Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Stem heeltemal saam Wessel… November 2026 neef Herman -10 minutes ago
Herman... November 2026 Wessel Strydom -1 hour ago
Wessel, hierdie is n… November 2026 neef Herman -3 hours ago
Nou weet ek hoe.... November 2026 Wessel Strydom -8 hours ago
November brandstof prys November 2026 Geert -8 hours ago
Goeie more almal Cobb - Tips en idees Goeie Hout -13 hours ago

Impulsiewe besluite

Dullstroom
Submitted by Rona du Plessis on
Forums

Ek lees hoofsaaklik op die forum van goedbeplande/weldeurdagte vakansieplanne - wat sekerlik die ideaal is. Voorbereiding is al n groot deel van die lekker vakansie waarna mens uitsien. Ons doen dit ook soms solaugh.......

n Ander keer het so verloop:

Terwyl ons nog in Riversdal gewoon het het ons vele Sondae vir middagete uitgestap Stilbaai toe. By die swemstrand was Die Lappiesbaai Restaurant wat heerlike kos bedien het met keurige ligte klassieke musiek in die agtergrond terwyl jy oor die see kan uitkyk....

So was dit dan ook een Sondag in Julie 2000 die geval. Skoolvakansie. Ek het die opmerking gemaak dat dit n baie lekker middag is, maar dat ek hierdie tyd van die jaar darem baie na die Kruger Wildtuin verlang. Soos asof uit een mond het Daan en ons dogter gereageer met "maar kom ons gaan!" Betaal vir die ete en huis toe.

Ek het geweet dat daar niks so dringend in ons werksdagboek is dat ons nie vir n paar dae kon wegloop nie. n Paar opdragte aan die werkers en een om na die tuin om te sien was genoeg.

Hoe gemaak sonder n bespreking? Julie is /was nog altyd n gewilde maand in die wildtuin en gewoonlik lank reeds vol bespreek. Ons het egter besluit om tente en ander kampeertoerusting op te pak en net te ry.... Sou chalets die enigste beskikbare opsie wees, was dit ook maar goed - ons wou net DAAR wees.

Drie ure later was alles gepak en ons het in die pad geval. Deurnag gery (nie meer nie) en die volgende middag in Nelspruit aangekom waar ons besluit het om in n gastehuis te oornag. Die volgende oggend is ons die wildtuin in, op pad na Skukuza om daar by ontvangs te verneem na enige moontlike beskikbare plekkie. Om buite die wildtuin te bly en as dagbesoekers in te gaan was n opsie.............maar nie in daardie stadium nie, ons wou DAAR wees.

Kry eers iets om te drink.....vervolg

 

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Tue, 13/02/2024 - 21:55

Jy lyk en klink vir my asof jy oor nog soortgelyke ervarings kan verslag doen. Dus - laat waai met die ander. Jou stoutgat eienskap (mooi bedoel) kon nie net een so 'n ervaring beleef het nie.

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Wed, 14/02/2024 - 13:34

Dankie Chris. Nee wat jong, die paar wat begin gesels het, het belangstelling verloor. Sulke persoonlike ervarings waardeer eintlik net jyself. Ja die humor maak dit somtyds aangenaam om te vertel. Ongelukkig kry net hier en daar een die prentjie in sy upstairs movie huis. Maw verbeelding.

Wat ook agterna my laat wonder het, is oor hoe spontaan ons nasie was 40 jaar gelede. Ek plaas hier fotos van wat een dag op die strand gebeur het. Iemand het vasgesit, en word uitgestoot deur die mense daar rond. Raak die klomp aan die gesels oor die tegnieke van sand ry, en dit loop toe ook uit oor watter voertuie die beste sandry vermoëns het.

Wat volgende gebeur sal jy vandag nooooit sien nie. Twee Jeeps druk hul bosbrekers teen mekaar, en die een graaf homself behoorlik in. Die ander een was die skrum masjien. Nou moet die een wat vassit met tegniek uitkom. 

Daar was Unimogs, Gelandewagens, Jeeps, Nissans,Landrovers. Ek kon wragties nie n Toyota onthou nie  devilelke man op die strand het sy lorrie gevat en gaan skrum. Dit was spontane pret, en ons het ure lank vermaak gehad.

