Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Kampe wisseling Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -31 minutes ago
Goeie môre Anton, ek sien… Oktober 2026 saam gesels Lapskag -47 minutes ago
Rona ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -1 hour ago
Kgalagadi-paaie Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -1 hour ago
Goeiemôre!  ☀️☀️☀️ Oktober 2026 saam gesels Voortrekker -1 hour ago
Bly julle het goed gery... Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -9 hours ago

Kgalagadi Oktober 2026

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

My beplande Oktober-kuier in Kgalagadi begin al meer in plek val. Met die uitsondering van een aand waarmee ek nog nie geholpe kon raak nie, begin die toerplan al hoe meer vorm aanneem.

Ons skop af met 2 aande in Twee Rivieren gevolg met 4 aande in Nossob. Beskikbaarheid van akkommodasie in Nossob, 'n dag later as die datum waarop besprekings geopen het, is net so goed soos om wors te soek in 'n hondehok. Maar geduld en gereelde loer op Sanparke se webblad, het vrugte afgewerp.

Intussen kon ek, na nog 'n aand in Twee Rivieren, ook 2 agtereenvolgende aande se akkommodasie in 'n rivierfront chalet in Mata Mata bekom en drie aande in Kalahari Tented Camp (KTC). Ek benodig nog 'n nag tussen Mata Mata en KTC maar ek is positief dat ek met die benodigde nag (15 Okt) in hetsy Mata Mata of KTC gaan regkom. Ek sal maar geduldig voortgaan met my soektog.

Ek sou wat wou gee om 'n nag of twee in hetsy Gharagab of Bitterpan te bekom. Ek het mos nou 'n 4x4.

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 21/10/2026 - 13:37

... my beskeie kiekiemakery laat my nie toe om met my selfoon reg te laat geskied aan die waterval nie. En jy kan tans nie by al die uitkykpunte kom nie omdat dit deels weggespoel is met die laaste vloed. Ek het nogtans 'n (weereens beskeie) video-clip geneem wat ek aan jou sal WhatsApp, want ek kan nie van my selfoon af videos laai op You Tube nie.

1
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Wed, 21/10/2026 - 13:55

Dankie ChrisB...dis absoluut pragtig. Kan amper nie indink hoe dit moet voel om met eie oë te ervaar nie.

Eendag.....

1
Dullstroom

Rona du Plessis

Wed, 21/10/2026 - 14:05

waarvan Wessel praat - mis ek iets? Klink wel of julle steeds 'n verskeidenheid uitstappies geniet. Sien uit na die uiteindelike foto's.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 21/10/2026 - 14:33

Na 'n aangename ontbyt (mos ingesluit by ons chalet-tarief) by die restaurant het ons na die hoof waterval gaan kyk. Die Oranjerivier vloei beslis sterker oor die valle as wat ek dit al gesien het, maar ek het dit ook al sterker sien vloei. Nietemin bly dit 'n skouspel. Al die uitkyk-platforms is ongelukkig nie bereikbaar nie weens skade a.g.v. die vorige vloed.

Ons het sommer kort daarna die pad na Eggohoek gevat. Jammer - ek het boontoe genoem dat ons gistermiddag daar was, sowel as Ararat. Terloops - daar's nie meer 'n teken oor van Noag se ark nie. Ek was verkeerd - ons was by Oranjekom, nie Eggohoek nie.

Ek was verstom dat jy nie gewaarsku word oor die toestand van die pad na Eggohoek nie. Met een of ander goeie reën is die pad erg beskadig. En omdraaiplek is daar nie. Ek was só dankbaar dat ek met 'n 4x4 gery het. Ek weet nie hoe sou 'n persoon met 'n 2x4 sedanvoertuig daar en weer teruggekom het nie. En buitendien is daar nie juis iets om oor huistoe te skryf t.o.v. die uitsig nie. Ararat en Oranjekom is baie beter opsies om te besoek.

Ons het 2 keer waterlikkewane raakgeloop by die driffies waardeur jy moet ry. Die een het in die vlak water bly lê en geweier om te beweeg. Ek het letterlik eers met die Hilux se regter-voorwiel aan sy stert se punt moes raak voordat hy laat spaander het.

