Ek lees hoofsaaklik op die forum van goedbeplande/weldeurdagte vakansieplanne - wat sekerlik die ideaal is. Voorbereiding is al n groot deel van die lekker vakansie waarna mens uitsien. Ons doen dit ook soms so
.......
n Ander keer het so verloop:
Terwyl ons nog in Riversdal gewoon het het ons vele Sondae vir middagete uitgestap Stilbaai toe. By die swemstrand was Die Lappiesbaai Restaurant wat heerlike kos bedien het met keurige ligte klassieke musiek in die agtergrond terwyl jy oor die see kan uitkyk....
So was dit dan ook een Sondag in Julie 2000 die geval. Skoolvakansie. Ek het die opmerking gemaak dat dit n baie lekker middag is, maar dat ek hierdie tyd van die jaar darem baie na die Kruger Wildtuin verlang. Soos asof uit een mond het Daan en ons dogter gereageer met "maar kom ons gaan!" Betaal vir die ete en huis toe.
Ek het geweet dat daar niks so dringend in ons werksdagboek is dat ons nie vir n paar dae kon wegloop nie. n Paar opdragte aan die werkers en een om na die tuin om te sien was genoeg.
Hoe gemaak sonder n bespreking? Julie is /was nog altyd n gewilde maand in die wildtuin en gewoonlik lank reeds vol bespreek. Ons het egter besluit om tente en ander kampeertoerusting op te pak en net te ry.... Sou chalets die enigste beskikbare opsie wees, was dit ook maar goed - ons wou net DAAR wees.
Drie ure later was alles gepak en ons het in die pad geval. Deurnag gery (nie meer nie) en die volgende middag in Nelspruit aangekom waar ons besluit het om in n gastehuis te oornag. Die volgende oggend is ons die wildtuin in, op pad na Skukuza om daar by ontvangs te verneem na enige moontlike beskikbare plekkie. Om buite die wildtuin te bly en as dagbesoekers in te gaan was n opsie.............maar nie in daardie stadium nie, ons wou DAAR wees.
Kry eers iets om te drink.....vervolg
Ongelooflik
Hoe op aarde kon julle die lewe so manipuleer dat dit moontlik was??? Sien uit na hoofstuk twee.
en so verskil mense....
....goeie griet, ek sal ook verder lees aan die onbesonne verhaal![]()
Nee a, as ek nie presies weet waar ek elke aand slaap nie, nie presies weet hoe ek gaan ry nie, bly ek tuis.
Nee wat, daai jare kon dit werk, maar nie meer nie. Verlede jaar 2 insidente aangehoor/ervaar. So staan ons in Pborwa Aventura oor om volgende dag in te gaan na Singwedzi. Ontmoet ook mense van Brits, wat bespreek het, maar wie se betaling nie deur is op die Sanparke boeke nie. Dus, geen bespreking, jammer draai maar om, ry maar terug Brits toe. Nooit gekyk dat bespreking wel bevestig was nie.![]()
Die 2de geval, is waar mense van Heidelberg TVL opdaag met bespreking, maar hele week te vroeg!!!! Jammer, daar is plek vir 1 aand in Satara, en niks, nerens meer nie. Die mense het ook maar terug gery, om 'n week later maar weer al die pad wildtuin toe te sleep.
Wildtuin bespreking
Nooit gekyk dat bespreking wel bevestig was nie.
Juis gister ons finale betaling per internetbank aan SANParke gedoen en slaap sedert gisteraand onrustig in afwagting van hul bevestiging e-pos. Ek was stupid om dit op 'n Vrydag te doen en sal maar vir Maandag moet wag. Oor die algemeen is ek baie gesteld op hierdie bevestiging want ek weet dat as dit nie op die keerdatum by SANParke is nie, verval die bespreking en dit sal 'n ramp wees as ons al die pad van die Kaap af gesleep het om soiets uit te vind !