O ja, die bikini girls het ook die dag aangenaam gemaak. Op die een Jeepie sit juis nog enetjie wat heel sag op die oog was. 

Vas2

Vas1Vas

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 14/02/2024 - 13:42

... darem maar lekker tye. Daai dae toe die hormone amper te veel was. Pleks dat mens toe bietjie minder van die goed gehad het om te spaar vir die oudag.

Nogmaals dankie Neef en Rona vir beide se interessante vertellings oor jul impulsiwiteit.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 14/02/2024 - 14:43

Ek dink "spontaan" het redelik uitgesterf. Om sommer net met 'n wildvreemde aan die gesels te raak, en vir 'n rukkie gesellig te verkeer.

Ek vermoed dat selfs onder kampeerders, wat bekend was as spontane ekstroverte, raak dinge styf [formeel]. Daar word wel gegroet, maar selde sien/beleef ek dat vreemdes so rukkie net staan en kuier. 

Ons het verlede jaar in Kruger dit beleef. Bo in Punda begin gesels met bure. Die gewone---hoe lyk julle kampeerplanne ens. So kom dit toe dat ons daarna, met 'n dag uit fase, by dieselfde kampe oornag. Hulle gekry in Tsendze, Satara en Berg&Dal.

As ons mekaar raakloop in veld, elkeen op eie missie, word daar eers gestop en gesels oor wat waar gesien. Ongelukkig nooit kontakbesonderhede geruil nie. Ek weet wel hulle is groot melkboere in George omgewing 

 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 14/02/2024 - 15:25

Ek neem aan die Geländewagen het gewen. As hy nie het nie, kon sy eienaar nie bestuur nie. 
 

Ek glo nie Suid-Afrikaners gaan maklik meer deesdae sulke skrums hou nie. Die rygoed het te duur geraak. 

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Wed, 14/02/2024 - 15:37

Jy is reg Wildehont. Die Gelandewagen het maklik gewen.

Die klein ligte Willys Jeeps met die groot bande en V8 enjins het ook maklik uitgeklim. Die tegniek was om tussen 1ste en trurat te wissel, jou wiele net ń halwe draai te gee. Op die manier het sand opgebou en dan kon dit self uikom.  Die Gelandewagen met difflocks het die proses vinniger kon doen.

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 15/02/2024 - 11:43

Chris S se "oogkontak Britse girl" laat my nou onthou.

Lank lank gelede toe ek by Faure eksperimentele fisika gepleeg het, was die gebruik dat nagraadse studente hulle projekte by die jaarlikse fisika konferensies moet gaan aanbied. Nou kyk, dis 'n spoggerige storie, en ons word ewe reis en verblyf betaal, uit ons beursgelde uit.

So besluit 'n paar van ons dat ek met my Alfa Romeo sal opvlieg Johannesburg toe, dan is daar vervoer vir nagtelike ekskursies. Van die ander vlieg op en nog 'n paar gaan ook met hulle voertuie. Ons mag 'n ekstra paar dae langer as die konferensie wegbly, afvat vir vakansie.

So maak ekke reg vir die langpad, ongeveer R300 in rekening vir petrol, eet en suip. Paar pakke Lexington's, want 200 000 mynwerkers kan nie verkeerd wees nie. So ook 'n koffiefles. 

Nou met die spesifieke konferensie was dit die erge petrol bespaar maatreels, kry net petrol van 06h00 tot 18h00. Dit beteken die Alfa sluip uit Stellenbosch 0h00 en jy hou 80km/hr al die pad, dan is jy omtrent sesuur in Beaufort Wes. Die Lexington elke halfuur is om jou wakker te hou. Sodra jy daar volgemaak het, begin jy opstyg. Jy moet nou kilo's opvreet teen geweldige tempo tot 18hoo, om vir oulaas weer vol te maak. 

Die Alfa was 'n uiters gewillige karretjie. Jy kon hom maar vrye teuels gee, sy 1800cc en 5de rat het gewerk. Dan wag ek maar dat 'n BMW of MB my verbykom, dan plak ek vas agter hulle, vergeet skoon van rook. As die man onder 160 km/hr kom, flits ek net, en dan tel ons maar weer spoed op.

