

Geniet julle toer Chris. Wil jy nie asb by Auchterlonie vir my paar fotos neem, en die plek aftree, afmeet, nie. Staan so by die deur vir n hoogte skatting. Ek wil hier by my kamp net so huisie vir my bou, ek is vreeslik lief vir die ou plekkie.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 12/12/2020 - 08:21

.... ek kan jou help met een foto van die huisie by Auchterlonie. Ek is ook baie lief vir hierdie besonderse plek in die park.

Auchterlonie

En nog enetjie van 'n afstand afgeneem.

Auchterlonie

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 12/12/2020 - 08:23

Kom nou julle "ooms" van die Wes Kaap, sluit aan by die"leerling omie" van Brits, gedurende Mei 2021 in Twee rivieren. 

... synde jy nou so aanhou neuk met die twee "ooms" (wat my klaarblyklik insluit). Dan sit hierdie twee ouballies beide in die wildtuin. 

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 12/12/2020 - 08:52

... jy meld op die ander draad die volgende:

Die kleiner “wilderness” kampe soos Kieliekrankie, Kalahari Tented Camp en Bitterpan is nie omhein nie.

Ek het hierbo genoem dat ons laaste besoek, waar ons 13 nagte in die park oornag het, was in 2006. Dit was egter 2007 toe ons graag van die wilderniskampies wou ervaar. Ons was o.a. twee nagte elk by Grootkolk en Kieliekrankie, asook 1 nag in Urikaruus (waar ons nie 'n tweede nag kon kry nie). Ons was ook twee nagte in Kalahari Tented Camp, wat soos tereg noem, ook nie omhein is nie.

Grootkolk was vir my die hoogtepunt van al die kampe (wat o.a. ook Twee Rivieren en Nossob ingesluit het). Dit was voordat die leeus só "hans" geword het dat hulle elke individuele tenthuis met draad omhein het. Jy't net so 'n klein stoepie gehad met 'n redelik lae muurtjie daar rondom. Die braaiplek was in die muurtjie ingebou.

Grootkolk

Grootkolk

Grootkolk

Daar het ek darem saans katvoet gestaan en braai, want anderkant die muur is dit stikdonker en jy weet nie wat lê vir jou daar en loer nie.

Soos jy kan sien is dit aan die anderkant van die muurtjie maar stikdonker.

Grootkolk

Veral die tweede aand toe ons vroeër daardie oggend gesien het dat die groot katte sommer by die kamp kom kuier. Toe ons regmaak om op 'n "game drive" te vertrek, let Ralie die leeus op wat om die watergat voor die onomheinde kamp lê.

Grootkolk

Ons het steeds ons vleisie gebraai. Toe ons egter die volgende oggend oppak, sê die buurman terloops dat die leeus darem lastig was deur die nag. Hy wys ons toe hoe het hulle gespeel in die sand langs hulle tenthuis en hom en sy vrou vir 'n lang ruk wakker gehou. Toe ons vertrek, noem ek aan die kampopsigter van die bure se ervaring. Hy sê toe dat hy ook lank wakker was, want die leeus het o.a. teen die een tentpaal kom skuur en teenaan sy tenthuis ook kom lê.

Ek het die natuurlewe-fotograaf, Henk Lochner, ook daar ontmoet. Hy't juis vir ons vertel hoedat hulle sy Land Rover daardie middag gebruik het as skuiling toe hulle 'n blouwildebees bekruip.

Soos genoem, is elke tenthuis nou individueel met 'n hoë draadheining omhein omdat die leeus 'n gevaar vir besoekers begin inhou het.

Die twee aande by Grootkolk was ongetwyfeld die hoogtepunt van al my besoeke aan Kgalagadi.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 12/12/2020 - 11:48

Soos ek hierbo genoem het, het ons ook by ander kampe oorgebly wat nie omhein is nie. By Kalahari Tented Camp word gaste gewaarsku teen hiënas snags in die kamp. Dus is jy nogal gestel daarop om saans by jou blyplek maar gedurig uit te kyk, want die ou muurtjie is baie laag. Een van die twee aande het ek, by wyse van spreuke, my gat afgeskrik. Ek was besig om te braai. In jou erfie het daar destyds 'n groot houtstomp gestaan - my afleiding was dat dit as kapblok gedien het. Ek het net 'n oomblik omgedraai en weggekyk van die vuur af. Toe ek weer omdraai, spring 'n "ding" skielik oor die lae muurtjie tot op die kapblok. Die eerste reaksie is dié van 'n lamskrik-gevoel - totdat jou brein registreer dit is slegs 'n muskeljaatkat wat alte kordaat kom kyk of jy nie dalk soos ander "stupid" besoekers iets te ete wil gee nie.

By Urikaruus kon ons slegs een aand kry. Ons kry toe die heel regterkantste eenheid wat direk op die watergat afkyk. Die opsigter deel ons toe mee dat die plaaslike luiperd bykans elke aand kom water drink. Die wind het begin opkom en gevolglik wou ons nie die tentflap van die "woonvertrek" heeltyd oophou nie. Ons het die ritsluiter van die muskietnet oopgehou sodat ons nie elke keer as ons wil uitloer 'n geraas wil veroorsaak nie. Ek en Ralie speel toe kaart. Sy sit met haar rug na die "deur" se kant toe. Ek sien toe die tentflap 'n bietjie beweeg - meer as wat die wind nog die heelaand doen. Die volgende oomblik kom 'n muskeljaatkat suutjies ingesluip en gaan sit langs Ralie soos 'n huiskat sou sit. Toe ek net met my oë en ligte beweging van die kop wys dat sy langs haar moet kyk, skrik my arme vrou haar byna lam. Maar ek dink die muskeljaatkat het nog groter vir haar gil geskrik.

Worcester

Wildehont

Sun, 13/12/2020 - 10:23

Sjoe, dis darem ongelooflike ervarings wat die Bouchers gehad het in die onomheinde kampe. Ons het tydens ons tweede besoek in 2010 as ek reg onthou by Kieliekrankie en Kalahari tented camp gebly. Eersgenoemde is tussen die twee riviere op die pad wat die paaie wat langs die riviere loop verbind, en gevolglik is wildrit geleenthede beperk. Dis stil en rustig daar, maar ons het Kalahari tented camp meer geniet. Dit is naby Mata Mata en beter geleë vir wildritte. Dis ook heerlik om deur die dag op die stoep te sit en af te kyk op die rivierloop. Daar was heelwat diere in die rivierloop toe ons daar was. Ek het tydens ons laaste aand daar op die stoep geslaap. Die muur was darem te hoog vir ‘n hiëna om oor te kom. Van daar af is ons Nossob toe. 
 

Nog net drie slapies dan begin ons toer!