Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Jeandre Rudolph - perfekte keuse.... Springbok rugby Rona du Plessis -11 hours ago
Jeandre Rudolph Springbok rugby Geert -12 hours ago
Hael November 2026 Geert -12 hours ago
Brits en Pretoria... November 2026 Wessel Strydom -12 hours ago
Die weer is woes November 2026 Rona du Plessis -17 hours ago
Span vir die naweek Springbok rugby Rona du Plessis -17 hours ago

Die Smalle Tuinroete en Karoo Des ‘21

Worcester
Profile picture for user Wildehont
Submitted by Wildehont on
Forums

Ek begin die gesprekslyn vir terugvoer oor ons vakansie van 14 - 28 Des by Dwarswegstrand, 28 -29 Des in Oudtshoorn en 29 Des - 2 Jan by Karoo NP.

Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Mon, 27/12/2021 - 09:11

Die hartseer laaste dag hier het aangebreek. Twee weke gaan darem vinnig verby. Gisteroggend was ons lank op die strand. Ook maar goed so, want vandag word reën voorspel, veral later vanmiddag. Daar het oornag ook ‘n paar druppels geval. Dit beteken natuurlik nat oppak. Soos ek hier tik hoor ek tentpale val. ‘n Hele paar kampeerders wil vanoggend sommer pak en ry voor die reën vanmiddag. Gistermiddag is een reeds weg, en vanoggend nog een. Ons gaan eers môre ry. Ek is nie te bekommerd oor nat oppak nie, want net meer as 24 uur later slaan ons weer op in Karoo NP en sover lyk dit nie asof dit daar gaan reën nie. My silwer seil hou ook my tent redelik droog.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Mon, 27/12/2021 - 10:52

Nee wat, ek slaan nie kamp op vir net een aand se oorslaap nie. Die Kavango is nie ‘n stop en slaap wa nie. Ons slaap in ‘n boot by ‘n Lekkeslaap plek - Mount Noah. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 27/12/2021 - 12:00

Jy't nou my nuuskierigheid geprikkel en ek het gou op Lekkeslaap se web gaan loer na Mount Noah. Lyk na 'n interessante plek.

Ons is ook baie lief vir Lekkeslaap en gebruik hulle nogal dikwels.

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Mon, 27/12/2021 - 12:58

Middag Chris S

Jy moet tog ons klomp droëbek tuisblyers trakteer met 'n paar mooi foto's van jou tog deur Meiringspoort.

Dan sommer om nog 'n paar spykers in te moker, van Karoo NP ook.

Gaan jy Outenikwa- of Robinson-pas sleep Oudshoorn toe? 

Onthou, daar is baie wat verbete saam vakansie hou vanuit ons studeerkamers.

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Mon, 27/12/2021 - 17:20

Chris gaan maar n treurige besoek het in die Karoo N Park beleef. Vandag verneem al die toeriste roetes is gesluit, agv vloedskade, net die Lammertjiesleegte pad is oop. Die is so kort sirkelroete, teerpad, wat tussen die ingangshek en kamp is.

Soos verduidelik, is die pad , waar dit nog teer is, net buite kamp op pad na die wildkykroetes, by  rivierkruising , effe in sy maai verspoel.

Die Noah's bote het ek al gesien, lyk half vreemd die bote wat so hoog en droog hier op n Karookoppie staan, maar heel netjies van ver af, Neef hoop dat Wildehont se saaiz in so seiljaggie se hammock gaan pas.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 27/12/2021 - 18:04

... as die Wildehonte nie die hele Karoo Nas Park-belewenis kan ervaar nie. Dit klink my na 'n bedekte seën dat ek my Karoo-bespreking (waar ek nou sou wees - vanaf 23 Des tot 3 Jan) verruil het vir Ebb & Flow in Maart. Ek het juis vanoggend die uitstaande balans betaal.

Ai Chris WH, maak die beste van die hele storie. Ek glo tog dat die kampeerterrein sal steeds in 'n puik toestand wees.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Tue, 28/12/2021 - 05:43

Vandag verneem al die toeriste roetes is gesluit, agv vloedskade,

Ek wag al so lank om die park te besoek en nou gebeur dit. Dalk sal ons dan maar net twee aande staan en huiswaarts keer. Hulle sal seker ook nie mens krediet gee as jy die bespreking kanselleer nie, want dis buite hulle beheer. Anders het ek sommer van Oudtshoorn af huis toe gegaan. My lus is nou effens geblus.  

