Verlede Woensdag, toe my kleinkinders hier kuier tydens die skoolvakansie, gaan stap ons sommer 'n entjie deur ons woonbuurt. Op 'n sypaadjie sien my kleinseun 'n vinknes (Kaapse wewer) se nes lê. Nêrens was 'n boom met ander vinknesse in sig nie. Nietemin, toe hy die perfek geboude nessie optel, hoor hy daar is kleintjies in die nes. Hy wou niks weet daarvan ons die nessie net daar los nie. En nou?? Nou sit oupa en ouma opgeskeep met twee klein vinkies. Ek skat hulle kon net ouer as 'n week gewees het toe ons die nes op die sypaadjie vind.
Daar moes dadelik ProNutro gekoop word. Gelukkig het ek 'n "syringe" beskikbaar gehad. Die vinkies oorleef nou-al vir meer as 'n week hier by ons. Hulle vreet (ProNutro) asof dit uit die mode gaan - en skyt net so lekker. Maar dié goedjies sal mos een of ander tyd iets anders moet begin eet. En hulle kan nie pal na elke twee-uurlikse voersessie in 'n kombersie toegemaak word om warm te bly nie.
Nou wonder ek of mense kan raad gee - wat begin ek wanneer voer (na ProNutro wat tog nie onverwyld kan voortgaan nie). En wanneer kan ek hulle in 'n gewone hokkie sit (en nie meer toemaak met 'n kombersie nie).
Ek voorsien hulle sal moet gaan saamkuier in Prins Albert en by Dibiki, want die twee kalante sal oor 3 weke nog nie gereed wees om aan hulle eie lot oor te laat nie.
Gee raad asb!!
Stokkiesdraers?
Chris WH - Dankie vir jou waardevolle inset. Maar jammer vir my onnoselheid - wat is stokkiesdraers?
Wessel - nee man, die goedjies het klaar onder my vel ingekruip ten spyte van die feit dat hulle eintlik 'n "nuisance" is met hulle voortdurende getjirp om gevoer te word.
Die wêreld is 'n interessante plek :
Iewers op die aardbol vernietig die mense van een land 'n ander land en sy mense en op dieselfde aardbol is daar 'n oupa en ouma wat twee wees-voëltjies met Pro-Nutro en 'n kombersie versorg !
Mooi so ChrisB, julle is beslis beter mense as ek.
Chris, Pronutro is reg vir…
Chris, Pronutro is reg vir die voeltjies, hulle sal grootword. Wat ons hier dopgehou het, is dat die kleintjies met insekte gevoer word waneer hulle klein is, dit is nou die saadvreterts se kinders. Pronutro is hoog aan proteiene en sal hulle grootmaak.
In my jong dae het ek baie duifies grootgemaak, deur hulle te voer met fyn kuikenkos in die mond. Terloops, duiwe het kropmelk wat saam met hulle saad vir die neskinders gevoer word.
So ruk gelede het ons n Streepsaweltjie opgetel en grootgemaak, was nog amper kaal. Vir hom moes ek elke dag springkane vang met n net. Squeaky was "sy" naam want die bokker het vreeslik gesqueak as ek naby was. Het in n ou hoed van my gebly, en saam op die bed geslaap, somtyds op my kop.
Toe dit tyd kom vir die swaels om te trek, stap ons buite rond met hom wat op my skouer sit, bokant is daar n groot swerm bymekaar wat duik en uitbundig roep. En daar trek Squeaky weg, verdwyn in die swerm. Was so effens meegevoer, maar baie gelukkig.
Stokkiesdraers
Dis daardie termiete wat bogronds uitkom en dooie gras in hulle neste in dra onder die grond. Ons enigste termietspesie wat sonlig kan verdra, en aardwolwe vreet omtrent uitsluitlik net van hulle. So 200 000 per aardwolf elke aand. Oom Neef is reg; baba voëls word insekte gevoer vir proteïne. Ek het nie geweet Pro Nutro bevat lg nie.
