Goeiemiddag aan almal, gewaardeerde kampgenote,
Vandag het ek weet raad nodig. Ons getroue ou Hilux langbak, waarin ons op 8 November 2021 begin kampeer het, deur 'n ou rallytent agteraan op te slaan en vas te maak en heerlik tweemaal per jaar vir 6 jaar mee gekampeer het, het onherstelbaar gebreek en ons het hom vervang met die beste bekostigbare voertuig, vir ons, waarin ons ook kan kampeer op dieselfde manier: want ons is geheel verslaaf aan hierdie manier van reis en kamp... met byna niks - agterin die bakkie en nou die Renault Triber. Ons het die Triber juis gekoop omdat ons, onder andere, sy agterste twee rye sitplekke kon uithaal en ons met 'n plank en matras dit net so kan doen as in die Hilux.
Maar dis nou my probleem. Met die Hilux kon ek die rallytent, met toue, geryg deur die dakrak van die canopy aan die Hilux se ringe aan sy bak vasmaak. Heeltemal veilig met minimum spanning aan die dakrak en veilig vasgemaak aan die bakringe van die Hilux. Dit het 100% gewerk en gegewe dat ons altyd met die neus in die wind gekampeer het, baie goeie skuiling gebied. Maar die Triber se dakrak is nie sterk genoeg vir so-iets nie, en hy het nie ringe aan die kant soos die Hilux nie.
Help my asseblief met voorstelle: hoe kan ek steeds die rally tent agteraan die Triber opslaan en aan die Triber heg soos met die bakkie?
Ek het gistermiddag die opset getoets en ek kan alles netso gebruik - tentpale en toue en tentpanne soos met die bakkie... daar is net nie opsigtelike maniere om die rally tent aan die Triber te heg nie. Die enigste oplossing wat ek sien is om lang toue, vasgemaak aan die rally tent soos met die Hilux, regoor die Triber se dak te span tot voor op die grond by die neus, sonder dat dit aan enige plek raak en die toue daar te anker met stewige tentpenne. Maar nou wil ek darem ook nie die opset na 'n "koekspul" laat lyk nie... ha ha ha
Jou voorstelle en kritiek sal baie waardeer word.




