Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus
119698 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Herman... Oktober Karoo kuier Wessel Strydom -9 hours ago
Weervoorspelling Oktober Karoo kuier neef Herman -10 hours ago
Chris S.... Dwarswegstrand, Karoo &… Wessel Strydom -12 hours ago
Seker Wessel Dwarswegstrand, Karoo &… Wildehont -12 hours ago
Verskoning Wildehont Dwarswegstrand, Karoo &… Chris Boucher -13 hours ago
Lekker staanplek Dwarswegstrand, Karoo &… Wildehont -14 hours ago

Braai met 'n Weber

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on Wed, 07/08/2024 - 12:25
Forums

Synde daar 'n gedagte geplaas is om 'n gesprekslyn oor braai met 'n Weber te maak, het ek dit goedgedink om hierdie te begin.

Ek weet dat sommige braai-puriste reken dat braai met 'n Weber is nie braai nie. Ek het al by geleentheid die program "Kom ons Braai" op die VIA-kanaal gekyk. En daar het ek al 'n paar uitgesprokenes gehoor indien 'n deelnemer dit sou durf waag om op 'n Weber te braai. Houtvuur is in hulle oë die enigste ware manier van braai. Dan sê ek sommer in my stilligheid: "Gaan skyt man." Of daar's diegene wat hulle uitspreek teenoor die byvoeging van brikette (of houtskool) by 'n houtvuur se kole. Weereens wil ek diesielfde as hierbo in my stilligheid sê. 

Die Engelsman sou sê: "There's no two ways about it" dat 'n houtvuur 'n fantastiese atmosfeer skep. En daarteen stry ek glad nie. Maar dat jy op 'n Weber net sulke lekker vleis kan braai, of selfs lekkerder, as op 'n houtvuur se kole, is nie altemit nie.

'n Weber verleen hom tot veelsydige maniere van kosmaak. Maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor braai op 'n Weber. Ek beskik ook oor 'n gewone grootte Weber, maar ek sukkel om dié ding baas te raak om te braai. Omtrent al wanneer ek dit gebruik is wanneer ek meer as een ontbeende heel hoender moet gaarmaak. Maar laasgenoemde is op indirekte hitte. En ek gee toe dat dit nie braai is nie. Maar dat só 'n hoender lekker is as dit op 'n Weber voorberei word, is ook nie altemit nie.

Ek gee myself nie uit as 'n kenner van die gebruik van 'n Smokey Joe (die mini-Weber) nie. Maar oor 23 jaar het ek al 'n paar "tricks" geleer hoe om op hierdie apparaatjie te braai. My eerste Smokey Joe het ek bekom toe ek ingeskryf het vir 'n destydse resep-kompetisie van Coleman mosterd. Dit is 'n storie vir 'n ander dag. Die eerste prys was 'n Weber gasbraaier, maar ek het een van die troospryse gewen, nl die Smokey Joe - wat vir jare in my motorhuis op 'n rak gepak was - want ek het met hout gebraai. Meer spesifiek met rooikrans en sommige kere met Myrtle - laasgenoemde moet nie onderskat word nie. In my Grabouw-jare het ek vragte rooikrans vanaf Stanford en Gansbaai aangery - of in sommige gevalle laat aflaai.

Maar voordat ek my mede-forumiete verveel met hierdie lang inleiding - ek sal op 'n volgende inset of twee 'n bietjie meer inligting verskaf oor my ervaring met 'n Smokey Joe (wat my totaal "bekeer" het daarvan om met 'n houtvuur te braai). 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 07/08/2024 - 12:43

Ek het reeds melding gemaak van die ontbeende heel hoender wat ek by geleentheid gaarmaak. Ek het aan hierdie idee gekom by 'n vriend van my in Tzaneen wat my daaraan bekend gestel het. Maar ek het nie 'n idee gehad om 'n heel hoender te ontbeen nie. Totdat my dogter by die destydse Kaapse Technikon Hotelskool gaan studeer het en in haar eerste jaar is hulle gewys hoe om 'n hoender te ontbeen. Die eerste naweek wat sy weer tuis was, het terstond twee heel hoenders gaan koop en ons het teenoor mekaar stelling ingeneem by die kombuistafel - elk met 'n lekker skerp ontbeenmes en 'n hoender voor ons. Sy't my stap-vir-stap gewys hoe m die hoender te ontbeen en weer "aanmekaar te werk" met tandestokkies.

