Koro-Koro
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear
Sionbergh

 

luister nou wereldwyd stereo

superbrulekker reseptenuwe onderwerpgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

58433 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Fleetline se yskas het ook… 210 lt Model BS213 Bauer… Noel -37 seconds ago
Leeu is reg. En net so kan… Karavaan eintlik 'n ryk… neef Herman -5 minutes ago
(No subject) 210 lt Model BS213 Bauer… Noel -11 minutes ago
Moet egter erken, ek gaan… Baterye en dinge Johann L -14 minutes ago
Wessel, nee glad nie… Baterye en dinge Johann L -17 minutes ago
Stem met Nico (Leeu) se… Karavaan eintlik 'n ryk… Noel -24 minutes ago
3 watt LED Baterye en dinge wessels -2 hours ago

Namibië en Botswana Toer

Die wapad.
Submitted by Koos Mol on Thu, 25/04/2019 - 21:32
Forums

Die dag waarna ons met groot opgewondenheid na uitgesien het, het toe ook aangebreek. Na dae lange voorbereiding, geboer op die internet en gesels met baie kampers het ons toer na Namibië en Botswana begin. Ons, dis nou ek en Irene saam met vriende Eric en Annette het Dinsdag 23/04 vroeg oggend met baie opgewondenheid en warm harte ons waens gehak en vanuit Hartenbos (ons het die afgelope 2,5 maande op Dibiki gestaan) die twee Rangers se neuse in 'n noordelike rigting gedruk. Ons eerste stop was op Rondeberg net noord van Clanwilliam waar ons een nag oorgestaan het. Vroeg Woensdagoggend trek ons toe verder noord en so om en by 15h00 steek ons die grens oor by Alexanderbaai oppad na Oranjemund. Tans ons 2e nag hier by "Op My Stoep" met net 2 staanplekke en so 20 chalets, en morê (26/04) vertrek ons oor Roshpinah na Aus vir 3 nagte. Vandag 'n rustige, mistige, naterige en koel dag hier op Oranjemund deurgebring. Dis 'n pragtige klein dorpie, baie skoon en netjies met vriendelike mense. Weens die mis was die uitsig by die Oranjeriviermond maar beperk maar tog 'n mooi gesig. Die Jasper House museum op die dorp beeld die diamantbedryf en ontwikkeling hier in die spergebied mooi uit.

Morê, met nog duisende kilometers en mooi Namibië kampdae lê nog voor.............

Reg vir die pad.

 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 08/05/2019 - 12:30

Ja Koos, ek stem saam dat Namibië 'n bestemming is wat op jou groei. Vanoggend aan julle gedink toe die Sanparke 'chopper' hier op Punda kom land. Gewonder of dit Jaco agter die stokke was.

Middag Koos

Dankie vir jou breedvoerige terugvoer oor julle toer.

Jy het nou al baie ervaring van lang toere alleen, en nou met vriende wat saamsleep. Wat is jou aanbeveling vir ander mense;

1] doen dit alleen in afgelee plekke

2] kry gemoedsrus en doen sulke ritte saam met goeie vriende.

Dit is sekerlik baie meer ontspanne deur te weet daar is hulp onmiddellik beskikbaar

Groete

Wessel

Die wapad.

Koos Mol

Wed, 15/05/2019 - 20:55

Wessel.........................

Jou vraag 1 en 2:  Hier in Namibië sou ek aanbeveel dat jy dit saam met vriende doen, dis soos jy sê, dis beter om die afgeleë plekke te besoek wanneer jy darem ekstra koppe/hande byderhand te het. 

Die wapad.

Koos Mol

Wed, 15/05/2019 - 22:23

29 April trek ons oos na Keetmanshoop, die pad is pragtig en ons reis verloop veilig. Op Keetmanshoop vul ons proviant aan by die plaaslike mall. Ons vat koers na Garas Ruskamp so 16km noord van Keetmanshoop. Die kamp is tussen die rotskoppies geleë en die geriewe is baie spartaans met net een kragprop. Die geriewe geval nie die dames en ons vat die pad terug na Keetmanshoop op soek na 'n ander kampplek en kom so op Maritz Lodge af. Ons staan nou hier vir 3 nagte.

