Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Goeie Hout,... Cobb - Tips en idees Rona du Plessis -31 minutes ago
Goeie hout... Cobb - Tips en idees Wessel Strydom -38 minutes ago
Geert Cobb - Tips en idees Goeie Hout -1 hour ago
Wyse besluit Len gaan weer Kruger Wildtuin… Geert -7 hours ago
"Smart move" Len gaan weer Kruger Wildtuin… Wessel Strydom -9 hours ago
Wessel se vraag : Len gaan weer Kruger Wildtuin… Len Loader -9 hours ago

Duitswes is lekker, Duitswes is goed

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Hierdie ou liedjie van Randall Wicomb maal maar pal in my kop wanneer ek aan Namibië dink. Maar Duitswes het totaal en al onder my vel ingekruip. Daarom sien ek met kinderlike opgewondenheid uit na ons kort toertjie wat (DV) volgende Vrydag begin - skaars 5 maande sedert ons besoek aan Lüderitz/Kolmanskop ens. Weereens gaan ons nie sleep nie - die ou tydjie is te kort vir die lang afstande.

Hierdie keer is dit 'n bietjie verder noord - tot so ver as Hentiesbaai. Ons eerste skof neem ons tot Kroon Lodge by Kamieskroon. Ek sien uit om dié plek te sien, na Koos Mol se positiewe resensie hieroor. Saterdag steek ons die grens oor tot by Keetmanshoop en Sondag tot by Arebbusch Lodge by Windhoek - waar ons my seun en sy gesin ontmoet vir die res van die toer.

Vandaar is dit vir 4 aande Hentiesbaai toe - vir 'n volle drie dae se hengel. Kom ons hoop dit is eerder "visvang". 

Dan 2 aande in Swakopmund waar ek nog nooit was nie. Opgevolg met twee aande op 'n gasteplaas tussen Solitaire en Sesriem. Die plan is om Sossusvlei, Dooievlei en Sesriem Canyon te besoek van hieraf.

Dan begin ons terugkeer met een aand se oorbly in Bethanie en nog 'n aand by Noordoewer. My seun druk die volgende dag deur huistoe (Grabouw), maar ek en Ralie slaap nog een aandjie in Clanwilliam.

Ek is reeds besig om die inpaklys agtermekaar te kry, want eerskomende Maandag is nog 'n volle werksdag, die Hilux gaan Dinsdag in vir sy 70 000 km diens en Woensdag nóg 'n volle werksdag. Donderdag is dit inpak en Vrydagoggend roep die langpad.

Ek sal bietjie verslag doen na ons teruggekeer het, want dit sal waarskynlik maar 'n bietjie lol met data in Duitswes. Ons koop maar gewoonlik 'n Duitswes-simkaart sodra ons oor die grens is en verder is ons maar aangewese op plekke wat gratis WiFi beskikbaar het.

Hopelik kom ons darem met 'n paar van hierdie's terug.

HB

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 09:18

daardie Nissan persentasie maak seer

Ek dink die Duitswesters ken hulle voertuie.laugh 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 09:39

Ons is Vrydag 23 Maart met 'n ietswat hartseer gevoel weg op Hentiesbaai, want slegs 3 dae se hengel is maar kort. Maar ek dink die vrouens was dankbaar om nie meer só vroeg op te staan en heeldag langs die viswaters deur te bring nie. Ons het Swakopmund toe "verhuis" vir die volgende twee aande, maar darem nog 'n (onsuksesvolle) hengelpoging ingepas by Myl 14 - deesdae bekend as Windpomp 14. Hier is 'n lekker kampeerterrein en restaurant/kroeg. Heelwat staanplekke het hul eie geriewe en nog is in aanbou. En jy ry teerpad al die pad vanuit SA tot hier. Die soutpad tussen Swakopmund en Hentiesbaai is bykans iets van die verlede. Die grootste gedeelte is nou 'n lekker teerpad.

Ons het by Alte Brücke tuisgegaan in Swakopmund. Watter puik plek met netjiese selfsorg-eenhede, 'n restaurant op die perseel, goeie sekuriteit en 'n lekker brekfis ingesluit by jou tarief (vir diegene in selfsorg-eenhede). Ons het 'n twee-slaapkamer eenheid gehad met 'n "sleeper couch" in die woonkamer vir die twee kleingoed.