En nadat ek hierdie proses mettertyd redelik goed baasgeraak het - sowel as die gaarmaak daarvan - het ek in 'n tydskrif afgekom op 'n resep-kompetisie wat deur Coleman mosterd aangebied is. Die resep moes 'n Coleman mosterd-produk insluit. En alhoewel ek dit nog nie in my ontbeende hoender gebruik het nie, het my resep wat ek ingestuur het genoem dat jy nadat die hoender ontbeen is, 'n lagie van Coleman se knoffelmosterd (wat jy ongelukkig nie meer kry nie) op die binnekant van die hoender (wat oopgevlek voor jou lê) moet smeer voordat jy die ander bestanddele opsit.

Ek het begin deur te sê dat jy die heel hoender van sy rugkant af moet begin ontbeen - en by myself gedink "wat is die kanse dat hulle die resep enigsins in oorweging sal neem", want hoéveel mense weet om 'n heel hoender te ontbeen. Maar groot was my verrassing toe ek in kennis gestel word dat ek een van die troospryse ('n Smokey Joe) wen. Wat ek wát mee gaan maak, want ek sal tog sekerlik nie die ou dingetjie gebruik nie? Min wetend watter belangrike apparaat dit nog vir my sou word.

Maar 'n bietjie later meer oor begintye toe ek met die Smokey Joe begin eksperimenteer. 

Brits

Wessel Strydom

Wed, 07/08/2024 - 13:15

...wat jy ongelukkig nie meer kry"

dit is vir sommige nou rerig goeie nuus dat die tipe gegeurde produkte van die rakke verdwyn!!!!laugh

Daarsonder smaak jou heel kiepie sekerlik baie lekkerder??smiley

Brackenfell

HennieBo

Wed, 07/08/2024 - 14:10

Chris, ek kan wel vir jou sê dat ek ook jare met 'n Weber gebraai het. Dit was voordat ek by my vorige huis 'n braai laat inbou het op my patio.

Ek sal ook saamstem dat 'n braai in die weber baie smaakvol is. Stem ook dat jy nie 'n hoender beter kan braai as in 'n weber. Sal graag wil sien hoe word 'n hoender ontbeen.

Ek is maar nou net "ge-convert" na buite braai met hout. 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 07/08/2024 - 15:23

Kom ek staan net eers 'n bietjie stil by die ontbeende hoender. Dit is per slot van sake dié item wat my indirek tot 'n Weber "bekeer" het a.g.v. die resep wat ek ingestuur het. Dit is nog steeds nie vir my 'n baie maklike taak nie. As ek dit meer gereeld doen sal dit waarskynlik makliker raak, maar dit neem my sowat 45 minute om 'n hoender te ontbeen. Die vlerkies is die moeilikste deel om te ontbeen sonder om die vel te beskadig.

Wanneer die hoender ontbeen is, lê dit oopgevlek voor jou met die vleiskant na bo. Nadat dit gesout is, sprei ek knoffelvlokkies liggies oor die vleis en ook binne die vlerkies en boudjies. Dit word gevolg met strepies-spek waarmee die vleis bedek word - ook binne die vlerke en boude. Dan volg ingelegde pynappelstukkies en laastens feta-kaas wat in lang repe gesny word en bo-op alles gepak word. Dan volg die toewerk-proses m.b.v. tandestokkies. Dit moet deeglik gedoen word om die souse so goed moontlik binne te hou tydens die gaarmaak.

En dan volg stadig gaarmaak  - sowat 'n uur. En reg op die einde strooi ek bietjie "chicken spice" bo-oor. Verwyder die tandestokkies en sny in skywe soos wat jy 'n skaapboud of heel stuk beesvleis sal sny. En eet jou vingers af.

Pretoria

Geert

Wed, 07/08/2024 - 16:17

Ek is lief om sydisse op Weber te maak. Deesdae maak ek gereeld aartappelstjies. Op foto is aartappels, patats en mielies

Oudtshoorn

neef Herman

Wed, 07/08/2024 - 19:33

Het so paar You tube videos gaan kyk van tegniek vir ontbeende hoender. 

Kom toe vol inspirasie by Vonnels en vra in my onskuld of sy die tegniek onder die knieg het.. Ek gaan nie haar antwoord herhaal nie, maar in kort is dit nee. En ek is veronderstel om te weet dat " the closer the bone, the sweeter the meat".  

Toe vra sy of ek Turduckin ken... Ek het gebieg, nee. Wel, dit is ontbeende kalkoen, met n ontbeende eend binne in, en ń ontbeende hoender binne die eend.  Eish....

 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 07/08/2024 - 19:56

Ek het al kalkoen ontbeen - moeilik om te doen en proe nie vir my lekker nie. En ek sit nie my mond aan eend nie - dit is vir my 'n troeteldier. Dus - Turducken nie vir my nie.

Dullstroom

Rona du Plessis

Wed, 07/08/2024 - 20:36

Iemand het eendag vir iemand anders hier op die forum 'n "dark horse" genoem en dit is presies wat ek dink nadat ek gelees het van jou vaardigheid om 'n hoender, let wel, hoender, te ontbeen!

