Verlede Sondag het die CashExpress ATM by my plaaslike SPAR gebreek presies op die punt tussen my rekening debiteer en my uitbetaling.
SPAR is vol meegevoel, maar dis nie hul masjien nie.
ABSA stel glad geen belang nie (ook geen meegevoel) - dis nie hul masjien nie.
CashExpress is ook vol meegevoel want dis wel hul masjien, maar uiteindelik kry jy geen geld terug nie.
Ek het my R3000 afgeskryf, en ek is nie die enigste slagoffer van hierdie ATM nie - maak seker dat hulle jou nie vang nie.
CashExpress is slegte nuus - nul ondersteuning van enige kant.
Balanseer
Ek het n keer dieselfde gehad, maar was met Standard bank masjien. Ek het toe Standard bank gebel en hulle het vir my gesê dat hulle terugvoering sal gee sodra hulle "opgekas" het....daar sal dit uitkom of dit balanseer of te veel geld is. Hulle het toe agtergekom dat die bedrag wat ek ge-eis het, oorskot in hulle masjien was en het binne 24hr die geld in my rekening betaal.
Hulle boeke gaan nie balanseer nie....êrens moet daar n R3000 oorskot wees. As Spar die geld in ATM sit en beheer het daaroor, moet jy by hulle aanklop.
Baie jare gelede ...
... toe ek nog in Grabouw gewoon het en ATM's nog 'n rariteit was in kleiner plattelandse dorpe, het slegs FNB oor 'n ATM beskik. Ek is 'n Nedbank-kliënt en moes noodgedwonge soms die ATM van FNB gebruik. Ek het eenkeer na-ure daar gaan kontant trek en die masjien het minder kontant uitgestoot alhoewel die strokie gewys het dat ek die bedrag onttrek het soos wat ek ingesleutel het.
Ek was die volgende oggend teen oopmaaktyd by FNB se tak om die voorval te rapporteer. Hulle het dadelik die ATM vir 'n wyle afgeskakel en gaan rekonsilieer. Daar is toe bevind dat die masjien wel vir my te min kontant uitgekeer het. Maar dit sou seker slegs destyds en in kleiner plattelandse dorpe gebeur waar almal vir almal ken.
Sedertdien maak ek 'n punt daarvan om altyd my kontant te tel nadat ek by 'n ATM geld onttrek het. En, tensy dit nie anders kan nie, trek ek slegs by 'n Nedbank ATM kontant.
OTM foute
Baie jare gelede het ek vryskut gewerk en was bietjie in die knyp. Ek maak toe die fout om ‘n tjek wat aan my uitgemaak is by ‘n OTM te deponeer. Ipv R1000 waarvoor die tjek uitgemaak was, krediteer hulle toe my rekening met R100. Ek het dit by die bank (ABSA in Brooklyn mall) gaan aanmeld. Die middag bel ‘n vent my en vra wat is fout. Toe ek vir hom sê hulle het ‘n fout gemaak deel hy my smalend mee; “Meneer, ons maak nie foute nie.” Hy sê hulle is twee mense wat saam die koeverte oopmaak en die geld tel, en hy was een van die twee mense op die betrokke dag. Ek sê toe vir hom dat ek sou kon verstaan as dit kontant was dat hulle dalk verkeerd getel het, maar dit was ‘n tjek met my naam op en die bedrag in woorde en syfers. Hy sê toe hy sal terugkom na my toe. Later bel hy my en sê gedemp en vinnig; “Jammer meneer ons het ‘n fout gemaak dis reggestel.”
Ek het twee jaar gelede dieselfde as Fyko oorgekom oppad terug van die Kruger wildtuin af. Dit was by die geriefswinkel by die Ranch vulstasie langs die N1 buite Pietersburg. Ek het die bestuurder verwittig en hy het onderneem om dit aan te meld en vir my sy selnommer gegee. Dit het ‘n hele paar dae gevat maar is reggestel. Ek hoop Fyko kom ook reg. Moenie die kontant afskryf nie. Dis genoeg vir ‘n naweek se kampering en dit raak nou daardie seisoen.
My kommentaar :
Deesdae word OTM'e meestal deur veilgheidsfirmas gediens en slegs by hoë uitsondering sal bank-personeel die masjien diens mits dit in dieselfde gebou as die bank-tak is. Elke bank aanvaar gewoonlik aanspreeklikheid vir hul eie masjiene. Sou 'n persoon gebruik maak van OTM wat nie aan die kliënt se bank behoort nie, raak die regstel van foute gekompliseerd omdar die masjien slegs as 'n tussenganger tussen die kliënt en sy bank optree.
CashExpress behoort aan die Paycorp Group (Contact Us - Paycorp) en ek stel voor Fyco jy rapporteer jou probleem aan hulle vir regstelling. Dis baie beter om dit skriftelik te doen as telefonies.





Jammer Fyko
Dis jammer die dinge gebeur en niemand help of staan pa nie sterkte