AB

En 'n lekker braai-area by jou agterdeur.

AB

Alte Brücke beskik oor een van die netjieste kampeerterreine waaraan jy kan dink. Elke staanplek het sy eie geriewe.

AB

AB

AB

Alte Brücke se selfsorg-verblyf is nogals duur. Maar vir 6 persone (met 'n goeie buffet-ontbyt ingesluit) is R2 580 per nag darem seker ook nie te rof nie.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 11:17

Die twee kleingoed is deur hul ouers belowe dat hulle die bekende Duin 7 by Walvisbaai kan gaan uitklim en ook "quad bikes" in die woestyn kan gaan ry. Ons is van vroeg Saterdagoggend af aangejaag om by al hierdie "lekker" dinge uit te kom. Die dag het begin met 'n besoek aan Swakopmund se akwarium. Weliswaar nie gelykstaande aan Kaapstrad se Two Oceans akwarium nie, maar die toegangsfooi is ook nie vergelykbaar nie. Volwassenes N$10, kinders N$5 en pensioenarisse ook N$5. M.a.w. N$40 vir ons almal saam. Nogal 'n 'bargain' vir wat hulle alles aanbied.

SM

En wat is 'n besoek aan Swakopmund sonder 'n foto van die bekende "jetty" met sy restaurant op die verste punt.

SM

Duin 7 was volgende aan die beurt. Ek het dit net een kyk gegee en besluit ek sal nie eens probeer nie. Die res het almal met groot opgewondenheid die klimtog aangepak. Ralie vra nogal die oggend vir my of ons toe skoene moet aantrek. My raad was dat dit nie wys sou wees in die los sand nie. Sodoende word die duin toe met kaalvoete aangepak. Sy't seker so 10% van die duin aangedurf en met rooi verbrande voete by my aangekom. Ek moes water op haar voete gooi om af te koel. Die sand brand blykbaar aller-verskrikliks. My seun en kleindogter het sowat halfpad gevorder voordat die brandende sand hulle ook laat omdraai het. Maar my skoondogter en kleinseun het Duin 7 oorwin.

Duin 7

Walvisbaai se "waterfront" was volgende aan die beurt. 'n Oulike plekkie om 'n lekker goue koue te gaan drink of iets te gaan eet.

WB

WB

En toe lê die "quad bikes" in die duine voor. Ek en Ralie het gedink ons kan saam op een fiets ry, maar aikôna. Die twee kleingoed kon wel saam met pa en ma onderskeidelik ry. Nogal 'n belewenis!! Dit was my eerste keer op 'n "quad".

Hoedat die gids nie verdwaal in die woestyn nie is net 'n wonderwerk. Want dit is net sand en duine rondom jou sover jy kyk. Eers word jy toegerus met 'n veiligheidshelm. Lyk ek nie soos 'n professionele "quad"-ryer nie?

WB

Ons gids, Herman, het eers kortliks 'n verduideliking gegee van moets en moenies.

WB

En toe's ons die duine in.

WB

WB

Watter belewenis!! Swakop en Walvisbaai is 'n toeriste-paradys. Daar was soveel dinge wat ons nog kon doen, maar ongelukkig het die tyd ons ingehaal. Ons laaste aandjie langs die Namibiese kus het aangebreek en 'n laaste braai het voorgelê terwyl die vars Weskus-seereuk jou sintuie betower.

0
Port Elizabeth
Profile picture for user Frieps

Frieps

Mon, 01/04/2019 - 11:22

Dankie Chris.   Dit is lekker om oor alles te lees.   Ek geniet altyd om te hoor oor selfsorg-verblyf.  Kyk, ek is lief vir kamp maar ek sal dit nie te moeilik vind om dit te verruil vir selfsorg nie.  Let wel, nie B & B's en sulke goed nie, selfsorg waar jy jou eie ding kan doen, as jy wil.   Dit raak ongelukkig net bietjie duur vir 'n lang vakansie.

Geluk met al die mooi visse wat julle gevang het!   Ek hoop julle het lekker geëet daaraan terwyl dit vars was.  Wat is nou lekkerder as dit??

