Môre vriende,
Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?
Hier is die fb skakel.
Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Ek het al vir jul vertel ek is besig met die boek waarvoor julle gevra het.Gister het ek die buiteblad vir jul gewys en ek plaas hom maar weer vir die wat hom gemis het.Ek sal jul sê sodra hy beskikbaar is.
Vandag weeg ons in en kom die liggewig te staan teenoor die swaargewig.
Dames en here,in die linkerhoek het ons in wit en blou die huidige liggewig wêreld kampion Charlie Chappies.
In die regterhoek in rooi het ons die swaargewig Callie Tank.
Wie gaan wegstap as oorwinnaar.
Die kamp toerusting staan uitgepak langs die karavaan.Alles is uitgehaal.
Al wat nog los in hom is, is die matrasse.Vir n oomblik gaan dit deur my gedagtes om hul ook uit te haal en te vervang met opblaas matrasse.Maar ek besef ook dat ek dit nou wragties nie te ver moet druk met die vrou nie.
Nou gaan sit ons op twee kampstoele.Sy met n boekie en pen en ek met ietsie.
Nou hier moet n ou baie takties en oordeelkundig te werk gaan.
Die kinders gaan tent opslaan,ons een kan bly.Ons vat net die canopy.Stoorgoed word eenkant toe gesit.Nou lê daar n tent met al sy pale en penne.Aan die ander kant,net die canopy,twee sykante,karavaan sykant seiltjie,drie pale en twintig pennetjies met die hamer.
Tafels,die grote bly, kamp tafeltjie en n kombuistafel wat aan die karavaan vaskom gaan saam.Twee skinkbordtafeltjies gaan ook saam.
Een windskerm, die ander een bly.
Daar is pragtige braaiers,die los braaier bly tuis.Gasbottel en ontbyt skottelbraai gaan saam.
Een grondseil gaan saam,ander bly.
So sit ek en die vrou die nodigstes en uitsif.
Julle sal verbaas wees hoeveel goed met die name,Miskien,Dalk,Netnou (gister se plasing)lê nou op die hoop wat bly.
Nou pak ek wat saamgaan in,Ann skryf op waar bêre ek wat.Neuskas met sy lys goed.L/V - Links voor, R/V, Middel voor, Eiland bed.So kry alles hul plek.
Kyk dat die balans reg is,genoeg neusgewig.
Nou kom die kruideniers en klerasie.Die ys/vrieskas word gepak.
Met die wa gepak,draai ek die stutte op,sit n domkrag onder die hak en lig hom op.Sit n badkamerskaal onder die wielietjie en laat sak stadig,90kg,toe weet ek nou is hy reg.
Dames en here, die wenner isssss... Charlie Chappies.
Ou Charlie het ligvoets om die swaargewig gedans en sy houe ingekry.
Ai, ons gaan darem lekker trek met die wa Saterdag.
Ek dink baie van julle kan ook soos ou Tannie Stienie oor die hekkie hang en sê "Ek weet nie hoekom ek al die jare so moes suffer nie,en after all het ons nie n groter caravan nodig nie"
Vreugde en vrede vir julle.

Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Maak ek n ou koffietjie,nogal so n ou Cappucchinotjie.Soek die ander koffie,die vrou moes hul seker al in die karavaan gaan inpak het.
Dit is nogal iets wat so n bietjie onmin tussen my en die vrou kan veroorssaak.Goed wat nie is waar hul moet wees nie.
Soektogte en ek is nie pelle nie.Ons bediende is geneig om dinge op vreemde plekke te bêre.
Altans, die vrou sê Anna moes dit seker daar gebêre het.Nou, Anna en Ann klink vir my baie naby aan mekaar, julle moet dit nou net nie vir haar loop vertel nie.Hou dit maar tussen ons.Ek wil nou nie ons hele vakansie hier kom opdinges nie.
Soek ek gisteraand die Eno's, weg.Kry hul nêrens nie.Nie in die medisynekassie,waar hul eintlik hoort of op enige plek nie.