Maritz Lodge is 'n netjiese kamp agter die Egen garage langs die hoofweg. Die swaarvoertuigverkeer kan nogal lawaaierig wees maar na 'n lang dag se rondry is jy tog moeg genoeg dat die verkeerlawaai jou nie uit jou slaap hou nie. Die kampterrein is grond en gelyk met braai en opwasgeriewe. Die ablusiegeriewe is netjies en skoon, ‘n rakkie in die stort en by die wasbak sou egter sake baie vergemaklik.

Ons eerste dag op Keetmanshoop besluit ons om die kokerboomwoud en "giant’s playground" te besoek. Die kokerboomwoud is werklik iets om te sien, soveel van die bome bymekaar en dan kry jy verskillende vorme (as ek dit so mag stel), sommige baie dig, ander yl, dan die wat se takke regop boontoe is met net blare op die top van die boom en ander wat weer die ronde vorm van 'n boom aanneem. Die woud is 'n moet op elkeen se besoeklys. Die "giants playground" lyk werklik of die reuse se kleuters met hulle blokkies (rotse) stapels van verskillende formaat en groottes op mekaar gepak het. Sommige stapels lyk soos legkaarte soos die lyne van die rotse op mekaar gepak die lyne van 'n legkaart vorm.

Na 'n warm dag uit (33 gr) het ons lekker afgekoel in die koel water van die swembad. Morê lê Ais-Ais se wêreld voor, dit gaan 'n lang-ry-dag wees.

Woensdag vertrek ons vroeg en ry met die B1 tot so ent suid van Grunau waar ons wes draai oppad na Ais-Ais. Dis weer 'n dag van kontraste, die vlaktes gaan oor in gebergtes met alle vorme en skakerings, mens staan net in verwondering. Die grondpad ry goed, beter as sommige van ons teerpaaie en spoedig daal ons deur die berge af na Ais-Ais. Ek was laas hier in 1994 toe ek en my seun (toe in standerd 9) die Visrivier Canyon gestap het. Die plek lyk goed met hordes kampplekke, hier is heelwat toeriste met hul toegeruste bakkies en daktente. Na ons deur die kamp gery het vat ons weer die pad uit en draai noord na Hobas en die Canyon uitkyk punt. Hobas lyk ook nou meer modern as toe ek hier in 1994 die nag voor ons stap oorgeslaap het. By die uitkyk punt word fotos geneem en ge-oe en ge-aa oor die prag uitsig oor die canyon. Ons gaan toe ook na die beginpunt van die staproete. Diegene wat al die roete gestap sal onthou van die ketting handreling waar die afgaan in die canyon begin. Ek onthou dit was nogal 'n angswekkende gevoel toe ek in 1994, daar teen die steil helling afgaan met 'n swaar rugsak op my rug, wat 'n belewenis was dit nie. Ek raak toe sommer bewoë toe ek terugdink aan die wonderlike ervaring wat dit was om die besonderse roete saam met my seun te kon stap.

Na ons al die uitkykpunte besoek het is ons toe nou lekker honger en dors, die Canyon Roadhouse is toe ons volgende stop waar ons 'n lekker "draught" en 'n burger wegslaan. Die pad terug na Keetmanshoop was almal maar stil in die bakkie na 'n lang dag se plesier. Hierdie is 'n rondrit wat elke besoeker aan Namibië op sy emmerlys moet plaas.

Fotos kan nie die volle verhaal vertel van wat mens in hierdie wêreld beleef nie; vir die wat al hier was sal fotos goeie herinneringe oproep; vir die wat die plek nie ken nie sal fotos net 'n lusmaker wees ....................................

Dis alweer oppak want morê (2 Mei) vat ons die pad na Maltahöhe vir die volgende been van ons toer.