Dit lyk na 'n wonderlike trip.   Lekker ook, so saam met die kinders.yes

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 12:38

Ons tydjie langs die Namibiese kus het uitgeloop. Nou't een van die dinge op my emmerskop-lysie voorgelê. Dit het beteken die dat daar dieper in die Namibwoestyn ingegaan moes word. En vir die volgende paar dae sou ons nie weer 'n teerpad sien nie.

Ek het twee jaar gelede saam met my seun (na ons Hentiesbaai se hengel-ekskursie) deur die woestyn teruggekeer SA toe. Maar hierdie keer sou ons vir twee aande in die woestyn oornag. Na die lekker gematigde weer langs die kus, was die skielike hitte weer 'n aanpassing. 

Deur die draaierige Kuisebpas tot by ons stilhouplek in die Gaubpas was 'n erg stowwerige rit. Maar die mooi wat jy in die woestyn geniet is op 'n wyse onbeskryflik.

WB

Mooi tonele begroet jou oral. Die volgende lyk amper soos sneeu op die berg - in die woestyn! Maar dit is net 'n treffende verskil in kleur van die hoër-liggende dele.

NW

Ons het, soos elke goeie toeris, by die welbekende Solitaire gestop. Maar na my ervaring twee jaar tevore, het ons nie weer die "beroemde" apfelstrudel van Solitaire probeer nie. My vrou maak 'n appeltert wat duisend keer lekkerder as Solitaire s'n is. Ons het liewer 'n roomys geëet terwyl ons gekyk het hoe die oorsese toeriste aan hulle droë apfelstrudel sit en wurg. Nietemin bly Solitaire amper 'n spreekwoordelike oase in die Namib.

NW

Ons bestemming was Weltevrede Gasteplaas, halfpad tussen Solitaire en Sesriem. Maar o mense! Praat van 'n sleg pad! Maar ons verblyfplek was 'n ware oase. Weltevrede beskik oor verskeie kamers en bedien aandete en ontbyt in hul lapa. Daar is een selfsorg-eenheid wat ons vir die volgende twee aande gehuur het. Dit was basies, maar lekker. Vir my kleinseun was dit die lekkerste blyplek van die hele vakansie, want dit was 'n boomryke plaaswerf met hoenders, skape en 'n lekker swembad.

Hierdie was ons selfsorg-eenheid.

WGP

Die volgende foto is van die area waar aandete en ontbyt bedien word. Daar staan yskaste vol drank en koeldrank waar jy jouself kan help - en slegs aanteken wat jy gebruik het. Binne is 'n kleinerige versamelvoëlnes waarin die voëljies wraggies nog broei - ten spyte van menslike aktiwiteite.

WGP

Soos reeds genoem, is dit 'n lekker boomryke plaaswerf. Jy kan amper nie glo jy is in die middel van die woestyn nie.

WGP

WGP

Ons akkomodasiekoste was R2 380 per nag (vir 6 persone, maar die eenheid kan 8 mense akkommodeer). Weltevrede beskik ook oor 'n kampeerterrein wat nogal druk besoek was tydens ons verblyf.

0
Centurion
Profile picture for user Voortrekker

Voortrekker

Mon, 01/04/2019 - 13:27

Dankie Chris, jy hou weereens nie terug met goeie vertel en foto's nie.   Dit word baie waardeer en geniet! yes

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 14:49

Ek hoop julle het lekker geëet daaraan terwyl dit vars was.  

Freda - die gedagte was om die eerste aand in Henties vis te braai. Daarom wat ons so haastig was om sommer daardie eerste middag by die viswaters te kom. Maar, soos reeds gesê hierbo, daar was toe nie 'n vis wat lus was om daardie aand gebraai te word nie.

Dit is presies soos jy sê - 'n vars, vars vissie is darem maar wraggies lekker. Maar ons het maar op die ou-end besluit ons bring maar die vis huistoe. Hier kry hulle ook nie kans om oud te word nie. Juis Vrydagaand 'n galjoen gebraai. 

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 01/04/2019 - 15:10

Dankie Chris

Alte Brücke beskik oor een van die netjieste kampeerterreine waaraan jy kan dink. Elke staanplek het sy eie geriewe.

