TO
galago private bush lodge
Zaagkuilsdrift
Sionbergh

 

 nuwe onderwerp graderings

89429 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Die niks doen van Chris en… Karoo Nasionale park Lapskag -4 hours ago
Donkiemedisyne Vriendelike debat voering. Len Loader -6 hours ago
Nou kan ek bewys ek lees… Vriendelike debat voering. Johann L -6 hours ago
Willem... Vriendelike debat voering. Len Loader -6 hours ago
Arie, dalk so bietjie vroeg… Vriendelike debat voering. Johann L -6 hours ago
Chris daai berg kwaggas is… Karoo Nasionale park Johann L -6 hours ago

Kruger Wildtuin in 2022 - Len

Brackenfell, Weskaap
Submitted byLen Loader onMon, 05/07/2021 - 10:18
Forums

Met ons terugkeer uit die Wildtuin 'n maand gelede, het ek 'n bietjie nabedragting gedoen hoe dit dan nou is dat my "lus vir die Wildtuin is geblus" ? Ek het tot die volgende gevolgtrekking gekom :-

  • Ek het dalk teveel uitgesien om na drie jaar weer Wildtuin toe te gaan en my toe vasgeloop in verskeie teenspoede(e)
  • Ons was by 7 kampe oor 32 dae, 6 kampe van 5 dae elk plus 'n ingangskamp van 2 dae.  My annerhelfte voel dis te veel kamp op- en afslanery.  Alhoewel ek dit redelik maklik gehanteer het (en nadat ek gesien het ChrisB het ook hiervoor gatvol begin raak), dink ek al hoe meer dit is te dik vir 'n daalder.
  • My annerhelfte kla ook oor ons "40 dae en 40 nagte rit" Wildtuin toe en terug, want ons slaap oor elke 500km by Beaufort-wes, Bloemfontein, Pretoria en buite die Wildtuin voor ons by die Wildtuin ingaan.  Dieselfde storie weer huis toe.
  • In Pretoria waar ons baie familie en vriende het, het ons hierdie keer by familie oorgeslaap en ons Exclusive was elders gestoor.  Alle vorige kere het ons elke aand in die Exclusive geslaap en daagliks ons kuiery gedoen.
  • By die Wildtuin aangekom het ons van meet af by Maroela kragprobleme gehad en ek wou juis alle batterye volgelaai gehad het voor ons eerste sonder-krag-kamp by Balule. Gelukkig kon ek ons yskas en vrieskas oorskakel na gas.
  • Oppad Balule toe neem ek 'n verkeerde afrit en moes 28km grondpad ry met ons teerpad- karavaan wat natuurlik nie stofdig is nie.  Die korrekte afrit sou net 6km grondpad gewees het.
  • By Balule loop die Exclusive agteruit in 'n boom vas met die afhaak-proses. (Gelukkig net die linker-agterlig beskadig).
  • By Balule slaan ons nie die rally op nie (op Mammie se aandrang) en ek kamp dus eintlik nie soos die ware Jakob nie.
  • My maandelange navorsing om vir ons 'n gas-verwarmer vir ons eie stort te prakseer, flop toe na die eerste stort.  Heerlik warmwater, maar toe begin die elektriese geyser waarvan die uitvloei met 'n kraan geblokkeer was, lek.  Later tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie geyser eerder by sy inlaat geblokkeer moes word, want die nuwe Surflo pomp se drukking binne die geyser het die ou, verkalkte geyser laat begin lek.  Ek moes toe hierdie geyser verwyder wat tot gevolg gehad het dat ons glad nie warmwater vir die res van die vakansie gehad het nie.  Ek wou juis ons eie badkamer voluit gebruik om Covid-infeksie in die ablusies te vermy.
  • By Balule raak die gas toe gedaan en vir twee dae is daar nie warmwater in die ablusie nie.
  • Gegewe my gesondheidsprobleem staan ek eendag in die Exclusive se deur en val net skielik flou, uit by die deur en op my gesig.  Gelukkig reggekom en dit het darem nie weer gebeur nie.
  • By Letaba hoop ek die kragprobleem by Maroela was die kampie se skuld, maar o weë, by Letaba skop die Exclusive se krag ook aanmekaar uit wat beteken die probleem is iewers by die Exclusive. Na 'n lang soektog van elliminasie van elke kragprop kom ons toe agter die prop in my laptop-laaier is foutief en veroorsaak 'n kortsluiting.  Die kragprobleem is toe opgelos.
  • Letaba se ablusies was 'n groot teleurstelling en die netheid daarvan (en selfs rondom die gebou) was tekenend van swak bestuur en geen toesig nie.  Die teëls is so vuil en aangepak dat dit afgekap en oorgeteël sal moet word.  Ook die afgebrande winkel van 'n jaar gelede se muurasie staan nog netso.  Die restourant se grasdak val uitmekaar, lyk slorig en sal moet oorgedek word.
  • By Tsendze het ons lekker gekamp, behalwe dat die helfte van die storte het nie warmwater gehad nie en die stort-uitlope was verstop sodat jy in vuilstortwater moet staan.  Dis ook hier waar 'n reuse rots, nie sigbaar nie en toegegroei met gras, vlak teenaan die pad, die Exclusive en Pathfinder tot stilstand geruk het.  Effense skade aan die bakwerk, net voor die wiel.
  • Vanaf Tsendze is ons na Shingwedzi waar ons heerlik en sonder probleme gekamp het.
  • Vandaar na Punda waar ons ook tussen die klomp lastige blouape lekker gekamp het, maar ek het nog nooi so gesukkel om tentpenne ingeslaan te kry nie.  Selfs my elektriese boor kon net effense gate geboor kry.  Hier was die ablusie darem op die oog af skoon, maar die werkruimte agter die ablusie was erger as 'n varkhok waar die skoonmakers se toerusting gehou word.  Duidelik geen bestuursbeheer nie.