 

Ons staanplek by Maritz Lodge
Kokerboom woud
Kokerboom woud
Inwoners in die kokerbome
Nog 'n inwoner in die woud
Instruksies by Gaints Playground

 

Gaints Playground
Gaints Playground - legkaart van rotse
Gaints Playground
Gaints Playground - wie se versteende kop is dit die?
Oggendtee oppad na die Visrivier Canyon - ons was gelukkig om die skadu plekkie te kry, bome is maar skaars.
Visrivier Canyon - die einde van die staproete by Ais_Ais
Visrivier Canyon - ons was daar
Visrivier Canyon
Visrivier Canyon
Visrivier Canyon - hier het ek ongeveer 25 jaar gelede met my rugsak op, my staptoer begin. Die eerste deel af in die canyon in, is nogal steil, die dat daar 'n ketting handreling langs die paadjie is. 

 

Canyon Roadhouse
Wie is die oudste; boom of bakkie?
Ons sluit af met 'n koue tapbier en 'n burger.

 

Waar my wa staan

Arie

Thu, 16/05/2019 - 15:50

Koos daai Giants playground het 'n diep indruk op my gemaak, ek het seker 'n hele dag daar rondgeloop. 

Ons het die kamterein by die Kokerboom woud ook baie geniet. 

Ek kan nie onthou, was julle by die "Moon landscape" en die Welwitchia woud ook? 

Ook twee plekke wat my beindruk het.

Secunda

Sleep nou

Thu, 16/05/2019 - 20:52

Dankie vir update Koos dit bly darem mooi daar en daai bier maak my nou lus vir so koue een

Die wapad.

Koos Mol

Sat, 25/05/2019 - 17:09

Ons toer verder............................................

Donderdag 2 Mei vertrek ons vroeg uit Maritz Lodge op Keetmanshoop na Maltahöhe vir die volgende been van ons toer. Ons reis word kort na ons vertrek onderbreek toe Eric die linkerband op sy wa verloor. Die band is aan flarde en sy wa is lelik beskadig soos die band die sykant van die wa geslaan het. Op Mariental kry ons nie 'n band maar die handelaar sal een bestel en ons sal Maandag oppad na Windhoek die band laat opsit, dus pak ons die pad verder aan sonder 'n spaarwiel vir Eric se wa.

Ons reis is verder voorspoedig en bereik ons bestemming in Maltahöhe by Die Pappot om en by middagete. Die ontvangs by Pappot is baie gul en vriendelik. Die kamplekke is agter Hendriette se winkel en is grond staanplekke met skadunet afdakke. Die ablusie en opwas geriewe is eenvoudig maar skoon. Die toegang vir die groot waens is maar moeilik maar ons waens staan uiteindelik en met 'n lekker koue ene sluit ons ons trek vir die dag af. Morê vat ons 'n "gap" dag, bietjie wasgoed was en wa skoonmaak, Saterdag ry ons weer rond.