Hulle is weg,soos in weg.Nou brom ek,as die goed net weer alles op hul plek gebêre kan word.Naderhand help die vrou soek.
Ek word wit om die kraag,die sooibrand sit naderhand hier vlak in die keel.
Onwillekeurig dink ek aan die liedjie "Dit borrel, dit borrel,dit borrel in my"
En toe,toe dink Eskom dit goed om beurtkrag in te stel en af is die krag.
Nou is ek eers ontsteld.Dan soek jy in die donker eers jou selfoon,met die gekry,begin jy n lig soek met n selfoon torchie.As hul ook net tog op hul plek gebêre kon word in die kombuis.
Nou kook ek oor, sommer van woede ook.
Uit radeloosheid omtrent n halwe kilogram koeksoda en engelse sout gedrink.
En toe begin ek n oplossing soek vir Eskom se probleem,en ek het hom gekry.Nogal so in die donker.
Hulle sê mos,jy moet uit die boks uit dink.In n boks is dit donker,dit moet seker wees waar dit vandaan kom.
So, jy moet in die donker dink aan n oplossing, jy mag net nie daaraan werk nie want hul sê "donker werk is konkel werk"
Nou wonder ek,as Eskom die krag afsit,sit hul hulle eie krag ook af? Of is dit net ons wat moet spaar.
O ja,waar is ons nou weer,by my oplossing.As hul een vragie op alle werksaansoeke bysit en ook alle werknemers die vraag vra gaan hul die probleem kan oplos.Die wat Nee sê word afgedank,die wat aansoek doen en Nee sê,mis die werk.
Net n Ja of n Nee.
" Sal jy kan lig werp op die onderwerp"
Dan sou ek my Eno's gekry het.
O, en met die wat ek vanoggend die gewone koffie soek en hul nie kry nie, kry ek toe die Cappuccino in die kruidenierskas.En raai waar staan die Eno's ook daar.
Wonder ek nou so by myself of dit nie ook die bêreplek vir my bloeddrukpille moet word nie.
Dan kan ek sommer n ou bloeddrukpilletjie drink terwyl hy opgejaag is.
Eendag by die munisipaliteit,waar die kliniek ook was,in n lang ry gestaan.
Naderhand lekker opgewerk weens die spoed waarteen alles gebeur.Kom by n pilaar waar die kliniek n poster vasgeplak het.In groot vet letters staan daar "HOW TO KEEP YOUR BLOOD PRESSURE DOWN" met n lys van moets en moenies.
Hoekom werk hul jou bloeddruk eers op en vertel jou dan hoe om hom af te bring.
Nee wat,elke ding het n plek.
Hoe sou die dag begin het as my linker en regteroor laasnag plekke geruil het en vanoggend sit hul verkeerd en boonop onderstebo aan my kop.
Ek sou my in n koma ingeskrik het voor die spieël.
Vreugde en vrede vir julle.
Ek sien Willem en Jors is so…
Ek sien Willem en Jors is so gretig oor vandag se storie dat hulle dit sommer dubbel geplaas het. Die 2 manne is weer kookwater so voor die naweek ![]()
![]()
![]()
gretig oor vandag se storie
Ek het gewonder hoekom is hy so lank op die tablet, sien nou op die PC wat aangaan ![]()
Dankie Lapskag ![]()
Ek sien Willem en Jors is so gretig oor vandag se storie dat hulle dit sommer dubbel geplaas het. Die 2 manne is weer kookwater so voor die naweek
Groot plesier en darem lees…
Groot plesier en darem lees ons hier en geniet ou Jors se stories. ![]()
Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Vandag gaan ek omtrent net hallo sê.
Vanoggend is dit net die krag ontkoppel,die hoekstutte optel,die garagedeur laat opkom en dan is ons in die pad af see toe.
Slaap vanaand by Gariepdam oor en môre verder tot by Keurboomsrivier.
