Dit lyk vir my of Kaapstad-eienaars van teerpad-karavane maar elders moet gaan soek vir 'n handelaar om van diens te wees. Dis reeds ou nuus dat Tygerberg Karavane in Brackenfell hul deure moes sluit as gevolg van bedrog. Die enigste jare-lange ander handelaar, Leasureland in Bellville sluit hulle deure permanent einde Februarie.
Caracamp in Somerset-Wes en nou ook 'n nuwe handelaar in Worcester is die enigstes in ons omgewing wat oorbly. Boswa-handelaars is nog volop.
Ek vermoed die destyds probleme by Jurgens het talle handelaars die doodskoot gegee.
Ek wonder hoe gaan dit deur die land by ander handelaars ?
Ander fabrikate
Ek mag verkeerd wees, maar wil soms voorkom of die handelaars wat net by Jurgens vasgehou het, nie die mas opkom nie. Voorbeelde is plekke soos Comet karavane en Carnaval karavane wat onlangs toegemaak het....daar was nie eintlik ander fabrikate op hul vloer nie. Daarteenoor doen plekke soos Loftus, Kennis en Kempton lyk my weer baie goed wat n heelwat wyer variasie aanbied. Karavane soos Penta en Exclusives sal seker maar altyd populer wees, maar met pryse van R600k vir Penta en amper R900k vir Exclusive begin mense seker maar bietjie rond loer en alternatiewe soek en as jy nie ander opsies het op jou vloer nie, verloor jy kliente en verkope
Leefek
Leefek maak tog steeds al die bekende padwaens, en het ‘n paar modelle bygevoeg. Daar is bv nou ‘n Tourer SW Enduro wat nog meer geskik is vir grondpad, en lyk of dit selfs Kgalagadi toe sal kan gaan met gemak. Dit het ook ‘n watertenk, geyser en stort as standaard.
Ek dink wat moeilik raak is om voorraad aan te hou vir ‘n vertoonlokaal. Na Covid hou selfs plekke wat in onderdele handel dryf nie meer voorraad soos voorheen nie, en bestel soos die aanvraag inkom. Ek vermoed karavaanhandelaars sukkel ook met kontantvloei.
Daar is vir seker nog mense wat geld het, en bv elke keer wat ‘n nuwe Ranger met ‘n nuwe modelnaam en ander kleur wiele en strepies op die sitplekke uitkom hulle oue inruil op ‘n nuwe een. Maar mense hou hulle karavane vir baie langer, so daar is nie dieselfde omset nie. Ook waarskynlik nie genoeg nuwe toetrede tot die mark nie. En die gewone mense kry swaar ekonomies…
Nou die dag
Was meer as n jaar terug by Comet vir toebehore hulle was besig gewees en toe ek weer hoor was daar sprake hulle maak toe en nou is hulle toe wat regtig jammer is lyk my die karavan bedryf het babalas
Dink twee redes mag tot dit…
Dink twee redes mag tot dit aanleiding gee:
- Pryse van karavane. Dis tog onmoontlik dat 'n Exclusive sowat R900k nuut kan kos. Tensy die vervaardigers en handelaars pap skep? Vergelyk dit met 'n nuwe Hilux of Ranger wat nuut min of meer ook in daai omgewing kos. Aan die bakkie kant kan ek verstaan dat die ontwikkeling van oa. die tegnologie asook materiale tot daai prys kan bydra, maar werklik 'n karavaan??? Kyk ook bv na die koste om die Toyota of Ford fabriek toe te rus (robotika, ens.) en dan na die landbou tegnologie wat in die karavaan se fabriek te siene is. Of mis ek iets? (ek weet die produksie hoeveelhede verskil dramaties maar steeds...)
- Dan natuurlik ook die ekonomie, byna alle groot bedrywe is besig om te beplan vir 'n komende globale resessie. Daarmee saam kom weer 'n storm van afleggings, Bottomline, die ontspannings mark trek swaar en in sulke tye sny Jan Publiek ook maar waar hy kan, verstaan iets soos 40% van ouers kan reeds nie hulle kinders se skoolgeld betaal nie, wat nog te sê 'n nuwe karavaan.
Grootwind ek
Stormwind jy se dit presies soos dit is ek nie gedink aan karavan pryse nie dis mal dis hoekom so baie nuwe kampers 2 hands gaan maar daai mark se pryse ook skerp gestyg jip alles raak duurder en die gewone ou voel dit
Ander kleur wiele!!!
Hello Chris S
Dan kry jy natuurlik gatkrul ouens soos ek, wat sommer sy ou wiele laat oorsit na die nuwe bakkie, want die nuwe se kleur was lelik!!!!
Ek sou dieselfde gedoen het
wat sommer sy ou wiele laat oorsit na die nuwe bakkie, want die nuwe se kleur was lelik!!!!
Persoonlik is ek nie lief vir die swart wiele nie, maar die mark is duidelik. Ek hou van plain goed. Destyds toe ek my 2006 Ranger gekoop het, het ek ‘n hele Saterdag gesit om die plakkers met die strepe wat uit ‘n klomp kleiner plakkers bestaan het en toe mode was, te sit en aftrek sodat ek ‘n wit bakkie sonder strepe kan hê. Ander ouens hou weer van voertuie wat beplak is en laat selfs aftermarket plastiek rante om die ligte, moddeskerms ens aanbring. Elke ou versier sy bakkie soos hy wil.
Ons kamp elke maand iewers…
Boswaens pas in motorhuise
Middag Jan en ander
Een van die groot voordele van 'n tipiese boswoonwa is die feit dat dit smal is, en meestal ook laer as 'n padwa is. Dus kan/behoort dit in 'n "standaard" garage in te gaan. Ek het die 1ste dag probeer om my Kavango in die garage te kry, maar halfpad opgegee. Die standaard deur was net te knap in die breedte, ek moes te mooi mik.
Die rede vir die "smal" wa is natuurlik sodat dit omtrent in dieselfde spoor van die sleepvoertuig loop, wat sleep in die sand makliker maak. Ek is skoon bederf met my smal waentjie, dit loop net so breed as die trokkie, en pas heerlik in die pad se loopvlak in. Ek hoef nie gedurig in spieeltjie te loer om seker te maak dat die wa nie oor die lyne beweeg nie. Ek benodig ook nie verlengde buite syspieels nie.
Ek dink boswaens raak al hoe meer gewild, want jy kan dit soos 'n padwa gebruik, en as jy 'n rowwe ou is, ook van die teer afgaan. Ek is nie 'n rowwe ou nie, maar selfs normale persone gaan in NW van die teer af, want die teer is weg
Pryse is ewe belaglik
Alle nuwe karavane is duur, maar dit klink my boswaens is gemiddeld bietjie goedkoper nuut as padkaravane. Ek het nie besef ‘n nuwe Penta kos R600 000 nie. Daar is wel van die boswaens wat soveel en meer kos, maar ek dink jy kan nog vir so R450 000 ‘n ordentlike een kry. Van die minder bekende, nuwer handelsmerke selfs nog goedkoper.
Dit hang egter van meer as prys af. Ek het nog nooit ‘n padkaravaan oorweeg nie. Dit sal my beperk in terme van die plekke wat ek graag besoek en wil besoek. In dieselfde asem het ek nog nooit ‘n nuwe karavaan oorweeg nie. Dis net te duur. Ek koop ook nie nuwe motorkarre nie. Gelukkig is die tweedehandse mark groot, en ek kon die Kavango nog kry vir R160 000. Die goedkoopste Kavango wat ek intussen gesien het was ewe oud vir R190 000.
Maar terug na die onderwerp; ek dink vertoonlokale en winkels gaan al hoe minder raak soos wat aanlynaankope toeneem. In ons plaaslike mall het ‘n hele klomp winkels gevou na Covid, en daar is ‘n paar van hulle wat steeds leegstaan.
Daai pryse.....
Môre Chris S
Daai nuwe pryse van boswaens jaag natuurlik die gebruikte waens se pryse ook op.
Ek het op 'n stadium oorweeg om ontslae te raak van my Kavango, en iets anders te koop, maar dit maak netnie finansieel sin vir my nie.
Ek sou omtrent kR200 moes bybetaal, indien ek my Kavango teen 'n goeie prys verkoop kon kry. Boonop is daar omtrent 'n 8 maande waglys [bou tyd] ter sprake, wat beteken dat ek sonder 'n wa sou wees.
Ek dink darem nie motor/bakkie handelaars sal verdwyn nie. Sommige boswaens word reeds amper meestal net per internet adverteer en bestel. Ek moes by 'n privaat persoon na 'n Gecko gaan kyk, weens gebrek aan 'n handelaar/agent in Pretoria omgewing.





Mark tendens
Môre Len en ander
Dit is nogal kommerwekkend, maar nou wonder ek wat is die rede;
1] Jurgens doodskoot soos Len noem
2] Sameloop van omstandighede, Covid ingesluit
3] 'n skuif na boswaens in die mark.
Die Pretoria/ Johannesburg padwa-kampeerders moet van hulle laat hoor. Ek weet wel dat die boswa handelaars/agente soos paddastoele opgeskiet het.
Dit is nie die pryse van padwaens nie, ek is oortuig dat boswaens, hetsy nuut of gebruik, duurder is.
Ek vermoed dat plaaslik ook die laaste stuiptrekkings plaasvind, maar ek mag die tekens verkeerd lees..