So lewer ons klomp studente, met ons promoters ons lesings, en formaliteite is agter die rug. Impulsief word daar deur studieleiers besluit, ons sal almal die aand  gaan ontspan in die Charlton hotel. Geen probleem vir Capie wat nie JHB ken nie, die maters wys die pad.

Eindig daar in 'n "ladies bar", en ons is dors van die akademiese inspanning. Daai dae was daar ook mede studente en 'n  studieleier van IKEYS saam. Nou kyk, daai manne was effe dorser as ons Stellenbosch latte. So raak my sigarette klaar, en ek benader met effe verswakte sig, die kroeg toonbank. Wag nou geduldig om bedien te word.

Hoor ek die ragfynste stemmetjie hier langs my, sê/vra die "lady" --hoekom bestel jy nie 'n bottel sjampanje nie. ?? Outo fokus kom stadig reg, en ek neem die beeld van die dame in, geheel bedwelmende rondings wat heel vrypostig hier teen my bo-arm rusplek vind. Ek vat omtrent die hele carton Lexington mis, en vra in suiwer Afrikaans---nou hoekom sal ek dit wil doen??

Kom die antwoord, so effe ingevryf op my bo arm--- "I have a room upstairs", so effe heserig, en nie van rook nie!!

Nou is ek mos darem 'n man wat woord hou, as ek belowe het om my pelle terug koshuis toe te vat, dan doen ek mos dit. Ek kan mos nou nie die half besope pelle en my studieleier aan hulle genade in Sodom en Gamorra oorlaat nie.

Amper klaar, nou moet ons ons karre kry in daai parkeergarage. Kan nie lekker die vloer nommer onthou nie. In die hysbak is mos die rooi telefoon vir moeilikheid, dus besluit die IKEY man, hy sal maar sy kar se registrasienommer bel. Nodeloos om te seg, hy kry nie antwoord nie, dan brul hy ----my kar is nie op die vloer nie.!!!  Ons het later maar te voet onder begin en elke vloer deursoek, wel ek vermoed dit het ons redelik nugter gemaak.

Dit was seker 'n verspeelde geleentheid, maar die R300 moes hou om  my en die Alfa nog terug na Stellenbosch toe te neem.

       

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Thu, 15/02/2024 - 11:56

Jy is ń man wat nugter kan dink  al voel die lyf effe tam Wessel. Daai rasperstem modelle is bledie gevaarlike speelmaats.

Lekker gelees aan jou ervaring, jaloers op die Alfa. My ryding was n ou Hillman Hunter wat binne die bekende, maar nie beminde, ou kar reuk gehad het.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 15/02/2024 - 14:11

Dis ‘n lekker storie Wessel. Mooi kop gehou om nie die petrolgeld uit te gee op vonkelwyn vir die verleidster nie. 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 15/02/2024 - 15:01

Aangesien dit ons finale jaar was in 1993, wou ons graag die Desember vir oulaas met vakansie gaan voor ons begin werk soek. ‘n Span van ons vriende het plek bespreek in die skool koshuise in Knysna. Ons kon dit nie bekostig nie, toe maak ons maar ‘n ander plan.

My beste vriend van std 1 af, Viljoen, en ek het saam geswot. Hy het ‘n Opel Kadet gehad  - so roomkleurige een met ‘n bruin Perspex sondak. Soos ‘n tipiese studentekar destyds, was dit nie meganies 100% nie. Na ons gradeplegtigheid moes ons eers die kar regtrek. Die Kadet se remme het nie lekker gewerk nie, en ons een vriend wat meganiese ingenieurswese geswot het moes kom help om dit reg te kry.

Daar was iets fout met die brake booster, maar ons kon nie uitwerk wat nie. Ons het tot ounag toe gestoei en is toe op die ou end 04:00 weg uit Pretoria. Die Kadet se kattebak en agtersitplek was vol kampeertoerusting gepak omdat ons nie plek in die koshuis by Knysna gehad het nie. Ons het alles van ‘n tent, sponsmatrasse, opvoustoele, ‘n gasbottel en braairooster tot ‘n Coleman koelboks gehad. Minwetende dat net lg op die ou end gebruik sou word. Ons klere was natuurlik ook in die kar.

