Synde Neef Herman onlangs melding gemaak het van hulle oornagverblyf by Kambro (tussen Britstown en Strydenburg) en verskeie van ons forumlede bekend is met hierdie skitterende padstal en akkommodasiegeriewe, het ek dit goed gedink om hierdie gesprekslyn te begin.
Verskeie persone maak gebruik van die N12 tussen die suide en die noorde. Sou jy een van diégene wees wat nog nie gebruik gemaak het van hetsy die oornaggeriewe en/of die padstal se maaltye nie, is dit dalk tyd dat jy hier besoek aflê.
Alhoewel ons nog nooit by Kambro gekamp het nie, het ons al verskeie kere in hulle chalet-akkommodasie oorgebly. En wanneer ons nie daar oorbly nie, word daar gereeld by die padstal aangedoen vir 'n versnapering of selfs ontbyt. Die baie kere wat ons by Mokala Nasionale Park oorgebly het wanneer ek by Modderrivier gaan werk het, was Kambro ons tradisionele ontbytstop wanneer ons terugkeer huistoe.
Of dit nog steeds so is, weet ek nie - maar al die kere wat ons daar oorgebly het (in die chalets), is jy verwelkom met 'n vars tuisgebakte broodjie. As jy 'n bietjie tyd tot jou beskikking het, is daar 'n lekker wandelpad wat jy op hierdie werkende skaapplaas kan gaan stap.

Kambro is natuurlik welbekend vir die plantjies wat daar groei en waarvan die saad in die padstal te koop is.


En hulle waarborg dat daar "fokkol" saad in die pakkies is.
Die padstal beskik ook oor 'n besondere verwelkomingsbordjie buite die deur.

Die paar kampplekke is met mooi gras bedek. Jy parkeer jou karavaan lang die randsteen en klim sodoende direk af op die gras. Elke staanplek het 'n gerieflike geboude braaiplek.
Die chalets is netjies en baie gerieflik toegerus - ook met lugreëling vir die warm Karoodae en 'n lekker braaiplek op die stoep.
Net nie in die winter nie
Die kampeerplekke lyk baie netjies, maar ek sal dit nie waag om in die winter daar te staan nie. Ons het die afgelope twee Junie/Julie skoolvakansies daar oorgeslaap oppad Potchefstroom en dan Kruger wildtuin toe, maar in die huisies. Met die lugversorging was dit heel lekker, maar dis vrek koud buite - veral vroegoggend. Mens kry steeds ‘n varsgebakte broodjie, en ‘n bondeltjie vuurmaakhout.





Kambro
Dankie Chris B
Die plek verdien 'n spesiale gesprekslyn.
Ek het nie gaan kyk na die oorslaap gedeelte nie. Volgens jou fotos sal ek kans sien om my wa daar langs die graskol en met 'n eie boom te gaan staanmaak vir 'n aand se slaap.