Groot werk, maar ek dink die eindproduk is jummy!! 

Laat weet maar hoe laat ons Saterdagaand daar kan wees vir die braai laugh

Oudtshoorn

neef Herman

Thu, 08/08/2024 - 07:13

Dat hier manne ia wat sy plek kan volstaan agter die Weber is nou baie duidelik. Kyk net vir Geert se bykosse!! Chris se ontbeende hoender!! Ek glo stellig dat die manne gereeld vir vroulief aflos in die kombuis. Neef sal brekfis maak, dit is nou ń omelet met roosterbrood of miskien ń stukkie steak in die ysterpan, maar groente braai.... sal nie regkom nie.

Laat my nou dink net na ons eerste dogter se geboorte, bied ek aan om vir ons ń Sondagmaal te kook. Haal ń hoender uit die vrieskas, en sit dit in ń pot water op die stoof...die resultaat het geruik soos nat hiendervere.... 

Worcester

Wildehont

Thu, 08/08/2024 - 07:14

Daardie hoender waarvan die bene met ander eetbare lekkernye vervang is klink lekker, maar ek gaan nie 45 min met ‘n rou hoender baklei nie. Ek gril my morsdood vir rou hoender. Kan mens nie ‘n ontbeende hoender koop nie?

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 08/08/2024 - 08:14

Rona - jammer jong. Maar hier gaan Saterdagaand net hoender-skilpadjies en Vallei-kreef wees. Moenie geflous word met laasgenoemde se naam nie - dit is ook hoender. Beide word gemaak deur Delico op Riebeek-Kasteel. Die hoenderskilpadjies is 'n reep hoenderbors toegedraai in netvet en die Vallei-kreef is ook hoenderborsie met ham en kaas gestop en toegedraai in repies-spek. Beide watertand-lekker op die Smokey Joe gebraai. Maar ek verstaan dat die Vallei-kreef werk ook baie lekker in 'n lugbraaier.

Neef - ons eet ons hoofmaaltyd saans. Voor my aftrede het ek baie kos gemaak - my binnebraai en yskas staan langs mekaar. Wat is dan nou makliker om te staan en braai en net jou hand uit te steek om 'n goue koue of 'n wyntjie te vat. Maar sedert ek afgetree is maak ek seker 90% van die aande kos - nie omdat Ralie nie kan nie, maar omdat ek dit so geniet.

Wildehont - omdat dit nogal 'n tydsame ding is om 'n hoender te ontbeen, te stop met die nodige en weer deeglik toe te werk, word dit darem net met die spreekwoordelike "high days and holidays" gedoen. My seun het eenkeer by hulle plaaslike Spar in Grabouw ontbeende hoender bestel. Maar volgens hom was dit baie swak gedoen. Ek is later vandag daar in jou dorp om my kleinkinders vir die langnaweek by hul koshuise by HTS Drostdy te gaan haal om by oupa en ouma te kom kuier. Hul pa en ma gaan Stilbaai toe vir die jaarlikse Galjoen Derby.

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 08/08/2024 - 08:50

My eerste Smokey Joe het splinternuut saamgetrek vanaf Grabouw na Kleinmond en maar weer 'n plekkie in die garage gekry - nog nie aanmekaar gesit nie, binne in sy verpakking. Net so het die laaste klomp rooikranshout saamgetrek, want dit was hierdie vent se manier van braai - gedink Webers is nie vir ware braaiers nie.

In my huis in Grabouw het ons later jare 'n binnebraai laat insit. Dit is in my kuierkamer se muur ingebou. Ek het ook 'n buitebraai (nogals self gebou) buite by die swembad gehad. Laasgenoemde het bykans geheel en al in onbruik geraak.

My huis in Kleinmond het 'n binnebraai ingehad (nog steeds dieselfde een), maar 'n kleiner een - 800 mm breed versus die 1 200 mm wat ek in Grabouw gehad het. Met 'n houtvuur glo ek aan 'n "spaarvuur" langsaan vir ekstra kole (indien jy sou benodig). Maar met die 800 mm braai is die spasie redelik beknop en die spaarvuur is te naby aan waar jy reeds besig is om te braai.

Tweedens is die huidige binnebraai nie in die muur ingebou nie. Dit is 'n losstaande braai wat dus hitte na alle kante uitstraal as jy daarin vuurmaak. Ek het dit een keer probeer pas nadat ons hier ingetrek het - en dadelik vir Ralie gesê dat hier 'n ander plan gemaak moet word. Sy kom toe met die gedagte om dalk die klein Webertjie, wat ons nou-al 'n paar jaar (ongebruik) gehad het, binne in die braai te gebruik. En voila! - 'n nuwe manier van braai ontstaan in die Boucher-huishouding. Nie sonder baie leerprosesse nie - maar wat my asnbetref is dit so na-aan vervolmaak as kan kom.