Al wild wat ons gesien het was kameelperde, bobbejane en etters (ek bedoel blou-ape). Ons beplan om later vanmiddag na die Maanrots te ry. Intussen is 'n hoender-edpetada (ala Spar) besig om te ontdooi vir vanaand se offerande op die Smokey Joe saam met Joey's boerewors.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 21/10/2026 - 14:38

Met die "upgrade" van ons Kampforum webblad (waarvoor ons almal sekerlik vir Anton baie dankbaar is), is dit 'n moeiliker proses om foto's vanaf die selfoon te laai. Ek gebruik my selfoon seker 90%+ vir my insette op die forum. Ek sal maar eers by die huis die foto's op my laptop gaan aflaai ten einde dit hier te plaas.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 21/10/2026 - 16:06

...na aanleiding van jou en Geert se navrae oor Augrabies staanplekke, en groen water, gaan soek asb 

"Strydoms in Kalaghadi" toer, te lank gelede. 

Dan besoedel ek nie Chris se lekkerlees gesprek nie. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 21/10/2026 - 18:27

Ek het gou vanmiddag, op versoek Geert 'n paar foto's in die kampeerterrein gaan neem. Ek sal dit plaas wanneer ek my foto's by die huis op die laptop afgelaai het. Soos boontoe genoem is die aflaai van foto's vanaf 'n selfoon na die forum 'n bietjie van 'n schlep.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 22/10/2026 - 18:32

Net voordat ek meer sê van ons reis vanaf Augrabies tot Kamieskroon, wil ek deel van 'n interessante "sighting" wat ons gistermiddag naby die Maanrots in Augrabies Nas Park gehad het. Ons het 2 klipspringers (beide ooitjies) gesien wat op 'n klipkoppie gelê het. Die volgende oomblik kom sit 'n bleekvlerkspreeu op die een klipspringer se kop. Laasgenoemde lyk ongestoord, selfs toe die spreeu aan sy ore begin pik - amper soos renostervoëls op wild in die wildtuin. Ek het nie sulke gedrag van 'n bleekvlerkspreeu verwag nie.

Terug by Kamieskroon. Het ek nou die roete wat ons vandag gery het geniet. Ek het van meer as een bron verneem dat die roete via Pofadder na Springbok maar vrek vervelig kan wees. Maar ons het die teenoorgestelde beleef. Blomme was langs die hele roete te sien.

Van Springbok tot Kamieskroon is 'n mooi omgewing tussen die koppe van die Kamiesberge deur. En ons blyplek vir vanaand is uitstekend - netjies en uitstekend toegerus. Foto's, soos ander sal volg.

Vanaand is ons laaste braai-aand van die trip - nogal in 'n binne-braai. Lamstjops en Joey's is o.a. op die spyskaart en waarskynlik 'n braaibroodjie. Laasgenoemde sal Chris Boucher-styl wees - nie aan die buitekante met botter gesmeer nie (soos Jan Braai predik). Met sterk Cheddar-kaas, uie, tamatie en Bovril.

Môre wag die laaste skof huistoe na 'n fantastiese trip.

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Thu, 22/10/2026 - 19:18

Ja....die braai broodjie debat is n draad op sy eie, net soos die foelie een....blink kant binne of buite. 

Ek sit maar gewoonlik my botter buite.....lekker as die botter so goudbruin brand en alles mooi warm binne is. Laas het ons saam met mense gekampeer wat ook botter binne sit....brood het volgens my te gou gaar geword terwyl die kaas binne nog nie eers gesmelt het nie. Maar soos jy altyd sê....elke ou soen sy vrou op sy eie manier. Geniet die laaste braai en sterkte met laaste gedeelte. Braai sommer n ekstra braai broodjie vanaand.....die heerlikste padkos vir môre

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 23/10/2026 - 19:28

0ns was net na 16:30 by die huis na 'n lekker rustige dag op die pad. Afgepak en so te sê uitgepak ook. Maar môre is nog 'n dag om behoorlik weer nes te skrop.

Die Hilux is behoorlik vuil. Ek wil dus gou môre-oggend 'n afspraak gaan maak vir 'n "valet vir (hopelik) Maandag

Ek sal hopelik gou-gou tyd vind om my foto's na die laptop oor te dra ten einde dit op hierdie gesprekslyn te kan plaas. En ook dalk 'n bietjie filosofeer oor verskeie aspekte oor die afgelope 19 dae.

Net om myself te verwelkom by die huis braai ek vanaand maar weer 'n 2-tand skaaptjoppie (ala Riviersonderend).

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Fri, 23/10/2026 - 20:20

Well done Chris en Ralie. Het die stukkies geniet wat kon deurkom.

