Hierdie ou liedjie van Randall Wicomb maal maar pal in my kop wanneer ek aan Namibië dink. Maar Duitswes het totaal en al onder my vel ingekruip. Daarom sien ek met kinderlike opgewondenheid uit na ons kort toertjie wat (DV) volgende Vrydag begin - skaars 5 maande sedert ons besoek aan Lüderitz/Kolmanskop ens. Weereens gaan ons nie sleep nie - die ou tydjie is te kort vir die lang afstande.
Hierdie keer is dit 'n bietjie verder noord - tot so ver as Hentiesbaai. Ons eerste skof neem ons tot Kroon Lodge by Kamieskroon. Ek sien uit om dié plek te sien, na Koos Mol se positiewe resensie hieroor. Saterdag steek ons die grens oor tot by Keetmanshoop en Sondag tot by Arebbusch Lodge by Windhoek - waar ons my seun en sy gesin ontmoet vir die res van die toer.
Vandaar is dit vir 4 aande Hentiesbaai toe - vir 'n volle drie dae se hengel. Kom ons hoop dit is eerder "visvang".
Dan 2 aande in Swakopmund waar ek nog nooit was nie. Opgevolg met twee aande op 'n gasteplaas tussen Solitaire en Sesriem. Die plan is om Sossusvlei, Dooievlei en Sesriem Canyon te besoek van hieraf.
Dan begin ons terugkeer met een aand se oorbly in Bethanie en nog 'n aand by Noordoewer. My seun druk die volgende dag deur huistoe (Grabouw), maar ek en Ralie slaap nog een aandjie in Clanwilliam.
Ek is reeds besig om die inpaklys agtermekaar te kry, want eerskomende Maandag is nog 'n volle werksdag, die Hilux gaan Dinsdag in vir sy 70 000 km diens en Woensdag nóg 'n volle werksdag. Donderdag is dit inpak en Vrydagoggend roep die langpad.
Ek sal bietjie verslag doen na ons teruggekeer het, want dit sal waarskynlik maar 'n bietjie lol met data in Duitswes. Ons koop maar gewoonlik 'n Duitswes-simkaart sodra ons oor die grens is en verder is ons maar aangewese op plekke wat gratis WiFi beskikbaar het.
Hopelik kom ons darem met 'n paar van hierdie's terug.

Chris ..........
...... ek moes nou eers 'n lap kry om die kweil van my mondhoeke af te vee................ dis nou 'n behoorlike lekkerkry lees, hierdie storie van jou, ek kry sommer weer lekker soos ek hier sit, kan nie wag om my wa te hak nie.
Dit klink asof julle 'n fantastiese tyd gehad het. Dis darem lekker as jy jou pensioen so kan geniet en al die wonderlike plekke besoek. Jy het my nou behoorlik in eerste rat vir ons Namibië toer wat voorlê, ek kan hopelik daarna met jou saam gesels oor al die mooi plekke.
Dis goed om te hoor jy stem saam met my kommentaar oor Kroon Lodge, dis regtig 'n plekkie wat die manne maar op hul kamplyste kan sit.
Dankie vir jou terugvoer oor Arebbusch en Alte Brucke, dis kampe waar ons ook beplan om oor te staan. Ek hoop jy het die quad bike op Swakop maar aan die loop gehou want dit is ook een van die vele plesiere wat ons gaan aandurf, oor duin 7 sal ek maar besluit as ek aan die voet van die duin staan, wil nie nou grootbek wees en dan daar rooi in die gesig my woorde moet sluk nie. Na aanleiding van julle ondervinding lyk dit vir my dat ek maar my swembroek ook moet gereed hou.
Alhoewel ek nie jou entoesiasme oor visvang kan deel nie (seker my verlies) gaan ons tog by Henties ‘n draai maak. Sossusvlei en Sesriem is ook op ons lys, ons sal op Maltehöhe oorstaan en vandaar die plekke besoek en die area verken.
Ons trek vandag oor drie weke hier uit Hartenbos weg en sover is ons beplanning vir tenminste 48 nagte in Namibië en 11 nagte in Botswana. Al die stories wat ek al by die baie "wat weet" manne gekry het laat mens behoorlik met lus uitsien daarna.
Dankie nogmaals vir jou lekker storie, jy’t my lus nou goed aangewakker.
Groete aan Ralie.
Koos ...
... toe ek na jou voorgenome toerplan geluister het toe jy en Irene hier kom koffie drink het, het jy my jaloers gehad oor jou lang kuier in Namibië en Botswana. Ek ken nie Botswana nie, maar jy kan nie verkeerd gaan met Namibië nie. Laasgenoemde is 'n puik toerisme-bestemming.
Ek het ook al uitgebreide in Namibië beplan vir die wintermaande, selfs besprekings gedoen. Maar as ek my kom kry, eindig ek maar weer op Oom Paul se plaas op. Eendag as ek groot is, wil ek ook nog lank gaan kuier in Namibië.
Ek en my ou Tzaneen-vriend (wat Oktober in Lüderitz/Kolmanskop gaan kuier het), het tentatief bespreek dat ons volgende jaar se Mrt/Apr skoolvakansie die noorde wil besoek. Dit sal egter ook maar kort wees aangesien hulle gebonde is aan skoolvakansies (sy vrou bedryf 'n privaat kleuterskool).
Julle moet dit geniet my maat.
Groete aan Irene.
Donderdag 28 Maart & Vrydag 29 Maart
Die jongklomp in die toergeselskap het vooraf besluit dat hulle ry van Noordoewer huistoe (Grabouw). Die outoppie en die ouvrou het egter besluit só 'n skof is te lank. Ons het dus slegs tot Clanwilliam gery.
Gewoonlik ry ons vroegoggend sodat ons net voor skofruiltyd by die grens is. Dan is die skof wat uitval nie meer lus vir werk nie en gee jou nie 'n klomp PT nie. Hierdie keer was ons egter rustig en was eers na skofruiltyd by die grens. Aan die Namibiese kant het hulle nie eens vrae gevra nie, behalwe dat hul ons kwitansie vir die padbelasting wou sien. Maar aan die SA-kant loop ons, ons toe vas in 'n kliphardegat "kortmannetjie-sindroom" polisiemannetjie (nadat ons alle paspoort- en voertuig-inklarings aktiwiteite afgehandel het).
Ons sorg maar altyd dat ons binne die wet optree en gevolglik neem ons invoerpermitte vir ons vis uit. Nog nooit is ons daarvoor gevra nie, maar ons wil nie ons vis op die grens gekonfiskeer hê nie. Ek moes my bakkie oopmaak en toe hy sien ek het 'n vrieskas agterin, wou hy weet wat is daarin. Toe ek antwoord dat ek vis in die vrieskas het, wou hy weet of ek oor 'n invoerpermit beskik (wat ek toe wys). Maar volgens hom moes dit gestempel wees deur die amptenaar van DAFF. Ek word toe teruggestuur na die DAFF-amptenaar vir die nodige stempel (wat toe onnodig blyk te wees). Toe die DAFF-amptenaar self vir "kortmannetjie" kom sê dit is nie nodig vir 'n stempel nie, wou hy my die res van die bakkie laat uitpak. Ek het vir hom gesê hy's welkom om dit te doen, solank hy dit weer presies dieselfde terugpak - ek kan nie die swaar goed uitlaai en inlaai nie. Na 'n lang skeptiese kyk in my rigting het hy gesê ons kan maar ry. Klein str.nt.
Ons het in Clanwilliam by Heidi's Gastehuis oorgebly - weereens deur Lekkeslaap opgespoor. Al wat ek kan sê is "PUIK". As enigeen ooit oorweeg om in daardie omgewing in selfsorg-akkommodasie oor te bly, hoef jy nie verder te soek nie.
Vrydagoggend het ons die laaste skof huistoe aangepak. Sonder enige teenspoed het ons tuisgekom na net meer as 4 100 km. Ek kan maar net afsluit met die titel van hierdie draad: Duitswes is lekker, Duitswes is goed.
Soos wat ek hier tik, is dit (DV) nog 14 dae voordat ons die langpad Laeveld toe aandurf. 6 nagte in Karoo Nasionale Park en 3 aande in Almega lê onder andere tussen 17 & 30 April vir ons voor, voordat ons op laasgenoemde datum Oom Paul se plaas by Phalaborwa binne-ry. En 46 aande op die plaas later, lê 3 maande by Eiland Spa (staanplek A 90) vir ons voor.
Daarom stem ek saam met dit wat die ou op Hentiesbaai gesê het: "As ek geweet het dit is só lekker om afgetree te wees, het ek nooit begin werk nie."
Groete tot 'n volgende keer.
Surette se broer het vir ons…
Surette se broer het vir ons tentatief plek bespreek by Alte Brücke vir Desember 2020.
Ons sal dan 3 karavane wees wat deur gaan.
Kom ons hoop als loop reg sonder 'n toy. ![]()
Dis 'n baie bakgat kampeerplek Willem
Surette se broer het vir ons tentatief plek bespreek by Alte Brücke vir Desember 2020.
Sonder 'n Toy? Nee man!
Nee wat Chris jy Ford moet…
Nee wat Chris jy Ford moet nog baie km's opsit.
Haar broer (Hakaf) is egter 'n toy man.
![]()
Chris / Willem ...........
Chris, julle moet die trek noorde toe geniet. Stuur groete daar op oom Paul se plaas, ons is weer so kort op julle hakke daar vanaf 22 Augustus tot so entjie in Oktober in.
Ek moet sê Namibië en oom Paul se plaas in een jaar is 'n lekker "bargain".
Veilig sleep.
Willem, ek sal mooi fotos neem op Alte Brucke. As daar iets is wat ek vir jou kan gaan loer moet jy net laat weet.
As daar iets is wat ek vir…
As daar iets is wat ek vir jou kan gaan loer moet jy net laat weet.
Dankie Koos, sal so maak.
Ons gaan September skoolvakansie Letaba toe vir 'n week.
Dit is ou nie Hentiesbaai…
Dit is ou nie Hentiesbaai vis nie, maar Port Elizabeth baai.
My skoonseun is baie lief vir hengel in die see, hulle bly in Gamtoos, en ek wil sommer so paar van sy vangste hier op laai vir die liefhebbers.





Wow, dit lyk heerlik - baie…
Wow, dit lyk heerlik - baie dankie vir die moeite om dit hier te kom deel!!