Ons het dit gemaak tot in Matatiele, waar Viljoen se nefie ons kom oplaai het. Ons het eers die Kadet na ‘n veilige plek gevat om dit te los, en waar iemand kon kyk na die remme wat steeds nie goed gewerk het nie. Viljoen se nefie was ‘n sendeling in die Maluti gebergtes, en ons sou ‘n week by hom gaan kuier het en help om sy huis te bou. Hy moes eers inkopies doen, en ons is op die ou end teen donker deur die Qacha’s nek grenspos. In die harwar is my paspoort nooit gestempel nie. Toe het ons vir ure gery met iets wat mens nie regtig ‘n pad kan noem nie tot diep in die berge in.

Tydens die week daar het ons help bou aan die huis en kerk en het ons ‘n draai deur die berge gery met Basotho ponies. Dit was ‘n interessante ervaring. Terug in Matatiele het die Kadet se remme weer gewerk, en is ons met ‘n padkaart PE toe. Ek het reeds vertel wat daar gebeur het tydens ons een aand in PE. Dit was ongemaklik om in die kar te slaap. Die sitplek kon nie heeltemal platslaan nie, omdat daar te veel goed op die agtersitplek was. En ek is amper 2m lank, so ek het nie lekker geslaap nie. Maar ek was jonk en my lyf kon dit nog absorbeer.

Die volgende oggend was ons oppad Plett toe, maar wou eers stort. Ons gaan parkeer toe buite ‘n karavaanpark naby die strand. Ek kan nie onthou watter een of presies waar dit was nie. Dit was my eerste keer van min in PE. Ons het die nodige uit ons badsakkies gehaal en in ons broeksakke gesit. Toe trek ons hempde uit en vat strandhandoeke en stap doodluiters by die hek in asof ons van die strand af kom.

So kon ons gratis stort. Daarna het ons sommer in die kar vars aangetrek en iets gaan soek om te eet. Ons het by ‘n plaaslike winkelsentrum ingery met winkels wat in ‘n reguit lyn teen mekaar staan. Toe ons by die parkeerplek intrek, trek ‘n motor vol jong meisies gelyktydig in die parkeerplek langsaan in. Ons kyk vir hulle, en hulle kyk vir ons. Viljoen vergeet om te rem, en ons ry teen die randsteen vas. As daar lugsakke was het hulle seker opgeblaas, maar ons het darem net vorentoe geval teen die sitplekgordels en die meisies het lekker gelag en hulle nie verder aan ons gesteur nie.

Ons het daarna gery tot in Plett, en by die Ultra City parkeer. Dis waar ons die aand sou slaap, in die parkeerterrein.


 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 15/02/2024 - 15:24

Ons het daarna gery tot in Plett, en by die Ultra City parkeer. Dis waar ons die aand sou slaap, in die parkeerterrein.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 15/02/2024 - 16:16

Ek sal die res van die storie in paaiemente moet vertel - vrek besig by die werk. 
 

Dis nou nie so interessant soos Oom Neef of Wessel se staaltjies nie, maar daar het ‘n paar komiese goed gebeur. Die paar foto’s wat daar is, is diep weggebêre so ek sal maar met woorde die prentje verder moet skets. Wanneer ek weer tyd het…

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 15/02/2024 - 16:49

....ons wat nie meer voltyds in diens is nie, het baie tyd ophande.

Gelukkig hoef sommiges nie aan voertuie te werk, of laat werk nie. Dit vreet net niksdoen tydlaugh

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 16/02/2024 - 08:29

Ons het die aand in Plett uitgegaan na ‘n “klub” toe. Die plek se naam was Caves gewees. Dit het gelyk soos iets uit ‘n Amerikaanse rolprent. Ek vermoed dit was eens ‘n luukse huis. Daar was ‘n groot aantal vertrekke op verskillende vlakke. Die musiek het gepomp, en daar was selfs ‘n swembad vol mooi meisies buite. Ons het vir twee dames wat alleen by die kroeg gesit het ‘n drankie gekoop, en is genooi om ‘n geselsie aan te knoop.

Ek en Viljoen het fiktiewe karakters aangeneem sonder dat ons dit vooraf afgespreek het. Hy was Derick, ‘n dermatoloog wat navorsing gedoen het op renosters in die privaat reservate aangrensend aan die Kruger wildtuin. Ek was Tim, ‘n wildbewaarder in dieselfde wildtuine. Die meisies was mediese verkoopsverteenwoordigers (reps), en hulle het aan ons lippe gehang.

Die een was bietjie ouer as die ander (en as ons), en ek dink sy het moeg geraak vir die geraas by Caves. Sy het toe voorgestel dat ons verskuif na ‘n ander kroeg om pool te speel. Ek en Viljoen was nogal goed daarmee, en dit het lekker gegaan totdat hy my per ongeluk Chris genoem het. Die meisies (wat aansienlik meer nugter as ons was) het gesêons jok oor wie ons is, en wou my lisensie sien. My eerste naam is Christiaan, en ek het hulle toe oortuig dat dit Tiaan geraak het op skool en later sommer net Tin en toe Tim. Toe speel ons verder.

Na nog ‘n rondte of twee stel die ouer meisie voor dat ons na haar blyplek toe gaan. Ons volg hulle in die Kadet. Daar aangekom steek sy die kaggel aan, en ons sit sommer op die vloer en kuier. Viljoen (oftewel Derick) is ‘n baie beter prater as ek, veral as hy ‘n paar doppe in het. Ek het dus maar net gesit en luister hoe hulle hom uitvra oor velprodukte (hy was mos ‘n dermatoloog), en in my binneste geglimlag vir wat hy alles kwytraak. Die jonger meisie (haar naam was Lidia) het uit sy hand geëet en al nader aan hom geskuif. Later het sy met haar kop op sy skouer gelê.

Ek moes myself verskoon om water af te slaan. Toe ek terugkom staan ek eers bietjie om die hoek en luister na die spul nonsens wat my dermatoloog vriend alles verkoop aan die twee dames. Ek het gesukkel om my lag te hou, so het maar eers bly staan waar ek nie gesien kon word nie. Die volgende oomblik raak dit vir ‘n rukkie stil. Sonder waarskuwing of enige aanloop, en net toe ek besluit om weer in die sitkamer in te stap sê Derick vir Lidia; hy het na haar vel gekyk en sy dra ‘n bietjie te veel onderlaag. Ek neem aan hy het dit as ‘n kompliment bedoel – dat sy dit nie nodig het nie – maar sy het dit vir seker nie so ervaar nie. Toe ek om die draai kom sit sy kiertsregop, ‘n goeie meter van Derick af.

Die volgende ding wat Lidia sê is dat sy maar huis toe gaan. Haar vriendin (ek het haar naam vergeet) sê toe sy gaan bed toe, maar nooi nie een van ons twee saam nie. Nadat die tweede een van ons die bal aangeslaan het die tweede aand in ‘n ry, het ons sommer op die sitkamervloer geslaap. Die volgende oggend het die vriendin darem vir ons koffie en beskuit gegee, en was nie onvriendelik nie. Ons kon stort en vars aantrek ook, en is toe daar weg Knysna toe.

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 16/02/2024 - 09:05

...jou pêl die renoster dermatoloog was ook maar lekker stupid nê. Komende van so 'n ou, is geen verwysing na 'n meisie se velsorg 'n kompliment nie. Slegte benewelde slip gewees daai

Nou wonder ek, as julle net Chris en Viljon gebly het, of julle verder as die sitkamervloer sou gevorder het.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 13/09/2024 - 09:50

Hierdie was egter 'n baie kort enetjie. Ons het Woensdag 'n doktersafspraak in Nelspruit gehad. Met nog heelwat tyd vir die dag oor, bel ek my sus in Witrivier om te hoor of hulle tuis is, koffie sal lekker smaak. Opgewonde sê sy "KOM, Hollies-hulle is ook hier". Hollies en Glin(is) Hollenbach is permanente kampeerders en d.m.v. my sus ken ons hulle ook al vir die beste deel van veertig jaar. 'n Uur nadat ons daar aangekom het was die koeël deur die kerk - ons gaan wilduin toe!!! Van haar stoep af kyk mens oor die boorde, met Leeukop in die agtergrond....

Met haar piekniekmandjie wat altyd reg staan en 'n tas met kussings, handdoeke en meer is ons daar weg. 'n Draai by 'n paar winkels op die dorp, en ons was op pad vir die een nag wat ons in 'n hut by Pretoriuskop bespreek het. Intussen het die tyd aangestap en ons is 5 uur by Numbi-hek in. Baie bewus van al die waarskuwings oor onveiligheid daar was ons versigtig, maar dit was heel rustig. Selfs die pad was baie goed - ek onthou net van een gat by 'n sirkel waar mens in elk geval stadig ry.

Soveel jare laas by Numbi ingegaan dat ek min daarvan onthou. Dit lyk op die oog af maar bietjie verwaarloos maar met min aandag sal dit weer mooi wees. Skaars in, was ons eerste dier 'n grote olifant wat van voor af, in lyn met die pad so 5-6m vanaf die ryvlak aangestap kom. Toe weet ons - ons is hier!! 'n Gevoel wat mens moeilik aan 'n ander beskryf wat dit nie so ervaar nie.

Rondgery en heelwat diere gesien - rooibokke, zebras, koedoe-koeie, vlakvarke, seekoeie in die dam, nog olifante.....die gewone, maar as jy nie nou daar is nie, laat dit jou miskien 'n bietjie verlangsmiley

Die hut is baie basies - 2 bedjies, 'n tafel met 2 stoele (waarby mens nie kan aansit nie a.g.v. die klein rondaweltjie se uitleg), 'n gesigwasbak met koue water, 'n rakkie teen die muur met 2 glase. Die kenmerkende dekriet reuk (geur eerder) ook teenwoordig. Alles was silwerskoon en dit was goed vir ons. 

Die winkel verkoop yslaugh. Spyskaart vir die aand: heerlike hoendersosaties en varkrepies met vars "buns" en botter. Dis al. Dit was 'n heerlike aand buite. Ons het om die kampvuurtjie gekuier tot laat. Die kamp was nooit raserig nie en teen 8 uur was dit doodstil. Die halwe maan was so helder as wat volmaan in die stad waarskynlik nie kan wees nie. Windstil. Teen ongeveer 7 uur het 'n olifant naby die ingang getrompetter. Verder kon mens net luister na die geroep van 'n naguiltjie, die vlermuise en 'n kriek iewers....

Die groot sirkel waarin ons gebly het was ongeveer 50% beset. Naaste bure was 4 rondawels weg van ons af - 'n enkelreisiger. Gisteroggend het ons gou deur die kampeerterrein 'n draai gery. Daar was baie min oop staanplekke en dit het gesellig gelyk soos wat kampering altyd is.

Siende dat ons weer in Witrivier wou eindig en daarvandaan nog die huis haal, het ons nie noodwendig die beste pad vir dierebesigtiging gekies nie. Skukuza, Onder Sabie, Krokodilbrug was ons eerste keuse. Ons het egter Skukuza toe gery om o.a. by die winkel aan te doen vir koue drinkgoed en maroelajellie wat altyd my geskenkie aan iemand is wat nie daar kon wees nie. Die kamp was baie bedrywig. Met die gratis-toegang het baie skole van die geleentheid gebruik gemaak om leerders na die park te neem. Hulle het o.a. by die museum aangedoen en lessies onder bome gekry. Mens het jou verstom aan die orde waarmee alles geskied het.

Hiervandaan het ons die H4-1 rigtig Onder Sabie geneem, H12, en links gedraai op die H1-2, Maroela ompad geneem en uiteindelik by Phabeni uitgegaan. Die wildtuin in hierdie streek is wintervaal, maar daar is baie gras en water vir die diere. Groot blokke is gebrand met groen grassies wat reeds kop uitsteek en net wag op die eerste reën - ek hoop dit kom gou.

Ons het baie diere gesien. Van die groot 5 het die renoster en luiperd gekort. 

Weet eintlik nie waarom ek hierdie elle-lange storie skryf oor een enkele nag/dag in die wildtuin nie - miskien omdat ek so gaande is oor die park en vir altyd daar kan bly. Indien jy ook 'n liefhebber is sal jy verstaan.....

Nie baie foto's geneem nie, maar indien Johann (L -iewe?) 'n enkele vir my sal plaas as bewys dat ons regtig daar was, sal dit help

 

 

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 13/09/2024 - 10:29

... jy kan nog baie langer vertel. Ek hang aan jou lippe en sien al daardie plekke (Numbi, Pretoriuskop, Skukuza en Phabeni) in my kop. Lekker man, lekker!!

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus