My Ranger se vorige eienaar het ‘n verlengde waarborg uitgeneem nadat Ford se waarborg verval het. Die verlenging het ongelukkig reeds verval. Ek snuffel tans rond vir ‘n verlengde waarborg om uit te neem op die Ranger. Soos Pierre Nolte, my getroue werktuigkundige, sê; toe hulle klein was het sy pa altyd gebid voor hulle op reis gaan dat die Here hulle veilig sal hou. Vandat hy met Fords ry bid hy dat die Ford hulle tot by hulle bestemming en weer terug tot by die huis sal bring sonder om te breek.
So verlengde waarborg dek meganiese en elektroniese skade. Met hedendaagse voertuie kan dit nogal duur wees. Dienste is nie só duur nie, en dit sien ek as ‘n gegewe en noodsaaklik. Maar as ‘n ratkas, enjin, oordragkas, pompe, lugversorger of iets soos ‘n BMU die gees gee sit mens met ‘n onvoorsiene uitgawe wat kan seermaak.
Van die waarborge is net vir twee jaar geldig, ander net tot 200 000km. En hulle kos tussen R12 000 en R16 000. Ek sien ENB het ‘n waarborg wat R199/maand kos en tot 300 000km geldig is. Ek het navraag gedoen daaroor, en oorweeg dit sterk indien die dekking darem voldoende lyk. Hulle het ‘n goedkoper een waarop die dekking definitief nie voldoende sal wees nie. Daar is ander produkte wat ook ‘n maandelikse premie het, maar hulle is heelwat duurder. Omtrent dubbeld soveel vir die basiese dekking.
Het enige van die lede sulke dekking, en wat het dit gekos en vir hoe lank is dit geldig?
Standaard praktyk
Ek maak ook soos jou werktuigkundige se pa
Dit is ook standaard praktyk in ons huishouding.
Ek het ook nog nie ‘n verlengde waarborg gehad nie, maar toe my Colt se vyfde rat gebreek het was ek baie spyt dat ek dit nie gehad het nie.
Onthou, ek ry ou voertuie. Die Ranger word Februarie 11 en die Prado word al sweet sixteen. As ek ordentlike dekking kan kry vir die prys van minder as 10 liter diesel ‘n maand sal ek dit vat. Ons betaal hier onder darem net tolgeld as ons die tonnel gebruik, en dit doen ek maar min.
Beperking op ouderdom??
Het sulke waarborge 'n ouderdom's kriteria? Kan mens dit uitneem ongeag die voertuig ouderdom, solank dit minder as voorgeskrewe kilometers op het?
Dekking verskil
Sommige waarborge strek net tot 200 000km en ander tot 300 000km. Daar is wel waarborge wat ouer voertuie (soos myne) dek. Hulle werk op ‘n glyskaal. Daar is drie kategorieë (op die basis van ouderdom en km) van dekking. Ouer voertuie met meer km se dekking vir onderskeie onderdele is minder as die nuweres met minder km.
Ek het nog nooit.............
..............en is ook nie vorentoe van plan om 'n verlengde waarborg aan te koop nie. Ek voel dis te duur, dra eerder my eie risiko in die verband en het moontlik nooit so 'n eis nodig nie. Ek ry mos 'n Nissan !