Tuinvoëls
Eerstens - dankie Chris WH vir die inligting. Ek het egter nog nooit grasdraertermiete hier by ons gesien nie. Ek dink daaraan om dalk meelwurmpies te probeer. My buurman, 'n voëlboer, teel sy eie meelwurms. Ek sal by hom ook bietjie kers opsteek. Hy voer ook fyngerasperde hardgekookte eiers vir sy klein kanaries.
Ons voer gerasperde kaas op ons kombuisvensterbank vir die tuinvoëls. Dit sluit in mikstert byevangers, gewone vlieëvangers, Kaapse tiptolle, janfrederikke, kwikkies, huis- en gewone mossies, rooivlerkspreeus, laksmanne, bokmakieries en Kaapse wewers. In broeityd kom haal al bogenoemde bekke vol kaas vir hulle kuikens - ook die wewers. Kaas is ook 'n goeie protiënbron. En synde die wewers ook kaas aandra vir hulle kuikens gaan ek ook o.a. probeer om hulle kaas te voer.
Maar een ding kan ek julle sê - om vinkkuikens te voer is bykans 'n voltydse werk. Ralie het Dinsdag maar tuisgebly en nie saam met my gaan rolbal speel nie - net om die gedurig-honger kuikens te voer.
Van môre af moet ons vir die res van die week gaan instaan by my seun se verfwinkel in Grabouw. Sy winkelassistent neem dié week verlof. Gevolglik sal ons maar die kuikens moet saamneem ten einde hulle gereeld te voer. Vinkkuikens grootmaak is nie vir sissies nie.
Ons het 21 jaar gelede ons huis gekoop met twee rooipens skilpaaie in die tuin. En hulle is nog al die jare hier want hulle word ook gevoer met o.a. komkommer, geelwortels, druiwe, blaarslaai en koolblare. Hulle weet watter kant is hulle brood gebotter en maak geen aanstaltes om na die omliggende fynbos te verkas nie.
En dan vreet die tarentale, Kaapse fisante en duiwe my ook byna bankrot aan gemengde hoendervoer wat elke oggend uitgesit word. Maar ag, dit is lekker om die geveerde volk rondom jou te hê. Die Kaapse fisante en visarende se geroep laat my gedurig wildtuin toe verlang. By geleentheid hoor (nie sien) ons die bloukraanvoëls agter ons huis op die blomplaas. En soms sirkel die pelikane bokant ons huis om genoegsame hoogte te kry om oor die berg te vlieg as hulle uitgekuier is op die lagune. Die broeipaar kolganse wat elke oggend en aand kom kos haal het, het nog nie weer hulle verskyning gemaak sedert ons tetuggekeer het van Roemenië af nie.
En snags luister ons meermale na die ooruile en Afrikaanse naguiltjies. Vlei-uile het ons ook al verras op ons balkonmuur, maar dit was slegs een keer.
Ons het ook gereeld vaalribbokke agter ons huis gesien - ook saans in die strate. Maar om een of ander rede is hulle net weg. Ons sien so af en toe Kaapse grysbokkies en 'n duikertjie agter ons huis.
Watter voorreg om in 'n voëlparadys te woon. Ek hoef amper nie wildtuin toe te gaan nie.
Omtrent bevoorreg!
Julle het ‘n lieflike verskeidenheid. Hier in ons Worcester tuin het ons afgesien van die verpestelike kransduiwe en ander duiwe en mossies net ‘n vink, Janfrederik, olyflyster, muisvoëls, fiskaal, rooivlerkspreeus, tarentale, dan en wan ‘n jangroentjie en ander suikerbekkies, en ook van tyd tot tyd ‘n kaalwangvalk. So nou en dan kom kuier die hadeda en hoep-hoep ook. Ek vermoed ons Jack Russells verwilder baie van die voëls.