Gegewe hierdie agtergrond, en my lees van die opgewondenheid en voorbereidings van twee Kavangos,  is die lus vir die Wildtuin nie meer geblus nie !

Ek het sopas ons Wildtuin-bespreking vir Mei 2022 vasgemaak soos volg :-

  • 7 dae by Pretoriuskop
  • 7 dae by Ondersabie
  • 7 dae by Berg en dal

Ons gaan dus hierdie keer net vir 3 weke by 3 kampe, 7 dae elk.  Ons het ook besluit om 'n bietjie weer die suide van die Wildtuin te besoek waar ons 5 jaar gelede laas was.

Wat die "40 dae en 40 nagte" klagte van my wederhelfte betref, het ek ook toegegee om my 500km per dag reël op te skuif na 750 per dag.  Ons eerste oornag uit Kaapstad sal 750 km verder by Colesberg wees by Van Zylsvlei Vakansieplaas, 6km noord van Colesberg, reg langs die N1.  Die volgende 750km skof is tot in Pretoria.  Na ons gekuier in Pretoria ry ons 400km tot in Witrivier en oornag by Benmarie Gastehuis en karavaanparkie om die volgende môre in te gaan by Numbi-hek.

Dankie aan al die skrywers op die forum oor die Wildtuin en voorbereidings, dit het my oorreed om volgende jaar weer te gaan.

Hier is ons staanplek 8 jaar gelede by Pretoriuskop.  Sal heerlik wees om weer daar te kan staan.

.

More Len

Ek is bly dat jy steeds Covid negatief is, Vigs-negatief is en KNP voluit POSITIEF.

 

Worcester

Wildehont

Mon, 05/07/2021 - 11:01

Ek was bekommerd toe ek sien Oom Len oorweeg om nie volgende jaar wildtuin toe te gaan nie, so ek is baie bly daardie gevoel het weggegaan en julle besprekings is reeds gemaak. 
 

Ek moet voor ons Donderdag ry my versoek vir volgende Julie by Trudie kry. Al julle gepraat oor die Suide maak my lus om weer in daardie rigting te gaan, maar ai - ek sien nie kans vir al die ander mense wat ook lus is daarvoor nie. Is ek oorsensitief?  Ek verkies dit net om so min as moontlik ander voertuie en mense te sien in die wildtuin, en sien eerder minder wild as wat ek met onbedagsame motorbestuurders moet sukkel by enige sig van grootwild. 