Het ook nog nooit dit…
Het ook nog nooit dit oorweeg nie, en in my leeftyd, het n voertuig nog nooit gebreek nie. Word n voertuig langer gebruik as wat dit dalk voor ontwerp is, dan raak die onderdele seker maar uitgeslyt, en ek twyvel of normale " wear and tear" deur n waarborg herstel sal word. Lees die " fynskrif in kontrak "
Die tipe van ding is maar…
Die tipe van ding is maar iets waar mens na risiko's kyk en die waarskynlikheid dat jy jou geld dmv 'n eis kan terugkry...soos alle polisse mos maar is! Oor die algemeen het ek weggebly van die verlengde waarborg ding...as mens die fynskrif mooi bekyk sal jy sien dat byna alles 'n maks beperking het wat selde die probleem met die voertuig, indien enige, ten volle dek, bv maks R20k vir injectors. En dan die ding met woordspeling, maak baie baie seker dat jy en die versekering dieselfde taal praat. Jare terug het my seun 'n Fiat Strada bakkie nuut uit die boks gekoop en sommer 'n 3de party verlengde waarborg bygekoop. Pas na die fabrieks waarborg verstryk het wil die Strada een oggend nie aansit nie, en dit met bitter min km's op die klok. Ingesleep Fiat agente toe, jammer meneer 3 van die 4 gloeiproppe het gegroet....geen probleem, daar is mos 'n verlengde waarborg. Nee reken die mense dis nie gedek nie (al is dit nie spesifiek uitgesluit nie). Self het ek op my Ranger 'n uitgebreide diensplan bygekoop....1 jaar daarvan oor en tot datum slegs vir 'n stel ruitveërs kon eis, seker ook deels omdat ek maar min ry, tipper het tans 40k op die klok en dit na 5 jaar, nie eers remskoene kon eis nie want ek ry te "kalm"! Om 'n lang storie kort te maak, 3de party waarborge is na my mening nie veel werd nie, maar dan hang dit af wat jy met die voertuig aanvang. Die beste verlende waarborg is Ford se eie ene, dit dek presies alles net soos die oorspronklike fabriekswaarborg, maar dan moet jy by Ford laat diens en as die uitgeneem word na die fabrieks waarborg verval het moet hulle eers 'n inspeksie van die voertuig doen - en dis baie duurder. O ja, kyk ook na watter versekerings mpy daai verlengde waarborg onderskryf, as dit 'n klein onbekende ene is bly weg...
hellopeter
Die maatskappy wat ENB se verlengde waarborg hanteer het vir my ‘n e-pos gestuur om kontakbesonderhede te vra. Ek kyk altyd eers op hellopeter wat daar van ‘n maatskappy/verskaffer gesê word voor ek iets by hulle koop/diens gebruik. Die betrokke maatskappy kry baie slegte resensies op hellopeter, so ek gaan verby hou.
Die Ranger moet eersdaags vir ‘n ordentlike diens gaan by Pierre Nolte, en hy sal vir my kan sê in watse toestand alles is. Ek het die voertuig se geskiedenis by die agente waar dit tot verlede jaar Februarie gediens is, en daar was geen rooi ligte nie. Ek gaan dus maar net voort om jaarliks te diens, en as iets tussen dienste opduik waaroor ek wonder gaan ek na Pierre toe vir sy diagnose.
Goeie besluit...
Môre Chris
....wat jy uitoefen. Ek kan baie mense met voertuie wat baie meer kolo's as jou Ranger op het, wat ook geen verlengde waarborge het nie.
Dit word duur spulletjie om versekering vir enige moontlike gebeurlikheid in plek te hou.
Klein skrif
Soos iemand reeds genoem het is fynskrif belangrik.....maar mense kan ook enige fynskrif reel so draai dat dit teen jou tel. Ek het lank terug n nuwe Corolla gery.Die agterste callipers wou nie release nie....so het bly rem, nie baie nie, maar mens kon dit hoor. Al wat Toyota gedoen het die eerste 3 keer wat kar terug gegaan het was om bietjie spookpis te spuit en hoop dat fout weg is. In tussen het remskoene erg verweer en moes ek in 20,000km 2x vervang, maar dis nooit deur waarborg gedek nie, want remskoene op hul boeke is n wear en tear part. So die waarborg het die 10c of 20c se spookpis gedek en ek moes elke keer die R2000 se remskoen vervanging self betaal. Na hele affere is was dit steeds nie reg nie en hulle het lank daarna met n hengse faait die calliper part vervang....toe is alles opgelos. Vandaar het ek gesê nooit weer waarborg koop nie. Ek dink as dit by ratkas, engin probleme gaan kom, gaan die woorde "Normal wear and tear" ook weer te voorskyn kom





Chris S....
....as dit jou gemoedsrus gaan gee, doen dit.
Ek het nog nooit so iets gehad nie, en oorweeg dit ook nie. Ek maak ook soos jou werktuigkundige se pa, al ry ek 'n Hilux.