Die reun het terloops Woensdagaand epileptiese aanvalle gekry en ek het hom 21:40 na die vierde een veearts toe gevat. Die sê hy is nou ‘n epilepsie lyer en na twee aande daar het hy Vrydag huis toe gekom en is nou op chroniese medikasie elke oggend en aand. Ek wag nog vir die rekening. Dit bring ook ‘n ekstra uitdaging vir kampeer, want nou moet iemand twee keer ‘n dag vir hom kom ‘n pil gee.
Voëls
Ek het bietjie vergeet dat die olyflysters ook kom kaas haal vir hulle kuikens. Maar buite broeityd kom eet hulle nie kaas nie. En dan ook jangroentjies, klein rooiborssuikerbekkies en Kaapse suikervoëls wat van die rooi-gekleurde suikerwater kom drink. Ek hoop nog om die endemiese oranjeborssuikerbekkie te sien synde die fynbos net agter ons huis begin, maar dit was my nog nie beskore nie.
Ja, ook vergeet van die hadedas en kaalwangvalk. Dan ook nog in die somermaande die immer-teenwoordige geelbekwoue. En kort-kort (soos vanoggend weer) die rooiborsjakkalsvoël wat 'n gunsteling telefoonpaal het waarop hy sit en bespied vir tarentaal- en fisantkuikens. En o ja, ook redelik gereeld muisvoëls wat ook aan die rooi-suikerwaterbottel kom hang. Hulle sit mos nie op 'n tak nie, maar hang.
Die tiptolle het vanoggend 'n pofadder anderkant ons muur "weggegee". Ek het nie die slang gesien nie, maar volgens my buurman was dit 'n "meneer" van 'n pofadder. Ek het net eergister by my apteker, wat ook in ons buurt woon, verneem dat die boomslange en pofadders besonders aktief is vanjaar.
Skoon stomgeslaan Chris,…
Skoon stomgeslaan Chris, julle het net so baie voels daar as ons hier in die middel van die wildernis. Buurvrou het op n stadium genoem dat sy naby 200 spesies is, en tel nog.
Terug by jou nuwe kinders. Ek was hier bekommerd, waneer ons grootmaak, dat hulle genoegsame vog inkry met n vreemde dieet, soos pronutro. Maar as die outjies lekker skyt, dan is jou mengsel reg. Gereken dat, behalwe vir die proteine van insekte, hulle genoeg vog op die manier kry. Meelwurms gaan goed werk
Jou praat van die geveerde vriende laat my dink aan die Kelkiewyne, wat water vir kuikens in hulle borsvere aandra. Hier kom somtyds so swermpie verby, dan verlang ek vreeslik Kgalagadi toe. En die Southern BouBou wat hier bly, klink darem ene Kavango Delta vir my. En hier is n paar Visarende ook. Seker Afrika se mooiste roep.
Pofadder
Ek sou dit nie doen nie, want ek glo dat slange het 'n belangrike rol in die ekologie. Maar my buurman het weer die voëls se alarmroep gehoor en ondersoek gaan instel. Toe skiet hy hierdie kêrel -wat toe eintlik nog 'n jong modelletjie was.

Maar ek het 'n mate van begrip vir sy sienwyse t.o.v. slange - naamlik "maak dood". Hy't al geweldig baie skade in sy voëlboerdery gehad met boomslange en eiervreters.
Ekself sal slegs oorweeg om 'n slang dood te maak as ek in 'n bedreigde situasie is.
Hoe gaan dit met julle…
Hoe gaan dit met julle geveerde kinders Chris? Jy sal n foto moet sit van die twee.
Neef .....
.... ek sal gou môre 'n foto neem en plaas. Die twee outjies hou ons maar lekker besig - pal honger. Vandag 'n koutjie gaan koop.