Ons wil ook nog met die karavaan deur gaan, maar ....  crying

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 15:16

Ons was die oggend baie rustig op Weltevrede. Toe ek 'n geselsie met die gasvrou aanknoop en o.a. noem dat ons beplan om Sossusvlei toe te gaan, sê sy vir my: "Julle moes nou-al oppad terug gewees het. Die son gaan julle vrekbrand". Sy noem toe ook dat ons eerder Dooievlei toe moet stap (sowat 1.2 km se stap - in die sand), want dit is mooier as Sossusvlei.

Met ons traagheid kom ons toe eers net voor die middag by Sossusvlei aan. Ons het nie kans gesien om Dooievlei toe te stap (in los sand) in 38⁰ C nie. Maar die baie hoë duine en gemsbokke wat onder die kameeldorings skadu soek, was tog die moeite werd. Dit was die een plek wat ek op my wenslys gehad het. Maar dit is een van daardie plekke (vir my altans) wat as jy eenkeer daar was, het jy dit gesien. Dalk in die winter, maar waaragtig nie weer in die warm maande nie. En die stuk pad tot by Sesriem ontneem jou die lus om dit ooit weer te ry.

SV

SV

SV

Die volgende stopplek was Sesriem Canyon, wat sy naam klaarblyklik gekry het van die feit dat vroeë trekkers glo ses rieme aanmekaar moes vasmaak om water uit die canyon te kon skep vir hulle diere. Niemand het dit ooit teenoor my gesê nie, maar ek was om een of ander rede onder die indruk dat daar altyd water onder in die canyon was - wat nie die geval is nie.

Ek en my kleinseun is daar af (met baie kreune en steune deur oupa) om die canyon bietjie te gaan verken. Maar o wee, dit was seker die naaste wat ek nog aan doodgaan a.g.v. hitte was. Ek het so 'n paar foto's daar geneem.

SC

SC

Ons kon nie wag om terug te kom op Weltevrede nie - die koue swembad en 'n goue koue het gelok. Sesriem Canyon besoek jy ook nie tydens die warm maande nie. Maar ek was daar en kon dit ook op my emmerskop-lysie afmerk.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/04/2019 - 16:02

Hentiesbaai was weliswaar ons draaipunt, maar tot op hierdie stadium het ons nog rustig gekuier en plekke en dinge verken wat ons graag wou. Maar die dag het aangebreek dat ons met erns moes begin dink om stelselmatig die pad al verder suid te neem. Die vakansietjie was so te sê op 'n einde. Ons wou aanvanklik 'n ander roete ry, wat klaarblyklik nogal  skilderagtige natuurtonele bied. Maar dit sou beteken ons moes weer die skrikwekkende stuk gruispad tot Sesriem ry. En ons gasvrou het gereken die res van die pad is ook maar sleg, want dit is die roete wat die meeste van die toermaatskappye ry. Ons het toe maar die minder sleg pad terug tot Solitaire gery en weer op die C14 geklim. Glo my, 'n teerpad kon nie beter ry nie. Die eerste 40 km neem jou deur sprokiesmooie berge en klowe totdat jy uiteindelik weer vlaktewêreld kry wat jou na Maltahöhe neem.

Nou wil ek myself eers onderbreek. Die Namibiërs dink darem niks van afstande nie. Die dorpe is ver uitmekaar. Ons gasvrou by Weltevrede se seun en skoondogter woon saam met hulle op die plaas. Hulle twee seuntjies (10 en 9 jaar oud onderskeidelik) is in Stampriet in 'n privaatskool. Elke Sondag neem hul ouers hul tot op Maltahöhe (200 km vanaf die plaas). Daarvandaan ry hulle met 'n skoolbus na Stampriet (177 km verder). Vrydae word die rit weer omgekeer. Hul 6-jarige dogter sluit volgende jaar by die twee boeties aan. Ralie kry hulle só jammer want sy weet wat dit is om vanaf Graad 1 in 'n koshuis te wees. Maar haar pa-hulle se plaas was maar (in die ou taal) 45 myl van Prins Albert af.

Maltahöhe is maar 'n bietjie-dorp. Maar ek het sommer 'n verlange gekry na ou Jan Spies (bobaas-storieverteller), want dit was sy plek. Verder suid met die C14 het ons by Helmeringhausen (selfs nog 'n bietjie meer bietjie-dorp) oos gedraai in die rigting van Bethanie, ons voorlaaste oornagplek in Namibië. Ook maar effens-dorp, maar die fraaiste hotelletjie wat ons ook deur Lekkeslaap opgespoor het. Dit was warm toe ons daar aankom, maar danksy lugreëling het ons 'n aangename aand daar gehad.

BE

BE

BE

Hulle beskik ook oor 4 kampeerplekke. Ons kon ons bakkies (met ons vrieskaste) daar parkeer ten einde 220V by die kaste te kry.

BE

Ons akkomodasie het R2 900 vir die aand beloop - dalk 'n bietjie duur vir wat gebied was. Ons het aandete en ontbyt daar genuttig. En dit was na my mening 'n mate van n "rip-off". Aandete (teen R180 per persoon - ook die kinders) het bestaan uit 2 hoenderboudjies, 2 'baby potatoes', 'n porsie rys en 'n porsie pampoen - met 'n gebakte nagereg. Ontbyt was 2 gebakte eiers, twee repies strepiespek, 'n Weense worsie en roosterbrood (ook 'n klein muffin) teen R120 per persoon. Ongelukkig was die naaste Wimpy 'n bietjie ver, want ek eet teen helfte van die prys daar. Maar nou ja, ons was met vakansie en het maar oë toegeknyp.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 01/04/2019 - 17:25

.................Chris  -  lekker saam getoer.  Ons was presies 50 jaar gelede in 1969 in Walvisbaai.  Ons het met ons karavaantjie langs die openbare swembad gekamp en was die enigste karavaan in die twee weke wat ons daar was ! Dus, Walvisbaai Waterfront is 'n aanduiding daarvan dat die wêreld beslis nie stil gestaan het nie !

Nogmaals, baie dankie.

0
Port Elizabeth
Profile picture for user Frieps

Frieps

Mon, 01/04/2019 - 17:26

Alles baie interessant, Chris, baie dankie.   Ek het dit al voorheen gesê en sê dit weer = jy moes in die toeristebedryf gewees het.

Ja, daai pryse vir die kos klink bietjie na uitbuiting.  Betaal of ly honger.laugh

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Tue, 02/04/2019 - 09:28

Ons moes verder suid ry. Die huis was nog ver. Van Bethanie af was dit teerpad tot by die B4 (Keetmanshoop - Lüderitz) en nog 'n verdere 75 km teerpad tot by die C12-afdraai. My seun-hulle het vooruit gery, want hulle wou graag na die welbekende Seeheim Hotel gaan kyk (wat onder herstel was nadat die dak blykbaar afgebrand het). Hulle het ook nog na die Visrivier Canyon se uitkykpunt by Hobas gery. Ek en Ralie het laasgenoemde 'n "skip" gegee aangesien ons in Oktober daar gaan loer het.

Ons het eerder koffie gaan drink by die Canyon Farm Yard Coffee Shop - letterlik op die vlaktes van die C12. Maar watter verrassing. Meisie (eienares) het ons vriendelik ingewag met: "En waar kom julle vandaan?" Dit is een van daardie "moet stilhou" plekke.

CFY

CFY

CFY

CFY

Hiervandaan is ons vort met die C12 tot by die B1-aansluiting by Grünau (darem sonder 'n papwiel hierdie keer - anders as in Oktober). En verder tot by Noordoewer vir ons laaste aand in Duitswes by Orange River Lodge. Maar o gatta, dis 'n warm plek.

Ons het die vorige twee jaar ook hier oorgebly, oppad terug vanaf ons Henties-hengeltogte. Dit bied basiese verblyf aan in gerieflike lugverkoelde kamers. Die restaurant bedien gewoonlik lekker etes. Hulle espetadas is baie gewild, maar hierdie keer was dit nie beskikbaar nie omdat hul gewoonlik hul kruisskyf (wat hiervoor gebruik word) in Springbok aankoop. Maar a.g.v. die verbod op ingevoerde beesvleis vanuit Suid-Afrika (bek-en-klouseer) was ons aangewese op T-been (wat nog beskikbaar was - en vreklekker was), of burgers of lasagne (waarvoor die vrouens en kinders geval het na vele aande van braai). Hulle beskik ook oor 'n klein swembad om die bykans ondraaglike hitte te help oorwin.

ORL

ORL

My en Ralie se dubbelkamer het R500 gekos en my seun moes R850 vir hulle familiekamer opdok.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus