Ons sou 23 Des - 3 Jan in Karoo Nas Park gaan kamp het. Nader aan die tyd het ons van besluit verander omdat ons bang was dat ons dalk baie warm kan kry en ons bespreking verander na 7 - 20 Maart by Ebb & Flow (Wildernis).
Intussen het my seun my arm gedraai om saam met hom en 'n skoolvriend, plus laasgenoemde se pa, vir 'n 2-weke hengel-ekskursie Hentiesbaai toe te gaan. Dit sou meebring dat ek net 'n week terug is by die huis en dan Ebb & Flow toe moet vertrek. Ek en Ralie het oor die naweek weereens besin oor die toepaslikheid om slegs 'n week later weer te vertrek. Na vele wik en oorweeg het ons besluit om dit 'n bietjie uit te stel en terselfdertyd weer terug te verander na Karoo Nasionale Park. Ek het dus vanoggend die bespreking weereens verander.
Ek verkies om Paasnaweke by die huis te bly, maar het besluit ons sal maar dié perd hierdie jaar opsaal. Ons vertrek nou op Donderdag 14 April (Paasnaweek: 15 - 18 Apr) en keer terug op Sondag 24 April - dus 10 nagte.
Ons het gister 'n "vergadering" rondom 'n vuur en potjiekos oor ons Henties-trippie gehad. Dit is seker maar die ál groter gebrek aan sekere fisiese vermoëns wat maak dat ek nou nie so opgewonde uitsien na die trippie soos die jongeres nie. Maar die vooruitsig dat daar dalk die moontlikheid is om weer my visvoorraad vir 'n paar maande te kan aanvul is darem tog 'n rede vir 'n mate van entoesiasme om te gaan lyn natmaak.
Karoo NP sal my ook weer sien
Ek was nog nie by Ebb & flow nie, maar Karoo NP sal my weer sien as ek gespaar word. As ek nie moes werk vir ‘n lewe nie sou ek maklik vir ‘n week daar kon gaan ontspan. Ek mis tyd om te sit en lees onder ‘n boom. Die kampterrein sou ‘n goeie plek wees om dit te doen. Hengel is nie iets wat ek gereeld doen nie, maar ‘n lekker toer saam met die manne is altyd ‘n goeie vooruitsig en Namibië is ‘n lekker plek om te besoek. Ry julle reguit Windhoek toe en dan teerpad Swakop toe oppad Henties toe, of vat julle ‘n paar draaie?
Henties
Ons het in die verlede altyd deurgedruk tot in Windhoek en by Arebbusch oornag, vanwaar ons, na 'n lekker buffet-ontbyt gery het tot Henties. Maar o wee, hierdie ouballie kan nie meer só lank op een dag in 'n voertuig sit nie - Grabouw tot in Windhoek. Hierdie keer word ek tegemoet gekom deurdat ons die eerste dag net tot by Grünua ry, waar ons by Grünau Chalets oornag. My seun het nog 'n krediet by Arebbusch toe hulle in 2020 vinnig uit Namibië a.g.v. Covid moes padgee. Daarom gaan ons dit wel gebruik en die volgende aand by Arebbusch ('n puik plek) te oornag voordat ons op dag 3 deurdruk Henties toe.
Ons het eenkeer 'n paar kilometer anderkant Usakos die direkte gruispad, verby Spitzkoppe, geneem - maar dit was, in teenstelling met die normale goeie toestand van Namibië se gruispaaie, in 'n haglike toestand en sedertdien bly ons maar op die teerpad tot sowat 17 km voor Swakop en swaai dan weg Henties toe. My seun se skoolvriend wat saamgaan het vir ons 'n lam gereël by 'n vriend van hom wat naby Okahandja boer - wat ons op dag 3 eers gou daar optel.
Ons keer gewoonlik met die C14 pad deur die woestyn terug. Solitaire is 'n normale stilhouplek vir 'n pastei en apfelstrudel. Daarvandaan tot Maltahöhe wat gewoonlik 'n dieselstop is. Dan swaai ons weg by Helmeringhausen vanwaar dit teerpad is via Bethanie tot waar ons by Goageb aansluit by die Keetmans/Lüderitzpad (B4). Dan draai ons weer suid op die C12 by Seeheim (weer gruispad) totdat ons weer by die B1 hoofpad aansluit by Grünau. Ons oornag gewoonlik by Orange River Lodge (Noordoewer) en druk die volgende dag huistoe.
Gevolglik voorsien ek dat ek behoorlik gatlam sal wees as ons 2 weke later by die huis arriveer. Dit is die grootste enkele rede waarom ek besluit het om langer as 'n week by die huis te vertoef ten einde net weer tot verhaal te kom.
Ek het na my laaste Henties-trip, saam met die jongmanne (2018), besluit dit is my laaste. Maar dit het nie veel armdraai van my seun gekos om my van besluit te laat verander nie. Die blote gedagte van 'n voorraad galjoen, kabeljou en steenbras (hopelik) het eintlik namens my besluit. Maar glo my - vir 10 hengeldae werk jy dat dit vrek vir daardie vis. Van vroegoggend tot laataand - non-stop.