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Tue, 28/12/2021 - 06:02

Almal wat gereeld hierheen kom (van hulle al vir 30 jaar) sê die weer was hierdie jaar die slegste ooit. Dit was baie dae bewolk en ‘n paar dae mistig. Twee dae was die wind lastig, en ‘n paar dae was daar reën. Ons kon egter meeste dae strand toe gaan, gister ingesluit. Die middag het dit vir so halfuur gereën, maar toe was ons by die Visgraat restaurant in Glentana vir ‘n heerlike ete. Ek kon net voor dit alleen vir twintig minute ‘n paar lekker branders ry met my stokou boogie board van skool dae. Toe het ek dae lank in die see daarmee deurgebring by Voëklip in Hermanus elke Desember. Gister se kort sessie het bewys dat ek nog die vaardighede het op amper 50, en dat ek baie meer onfiks is as wat ek toe was. Gistermiddag laat het ons ‘n groot vuur gemaak met ons oorblywende hout, en vir oulaas die uitsig vanaf ons staanplek geniet. Nou moet ek opstaan en oppak. Hopelik is ons volgende jaar terug hier. 
 

A

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Tue, 28/12/2021 - 07:25

Môre Chris S

Bel Karoo NP en hoor of jy jou bespreking kan skuif na Maart vakansie. Ek is seker dat hulle vir jou, as 'n gewaardeerde SANPARK ondersteuner sal tegemoet kom.

Dit is nogal 'n groot ompad met 2 voertuie daarlangs huistoe, en dan kan julle nie eers die wildtuin werklik besigtig nie.

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Tue, 28/12/2021 - 07:34

Stadig Chris, Daar is darem meer as net wildkyk, en die is na die droogte maar skaars. Tussen die kamp en die kantoor, is daar so lekker kort stappaadjie wat na n fosieluitstalling gaan. Ek doen die roete 4 keer n dag om n roomys of koeldrank te kry, baie lekker. Dan is daar n langer staproete, die Bossie trail wat van die hek na wildkamp so deur die veld drentel, en plante is gemerk. Die eindig by die "bird hide" en ook die moeite werd. Daar is n piekniekplek op die Lammertjies leegte wildrit, Bulkraal, met braaiplekke en n merske swembad. En.. jy gaan wild sien op die roete, dit is net die teerpad wat my so effe afsit. En, gaan na die inligtingssentrum, die uitstalling is effe aan die moeg word, darem n opgestopte leeu om naby te kyk. Tuin pragtig en n ou plaaswerf gevoel. Geniet.

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Tue, 28/12/2021 - 07:45

Hello Chris

Dalk moet jy eerder na onse neef luister, my raad spruit uit onkunde, ek moet nog die Karoo-NP besoek

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Tue, 28/12/2021 - 07:58

Ons sal eers Karoo NP toe gaan en gaan kyk. Die doen dinge wat Oom Neef noem is van die waarna ek uitgesien het want ek kan dit saam met die kinders doen. As ek sien vier aande gaan te lank raak of as daar dalk kampeerders is wat lyk of hulle Oujaar gaan geraas maak, sal ek besluit oor vroeër huis toe gaan. Lg beteken die vakansie is verby, so dit bly die laagste opsie op die prioriteitslys.
 

Hier is dit natuurlik ‘n pragtige dag terwyl ons oppak, en ek sweet reeds. Daar is ‘n briesie wat lastig kan raak as dit ontaard in ‘n wind. Gelukkig is dit nie meer my probleem nie. Die silwer seil en stormnet is reeds gebêre, voltent se kantseile is reeds opgevou en gebêre, al die tentpenne is uit, skoongevee en gebêre. Dieselfde met die ankertoue. Die porta pot is leeg en skoon, so nou bly net die dak, stormseil en raamwerk oppak, die voorste tent se matras agtertoe skuif en tent toevou en dan die los goed inpak, dak laat sak en hoekstutte optel oor. Daarna stort en haak, tensy daar tyd is vir ‘n vinnige swem…

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 29/12/2021 - 07:41

Die Westewind het toe al sterker begin waai gister, en dit kon lastig raak. Ons was teen 10:00 opgepak en gehaak. Ek hoop vir Willem se swaer en die res wat gister ons plekke ingeneem se onthalwe die wind het later gaan lê.
 

A

Ons kon eers 14:00 in by Mount Noah, en het die kinders Cango Wildlife Ranch toe gevat toe ons in Oudtshoorn aankom. Die plek druk geld. Dit was vrek besig. Dis nie my idee van wilde diere besigtig nie, maar die kinders het dit geniet. Net na 14:00 is ons in by Mount Noah. Dis nou ‘n interessante plek. As jy hier aankom lyk dit half ontoeganklik. 
 

B

Die boot skuif egter weg na die kant om jou deur te laat. Die eienaars is seil entoesiaste, en die boot by die hek is die een waarop hulle kinders leer seil het. Ons het in hierdie een geslaap. 
 

C

Hulle het elk van die bote aangekoop en hierheen gebring oor die jare nadat hulle die eiendom met regte vir ‘n lodge gekoop het. Die eiendom is op ‘n rif geleë, en daar is gesê hulle sal nie kan bou daarop nie. Hulle het die grondwerke gedoen en die teendeel bewys en toe die eerste boot hier kom staanmaak. Die mense in die buurt vra toe of die man iets weet wat hulle nie weet nie, en dis waar die naam Mount Noah vandaan kom. Die bote is almal mooi reggemaak binne, en al is ruimte beperk is die beddens lekker groot. 
 

D

Die swembad het ook ‘n boot in.

E

Die een het ‘n interessante agtergrond, en is deur ‘n Australiër gebruik vir ‘n solo vaart om die wêreld wat in Richardsbaai tot ‘n einde gekom het. 
 

F

Daarna het hulle die boot gekoop en hierheen gebring. Dit het nog al die droë proviand van die eienaar aan boord. 
 

Hier is ‘n lieflike sitkamer en honesty bar  en ‘n lekker binnebraai in die sitkamer. Ons kon hulle kombuis langs dit gebruik en hulle het vir ons ‘n lekker groot vuur gemaak waarop ek ‘n doeksagte kruisskyf en knoffelbrood gebraai het terwyl Salomien vir ons ‘n waatlemoen en feta slaai en blomkool gemaak het. Hulle het ook vir ons al die braai gereedskap en bakke uitgesit en lieflik tafel gedek op die groot balkon wat oor die Swartberge uitkyk. Ek kan regtig die plek aanbeveel vir ‘n nag se oorslaap in Oudtshoorn. 
 

Anita (my suster) is saam hier en gaan vanaand in ‘n huisie by Karoo NP slaap voor sy môre Colesberg toe ry oppad terug Pretoria toe. Die ontvangs by Karoo NP het ons albei gebel maar ek het die oproep gemis. Hulle het vir Anita gevra of sy bewus is dat al die wildkyk roetes toe is. Sy het gesê sy is. Ek dink hulle wou ons maar net waarsku, sodat ons nie ‘n nare verrassing kry wanneer ons vandag daar aankom nie. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 29/12/2021 - 07:49

... vir die terugvoering oor Mount Noah. Ek sal dit beslis in gedagte hou ons weer 'n Lekkeslaap-plekkie in Oudtshoorn soek. Ek vertrou dat julle die park gaan geniet - ten spyte van die terugslag t.o.v. die wildroetes. Ek hoop julle kan minstens tot bo in die Klipspringerpas ry.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 29/12/2021 - 14:23

Ons het so 12:45 by ontvangs aangekom. Daar word ons meegedeel dat nie net die paaie almal toe is nie, maar ook die swembaddens. Ons het darem ‘n staanplek met middagskadu gekry. Ek het nie nou die nommer by my nie maar dis vierde van die ingang af aan die linkerkant, net voor die voetpad badkamer toe. Dit het net na 13:00 reeds ‘n skadukol op die gruis agter die wa langs die plaveisel gehad. Ons het eers gekyk na nr 3 onder in die hoek agter die kombuis, maar dis die naaste aan die personeeldorp van waar daar toe reeds geraas was, en daar was ‘n groep met drie waens op die staanplek langsaan (wat ‘n risiko van ‘n gekuier en gesels inhou - soos julle weet is ek nie so ruimhartig soos Oom Len wanneer dit kom by ander kampeerders in wildreservate  wat raas wanneer hulle hulself geniet nie).

Ek sit later ‘n foto op wanneer ons klaar opgeslaan het. Ons sal mekaar maar natspuit om bietjie af te koel dan. 

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Wed, 29/12/2021 - 14:32

Dit is nou 'n gatslag wat julle getref het, maar ek hoop darem julle kamp lekker.  Pak maar die dinge aan wat Herman aanbeveel het  -  ten minste weet ek die kampterrein gaan julle beslis nie teleurstel nie.  Hoor maar gereeld by die kantoor of daar nie iewers 'n pad geopen is nie.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 29/12/2021 - 16:10

Dis myns insiens ‘n wenner. So lyk die natuurlike afdak waaronder ek nou ‘n yskoue grootmens sappie en ‘n paar stukkies kruisskyf wat oorgebly het van gisteraand geniet. Die Kavango se afdak is sigbaar aan die onderkant van die foto. 
 

A
 

Die kinders het ook kennis gemaak met ‘n inwoner. 
 

B

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus