Ek wonder of ek die enigste ou is wat vol nonsens is as dit kom by my karavaan. Sekere goed duld ek net nie. Moet 'n mens nie maar laat gaan en nie so puntenerig wees nie ?
Hier is 'n voorbeeld : Ons Exclusive het uitgekom met 'n battery wat in 'n netjiese hokkie met deurtjie op die A-raam gemonteer is. Met die installering van ons PowrTouch movers is die battery geskuif na binne en net agter die agterste as om die kraglewering na die movers te verbeter. Die voorste hokkie op die A-raam is dus leeg gelaat. Met ons kampering by Balule en Tsendze in die Kruger Wildtuin waar daar nie krag is nie, het ek gewonder of dit nie raadsaam is om 'n tweede battery in die hokkie op die A-raam beskikbaar te hou indien die ander battery pap sou raak. Ek was bekommerd oor die bodem van hierdie battery-rakkie en het toe 'n metaal-versterking in die middel daarvan aangebring. Ek het toe nooit 'n tweede battery aangeskaf en in die hokkie geplaas nie want ons het maklik reggekom (7 dae elk by die twee bogemelde kampe) deur die mover-battery daagliks "op-te-top" vanaf die Pathfinder waarmee ons daagliks ons wildsoek ritte onderneem het. Dit het perfek gewerk want ons ys- en vrieskas werk ook op gas.
Nou by die punt van die onderwerp. Vir 2 jaar pla dit my dat die versterking wat ek aangebring het is skeef aangebring. Kyk tweede foto hieronder. Ek het vandag besluit langer kan ek nie hierdie skewe ding (wat niemand kan sien nie) aanvaar nie en stel die spulletjie toe reg. Kyk foto eerste foto hieronder. Hoekom sou 'n mens toelaat dat iets wat jou vir so lank irriteer nie onmiddelik reggestel word nie.
Wyle Willem (WilSur) het gesê daar is fout by my omdat ek aandring dat 'n toiletrol se papier MOET teen die muur afrol. Dalk was Willem reg.


Len...
...al verskil wat ek sien, is dat een plaatjie geverf is, en ander ene nie![]()
Daar is glo 'n effense afwyking by mense wat verkies dat toiletpapier teen die muur afrol, waar mens dit nie vinnig kan raakvat nie.![]()
Ek was ook altyd puntenerig oor baie aspekte van voertuie en woonwaens. In my geval het ek baie geite afgesterf omdat ek gebruikte voertuie en waens moes koop.
Met ons terugkeer September, kom die klappie oor die prop waar mens die 220V kragkabel by die wa inprop, los/af. Wil my eers sleg vererg, en soek die ou verdomde plastiek pennetjies wat klappie vashou aan raam. Natuurlik is dit weg in Aldam se gras. Gaan krap maar in my "toolbox" en kry stukkie kragdraad. Dit ontrafel ek toe, en trek 'n koper rafel deur die gaatjies, en daar sit die klappie op sy plek. Sal seker die wa so verkoop, maar ek sorg egter dat ek nog stukkie draad byderhand hou, vir latere herstel.
In 2022 toe ek my woonwa en bakkie gaan haal in Hermanus, na my voet-tentpen ongeluk, doen ek iets onnosel. Niemand kyk nie, en ek druk Grompie se agterbuffer teen die Kavango se neuswiel hegstuk vas. Nou het die buffer so 'n oulike "dimple" links van die nommerplaat, in die chroom gedeelte. Dis nou maar so, ek beskou dit as 'n unieke merk om Grompie uit te ken, as dit opgespoor word na 'n diefstal.
Ek is egter steeds gesteld dat enige iets moet werk, soos dit veronderstel is. So breek die gemors plastiek prop waar mens die wa se ligte kabel moet indruk by Grompie, se een oortjie af. Vererg my bloedig, want ek sien al hoe die draad uitkom, op die grond sleep en ek sonder woonwaligte deur Johannesburg moet sleep. Gryp sommer die maskeerband en draai die koppelstuk daarmee vas. Die eerste ding wat herstel/vervang was, was die prop, met 'n metaal ene. Dit gedoen nog voor ek die wa Echo toe geneem het vir die suspensie herstelwerk .
Wessel, as jy mooi kyk................
............sal jy sien die plaat wat ek aanvanklik ingevoeg het, loop nie 100% parallel met die rif op die vloer nie. Ek het die plaat so 'n raps geskuif tot dit mooi parallel met die vloer se riwwe is.
Wat my egter pla, dit het my drie jaar geneem om die ding reg te stel !
Wat my pla is…
Wat my pla is.............................................wanneer ek iets aan die karavaan gedoen het wat slordig is en ek weet ek kan dit beter doen. Dit sal my ook pla todat dit reg is. Meer so as ek weet ander gaan dit sien.
So ook met my fietsrak wat ek gebou het vir ons toer. Wou nie die rak op die karavaan sit nie maar op die Ranger. Het hom 3 x keer verander tot Elmarie se ergenis voordat ek tevrede was. Baie bly daaroor want hy werk puik en ek kan kort draai sonder dat iets raak.
Kan hom ook gebruik sonder die karavaan.
Het ook 'n laai onder die karavaan gebou vir al die tent pale. Ook hegstukke paar keer verander todat ek tevrede is dat hy sal hou. Dit werk ook goed vir ons twee tente se pale.
Toiletpapier
Ek stem nie saam met Oom Len nie. Die toiletpapier moet aan die voorkant af hang. Van my huis mense sit dit verkeerd om in teen die muur. Dit maak my ongelukkig.
Dit lyk net vir my netjieser…
Dit lyk net vir my netjieser as toilet paapier teen die muur af hang as so in die middel rond hang, net my opinie ![]()
Nou is daai plaatjie mooi in…
Nou is daai plaatjie mooi in gesit, dankie Len. Of die toilet papier voor of teen die muur hang, maak nie saak nie, solank dit daar is as jy dit nodig het.






Perfeksionisme
My pa was ‘n perfeksionis. Ek het bietjie daarvan geêrf, maar is nie naastenby so erg soos hy was nie. Ek is ongelukkig ook nie so tegnies aangelê soos hy of so goed met my hande nie. Maar ek kan myself darem help. Ek vang myself nog van tyd tot tyd dat ek die gesegde “meet twee keer en sny/saag/boor een keer” verontagsaam.
Ander kere maak ek net dom foute. Gister sit ek die plaatjie wat ek as hegstuk gesny het om die Kavango se nuwe kraan te monteer met klinknaels aan die wa vas, net om te besef ek het nie gate geboor vir die pypies wat die water na die kraan se kasset toe voer nie. Toe moet ek dit afhaal, die gate boor en dit weer verf.