Ons was van plan om vroeg id…
Ons was van plan om vroeg id die jaar so week Karoo NPark te besoek, maar o wee, die hitte sal die lus demp. Ons sit hier en gaap ook soos Len se kraaie, en die voorspelling is vir nog warmer.
Nou maak ek brandpaaie skoon, kyk als deur want in die weer, is n brand baie moontlik. Ons het elke middag donderweer sonder reen.
So nou wag ek maar rustig vir die seisoen om te draai, en sal dan besluit.
Naam verander na.....
Belsluiteloos of die Hinke-punk rusoord.
Ek trap netso water, my planne wil nie reg loop nie.
Ek wil steeds Hermanus toe, die dogter en verloofde gaan nou sommer gou goedkoop trou, want hulle het permanente werk in Amerika gekry. Natuurlik wil hulle so gou moontlik daar kom.
Die verdomde skewe muur moer nog aandag kry, en ek sukkel om regte kanale met halstarrige buurvrou te vind. Intussen het ek 2 weke oor vir die aankoms van die nuwe trokkie. Nou is dit reelings vir Tracker, versekering, kappie opsit ensovoorts.
Gelukkig is dit net te warm hier in/om Brits, mens dink nie eers aan 'n kort wegbreek nie.
Chris, so uit die bloute het…
Chris, so uit die bloute het my siening nou verander na wat jy doen. Maklik van Durban na Merry Pebbles in Sabie gesleep en nog altyd van Nelspruit na Durban op een dag as ons terugkeer van die Kruger. So net oor die 700km.
Met ons Kruger toer in April-Mei in Laer Sabie beplan ek om iewers oor te slaap want ek sleep ook al hoe stadiger om dit meer te geniet.
Jan ....
.... nou raak jy slim. Maak die ryery 'n integrale deel van jou vakansie. Ons permante (of professionele) leeglêers se tyd is mos ons eie. Ek het begrip vir die werkendes, wat gebonde is aan kort skoolvakansies, dat hulle graag by hulle bestemming wil kom as hulle die werklike langpad aandurf. Maar ons gryskoppe - waarom onsself tot niet ry en nie die ou mooi klein plekkies of koffiedrinkplekke of padstalletjies geniet nie.
Roete terug
Ek het julle roete terug al ‘n paar keer gery, meestal in die teenoorgestelde rigting. Ek hou veral van die deel tussen Swakop en Sossusvlei, met die landskappe wat so verander die hele tyd. Ek sal graag weer ‘n toer wil doen Namibië toe, maar met die dieselprys wat dit is raak dit ‘n duur speletjie. Alhoewel; ek lees gister hulle brandstof is darem ‘n paar Rand per liter goedkoper as hier.
Dis ‘n lang pad wat julle aanpak so ek wens julle stywe lyne toe en ek hoop julle kom met ‘n vrieskas vol vis terug. Hulle praat gister met ‘n tannie wie in Velddrif grootgeword het en weer terug is daarheen om af te tree. Sy het ‘n paar baie interessante staaltjies gehad oor hoe hulle met nette vis gevang het in die Bergrivier en dit dan in sout laat lê het in riet hutte daar langs Bokkomlaan en gedroog en verkoop het. Die rede hoekom hulle juis daar waar Bokkomlaan is gevang het, is omdat daar ‘n lang sand oewer was. Die res van die rivier het riete gehad op die oewer. Hier is ‘n potgooi van die gesprek vir die wat belangstel.
Ook geluister ...
... na die antie i.v.m. Velddrif se Bokkomlaan.
In 2019 het ons die vrouens en kinders saamgeneem vir 'n kort toertjie in Namibië wat o.a. 3 dae se hengel by Henties ingesluit het. Ons was ook 2 aande in Swakop en daarvandaan het ons vir 2 aande tussen Solitaire en Sossusvlei op 'n gasteplaas (Weltevrede) gebly. Dit was my eerste (en enigste besoek aan Sossusvlei. Die pad tussen Sossusvlei en Solitaire was op daardie stadium in 'n horribale toestand.


Ek en my kleinseun het ook 'n bietjie in die Sesriem Canyon gaan stap.

Namibië bly maar 'n wonderlike bestemming. Ek sal keer op keer terugkeer. Maar grootliks vir hierdie hieronder:







Nouja.....
Nouja Chris, die verandering is nie juis 'n verrassing nie want ons het verlerde jaar gesien hoe jy wel julle planne kan aanpas ! Maar op ons ouderdom kan 'n mens mos !
Drie dae na jou vertrek uit Karoo NP sal ons daar inklok oppad Kruger Wildtuin toe - jammer ons gaan mekaar mis !
Geniet die visvang ekspedisie en Paasnaweek in die Karoo !