Dis Saterdagaand en ek lê in die bed met moeë bene en lyf na 'n heerlike dag. Ons het vanoggend 5:30 die pad gevat na Sesriem en Sossusvlei; wat 'n belewenis. Die pad (C19) is maar plek plek lekker sinkplaat maar gelukkig is die grootste deel van die 170km na Sesriem in 'n mooi toestand; die laaste klompie kilos is die sinkplaat maar rof. Op Sesriem ons toegang betaal en is toe heel verbaas om te sien die 60km pad van Sesriem tot by Sossusvlei se parkeer area is 'n lieflike teerpad tussen die duine deur. Ons eerste stop was duin 45; dis toe reeds 09h00 en die sonnetjie was al lekker hittig. Die toppunt van duin 45 word ons teiken, die klein mensies doer bo was nie juis bemoedigend nie maar ons besluit tog om die uitdaging te aanvaar en pak die opdraende teen die rug van die duin op, aan. Na so 10 minute se stap in die los sand, waar jy een tree vorentoe gee en jou voet sak weer 'n halwe tree terug, begin jou asem jaag en jy wonder of hierdie 'n wyse besluit was. Maar, heellaas ons maak dit en bereik uiteindelik die hoogste punt. Die terugtog af was 'n fees en neem so 'n derde van die tyd van die optog. Na ons al die sand uit ons skoene en sokkies uitgeskud het vat ons die pad verder na Sossusvlei se parkeer area vanwaar ons 'n "taxi" kry vir die verdere sanderige, hobbelrige 5km tot by die dooie vlei. Vanwaar die taxi ons aflaai was dit toe nog 'n verdere half uur se stap na die dooie vlei.
Na al die geswoeg in die sand onder 'n warm son, is die natuurskoon en die andersheid van die woestyn 'n belewenis wat jy net kan ervaar en waardeer as jy self daar was en die sweet gesweet het. Die massiewe duine met verskillende vorms en kleurskakerings laat jou in verwondering oor die woestyn en wat hier lewe. Ons het heelwat springbokke en gemsbokke op ons roete gesien. 'n Klompie gemsbokke op 'n wit vlakte aan die voet van 'n rooi duin skets 'n prentjie wat jou vertel van die kontraste van hierdie wêreld. Ons laaste stop was by Sesriem canyon, ook 'n belewenis wat sy eie verhaal vertel. Met die terugry vat ek die verkeerde pad en ry toe eers in die rigting van Solitaire voor ek kon wegdraai na Maltehöhe; mense die 13km stuk grondpad is die slegste wat ek nog in my lewe gery het. Die sinkplaatpad is die moeder van alle sinkplaat paaie en die pad is omtrent so 20 na 30 meter breed soos almal probeer om beter ryvlak langs die pad te kry.
Na 'n vol en opwindende dag kan ek nou met 'n gevoel van genoegdoening, 'n lekker nagrus geniet. Dit was 'n baie suksesvolle dag.

Die volgende dag kruip ons weg vir die son en luier sommer net rond. Ons kuier bietjie met Hendriette en haar man, Mannetjie. Hulle vertel ons van die stryd wat die boere tans beleef met die ontsettende droogte, diere het nie meer voer nie en die boere verloor daagliks diere wat vrek, tog is die mense hoopvol en blymoedig. Hendriette is vrygewig en sy dra "jaffels" en koue bier aan, tipiese plattelandse boere gasvryheid van ouds. 'n Besoek aan die Pappot en 'n geselsie met Hendriette hoort op elkeen wat in hierdie rigting kom, se reisprogram.
Vroeg Maandagoggend (06 Mei) vertrek ons na Windhoek vir ons verblyf by Arebbusch Lodge en verder .........en verder...............die noorde lê nog voor.

Ons blyplek vir die volgende vier nagte.

 

Ons staanplekkie.

 

Ons feesmaal op Eric se verjaardag.

 

Eric se wa loop sonder hierdie band.

 

Skade aan die wa.

 

Oppad na Sesriem/Sossusvlei.

 

Sesriem.

 

Die kontraste van hierdie wêreld - 1

 

Die kontraste van hierdie wêreld - 2

 

Die kontraste van hierdie wêreld - 3

 

Die kontraste van hierdie wêreld - 4

 

Die prag van "niks".

 

Gemsbokke op die vlaktes.

 

Duin 45 - die klim lê nog voor.

 

Duin 45 - die klim na bo het begin.

 

Duin 45 - uiteindelik bo.

 

Duin 45 - die afgaan was heelwat beter en makliker.

 

Duin 45 - moeg maar heel tevrede dat ek dit gemaak het.

 

Ons taxi oppad na die dooie vlei.

 

Sossusvlei - die dooie vlei.

 

Sossusvlei - die dooie vlei.

 

Sesriem canyon.

 

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 25/05/2019 - 18:18

Mors my kwyl weer op die Tablet.  😢

Dankie Koos, dit is verseker 'n draad wat en baie inligting kan kry as ek eendag daai kant toe gaan sleep.