Indien alles volgens plan verloop, vertrek ons op 4 Mei om vir 6 weke by ons ver kinders te gaan kuier. Ons vlugkaartjies is bespreek en betaal (daaroor 'n bietjie meer later) - met Turkish Airlines via Istanbul. Ons vertrou dat dit sal realiseer en dat Trompie en Netanyahu nie ook 'n aptyt vir Turkye (ook 'n Moslem-land) sal ontwikkel nie. Ons het reeds verskeie kere met Turkish Airlines gevlieg - 'n uitstekende redery - en verkies om met hulle te vlieg want ons kan direk uit Kaapstad tot Istanbul vlieg. In beide rigtings het ons 'n ideale "lay-over" tyd in Istanbul (ek verkies 2 - 3 uur). En die vlugte tussen Istanbul en Bucharest is beswaarlik 'n uur - ons vind dit gemaklik.
Ons e-visum aansoeke is afgelope Vrydag ingedien. Nou wag ons in spanning om te verneem wat die volgende stap is. Ons aansoeke is weer na die Roemeense konsulaat in Kaapstad verwys vir "validation". In die verlede het ons altyd ons visums by die Kaapse konsulaat bekom. Maar 'n kennis hier van Kleinmond het ons onlangs ingelig dat sy na die ambassade in Pretoria moes gaan vir haar visum. Dit het klaarblyklik verander sedert Roemenië deel geword het van Schengen. Ons vertrou dat hulle intussen dalk hulle stelsel verander het sodat dit nie nodig is om Pretoria toe te reis nie. Indien ons wel Pretoria toe moét gaan, sal ons poog om sommer 'n plesierreis daarvan te maak.
Ek sal hier terugvoering gee soos wat ons voorbereidings ontwikkel.
Tyd vir huistoe gaan
Toe ons op 4 Mei vanaf Kaapstad vertrek het, het 16 Junie nog ver in die verskiet gelê. 6 Weke het lank geklink, maar dit is vinnig verby.
Ons het die laaste aand wat ons kon saamwees met 'n lekker ete langs die Donourivier deurgebring. 'n Bottel van Roemenië van se beste was aan die orde vir die laaste aand se rustige saamwees.

Ons het die volgende aand die lang reis huistoe vanaf Bucharest via Istanbul aangepak en op 17 Junie by die huis aangekom. Ons was skaars tuis toe ons weer die langpad Laeveld toe aanpak met die "Ou Lady".
Dit was 'n voorreg om vir 6 weke saam met ons kinders te kon kuier. Nou kuier ons vir net meer as 3 weke saam met ons ander kinders. Dit is tye wat mens moet koester, want jy weet nie of jy weer die geleenthede gaan kry nie.
Hiermee sluit ek dan die Roemenië 2026-gesprek af. Dankie aan diegene wat saamgelees en/of kommentaar gelewer het.





Jammer Rona
Dit het toe nie gebeur nie.