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 05/07/2021 - 11:32

Ek is nog steeds hier in die noorde - baie na-aan die wildtuin. Dit is moontlik die rede waarom ek steeds voel dat my afgelope 45 nagte in die wildtuin was vir eers genoeg. Ons het beslis minder teenspoed beleef, met die uitsondering van die Snomaster se 12V koppelpunt wat gelukkig redelik maklik uitgesorteer is.

Maar soos op my draad genoem, het ek ons bespreking vir 2022 laat verval. Wie weet - dalk kry ek weer in die nabye toekoms 'n krieweling in my agterent om wel volgende jaar wildtuin toe te gaan.

Elke ou doen sy ding op sy manier wanneer dit kom by die lengte van jou daaglikse skofte. Ons vind die (maksimum van) 500 km per dag werk vir ons. Ons neig egter om langer oor te staan by sommige plekke wat ander net as oornagpunte gebruik. Ons het byvoorbeeld na ons eerste skof vanaf die huis vir 6 aande by Karoo Nasionale Park oorgestaan. Toe't ons twee relatief kort skofte gehad tot onderskeidelik Gariepdam en Aldam. Na 'n verdere ietswat langer skof tot ATKV Klein-Kariba, wat hierdie Bolandse plattelander o.a. die spanning en frustrasie van Johannesburg en Pretoria laat beleef het, was 'n uitspanning van 7 aande by hierdie prag-oord baie lekker.

En nou kuier ons heerlik by ATKV Eiland Spa voordat ons weer in Augustus die langpad kuier-kuier huistoe gaan aandurf. Alhoewel daar nog geen besprekings gedoen is nie, sal ons waarskynlik weer 'n oord in die Bela-Bela omgewing vir 'n paar dae besoek en dan dink ek daaraan om nog 'n bietjie langs die pad te kuier - dalk by Camdeboo, of Oudtshoorn, of iewers langs die kus tussen Wildernis en Hartenbos.

Jy's mos afgetree Len - hoekom so kort kuier as jou tyd jou eie is?

Vaalpark

Johann L

Mon, 05/07/2021 - 13:44

Ek stem saam met Chris, kuier-kuier op die langpad dan is dit nie so uitmergelend nie. Ek is redelik oortuig dat die lang skof in 2019, van Hartenbos tot Gariep, in 'n groot mate 'n faktor was in die verloor van die linket wiel op die Penta.

Len, jy maak mens nou sommer weer lus vir 'n lekker lang uit gerekte toe kaap toe.

Ja, daai baie oppak en opslaan is nie meer vir my nie, dit is uitputtend.

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 05/07/2021 - 14:44

Die Exclusive se beskadigde lig is sopas ontvang nadat 'n gebruikte een vanoggend via Postnet koeriers hier opgedaag het. Mooi geïnstalleer met nuwe gloeilampies weerskante, getoets en alles werk perfek.  Nou kan ek van hierdie ongeluk en skade vergeet.

Die volgende reparasie is die vervanging van die geyser waaraan ek nou aandag gee.  Daarna moet die flenters mirogolfoond vervang word.

Ek is dus ook besig met voorbereiding vir Mei 2022 se Wildtuin-besoek !

Worcester

Wildehont

Mon, 05/07/2021 - 15:01

Ek is dus ook besig met voorbereiding vir Mei 2022 se Wildtuin-besoek !

Dis nou paraatheid. Ek dink egter nie julle moet die wa tot dan net by die huis laat staan nie, die wiele gaan plat raak aan die een kant.  

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 08/07/2021 - 14:42

Jan, julle spring ons 'n bietjie voor  -  ons is van 10/5 tot 16/5 by Ondersabie.  Ons het 20 jaar laas by Ondersabie gekamp en dit was toe nog met ons Penta.  Ek is iewat bekommerd oor 'n staanplek vir die Exclusive, want ek verstaan die staanplekke is maar knap. Daar is glo 'n paar groter staanplekke, maar jy kan dit nie vooraf reserveer nie.  Hoop maar vir die beste.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 13/07/2021 - 09:35

Verskoon tog om weer te irriteer, maar dis nog 293 dae.  Ons sal darem tussen-in nog 'n kamp of twee, drie inkry.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 27/07/2021 - 17:09

Dis ou nuus dat ek so te sê getroud is met die Exclusive se Dometic gas/220V yskas wat ons die afgelope 16 jaar nog nooit in die steek gelaat het nie.  Ek het egter van meet af aan drie rekenaar waaiertjies aan die binnekant van die boonste yskas-luggat gemonteer om te help om die warm lug vanaf die agterkant van die yskas te help uitsuig.  Oor die jare heen het dit  soos 'n droom gewerk en aan die buitekant kan 'n mens voel hoe blaas die warm lug na buite.