Hi Chris ek lees nou dat jy…
Hi Chris ek lees nou dat jy raad soek, wou net sê as jy die lig aansit kan ons help soek
Dit is lekker om so baie wilde voëls om die huis te hê, laat 'n mens sommer lekker vroeg rustig koffie drink in die oggend.
Neef dalk moet Chris net vertel ook hoekom daar so baie voëls en wild is, dit is nou waar hulle huis is. Dit is baie mooi ook daar.
My geveerde kinders
Neef - ek het vergeet om 'n foto te plaas. Ek doen nou-nou so vanaf my selfoon.
Die tweetjies eet van gister af redelik gemaklik op hulle eie - steeds ProNutro (maar nou in 'n bakkie) en gerasperde hardgekookte eier. Verder loop en vlieg (en skyt) hulle die hele eetkamer vol - tot Ralie se ontsteltenis. Dit is egter baie duidelik dat hulle nie volgende week al kan pad vat nie en gevolglik sal moet saamgaan vir ons kort 10 dae wegbreek. En dit gaan nie uitwerk nie, want ek kan hulle nie die hele tyd in 'n koutjie hou nie en ook nie in die karavaan laat rondvlieg nie.
My suster het vir my die naam en nommer gegee van 'n vrou wat in samewerking met Cape Nature inheemse voëls, wat hans grootgemaak is, rehabiliteer vir latere vrylating. Ek het haar gister geskakel en gereël dat ek môre die tweetjies na haar toe neem in Monte Vista in die Kaap. Sy's bevrees dat die "human imprint" al te ver gevorder het, maar sal hulle nogtans neem. Ek is dadelik gevra waarmee ek hulle grootgemaak het. Sy's baie anti-ProNutro (sy't haar redes gegee) en genoem dat dit 'n algemene standpunt is dat ProNutro baie goed is vir die grootmaak van wilde voëls. Klaarblyklik gebruik hulle 'n sekere katkos (Montego se katpille) wat fyngemaak en natgemaak word. Dit beskik blykbaar oor 'n baie hoër proteïen inhoud met minder nadelige inhoud vir voëls.
Ek voel amper hartseer om hulle na 3 weke se liefderikke versorging te laat gaan, maar ek glo dit is in hulle beste belang. Ek weet net nie watter reaksie ek gaan kry as daar gesien word dat hulle intussen gering is nie. My buurman, 'n voëlboer, het die tweetjies gou Sondagoggend gering - een met 'n wit ringetjie en die ander een met 'n groene.
Net gedog ek sal julle op hoogte hou van my twee kleingoed se vordering.
Dit is baie "nice" van julle…
Dit is baie "nice" van julle met die twee voeltjies.
My sussie sê sy is trots op julle. Sy voer al wat n voel is.
Ek is seker as hulle groot is gaan hulle altwee afrikaans kan praat, want en neem aan julle praat met hulle terwyl julle hulle versorg.
Pragtig Chris. Die katkos…
Pragtig Chris. Die katkos kan ek glo sal goeie kos wees vir die kuikens, maar daar is jou twee nou mooi groot, en lyk sonder skete. So ruk gelede het ek gesien van iemand wat n muisvoel so hans grootgemaak het. Was te oulik om te sien hoe hang dit aan die lyf, wil nie regop sit nie, maar hang orals.
Wat ons ook opgemerk het, dit is darem nou lank gelede, is as ons bv mieliepap of pasta uit sit vir die voels, die huismossies die kleintjies met dit voer. Dit is nie goeie kos vir hulle nie, en sodra hulle uit die nes gelok word, is hulle te swak om te vlieg, en hop rond vir n paar dae. Gelukkig vang ouma Von se katte nie voeltjies nie.
Dit is baie oulik Chris. …
Dit is baie oulik Chris.
Dalk kom groet hulle gereeld.









Ken jy die liedjie....
Chris B
....draai sy nek om, gooi dit in 'n sloot.
Kleinkinders word net ingelig dat die arme goedjies gevrek het sonder hulle mammie.