Ek gebruik tans my derde Smokey Joe - en ek wil nooit weer sonder een wees nie. Dit ry saam waarheen ons ookal gaan. Braai op 'n houtvuur gebeur bykans nooit meer nie. As ons kamp word daar egter baie keer 'n houtvuur langsaan aangesteek net vir die "atmosvuur" - maar ook net op plekke waar ek op grondvlak kan vuurmaak. Op staanbraaiers, soos in Nasionale Parke, word die Smokey Joe op die braaier geplaas. Ek moet darem dadelik byvoeg dat vis wel op kole gebraai word, want die Smokey Joe is te klein om 'n heel vis op te braai (wat in hierdie huishouding nogal baie gebeur). Vir visbraai by die huis gebruik ek gewone houtskool in die binnebraai. Ek gebruik slegs brikette in die Smokey Joe.

Ek het al kon braai op plekke waar ander mense nie kon droom om te braai nie. So het ek al in Namutoni (Etosha) en by Augrabies by geleentheid in stortreën op my chalet se stoep gebraai. Jy sien nie 'n ander vuur in die kamp nie, maar die Bouchers braai.

As ons wintertyd deur die Karoo en Vrystaat ry/oorbly, op pad wildtuin toe, sit ek in die karavaan se deur, met die Smokey Joe amper tussen my bene. Ralie sit binne die karavaan met haar waaier-verwarmer - ek kry die hitte van agter my rug en voor van die Smokey Joe af. Vrystaat en Karoo se koue wintersaande se gat! - die Bouchers braai.

Op 'n volgende inset gee ek bietjie raat hoe om die Smokey Joe "propers" te gebruik.

Worcester

Wildehont

Thu, 08/08/2024 - 11:25

Ons kry ook Delico se produkte hier, en ek het eenkeer die hoender skilpaadjies probeer. Dit was lekker, maar baie ryk. Ek het die Valleikreef al gesien, maar nog nie probeer nie. Dalk sal ek my en Salomien vanaand bederf daarmee. Skoonsus kom Sondag terug na sy vir drie weke weg was vir haar eerste kleinkind se geboorte, en dan is dit weer tande kners vir my. 

Pretoria

Geert

Thu, 08/08/2024 - 18:15

 

Ons Spar verkoop dit, maar teen R109/kg. Ek het gedink dis duur, maar as ek nou lees hoeveel tyd dit in beslag neem dan seker nie te duur nie. N Flattie braai vir my lekker, maar ek hou van die star pack.....4x drum sticks en 4x dye. Ek hou meeste van drum sticks 

Worcester

Wildehont

Fri, 09/08/2024 - 07:57

Ek het gister hamburger patties by Woolworths gaan koop (hulle s‘n smaak lekker en is goedkoper as die ander supermarkte hier, verder is my beursie te dun om by WW te koop).  Ek kyk toe na hulle ander vleis, en sien hulle verkoop ook ontbeende hoender. Ek het dit nog nie gaargemaak nie, maar gaan later. Waarskynlik sommer in die waaierbraaier. 
 

A

Oudtshoorn

neef Herman

Fri, 09/08/2024 - 08:20

Laaik daai " pap hoender" naam. Arme Jack Russel gaan moerig wees dat nie ń beentjie vir hom is nie.

Pretoria

Geert

Fri, 09/08/2024 - 14:58

Hierdie paptert is altyd n wenner

 

Meng die volgende alles saam in n mengbak:
2=3 Eiers
Blik uie en tomatie mix
Blik mielies...pitte, nie creamed nie
250g Spek...stukkies (Ons hou van 2x pakkies spek)
Ui...gerasper
1x Koppie BRAAIPAP ....nie mielie pap nie!
125ml Olie
375ml Melk
250g mushrooms ....stukkies gekap
Sout en peper na smaak

Plaas in vooraf verhitte oond...180*c
Bak vir ongeveer 1-uur

Dieselfde met Weber

Sprinkel gerasperde kaas oor en bak tot gesmelt

 

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 09/08/2024 - 15:24

... klink en lyk my jy's 'n "boffin" met 'n Weber. Daardie paptert-resep klink knap. Ek gaan dit wraggies probeer. Ek het nog nooit self 'n paptert gemaak nie, maar dit by enkele geleenthede geëet - en dit was elke keer baie lekker. Dié wat ek egter al geëet het was almal bestaande uit verskillende lae, maar het gewoonlik min of meer dieselfde bestanddele bevat as wat jou resep hierbo noem.