Indien alles volgens plan verloop, vertrek ons op 4 Mei om vir 6 weke by ons ver kinders te gaan kuier. Ons vlugkaartjies is bespreek en betaal (daaroor 'n bietjie meer later) - met Turkish Airlines via Istanbul. Ons vertrou dat dit sal realiseer en dat Trompie en Netanyahu nie ook 'n aptyt vir Turkye (ook 'n Moslem-land) sal ontwikkel nie. Ons het reeds verskeie kere met Turkish Airlines gevlieg - 'n uitstekende redery - en verkies om met hulle te vlieg want ons kan direk uit Kaapstad tot Istanbul vlieg. In beide rigtings het ons 'n ideale "lay-over" tyd in Istanbul (ek verkies 2 - 3 uur). En die vlugte tussen Istanbul en Bucharest is beswaarlik 'n uur - ons vind dit gemaklik.
Ons e-visum aansoeke is afgelope Vrydag ingedien. Nou wag ons in spanning om te verneem wat die volgende stap is. Ons aansoeke is weer na die Roemeense konsulaat in Kaapstad verwys vir "validation". In die verlede het ons altyd ons visums by die Kaapse konsulaat bekom. Maar 'n kennis hier van Kleinmond het ons onlangs ingelig dat sy na die ambassade in Pretoria moes gaan vir haar visum. Dit het klaarblyklik verander sedert Roemenië deel geword het van Schengen. Ons vertrou dat hulle intussen dalk hulle stelsel verander het sodat dit nie nodig is om Pretoria toe te reis nie. Indien ons wel Pretoria toe moét gaan, sal ons poog om sommer 'n plesierreis daarvan te maak.
Ek sal hier terugvoering gee soos wat ons voorbereidings ontwikkel.
Wat 'n besonderse plek!
Ek het ook die 2 Leef jou Reis - episodes gekyk, maar geniet hierdie foto's en vertelling net soveel. Die lekker is dat mens enige tyd weer hier kan "terugkyk". Dit moet 'n ondervinding wees wat jou altyd sal bybly.
Waaroor ek wonder is of die sout op plekke "groei" soos stalagtiete en stalagmiete? Word die mure en meer nie beïnvloed deur vog nie - nà 400 (??) jaar sou mens al groot verandering verwag?
Rona ...
... ek nie stalagtiete -of miete opgelet nie. En klaarblyklik het vog nie veel (indien enigsins) 'n effek nie.
Maar dat dit wel 'n uitsonderlike ervaring was om Salina Turda te besoek is gewis. As dit nie vir Gerrie se Leef jou reis-program was nie, sou ek dit gemis het.
Ongelooflik.
Wat vir my moeilik is, is om die skaal van die uitgrawings te begryp. Daar waar die bootjies teen ń kaai staan, lyk dit of die plafon etlike verdiepings hoog is. Sodanig dat dit die ilusie van n skemeraand buiteruim uitsig is met vreemde wolk patrone..
In Dubai is daar onder dak landskappe en temas van historiese dorpies op vol skaal gebou onder n groot koepel waarvan die plafon geverf en belig word asof dit die werklikheid is. Die myn is egter die werklikheid wat jou stomslaan.
Regtig n puik ervaring Chris. Dankie vir die deel.
Papawers
Ons dorpenaars en stedelinge vind die kosmos langs die paaie in die Hoëveld gewoonlik baie mooi. Die boere is nie altyd so ingenome met kosmos in hulle lande nie - dit word beskou as 'n lastige onkruid.
In Roemenië is dit die geval met rooi papawers. Gedurende Mei/Junie is die velde oortrek met papawers. Dit is plek-plek prentjiemooi, maar ek glo dat die kleingraanboere is nie altyd in hulle skik daarmee is nie. Nietemin het ons dit geniet om die plate rooi gade te slaan.