Impulsiewe besluite..vervolg
By Skukuza aangekom was Daan en ons dogter die afgevaardigdes om by ontvangs te verneem na enige beskikbare plekkie. Toe hulle terugkom was daar ook nie verblydende nuus nie. n Persoon by ontvangs het wel gesê dat daar nie lank tevore nie "two elderly ladies" was wat wou weet of iemand moontlik hulle twee nagte by Satara wou oorneem. Sy/hy reken toe ons kan hulle moontlik op die pad kry
of in Satara gaan navraag doen. Op die pad kry en dan? Agtervolg?
Ons besluit toe wel om Satara toe te ry. Eers net gou winkel toe vir iets te drinke. Ek sien toe daar n gebraaide hoendertjie wat lekker lyk en koop hom. Weet nie hoekom nie, maar ek het.
So ry ons aan en dis stiller as gewoonlik in die motor. By voertuie wat stilstaan gaan ons baie stadig verby, maar vind niemand wat aan daardie beskrywing voldoen nie. Ons geniet die diere, voëls, veld en is tog bly om daar te kan wees.
Die twee onderhandelaars is weer by ontvangs in. Ek wag buite. Toe hulle uiteindelik terugkom was die nuus weereens: vol bespreek, MAAR hulle het n geleentheid gekry om met die kampbestuurder te praat. Tot vandag weet ek nog nie wat tussen daardie mure gesê is nie, maar hy het vir hulle gevra om te wag tot na sy etensuur en dan terug te kom. Hy het n oproep gemaak waarvan hulle niks kon verstaan nie, maar uiteindelik gesê dat die personeel n gastehuis het waar hulle vriende kan onthaal. n Vrou wat dit bespreek het gaan dit nie meer gebruik nie en ons kan daar gaan bly. Hy gaan net vir ons komberse haal, ons moet op die parkeergrond vir hom wag. Toe weet ek nie mooi nie....maar ons wil opgewonde voel.
Hy het voor ons uitgery, by die hoofhek uit en links gedraai, rigting Olifantskamp. Nie presies seker nie, maar 11 - 13km buite Satara het ons by n "geen toegang" paadjie na links ingedraai. Daar is n wateraflooppyp onder die pad deur. In die verte sien mens n groot boom n entjie weg (Knoppiesdoring as ek reg onthou). Presies daar het ons die beste drie aande/dae ooit in die wildtuin spandeer........vervolg
Impulsiewe besluite..vervolg
Ons het baie maal sedertdien daar gestop. Beste herinneringe ooit.
Hierdie was n veldwagterskuiling uit n vorige era.
Aandete die eerste aand: Die Skukuza-hoender. Niemand wou terugry kamp toe nie - nie een oomblik van hierdie voorreg mis nie. Ek kan die belewenis nie in woorde beskryf nie. Vêr van alles, die stilte wat raas in jou ore, naggeluide van die wilde............
Behalwe vir enkele naaste familie is hierdie die eerste maal wat ek/ons dit met iemand deel. Dit was so spesiaal dat n mens dit net altyd n geheim wou hou om te koester. Hier lees egter ook mense wat dit sal waardeer.
Na ons kuier daar het ons teruggegaan om die kampbestuurder te bedank en te betaal. Hy wou niks aanvaar nie, maar ons het darem ooreengekom op die tariewe van drie nagte se kampering.
Ek kan dalk eendag meer vertel oor die terrein en ons ondervinding daar. Fotos om dit te staaf het ek ongelukkig verloor, wat n groot jammerte is.
Nice ervaring
Nice! Dankie vir lekker leesstof. Sò n ekspedisie sal mens nooit vergeet nie. Verbasend hoe die personeel van Satara uit hul pad gegaan het om jul te help. Julle kan ook gelukkig wees met tariewe....sommige van daai vaste verblyf se tariewe is rof...veral diè wat so privaat in veld is
Laasjaar toe ons inboek by Berg en Dal was daar n oorsee se paartjie wat hul datums verkeerd gehad het.....dit was byvoorbeeld 29 Junie gewees en hulle was bespreek gewees vir 29 Julie. Ek weet nie wat uitkoms van saak was nie want ek het toe geloop, maar Berg en Dal se personeel het hulle ook probeer help en akkomodeer.