Dié waaiertjies het egter by die laaste kamp in die Wildtuin die gees gegee  -  nog iets wat tydens hierdie Wildtuin-besoek gekalf het.  Ek gaan egter voort met herstelwerk en die waaiertjies is vandag met nuwes vervang.  Ek skakel die waaiertijies net aan as ek vermoed die yskas sukkel 'n bietjie.  So lyk die spulletjie :-

.

Worcester

Wildehont

Thu, 29/07/2021 - 15:09

Dit lyk netjiex Oom Len, en dis ‘n slim plan. Ek het tydens ons afgelope toer omtrent ‘n klomp Exclusive karavane gesien, van stok oues tot splinter nuwes.by elk van die vier kampe waar ons gebly het behalwe Tsendze. Ek weet egter julle was al daar met julle s’n. Afgesien van ‘n gesin van vier wat twee aande by Shingwedzi langs ons gestaan het, was die res sover ek kon sien almal ouer garde. Kan mens daarom die afleiding maak dat mense wat meer gerief en spasie wil hê die groter karavane koop?

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 29/07/2021 - 15:17

Ek dink beslis en dan die vol badkamer.

Die Classique het die selfde badkamer en hoof bed maar die middel kombuis area is maar effe beknop.

Middag vriende

Gerief en spasie gaan nie noodwendig saam met groot nie. Baie keer is dit 'n geval waar mense die groot waens gekoop het, toe hulle dit kon bekostig, en nou het hulle dit bloot net gehou op hulle oudag.

Tog dink ek dat mense wat dit kan bekostig, hetsy gesinne of ouer garde wat gerief verlang, die luukse waens aanskaf. Ek weet van gevalle waar persone [jong mense] Mobi Lodges agter die luuks aan gekoop het, en dan vind dit is onprakties vir 'n gesin..

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 29/07/2021 - 18:55

Ons het nooit beplan om 'n Exclusive te koop nie en was heel gelukkig met ons Penta.  In Hartenbos het ons egter een dag uit verveeldheid by Tuinroete Woonwaens 'n draai gaan maak en die res is geskiedenis.  Ons albei was dadelik dolverlief op ons waentjie en koop hom toe net daar en dan.  Dit was 16 jaar gelede en hy word vir absoluut niks verruil nie  -  as ons twee nie meer met hom kan kamp nie, beïndig ons net daar die kamplewe. Ek weet nie presies wat ons so aangetrek het nie, maar die ruimte en badkamer was beslis twee van die redes. Die sleepgemak met die Excusive se 4 wiele is beslis ook 'n positiewe faktor.  Met die loop van tyd het ons baie bykomstihede aangebring om die vakansies nog lekkerder te maak.   

Vaalpark

Johann L

Thu, 29/07/2021 - 21:23

Terwyl ons nou die draad so lekker gekaap het, net ook my sent in die blikkie gooi.

Toe my jongste uit die huis is,  het ons geredeneer, dit is nou net ons twee, die Escape II gaan klein, lig en idiaal wees vir ons twee. Dit was nou regtig 'n geval van "jy terg jouself" eers was dit die dogter wat saam gaan, toe die dogter en die boyfriend, toe die dogter skoonseun en later die kleinkinders, baie keer ook die kinders hier, en die kinders van Australia.

Ek was genoodsaak om my droom te verwsenlik, nl die Penta te koop, selfs dit was gou te klein en ek kry toe 'n add a room, die was hopeloos te beknop en ek laat maak toe 'n maak pas add a room wat die hoof tent in 'n L vorm verander. Dit is groot genoeg om 'n queen size stretcher met bed kassies te vat.

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 11/09/2021 - 19:58

Toe ek julle laas geirriteer het was dit nog 293 dae.  Dis nou nog net 233 dae tot die groot dag op 3 Mei 2022 aanbreek.  As die syfer onder 200 dae daal, sal ek julle weer irriteer as julle nie omgee nie.

Jammer ek het gepla !

.

.

.

.