Noorweë - Deel 1
Ek het die voorreg, tydens my werkende lewe, gehad om 'n hele klomp lande te besoek. Ongelukkig kan ek my ervaring beskryf as die wêreld volgereis maar niks gesien nie. Meestal het ek 'n spesifieke stad besoek vir 'n internasionale vergadering waartydens nie tyd was om ander aktiwiteite in te pas nie. Maar ek kon darem ook lande besoek waar ek wel die geleentheid gehad het om 'n bietjie rond te reis.
Die afgelope besoek was ons 10de aan Roemenië (ons kinders woon al 23 jaar daar) en ons kon al meeste dele van dié land besoek - en glo my, dit is 'n pragtige land. Maar danksy die groot ondersteuning wat hulle uit Noorweë kry, het ons met ons afgelope besoek die geleentheid gehad om vir 'n week in die suide van Noorweë te gaan kuier. En was dit nie 'n belewenis nie! Die klein gedeelte wat ons van hierdie land gesien het is ongetwyfeld een van die mooiste dele in die wêreld wat ek al beleef het.
Ek sal, soos die tyd my toelaat, meer van ons besoek deel. Kom ek maak net melding van ons vlug daarnatoe (en ook terug). Die enigste direkte vlugte tussen Bucharest en enige Noorweegse bestemming is met die Hongaarse ekonomiese redery, Wyz Air. Beide vlugte (heen en terug) het 3 uur geduur na en van Torp - suid van Oslo. Die heenvlug was 'n uiters beknopte 3 uur. Met die terugvlug het my dogter vir my 'n nooduitgang-sitplek bespreek teen 'n aansienlik hoër koste.
Ek wil nie oordele vel oor ander kulture of mense nie. Maar Roemenië het 'n groot sigeuner-bevolking. Daar is ongetwyfeld uitsonderings, maar hulle is (wat my aanbetref) snaakse mense. My dogter verwys na die Wyz Air vlugte as sigeunerbusse. 95%+ van die passasiers op dié vlugte is sigeunermans wat in Noorweë gaan werk. En hulle gedrag op die vlugte maak daarvan 'n 3 uur-lange ongemaklikheid. Maar genoeg daarvan gesê.
Ons het 20:00 in Torp geland en is 21:00 daar weg met 'n elektriese Volkswagen van een van ons kinders se Noorweegse samewerkers. Ons het uiteindelik 03:15 (vrekmoeg) by ons verblyf aangekom. Maar kom ek vertel volgende keer van hierdie reis, wat gevoel het of dit nie ophou nie.
Noorweë - Deel 2
Een van my kinders se Noorweegse vriende is 'n ware filantroop. Hy's 'n eiendoms-ontwikkelaar en besit verskeie sakegeboue o.a. hotelle en winkelsentrums. Hy en sy gesin het in 2024 SA saam met my kinders besoek en almal se kostes gedra. Hy het destyds gesê dat as ons weer Roemenië besoek en nie vir hom in Noorweë kom kuier nie, gaan hy ons baie kwalik neem.
Hy was op pad na Finland vanaf Torp lughawe en sou sy privaat voertuig vir ons daar gelos. Hy sou (het) met sy terugkeer uit Finland 'n bus na sy tuisdorp neem. Ons het met sy elektriese Volkswagen tot by sy tuisdorp gery. Daar het sy seun vir ons by 'n vulstasie gewag, waar ons voertuie geruil het. Vir die res van die week het ons met 'n Tesla gery - watter wonderlike voertuig.
Noorweë is (vir my) die land van tonnels. Die hoofweë, alhoewel steeds baie kronkelend, loop nie oor of om heuwels en berge nie. As dit te 'diep' is om 'n "cutting" te maak, word 'n tonnel gemaak - sommige kort, andere meer as 2 km. Maar ons tref dit toe ongelukkig om daar te wees tydens 'n tyd waartydens die tonnels tussen 22:00 en 06:00 gesluit is. Met die feit dat ons eers 21:00 vanaf Torp kon vertrek, het ons dit ongelukkig getref om van baie ompaaie gebruik te maak. My skoonseun het vooraf gereken dat ons na middernag by ons bestemming sou arriveer - wat uiteindelik 03:15 geword het.
En omdat ons filantroop-vriend nie tyd gehad het om sy VW se batterye vir ons vol te laai nie, was ons genoodsaak om dit langs die pad te doen. Ons kon dit by 'n MacDonalds doen waar ons sommer 'n laataand burger kon geniet. Daar het ek vir die eerste keer agtergekom hoe duur Noorweë vir ons Suid-Afrikaners is. Vier burger "meals" het ons kort duskant R900 gekos (teruggewerk vanaf Noorweegse Krone).
Word vervolg.
Dit raak al lekkerder
Moet asb geen detail spaar nie. Ek wag in spanning vir die res. Ook die bestemming waarheen julle op pad was - 2 jaar gelede was daar genoem van 'n uitnodiging na 'n hut/chalet/houthuis in 'n bos (of so iets). Ek bou al so lankal prentjies.....
Noorweë - Deel 3
Die rede vir die tonnels se sluiting was vir onderhoud aan die beligting en extractor fans daarin. Ten einde so min moontlik ongerief te veroorsaak, word meeste werk aan bestaande roetes in die nag gedoen - wat dit toe ongelukkig ongerieflik maak vir ons.
Ons was op pad na die klein dorpie Borhaug, waar 'n ander Noorweegse vriend (en medewerker in Roemenië) 'n klein vakansiewoonstel by 'n klein vissershawe besit. Teen die tyd toe ons daar aankom (03:15) het die dag al stadig begin breek. Die kinders het so gou moontlik gaan inkruip, maar ek en Ralie het eers koffie gedrink en ons nuwe uitsig geniet.