Ander maat is ook nou in die week terug na net so lang bedoek. Ou hande van die Park. Die getal besoekers was opmerklik baie hoog, en dan die gedrag van die mense is nie meer soos dit was nie.

Maar soos hy sê, ons oues sal moet aanpas by die nuwe tendense, dit is nou hulle tyd.

 

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 23/10/2026 - 22:00

en ek dink as julle huis kon praat sou hy gesê het 'baie welkom tuis'. Julle was hierdie jaar nog net weg en vêr weg. Wanneer jy opgekom het vir asem hoor ons graag die verdere detail.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 24/10/2026 - 07:12

Na aanleiding van Neef se inset t.o.v. die gedrag vir mense, dink ek onwillekeurig aan iets wat ek op hierdie gesprekslyn wou aanraak.

Eerstens - die park se paaie was in 'n beter toestand as wat ons dit in jare beleef het. Dit word redelik gereeld gesleep. Maar 'n baie groot persentasie van die besoekers dra daartoe by dat die paaie gou-gou (net 'n dag later) weer in sy moer gery is. Die grootste sondaars is die ouens wat kampeer. Soos in die wildtuin poog hulle om so vroeg moontlik by hul volgende kamp te kom en oorskry die spoedgrens sodanig. Jy kan maar kyk - as daar 'n hengse stofwolk, hetsy van voor of agter kom, is dit in 90%+ van die gevalle iemand met 'n boswa of 'n daktent.

Met die nuwe Hilux se spoedbeheer, kan ek my spoed so laag as 30 kpu stel (wat ek doen). En met my banddrukke afgebring na 1.5 Bar dra ek min by tot sinkplaatvorming. Maar die f@##&$ kampeerders vee hulle gatte af aan spoed.

Iemand wat van voor af kom, of my van agter af inhaal het geen probleem (of liewer min) met stof wat ek veroorsaak nie. Maar die donners voel vere vir jou - hulle ry jou onder stof dat ek soms eers moet stilhou en wag vir die stof om te gaan "lê".

Ek voel (dalk net ek) dat jy minstens respek moet betoon as jy iemand verbysteek - van voor of van agter af. Ry vir 'n paar 100 m net stadiger ten einde nie jou mede padgebruikers te verontrief nie.

Of moet poepholle soos ek eerder wegbly uit Kgalagadi?

Dan so 'n laaste stuiwer in die armbeurs t.o.v. ongeskikte bestuurders (ek praat van spoed) - Jimny-bestuurders kan blykbaar nie stadig ry nie. Ek wonder of dit te doen het met die kort afstand tussen die voor- en agterwiele (dat hulle dalk meer skud op die sinkplaatpaaie) en sodoende vinniger ry om "oor" die sinkplaat te ry. En daar's nogal heelwat Jimny's in die park gewees. Ek moet darem toegee - daar was een wat ons verskeie kere raakgeloop het, met die registrasie van "THE TOAD ZN" wat ten alle tye ordentlik gery het.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 24/10/2026 - 07:19

... vir die res van die jaar beplan ek darem om tuis te wees. Ek moet 'n slag begin aandag gee aan my rolbal.

Met die huidige koste van brandstof, oorweeg ek selfs om van my besprekings vir volgende jaar te kanselleer. Net die Hentiesbaai-trip vir end-Feb/vroeg-Mrt is nie in gedrang nie.

Maar ek gee ernstig oorweging om my wildtuin/Eiland vakansie te kanselleer. Dalk eerder weer oorweging gee daaraan om te gaan kyk hoe vorder my ver kinders met hul nuwe huis. Maar as ek dink aan die lang vlug, verdwyn my lus daarvoor sommer skielik.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 24/10/2026 - 07:52

Ek gaan lekker lees en kyk na die vervolg van jou verslag. 

Ek dink as mens 'n unieke nommerplaat het, hou mens maar by parkreëls, om pakslae te vermy.

Ouens wat tussen kampe wissel, weet mos wat die afstande en geskatte reistyd is, hulle kan mos ook maar daarmee vrede maak. Dit laat die vrae;

jaag hulle om 'n koelte staanplek te kry of

jaag hulle sodat boswa minder skud?? 

Die kompetisie vir 'n koelte [lekker] staanplek is mos baie minder, as by Satara byvoorbeeld. By laasgenoemde kan kampeerders uit baie rigtings "jaag" vir staanplek. 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus