Ek staak nou die ander gesprekslyn (Die wildtuin wink alweer). Ek gaan poog om meer detail terugvoering hier te gee. Verskoon by voorbaat indien ek iets herhaal, maar ek gaan poog om dit nie te doen nie.
Algemene opmerkings
Terwyl ek nou vir Ralie hier by 'n tandarts wag, gee ek sommer bietjie verslag oor 'n paar ander dinge. Ek sal later voortgaan met my bespreking oor ons onderskeie verblyfplekke.
Soos op my oorspronlike gesprekslyn genoem, was ons uitsonderlik gelukkig om 'n luiperd as ons eerste "sighting" te kon hê - skaars 'n kilometer vanaf Malelane-hek. Ons het 'n totaal van 4 luiperd "sightings" gehad tydens ons kort besoek - waarvan een twee luiperds by hul vangs in 'n boom was (seker ma en redelike groot kind).
Ons het slegs by een geleentheid leeus gesien (my kinders het meermale). Maar hier is waar die suide se verkeer, veral die safari-voertuie, my frustreer. Verkeersknoop is 'n uiters ligtelike beskrywing. Ons het dieselfde met die wildehonde wat die luiperd in die boom opgejaag het, gehad. Jy kry selfsugtige mense wat die pad heeltemal versper en vrede met diegene het wat graag wil verbygaan. Gee my dan eerder die noorde - met minder wild, maar ook minder toeriste (en bykans geen safari-voertuie nie).
Buffels was skaars. Die groot troppe het behoorlik lyf weggesteek. Olifante was volop. Ons het genoeg renosters gesien. Algemene wild was plek-plek maar aan die minnerige kant, maar nader aan Berg-&-Dal meer volop. Ons het darem ook 'n ratel langs die H3, naby die afdraai na Berg-&-Dal gesien.
Ons het tydens die een voldag tot ons beskikking in Berg-&-Dal die S118 en S119 (wat beide die loop van die Mhlambane volg) gery. Beide was produktiewe paaie. Die twee kere wat ons die Sabierivierpad (H4-1) gery het, was teleurstellend. Die eerste keer wat ek die S147 gery het op pad na Olifants het ongelukkig bitter min opgelewer. Op die S128 en S130 (verby Duke) het ons ook bykans niks gesien nie.
In die geheel het ons vanjaar nie veel wild gesien nie - maar die pragtige geil en groen veld het dubbel en dwars daarvoor opgemaak.
Ons het by twee keer by Afsaal stilgehou slegs vir piepiestoppe. Jy kon bykans nie parkeerplek kry tussen al die safari-voertuie nie. Ons het dus nie daar iets te ete bestel nie, maar Nkuhlu se buffelpasteie (as dit rêrig buffelvleis is) is aan te bevole. Tshokwane se buffelpasteie is nie so lekker soos Nkuhku s'n nie, maar hul hoenderpasteie smaak vorentoe.
Verkeersknope en pasteie
Gee my dan eerder die noorde - met minder wild, maar ook minder toeriste (en bykans geen safari-voertuie nie).
Amen. Ek gaan Krugerwildtuin toe om te ontspan, my kop skoon te maak en die natuur te geniet - nie om my siel te versondig nie.
Nkuhlu se buffelpasteie (as dit rêrig buffelvleis is)
Toe die Nasionale Parkeraad nog olifante uitgedun het, is die vleis verwerk by die slagpale by Skukuza. Dit is onder andere voorgesit as “buffel” pasteie in die restaurante. Dalk is dit deesdae regtig buffelvleis.
Verblyfplekke 6
Ons laaste aand saam met ons Noorweegse gaste en Roemeense kinders was in Onder-Sabie. Ons het lekker huisvesting met onbeperkte uitsig oor die rivier gehad. Ons het daardie aand in die Mugg & Bean restaurant gaan eet en wonderlike diens en kos geniet. Onder-Sabie bly maar een van my gunsteling kampe in die wildtuin en is ongetwyfeld geleë in een van die beste wildomgewings - alhoewel ons hierdie keer 'n mate van 'n bloutjie geloop het met wild. Die naby-geleë Sunsetdam is só vol dat daar nie eens plek was vir die krokodille wat gewoonlik in hulle tientalle op die oewer lê nie. Maar soos reeds genoem, die veld en bome was só mooi dat dit opgemaak het vir die gebrek aan wild.
In die volgende video maak ek melding van Nelia. Dit is my dogter.
Verblyfplekke 7
Nadat ons die kinders en hulle Noorweegse reisgenote by Skukuza lughawe afgesien het, het ons vir ons laaste aand na Malelane-kamp vertrek. Ek het op die ander gesprekslyn reeds gemeld hoe beïndruk ek met dié kamp was. Ek heg die video hierby aand en hopelik is dit selfverduidelikend.
Ek kan net aansluit by Len wat reeds grootliks Wessel se vraag t.o.v. Malelane-kamp beantwoord het. Ek stem volmondig saam wat Len reeds gesê het. Die netheid van die kampie (in alle opsigte) en die gesnork van die seekoeie in die aangrensende Krokodilrivier is alles pluspunte. Ons kon geen klanke van die suikermeul of blaffende honde op aangrensende plase hoor nie. Jy sien wel die suikerrietlande en hoor so hier en daar 'n groot voertuig op die N4 in die verte, maar die pluspunte vergoed deur en deur daarvoor. Ek luister eerder na die veraf klank van 'n voertuig, wat nie steurend was nie as wat ek na die sang van die werknemers in hulle kampong moet luister - soos wat ons al in Satara, Shingwedzi en Onder-Sabie ervaar het.
Malelane-kamp is wat my aanbetref tops.
Verblyfplekke 8
Ons het op Goeie Vrydag via Malelane-hek uit die wildtuin vertrek. Die N4 was besig wat aankomende verkeer aanbetref, maar in die rigting van Johannesburg het ons gemaklik gery. Na vrugte-aankope by Joubert & Seuns se padstal in Schoemanskloof, het ons deurgedruk tot by Alzu Petroport duskant Middelburg vir 'brunch'. O wee, dit was bedrywig. Ons kon darem 'n plekkie vir twee in die Spur kry - maar dit was 'n gedruis van mense.
Ons het oornag by Kroon Manor in Kroonstad - 'n plek wat ons deur Lekkeslaap opgespoor het. Sou dit vir enigeen nodig wees om in Kroonstad te oornag, kan ek hierdie gastehuis met 'n geruste hart aanbeveel. Jou voertuig staan in 'n toesluit-motorhuis en die kamers is baie netjies. Hier volg enkele foto's.




Dit het ons R990 vir die nag gekos.
Ons voorlaaste skof was tot Travalia by Drie Susters vanwaar ons Sondag 31 Maart teruggekeer het huistoe.
Kostes
Ons totale akkommodasiekoste het net minder as R21 500 beloop.
Die brandstofkostes was heelwat onder my begroting. Ek het begroot vir R13 000, maar die werklike koste was R9 674.80. Ons het 'n totaal van 4 880 km gery (wildtuin ingesluit) en 385,77 liter diesel gebruik. Ons gemidelde koste vir diesel was R25.08 per liter. Die goedkoopste was in Springfontein (R23.21 per liter) en die duurste was by Total Alzu (R25.76 per liter). Ek het twee keer volgemaak in die wildtuin - Skukuza en Satara onderskeidelik en in beide gevalle het dit R25.74 per liter gekos.
My gemiddelde brandstofverbruik vir die hele toer was 12.65 liter per km. Neem egter in ag dat hierdie ouballie slegs teen 100 kpu (GPS) ry.
Werklik netjies maar…
Malelane kamp is werklik netjies, maar ek het grootgeword in Satara en baie gelukkige Julie vakansies daar deurgebring. My ouers het in ‘n twee-bed rondawel geslaap en ek en my ouer broer en suster in ons VW Kombi wat spesiaal vir die Krugerwildtuin ingerig is en net daarvoor gebruik is.
Toe ons in 2017 vir die eerste keer weer in ‘n rondawel slaap in Satara sedert ek dit in 2002 laas gedoen het toe ek in toerisme gewerk het, was ek baie teleurgesteld. Daar was ook eens op ‘n tyd sulke lieflike grasperke in die sirkels tussen die rondawels, ek onthou hoe ek as kind daar gespeel het en later as tiener daar gesit en voëls kyk het. In 2017 was daar net papierdorings rondom die hutte en afgebreekte boomtakke het rondgelê.
Die papierdorings was so volop dat mens se plakkies se sole bedek was daarmee van net stap tussen jou rondawel se deur en jou voertuig langs dit. Ons moes aanhoudend van die lastige dorings wegvee en uit die kar probeer kry. Ek het breedvoerige, skriftelike terugvoering gegee aan SANPARKE en ontvangserkenning daarvoor gekry.
As ek kyk na Mnr Boucher se foto van hulle rondawel in Satara tydens hulle onlangse besoek kan daar dalk minder/geen papierdorings wees tand, maar die los graspolle lyk maar slordig en is moontlik net weens algemene nat toestande daar. Dis tog jammer dat Satara (en ander kampe) nie op dieselfde standaard as Malelane kamp onderhou kan word nie. So word standaarde verlaag oor tyd en die paddas in die pot raak telkens gewoond daaraan.
Ons Noorweegse gaste
Die Reme-gesin van Kristiansand in Noorweë was die aangenaamse mense denkbaar om saam met ons te kon hê. Hier is 'n foto van die gesin, afgeneem op Granokop.
V.l.n.r. - Pa (Christian), Matthias (21), Cornelius (13), Lea (19), Live (16) en mamma (Hilde).

En dan 'n laaste video clip geneem vanaf Granokop (Mathekanyane).
Chris B
Dankie vir die heerlike terugvoer, met die mooiste video's om na te kyk. Sanparke moet jou kontrakteer om promosie werk te doen.
Jy het my nou so begeester met Malelane kampie, ek verander sommer my bespreking, van Berg&Dal soheentoe. Ek het soos genoem, ook al 1 keer daar net oornag. Die grasperke, ablusie en selfs kombuisie is net meer aantreklik as B&D.
Dankie Chris. Dit was nou…
Dankie Chris. Dit was nou regtig lekker om te lees en te luister. Jou begroting lyk heel doenbaar. Ek dink volgende Kruger Park besoek dalk dit oorweeg om die" in vlieg en kar huur " opsie te bekyk. Vêr ry is vir my baie lekker, maar die lyf stem nie meer saam nie. Het jy al so oefening gedoen ?
Nee Herman
Nog nooit so-iets gedoen nie. Hier van die Kaap af is dit nogal 'n "costly exercise" om in te vlieg Skukuza toe en 'n voertuig te huur. En dan nog boonop in vaste (lees: "duur") akkommodasie tuis te gaan.
12.65 liter per km. 12…
12.65 liter per km.
12.65km per liter. Voorwaardelike diesel verbruik. Weereens 'n bewys van wat spoed aan verbruik kan maak.
Chirs ek het hierdie gesprekslyn van jou terdee geniet en lekker saam getoer.
Chris
Weereens dankie vir die deel van jul ervarings, dit is lekker om so op ander mense se meedelings gratis saam te toer.
Jou videos is ook gaaf om te sit en kyk, mens voel deel van die hele ervaring.
Nou wag ons op Len, Johan (Lapskag) en Wessel se terugvoer tydens en na hul reise.
Net 'n vraag, moet jy eers videos op YouTube laai, en dan hier deel, of doen jy dit direk. Myself kon nog nooit 'n video hier laai nie.
As jy verkies kan jy op die Fotos Laai gesprek antwoord.
Johann ...
... jy moet eers jou videos op You Tube laai alvorens jy dit hier kan laai. Ek was eers skepties daaroor of ek daarin sou slaag, maar eintlik is dit baie maklik om vir jouself 'n kostelose "rekening" op You Tube te skep. Dit was aanvanklik maar 'n geval van "trial and error", maar het dit darem onder die knie gekry.
Vlieg en huur opsie
Ek dink volgende Kruger Park besoek dalk dit oorweeg om die" in vlieg en kar huur " opsie te bekyk.
Ek het destyds die oefening gedoen om te vergelyk tussen:
1. vlieg en ‘n kar huur en in rondawels bly (die goedkoopstes, baie sonder ablusie)
2. vlieg en ‘n motor home huur en kampering te betaal
3. met eie voertuig ry en kampeer
1 was die duurste en 3 die goedkoopste. Daar was nie ‘n radikale verskil in kostes nie, maar dis omdat ek die goedkoopste vaste verblyf opsies gekies het. As dit die verblyf was wat Mnr Boucher gebruik het sou dit heelwat duurder gewees het - ons is vier mense. Kamp wring kos ons ‘n raps meer as R500/aand gemiddeld. Vaste verblyf waarskynlik ongeveer vier keer soveel, indien nie meer nie. Dit was ook gebaseer op die huur van ‘n Avanza. As jy ‘n hoë voertuig wil huur wat beter is vir wildkyk gaan dit ook aansienlik duurder wees.
Wat dit geswaai het (afgesien van koste) ten gunste van die lang pad sleep is dat ons hou van kampeer, mens jou eie (hoë) voertuig daar het asook al jou eie kampeergoed en alles wat jy nodig het. As so ver ry nie ‘n opsie is nie, dan moet mens maar vlieg. Ek het afslag tariewe op ‘n motor home gekry deur ‘n vriend, anders was dit dalk duurder as vaste verblyf (in die goedkoopste hutte).
Video’s
Dit was aanvanklik maar 'n geval van "trial and error", maar het dit darem onder die knie gekry.
Dis werklik ‘n goeie manier van resensie vir iemand wat moontlik nog nie daar was nie. Hulle sê a picture says a thousand words (of so iets), dan skryf ‘n video seker ‘n storie/boek. Ek kyk baie op YouTube na mense se resensie video’s van kampeerplekke.
Satara
Satara het seker van alle ruskampe in die Wildtuin die mins indrukwekkendste kampeerterrein
Die honorable rangers het laasjaar self die karavaanpark gedeelte mooier gemaak. Hulle het al die baksteen staanplek afskortings oopgemaak/vee en dit weer mooi wit geverf en baie gedeeltes wat toegegroei het, oopgesny en ontbos. Miskien oopgesny omdat pofadders baie gepla het
Satara
Dit was baie duidelik dat meeste staanplekke se grense ordentlik afgemerk is met witgeverfde bakstene - baie duideliker as in die verlede. En dit het duidelik geblyk dat Satara eintlik lekker groot staanplekke het.
Dit is nou wel nie die netjieste kampeerterrein in die wildtuin nie, maar dit bly maar 'n lekker kamp.





Chris
More Chris, dankie vir die antwoord, dus is daai pad geteer sedert ek dit laas gety het.
Daar is tans planne om dv 2024 weer 'n kaapse draai te maak maar Aldam is te naby aan ons vir oorslaap, wou net weet want ek ken jou "liefde" vir grond paaie.