Ek is seker ons almal het dit al ervaar. Terwyl jy met vakansie is iewers, geniet jy die plek/omgewing só baie, en lyk die lewe daar so lekker dat jy wanneer jy tuiskom begin kyk wat kos eiendom daar.
Ek het dit weer ervaar die afgelope naweek in Onrus. Ek hou elke keer wat ek daar kom (die was ons vierde besoek) meer van die omgewing en dorpie. Die hele kusgebied van Hermanus tot by Kleinmond is lieflik. Die goed ontwikkelde kus voetpaadjies waarmee mens só heerlik kan wandel, die berge aan die anderkant en die klimaat dra alles by tot ‘n plek wat gaaf lyk om in te lewe.
Moenie my verkeerd verstaan nie; ek bly baie lekker in Worcester en dit pas ons perfek vir die stadium van ons gesin waarin ons is. Aftrede kruip egter stadig nader, en dit lyk darem heerlik om so te kan gaan stap elke dag in so ‘n omgewing. Hermanus met sy Mediclinic en ander fasiliteite is darem net ‘n klipgooi weg, en die Kaap se lughawe ook nie te ver nie.
Ongelukkig (of dalk gelukkig) is eiendom daar ver bo my vuurmaakplek. En uiteraard sien mens die plek deur jou vakansiebrille, en is jy nie bewus van moontlike gebreke/probleme wat permanente verblyf daar bied nie. Ek is ook nie gereed om toer op te gee daarvoor om elke beskikbare geleentheid by ‘n tweede eiendom deur te bring om dit in stand te hou/te verbeter nie, en sien nie kans daarvoor om so ‘n eiendom te verhuur nie.
Soos die gesegde lui; Reality bites en hoe langer ek dit navors en daaroor dink hoe verder van bereikbaar (of selfs wenslik) raak dit. Is daar van die ander lede wat ‘n gelukkige einde met so vakansie romanse gehad het?
Ook deur die "fling"
Môre vriende
Nadat ek afgetree het, het die onrustigheid betreffende blyplek my ook gepak. Uiteraard as mens dan 'n oulike dorp raakloop tydens vakansie begin die gogga almeer byt.
Dit word vererger as mens ongelukkig is in jou huidige omstandighede, hetsy 'n vuil dorp, vervalle, en warm plek. Dan natuurlik die grootste faktor, veiligheid in jou omgewing.
Komende van die Klein Karoo en Wes Kaap, trek daai omgewing my verskriklik. Ek het gedurende ons April/Mei reis met ander oë gekyk, en alles lyk ooglopend net baie oulik, skoon en veilig. Hoe nader ons aan die Hermanus/Kleinmond/Bettiesbaai omgewing gekom het, al hoe mooier en aanlokliker.
Terug by die huis, plat op my rug, begin rondkyk op internet, en begin evalueer. Wat gaan dit kos om te skuif, twee eiendomme verkoop in swak verkopersmark, baie duur gaan koop daar onder. Wat is oor van belegging na so 'n skuif.
Slotsom; ek weet my omgewing is nie vergelykbaar met Wes Kaap nie, maar die voordele is;
ek het vriende en ondersteuningbasis tans, na 'n skuif sal ons van meet af moet bou hieraan
relatief naby aan goeie mediese fasiliteite in Pretoria
nie skatryk nie, maar geen skuld nie
by ons tweede eiendom
laastens, ongeveer 530km van Kruger wildtuin af![]()
Dus Chris S, maak julle somme en hou kinders se toekoms in gedagte, verdere studies, koshuis inwoning. As julle NOU kan skuif, doen dit, moenie wag tot vir later nie. Dit raak net finansieel al hoe moeiliker op jou oudag.
Chris ja
Ek gaan tans deur die selfde issue maar word meer gedryf deur gesondheid probleme met Berdien ons gister lankkkk daar oor gesels die B / C neergeskryf en toe besluit ons bly vir eers in petrol dorp gaan die toer ding doen en dan weer besin jou omstandighede nou wel anders ja ek voel so oor Amazimtoti love the place sterkte met besluite
Chris, ons het in Desember…
Chris, ons het in Desember 1986 n toer gedoen vanaf waar ons destyds in Witbank gebly het Kaapstad, tuinroete via Ooskaap. Die dag toe ons oor die Witbrug Knyna binne kruie, so mistige reenerige dag, met die bootjies en die huisies , was ons letterlik stomgeslaan.
Paasnaweek 1987 was ons terug om seker te maak, en net daar besluit ons hier wil ons wortels neersit. Witbank destyds was reeds baie ongesond, en die Karbied fabriek het sulke geel wolke uitgespoeg, kinders erg gesukkel met ekseem en borskwale.
Ek was destyds reedes by konstruksie betrokke, en het oa n vaktoets afgele as loodgieter, hulle was baie skaars maar daar was baie wat wel die werk kon doen. munisipale regulasies het egter verys dat dit onder toesig van n geregestreerde ambagsman gedoen moet word.
Met my navorsing oor geleenthede in Knysna, kom ek agter dat daar n groot behoefte is aan Loodgieters vir konstruksie en onderhoud. Daar was een populere maatskappy. Hulle genader om die moontlikheid van inkoop. Hulle was op die rand van bankrotskap, en het n uitkomkans gesien, Ek kon die besigheid oorneem deur slegs die verpligtinge oor te neem. Die voet was in die deur.
Ons het Desember van 1987 verhuis.van n Pragtie huis wat ek gebiu het, na n stokoud huis, maar met mooi karakter. Die 7 reeks Bmw het agter gebly, Von het n 3 reeks gebring. Ek in my Landy. Daar was genoeg spaargeldjies om myself n karige salaris vir n jaar te betaal. Die besigheid moes op die voete kom en die balansstate beter lyk. Dit het toe ook so gebeur. Moet noem dat die 3reeks ook moes skuif en Von het n Mazda sting gekry, Landy ook weg vir n klein Bantam. Maar dit moes gedoen word.
Met die skuif was ek 30 jaar oud, en nie n bang vir werk nie. Ou huis is saans en naweke bewerk, en n jaar later was dit heel skaflik. Besigheid het goed opgetel, en my agtergrond in konstruksie is gou waargeneem deur die paar gevestigde eesterbouers wie se loodgietery ek gedoen het. En toe kom die dag dat een maatskappy my n vennoootskap aanbied nou 2 jaar later. 6 maande as toetsperiode. Na 6 maande was dit duidelik dat dit baie goed werk, en ek is ingelyf as gelyke vennoot.
The rest is history.
Vertel mens...
Hello Herman
....die res. Wat het die skuif van Knysna tot by Swartberge laat gebeur. Was daar vele ander tuistes tussen-in?
Skuif wanneer jy jonk is
Oom Neef se storie bewys weer aan my dat ‘n radikale skuif makliker is wanneer jy nog jonk is en kan “oor begin”. Dan is daar natuurlik ook faktore soos eiendomspryse en die stand van die mark op ‘n gegewe tydstip.
Toe ons Worcester toe geskuif het was ek al 42, maar ons het nog nie kinders gehad nie en net ‘n meenthuis in Pretoria. Eiendom was nog goedkoop hier en ons vier slaapkamer huis op 1 130vkm het R1,26 miljoen gekos. Net meer as ‘n jaar later is my ma oorlede, en na die boedel afgehandel is kon ek die verband min of meer aflos met my erfgeldjies. Die paaiement gebruik ek sedertdien om vir die kinders effektetrusts te koop. Daarmee kan hulle gaan studeer, ‘n onderneming begin of die pad vat wanneer hulle klaar is met skool. Dis hulle keuse, maar my finansiële ondersteuning sal daar eindig.
Ek is nog so bietjie meer as 14 jaar van aftrede, maar het nie die aptyt of ruimte in my begroting om teen huidige eiendomspryse ‘n aftreeplek aan te skaf nie. Ek en Salomien stel ook nie werklik belang daarin om by die kus te bly nie. Daardie klammigheid en roes gaan nie vir my snaaks wees nie. Dit was sommer net ‘n stoute gedagte omdat mens vakansie hou en dit so lekker lyk.