Ons verblyf was die linkerkantste een op die foto hieronder.

Noorweë - Deel 4
Ons het oor die volgende dae 'n klomp mooi beleef. Die Noorweegse natuurskoon in die omgewing waar ons was, is werklik skouspelagtig. Ek het ongelukkig meestal video clips geneem soos ons gery het. Ek kan dit op die forum laai via You Tube. Maar ek sukkel hier (by Eiland) om dit op You Tube gelaai te kry. Ek sukkel reeds met die foto's wat ek tot dusver geplaas het.
Ons het o.a. ons filantroop-vriend by sy huis in die klein dorpie, Reme, gaan besoek. Toevallig is sy van ook Reme (Christian Reme). Toe hy, saam met sy gesin en ons kinders, Suid-Afrika in 2024 besoek het, het ek en Ralie hulle in die wildtuin ontmoet. Ons het van die Kaap af gery om hulle bagasie te vervoer wat nie in die minibus kon pas nie. Ek het ook die vleis, vir saans se braai, saamgeneem en die braaiwerk behartig. Hy wou ons by sy huis met Noorweegse barbeque onthaal - nou wel nie steak of tjops nie. Maar nogtans was hul patties en allerhande tipes wors baie lekker.
Hulle het 'n pragtige uitsig vanaf hulle huis oor een van Noorweë se menigte fjords.


Hy het ons ook genooi om saam met hom op sy boot op die fjord, waaraan Reme grens, te gaan vaar. Daarvan vertel ek later.
Mens kan nou sien....
waar Noorweë se poskaart-foto's vandaan kom. Dankie dat jy die mooi met ons deel.
Noorweë - Deel 5
My kinders se Noorweegse vriende, in wie se woonstel ons gebly het, het ons op 'n daglange sightseeing trip geneem. Eerstens is ons hoog die berge ingeneem tot daar waar daar skaars iets gegroei het en nog kolle sneeu gelê het.