Mens kan gelukkig wees om kanselasies te kry op die dag. Ons was laasjaar oppad na Malelane golfbaan omdat ons nie binne KNP plek kon kry vir ons 1ste 2 dae van besoek nie. Oppad in Schoemanskloof sien ons kanselasie op website by Krokodilbrug....2 uur later boek ons daar in.
10 uit 10 ...
... vir daardie ruskampbestuurder. Ek's oortuig dit moes 'n unieke ervaring wees.
My oud-veldwagter buurman, Piet van der Hyde, is op 7 Jan oorlede. Hy het by geleentheid gesê dat ons planne moet maak om saam wildtuin toe te gaan. Dan sal hy ons na plekke in die wildtuin neem wat nie toeganklik vir die publiek is nie - o.a. 'n warmbron. Ongelukkig het dit nooit gerealiseer nie.
Môre Rona, sjoe wat 'n geluk…
Môre Rona, sjoe wat 'n geluk skoot vir julle, soos iemand op 'n tyd gesê het, 'n slegte dag in die wildtuin is beter as 'n goeie dag by die werk. Nou ja, ek het al vergeet wat 'n dag by die werk was, so ek kan nie meer daarmee saam praat nie😂
Maar dat die wildtuin lekkerder as selfs jou eie huis is, is 'n feit soos 'n koei.
Wat ‘n voorreg
Dankie vir die vertelling. Dis my gunsteling om die natuur met so min as moontlik of verkieslik geen ander mense te deel nie.
Dankie Rona................
.................jou vertellinge is kosbaar. Ek kan my indink watse fantastiese ervaring dit moes gewees het - net beskore vir uitgesoekte mense !
Dankie Rona…
Dankie Rona.................................................dit wil gedoen wees.
Met ons toer was daar baie min beplanning. Ons besluit op 'n kamp en as daar plek is gaan ons. So na 3weke besluit ons op 'n ander plek dan vind ons uit of daar plek is dan skuif ons weer.
Ook nog nie eendag spyt nie.
Spesiaal aan almal..
wat hierdie waardeer het, dit was met julle in gedagte dat ek hier begin vertel het.
Voel ek moet die stukkie afrond....bietjie later
Slothoofstuk
Waarskynlik nie vir die "faint hearted" nie. Ek dink egter dat ek hierdie stukkie moet voltooi. Sonder fotos en met ongeordende gedagtes, maar bou vir jouself die prentjie...
By aankoms is al wat omheining betref die paar oorblyfsels van n 4vt? doringdraadjie wat waarskynlik uit die 50/60-er jare dateer. Ironies was die hek wat nog oop en toe gemaak kon word. Interessant gewees om dierespore elke oggend te identifiseer van nagtelike besoekers.
n Groot boom wat heeldag heerlike skadu gegee het en net so neffens hom was ons blyplek. Nie die gastehuis soos wat ons dit ken nie, maar soos genoem is dit jare gelede gebou en het as oornagskuiling vir veldwagters gedien. n Langwerpige geboutjie wat moontlik nog deur onderhoud gered kan word. Die agtermuur en twee kantmure het nie vensters nie. Aan die voorkant was n lae muurtjie met n paar pilare deel van die gebou. Openinge tussen pilare het as vensters gedien - dit was eens met skadunet bedek maar het met tyd verweer en is waarskynlik ook deur veral primate bietjie verwoes. Daar was wel n deur sonder sleutels.