Ek dink dis maar ‘n menslike siekte dat sommige ander mense se lewens of ander huise/dorpe as jou eie vir mens lekker lyk. Tot jy self daardie skoene aantrek of daarheen trek en uitvind dis net die adres wat verskil. Verder het elke huis maar sy kruis.
Ek sal nie maklik trek uit Worcester nie. Afgesien daarvan dat die dorp alles het wat ons benodig sonder dat ons iewers anders heen hoef te ry, is die omgewing verskriklik mooi hier al is die dorp self maar bietjie van ‘n nywerheidsdorp. Onrus is bv ‘n uur en ‘n half se sleep en Yzerfontein twee ure. Ons gaan bitter min Kaap toe, maar die middestad is 109km ver sou ons wou. Dis net die Kruger wat só vrek ver is. Kgalagadi is maar ewe ver as van Gauteng af, maar op baie beter paaie.
Vanwee my demografie en die bedryf waarin ek is gaan ek ook nie werk kry op ‘n ander plek nie, maar dit skeel my min. Ek geniet wat ek doen genoeg en kan ‘n verskil maak waar ek werk. Die salaris betaal die rekeninge en daar bly iets oor vir kampeer. Ek wil juis vandag kyk waar hier naby ons vir ‘n naweek kan gaan staan in November. Niks verder as Rawsonville of Robertson nie.
Rondeberg Clanwilliam
Hello Chris S
Google bietjie genoemde plek. Ek dink dit kan lekker wees daar, veral as jy/julle van waterplesier hou.
Vakansie romanse- nee. Het…
Vakansie romanse- nee.
Het in Nelspruit gewoon en gereeld jaarlikse vakansie by die see gehou. Altyd gesê dat die see lekker is vir vakansie maar wil nie daar bly nie. Toe draai dinge so uit dat ek in JHB land en was sielsongelukkig. Eerste geleentheid uit desperaatheid verplasing Durban toe aanvaar.
Nou al vir 30 jaar hier en nie 'n dag se klagte nie. Weer pas by my buitemuurse aktiwiteite en regtig gelukkig.
Nou begin die gedagtes weer skuif want al ons kinders is vêr en Elmarie verlang. Volgende jaar gaan ons toer en is dit die moeite werd om huis hier te hou of eerder nader aan die kinders te trek. Gelukkig kan ons die huis vir 'n groot wins verkoop en iewers kleiner koop.
Seun het besigheid in Knysna en soebat maar ai die koue is nie vir my nie. Sal so rukkie daar gaan oorbly en besluit neem.
ChrisS, jou gesprekslyn..............
.................het interessante vertellinge tot gevolg gehad. Dankie aan almal - ek hoop daar kom nog 'n paar vertellinge.
Kleinmond
Ek is as't ware maar net gelukkig om in Kleinmond te woon. Blote toeval wat ons hier gebring het. Maar ek wil in geen ander plek woon nie.
Ons woon by die see, naby aan goeie hospitale (Hermanus en Somerset-Wes), uitstekende inkopiesentrums (weereens Hermanus en Somerset-Wes), beskik oor 'n uitstekende munisipaliteit, fantastiese plattelandse atmosfeer en, en, en ....
Ek het geen ervaring van 'n groter stedelike (of metropool) omgewing nie. Ek het grootgeword in 'n klein plattelandse dorpie (Tulbagh). Die grootste dorpe waar ek ooit gewoon het was Oudtshoorn en Tzaneen. Verder was dit dorpe soos Swellendam, Wellington en Grabouw. Ek sal van my kop af raak as ek in 'n voorstedelike omgewing moet woon.
Chris WH noem o.a. Kleinmond en Hermanus by naam. Dit IS 'n voorreg om hier te kan woon. En deesdae pla dit my nie meer so erg dat ons só ver van die wildtuin af woon nie. Ek het a.g.v. verskeie faktore besluit dit is net so lekker (en waarskynlik veiliger) om nader vakansie te hou.
Baie interesante onderwerp…
Baie interesante onderwerp en insette.
Ek is in werklikheid nie baie gelukkig in die omgewing waar ons twee is nie, nie ek of my vrou stel belang om by die see te bly nie. Ons het so 40 jaar terug in George en Knysna gebly en was nie een 100% gelukkig nie.
Nou om die vraag soos gevra te beantwoord (voor Grootwind kwaad word![]()
) ek sou dan binne in die Kruger of in Karoo Nationaal gaan bly het, sou so vakansie romanse uit gewerk het.
Ek weet en verstaan dat nie almal soos ek oor my kleinkinders voel nie, maar ek trek eerder lang boompies toe as om maande nie die kinders te sien nie, ons sit reeds met een kosbare gesin in Australia en weet hoe dit voel om te verlang.
So paar jaar gelede is ons deur Dullstroom en ons wou albei net sak en pak trek, maar, daar is 'n groter Hand wat beheer uitoefen, sou ons trek, sou ons dogter nooit haar man later juis met 'n vakansie romanse ontmoed het nie. Hulle is nou 17 jaar in Australia en die gesin is baie gelukkig.
Hiermee bedoel ek NIE dat…
Hiermee bedoel ek NIE dat ander nie lief is vir hul kinders / kleinkinders nie!!!
Ek weet en verstaan dat nie almal soos ek oor my kleinkinders voel nie,
Wel ek kan bevestig dat die…
Wel ek kan bevestig dat die 2 dorpies waar ons laaste gekamp het geen Romanse wakker gemaak het in ons nie. Colesberg en Beaufort Wes sal ok wees sonder ons.
Langebaan - dit voel vir my na 'n baie beknopte dorpie en die plek wemel. Ons het wel deur Moreesburg gery en dit is darem 'n netjiese dorpie en kan 'n opsie wees vir my, andersins Piketberg? Maar van al die plekke waar ons al gekamp het moet dit vir eers net by kamp bly.
Groot vs Klein Karoo
Die Groot Karoo het sy eie bekoring, maar die Klein Karoo is darem baie mooier. Ek moet saamstem dat Beaufort-Wes egter ‘n gagga plek is. Die enigste deel van Beaufort-Wes waarvan ek hou is die Karoo NP.
Prins Albert
Gaan kuier 'n slag in Prins Albert en raak halsoorkop verlief op die Groot Karoo. Sekerlik een van die mooiste Karoodorpies in ons land. En ek het my ou Karooblommetjie daar gaan pluk.
Ek het vir baie jare, sedert…
Ek het vir baie jare, sedert 1985 saam my toe nog meisie in Keurboomstrand se privaat kamp gekampeer, en daarna saam my toe verloofde en toe verkoop haar ma die plek na my vrou se pa se dood.
Ons was terloops kampbure vir n hele Desember elke jaar met Whitey Basson. (Checkers baas)
Daarna het ons elke jaar by The Dunes gaan kamp, net voor Keurbooms, toe word The Dunes later jare later n veiligheids kompleks met sy eie private blouvlag strand met mooi huise.
Later wou ons n huis daar koop, maar geld was daar nog nie genoeg nie (was seker, maar toe was R 650 000 vir my n plaas se prys as jy dink dat my blyhuis toe R 360 000 gekos het so 20 jare terug)
In tussen was ons ten minste 1 keer n jaar daar vir n week of twee, res maar gekamp in Kruger en binnelandse oorde.
Ek het van die Suidkus gehou, maar na ons een vakansie in ons slaap beroof is in Margate in n veiligheids kompleks het ek myself beloof, nooit weer sit ek my voete op die Suidkus nie, en ons het ook nog nooit weer nie.
Die Tuinroete en hoe die dinge "werk" in die Wes Kaap het dit vir my gedoen.