Daar van bo-af het ons met 'n baie steil en draaierige pad begin afsak tot seevlak - tot by 'n fjord wat meer as 40 km die binneland instrek. Die pad loop dood teen die verste punt van die fjord by 'n plek wat bekendstaan as Lysebotn. Hiervandaan kan jy 'n ferry neem (ek weet nie tot waar nie) indien jy nie weer die draaierige steiltes wil aandurf nie. Ek sluit 'n screenshot van Google Maps aan. Die dowwe grys strepie dui die draaierige pad aan. Dit is werklik asemrowend mooi daarlangs. Jy bly later net stil, want jy kan nie aanmekaar dieselfde oor en oor sê nie.

Oral is watervalle. Hier by Lysebotn is ook een van die grootste hidro-kragstasies in Noorweë. Al Noorweë se elektrisiteit is afkomstig van hidro-kragstasies. Hulle produseer sóveel elektrisiteit dat hulle ook na ander lande uitvoer.

Ons het by Lysebotn 'n lekker padkos-ete genuttig in 'n interessante hokkie. Dit is die fjord in die agtergrond - see, maar lyk soos 'n meer.

Noorweë -Slot
Ons het toe weer by Christian Reme in Reme gaan kuier vir die bootvaart-afspraak. Hy het 'n sogenaamde boathouse teen die fjord onder naby sy huis. Ek plaas net 'n paar foto's.
Christian en sy vrou Hilde (saam met wie ons al lekker kuiers in die wildtuin en by ons huis gehad het.

Ons vaar onder die Noorweegse vlag.



In die fjord is verskillende eilande met privaat persone se sogenaamde cabins - hulle vakansieplekke.
En nee Rona - ons het toe nie die geleentheid gehad om by Christian se cabin in die berge uit te kom. Dit is redelik ver noord en ons tyd was net eenvoudig te kort.
Iets wat ek baie amusant gevind het is die huise en geboue met groeiende gras op hul dakke - klaarblyklik vir isolasie.


Dit is dan die laaste insetsel oor ons Noorweë-ekskursie.
Jissie Chris...........
................dit was beslis 'n belewenis vir julle.
Baie dankie, veral vir die verduidelikende fotos.
Roemenië - ons laaste paar dae
Daar was nog presies 'n week oor sedert ons teruggekeer het uit Noorweë voordat ons moes terugvlieg Suid-Afrika toe. Sussie het gevoel dat ons darem een dag 'n bietjie in Bucharest gaan rondloop - net minder as 2 uur se ry van hulle huis af. Sy is nie gemaklik om in die stad te bestuur nie, en bowendien is parkering maar 'n probleem. Daarom parkeer sy by een van die groot Ikea winkels en dan neem ons die moltrein tot waar ons wil wees.

Dit is vir ons altyd lekker om in die "ou stad" met sy besonderse argitektuur rond te loop en ietsie by een van die vele straat-restaurante te eet.




Meer as dit.....
kan mens seker nie in dieselfde tyd doen nie. Julle was omtrent bedrywig tussen alles wat mooi en lekker is, en dít nog saam met julle kinders wat dit meer spesiaal maak. Ek het hierdie toer baie geniet, dankie!
*Daar is net nog eeeen foto waarvoor ek wag....![]()





Salina Turda - Deel 2
Dit kos maar vashou vir 'n bejaarde by daardie trappe af. (Jissie - is ek al 'n bejaarde? Seker maar). Dit is glad en die trappies is smal.
Daardie muur agter Ralie en my dogter op die foto hieronder is soliede rots-sout. Ek het nooit besef my kop is só kaal bo-op nie. Nee wragtig - ek is ongetwyfelf bejaard wat voorkoms aanbetref, maar gelukkig voel ek nog nie so nie.
Alles wat jy op die foto hieronder sien (vloer, mure en dak) is soliede rots-sout.
'n Verdere paar verdiepings af kom jy by 'n ondergrondse "meer" met versadigde sout-oplossing water. Hier kan jy 'n bootjie huur om te gaan roei. En weereens - alles wat jy daar rondom sien is soliede rots-sout.
Dit was voorwaar 'n belewenis wat elke sent werd was.