Die geboutjie het bestaan uit twee vertrekke (aan mekaar verbind met n binnedeur). Slaapgedeelte en kombuis. Aan die slaapkant was nege enkelbeddens - gelyk soos outydse koshuis- of hospitaalbeddens van yster. Daar was matrasse op en geen beddegoed. In een hoek was nog ses matrasse opgestapel, waarvan die onderste vyf nog in plastiese omhulsels was. Die twee bedkassies het ook sommer gedien as kersblakers, maklik om n kers daarop vas te druk en die was vrylik te laat vloei..........So was dit nie n baie aanloklike gesig nie, maar wie gee om...ons wou net DAAR wees.
Die kombuisie het n paar werksoppervlaktes gehad, n wasbak, gasstoof en gasyskas wat yskoud was met ons aankoms - wat jou laat dink het dit word gereeld gebruik.
Rona, weer daar ingeloer???
Het julle daarna ooit weer daat gaan probeer inloer?? Met verwysing na jou laaste sin "word gereeld gebruik";
Ek dink jy is reg. Dalk deur veldwagters op die spoor van stropers, of deur die stropers self.
Plekke wat in onbruik verval in die wildtuin, moet liewer totaal platgestoot word. Sodoende het stropers nie 'n wegkruipbasis in die veld nie.
Dankie vir die deel van julle ervaring
Slot...vervolg
Die badkamertjie was ongeveer 20m vanaf die huisie. n Bietjie meer vervalle as die ander gebou maar bruikbaar. Stort (gas geiser), toilet (met n venster, net n opening) en wasbak. Om nie n hele lang storie te maak nie, kan ek net noem dat, een laatmiddag toe ons gaan stort het, n olifant besluit het dat dit makliker is om water uit die toilet se waterbak (wat nie meer n deksel gehad het nie) te kom drink as om in die droë lopie daar onder te gaan grawe - ou gewoonte glo ek. Hy het eenvoudig sy slurp deur die vensteropening gedruk en sy dors geles....
Daar was stapels en stapels brandhout by n geboude vuurput. Dit was lekker om tot kleinnag by n vuurtjie te sit en geniet wat die bos jou bied.
Nadat Satara se kampbestuurder vir ons die plek gewys het en gery het, het ons almal ingespring om die plekkie so bietjie leefbaar te maak. Standaard in ons kampkratte was dan ook n rol vadoekies, sponsies, rol vullissakke en skoonmaakmiddels. Behalwe vir half-uitgebrande kerse was niks smerig nie - seep en water het gou die ding gedoen.
Ons het net eenmaal Satara toe gery om kosvoorraad aan te vul. Die oorblywende tyd het ons gebruik om alles moontlik rondom ons waar te neem en die rustigheid te geniet.
Ek kan nog baie hieroor skryf, maar wil net afsluit met die bekende woorde: "n eens in n leeftyd ervaring".
Sal ek weer so n impulsiewe besluit neem? Ongetwyfeld - as ek weet dat dit die uitkoms sal wees.
Wessel,
die versoeking was al groot om weer daar in te ry, maar nee, n mens wil liefs nie op n verbode paadjie in die wildtuin betrap word nie. Wetsgehoorsaam![]()
Ek het daardie tyd gereken dat die plek gereeld gebruik word aangesien die gasyskas aan was en yskoud by aankoms - anders sou hy waarskynik af (toegedraai) gewees het.
Rona
Jy laat my nou terug verlang na my dae toe ek in die bevoorregte posisie was om vir drie jaar in die Kruger opleiding te gee, ek was toe gelaat om enige roete te ry (moes by baie plekke / personeel lede uit kom vir oa opleiding / inspeksies) alles was gratis, verblyf en kos.
Alle kampe was op die lys plus ook "verbode vir die publiek" tereine, soms waar mens meer/ makliker wild kon sien as enige ander omgewing.
Jou vertellings is baie insiggewend en klaarblyklik geniet meeste lede dit, hou so aan ![]()
Interessant Johann,...................
.............mag ek vra, watse opleiding was dit en aan watter vlak Wildtuin-personeel ?





Ek wag...
... vir die vervolg.