Ek dink terug aan die dae toe ons klompie nog as Wegsleep-forum bekend gestaan het en die gesukkel met Media 24 om die forum probleemvry te laat loop via 'n kontrakteur. Dit was 'n absolute gesukkel, dan is dit foutief en dan is dat foutief - absolute frustrasie.
En hier sit ons 24/7 met 'n probleemvrye forum wat Anton tot ons beskiking gestel het, maklike fotos aflaai en gebruikersvriendelik !
En tog gaan dit nou ook maar sukkel-sukkel met hierdie forum omdat deelnemers bitter min geselsies en interessante onderwerpe hier loslaat, wat baie jammer is.
Dit sal 'n ramp wees as Kampforum moet doodloop, nie as gevolg van tegniese probleme soos Wegsleep-forum nie, maar as gevolg van 'n gebrek aan belangstelling en deelname.
Wat is fout?
Môre Len en ander
Mis ek iets, of is daar rerig fout. Is daar 'n manier om die "gesondheid" van die forum te monitor?? Dalk is daar 'n ingeboude opsie om statistiek te bekom oor 'n sekere periode, soos;
1] aantal lesers [besoekers] maw. nie lede
2] aantal aktiewe forumlede, die wat lees en insette lewer
Moontlik is die afname aan aktiewe insette weens die opheffing van Covid, en al die werkendes spook om weer hulle besighede ten volle te herstel. Ander is weer voltyds terug op kantoor.
Wat wel opvallend is, is die stilswyende verdwyning van bekende deelnemende lede. Daar is selfs persone wat goedgunstiglik fondse veskaf het om die forum seepglad in stand te hou, wat ook baie stil is.
Ek waardeer lede wat hulle mening lug, en prontuit sê wat hulle grief, maar tog verder deelneem. Veel eerder openhartigheid, as om net stil/weg te raak.
Ek hoop nie dit is die negatiewe lands-omstandighede wat so 'n dawerende verdowing op die forum het nie, want daaraan gaan ons nie veel kan doen nie.
Wessel, as die JSE n…
Wessel, as die JSE n barometer moet wees, dan is ek skoon bewerig op die oomblik. Ek gaan regtig my kop in die sand druk en gladnie nie my portifeulje kyk voordat ek terug is van my Kalahari besoek beginnende einde April nie.
Daar was mos n gesegde wat gelui het, "Stap die armoede by die voordeur in, stap die liefde agter uit". Die liefde vir kamp en rondloop gaan dalk die keer in gedrang kom.
Dan hoop ek regtig nie die maters raak gatvol vir neef as hy prontuit sy mening gee nie, ongelukkig was ek my hele lewe nog reguit, en blou bly maar blou vir my.
Groete.
Lig of donker blou???
Môre Herman
Ai tog, ek moet jou raad volg en ook nie na beleggings kyk tot ek terug van die Kaap en Namakwaland is nie.
Koop die afgelope week in Marakele ons Wild-kaart vir komende jaar. Ruk dit my R1300 vir ons 2 oumense. Ek is seker dat dit goedkoper uitwerk as die;
5 aande nou in Marakele
die 16 aande in Kruger gedurende Junie
hopenlik nog 3 aande in KarooNP
dalk nog 2 aande in Mokala terug van Namakwa land af.
Wel, in perspektief gesien, die 411km wat ek gery het op die tenk diesel, was R990 om te hervul.
Terug na prontuit, ek is gereeld in die bollie omdat ek te reguit en eerlik is. Die laaste aantal jare by die werk, waar mens gedurig jou woorde moes kies, en tog so omsigtig met die waarheid moes omgaan, het my so 'n renons gegee om op eiers te trap.
Daar is omtrent vir my geen skakering van blou nie. Ek is so jammer vir mense as my mening van hulle s'n verskil.![]()
Die Boucher's van Kleinmond ...
... kamp deesdae só min, dat ek beswaarlik iets het om mee te deel. Die "ou lady" (soos Len al na my 1993 model wa verwys het), was verlede jaar net twee keer uit haar garage getrek. Die een keer was toe ons in April Karoo Nas Park toe was (wat toevallig saamgeval het met die Herfsblare saamtrek) en toe weer in Oktober vir 'n paar dae in Montagu en by Dibiki. Dus gesels ek maar min, want ek is nie juis tegnies ingestel om veranderinge aan my "ou lady" of andere se waens te bespreek nie.
Ons het darem die vooruitsig om gedurende Mei so 'n kort toertjie na 'n paar suidelike Nasionale Parke te onderneem (in die plek van ons Kgalagadi trippie wat gekanselleer is). My eerste kamp wat ek voorsien sal eers in September na Karoo Nas Park wees (2 weke).
Ek dink dat die dinge wat ek andersins doen om myself besig te hou, sal nie juis belangstelling onder forumlede hê nie. En ek probeer wegbly van die onderwerpe wat my, met my standpunte, maar ongewild maak.
Iemand sal moet verduidelik......................
.................want hierdie oumens se oë, met bril en al, is te swak om hierdie grafiek te lees.
Statistiek
Len, Anton
Ek sien 'n geringe toename in gebruikers tot by 2023 begin, en dan 'n afname.
Wat komwerwekkend is, is dat slegs 10% van nuwe gebruikers[intekenare ?] weer later die forum besoek. Kyk ek reg Anton?
Of is 'n "visitor" bloot 'n besoeker, maar nie 'n nuwe forum lid nie.
Lyk vir my dat die forum nie aan die sterf is nie, of lees ek die tekens verkeerd?
Hallo Wessel. 'n Visitor is…
Hallo Wessel. 'n Visitor is basies 'n toestel wat die webwerf besoek. 10% van besoekers kom weer terug en 90% besoek eenmalig. Daar is elke week ongeveer 2400 besoeker sessies. Dit het niks met forumlede te doen nie.
Daar is elke jaar na Desember vakansies 'n afname aan besoekers soos gesien kan word sedert 2020. 'n mens kan sien hoe dit na winter stadig optel en dan eweskielik in Januarie weer val.
forum is darem nie so gevrek ...
Ek was van Vrydag weg op 'n kamp en daar het Telkom nie sein gehad nie so ek kon nie op die Kampforum in gaan nie. Maar vanoggend was daar 'n lang lys van ongeleesde inskrywings op die forum, so ek glo ook nie dat hy maklik sal dood loop nie.






Stem Len
Stem saam puik forum