Laas jaar, presies n jaar terug sien ek n eiendom in Keurboomstrand wat behoort aan n bekende rugby speler wat dringend verkoop omdat hy oorsee gaan speel en stry die prys af tot waar ons altwee gelukkig is.
Koop toe my "aftree" huis tenvolle gemubileur (spelling).
Kinders gaan opeindig in die Wes Kaap, meisieking swot tans tandarts by UWC en die seuns wil Stellenbos toe, gaan my goedkoper uitwerk as ek n woonstel koop wat hulle almal kan akkomodeer daar in die Wes Kaap en dis 500 kilos tussen Stellenbos en Plett.
Ons het nog n ruk om te gaan hier in Gauteng want ons kos is hier, maar sal, as die tyd kom besluit of ons daar gaan "bly" of nie.
Ek het terloops net op die regte tyd gekoop, dalk effe laat, my buurman het sy huis daar gekoop vir 1,2 mil meer as wat ek betaal in Julie vanjaar, mooi groei in waarde.
Tyd sal leer.
Lieflike verhaal
En boonop met ‘n gelukkige einde! Ai, dis nou ‘n groot geluk en ‘n alleenstaande (sover) bewys dat ‘n vakansieromanse (met ‘n bestemming) gelukkig kan eindig. Ek sien saam met julle uit na ‘n vreedsame aftrede daar!
Frikadel, Keurbooms se…
Frikadel, Keurbooms se kampeerplek is ongelooflik, seker die mooiste wat daar bestaan. En die geskiedenis met die ou vakansiehuisies is onbeskryflik.
Ek het heel paar projekte op Keurbooms gedoen, en bokant dit op Keurview, staan daar baie van my werk. Toevallig het ek vir die rugbyspler wat muscular distrophy gekry het ook daar n projek gedoen. Kraai van Niekerk, Wynand Harmse, en heel paar ander se vakansie huise het ek daar saamgevlans, weet nie onthou nog die name nie.
Ja, ek het saam met…
Ja, ek het saam met Keurbooms groot geword, daai tyd het alles daar aan Alan Reid behoort, nog so klein winkeltjie gehad wat se naam Singing Kettle was.
Keurview was altyd altyd waar die "ryk" mense gebly het.
Die enigste rugby spelers wat ek ken is n oud Springbok wat in die 95 world cup gejol het wat se ouers n huis daar in Keurview het en hy was saam met my op Varsity.
Die enigste ander 2 is die outjie wat die huis aan my verkoop het en n groot Blou Bul wat ouerig is en nog n hond uit n bos kan skop, hy bly altyd so 2 huise van my af.
Dis altyd lekker om die kinders te wys waar ek hulle ma gevry het toe sy nog op skool was!!
Maar ewentwel, ek het die plek nie sonder opofferings gekoop nie want ek wou nie n verband gehad het nie, so die Hilux is verkoop, die karavaan moes gaan, plekkie in die bos moes gaan.
So nou kamp ek en ma weer met die selfde army chopper tent met dieselfde Glider wa waarmee ons Keurboomstrand en die Kruger getem het baie jare terug en die Hilux het plek gemaak vir n bloedrooi two-tone Suzuki Brezza wat daai kombinasie baie gerieflik en baie suinig sleep en lekker kan hardloop op n grondpad.
Ek sal kyk of ek fotos kan plaas.





ChrisS............
............nee, ek is nie een van daardie ouens wat 'n begeerte het/gehad het om by een van my vakansie-voorkeurplekke af te tree nie. Trouens, in die tydperk toe ek nog gewerk het, het ek tot die gevolgtrekking gekom om te woon en om vakansie te hou is twee hemelsbreë verskillende style en om jou vakansieplek jou woonplek te probeer maak, sal nie vir ons werk nie.
Ek is dankbaar dat ons destyds dié besluit geneem het en ons kan nog steeds heerlik gaan vakansie hou op verskillende plekke van ons voorkeur, maar ons hou daarvan om na ons bly-huis terug te keer na 'n vakansie.
Ek deel dus jou siening, eerder nie !