Ek en die vrou moet net vinnig op die skaal klim om te sien of ons gewig reg is,dan is ons in die pad. 😁😁
Met die wat ek jul so vertel het van goed inweeg wat saamgaan,dit was maar net n bietjie been trek.
Nou toe vrou laat ons ry, sê ek. Vra sy,het jy vuurhoutjies vir vanaand se braai.
Sjoe,amper vergeet ek die vuurhoutjies.Ek vat die boksie en skut hul in n splastiek bakkie uit.
Wat maak jy nou wil die vrou weet terwyl ek twee vuurhoutjie stokkies terugsit in die boksie en hom in my sak druk.
Ek gaan nie n vol boks saamry nie, gewig vrou gewig,sê ek.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Hier is gister sin wat ek gemis het.
Môre vriende,
Nou ja,gister gery vanaf Gariepdam en ons is veilig hier by Forever Keurboomsrivier.Baie dankie vir almal se boodskappe dat ons veilig moet ry.
Ek is bly ons het lig gelaai.Heerlik gesleep teen 100km per uur.Net om te sleep bly maar lekker.En moenie vergeet om so elke 200km te stop nie.
Dit laat my nou terugdink aan iemand wat in Klerksdorp gebly het.
Hy het altyd vertel,as hy op vakansie ry,het hy sodra hy by Orkney oor die Vaalrivier gery het,by die piekniekspot gestop.
Daar haal hy dan sy braaiertjie uit sy karavaan en braai n vleisie.En dit na omtrent 30 kilometer.
Jul kan maar gerus by Gariep Forever gaan kamp.Ablusies is opgradeer en is pragtig.Marmer bladens die toetie.Silwerskoon.
Die ander fototjie van die siwwe is my ou siffies wat ek saamry soos wat ons kamp.
Zoom maar bietjie in en bekyk hul mooi.
Met hul kom sif ek dan vir Kampvuurstories.
Dus delf ek terwyl ons op verlof is.
So, julle moet hierdie spasie dophou, hier gaan n paar lekker kampstories uitkom.
Ag hoe pragtig roep die Knysnaloerie nou hier bokant die karavaan.
Vreugde en vrede vir julle.




Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
n Lieflike oggend hier by Keurboom Forever Resort.
Julle moet maar verskoon,hier by die see het ek so n geneigdheid om laat aan die gang te kom.
Die oord is buite seisoen baie gewild by pensionarisse.
Ek geniet dit om so te kyk hoe verskillend ouens kamp.Kom hier gister n ou in,so n paar stands aan,is sy staanplek.
Sien hy en die vrou sukkel met hul wa om hom staan gemaak te kry, die ouens regoor hom sit op hul stoepe en kyk.
Sê ek vir die seun en die Prof,kom laat ons die man gaan help.
Dit blyk toe die omie en tannie het so n ruk terug met hul motorfiets geval.Hul is nog besig om te herstel.
Nou moet ek sê,die Prof met sy laboratorium handjies is n raakvatter, met sy raakvat en die seun se krag en ek wat eintlik net daar is in n raadgewende hoedanigheid,het ons die karavaan spoedig op sy plek gehad.
Hul sê toe, baie dankie, hul sal nou verder kan regkom.
...... Nou eers strand toe gekom hier neffens die Beacon Island Hotel,man dit is nou vir jou lekker.Min mense, seker so 100 mense hier met hul sunscreen lyfies.
Dan word die room so ingevryf net om weer afgeswem te word.Van voor af word jy dan weer ge-olie.
Jy kry mos so n honger kol op jou maag na so swem en dan besef jy daai plastiekpap wat jy netnou ge-eet het is uitgeswem.
Nou moet ons terug karavaan toe en n ordentlike brunch gaan maak.
Daar is maar net nie iets lekkerder as n karavaan brunch nie.Nee wat Beacon Island sê ontbyt kom nie naby nie.
Vreugde en vrede vir julle.




Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Ek gesels nog steeds hier met julle vanaf die Keurbooms Forever Resort hier neffens Plettenbergbaai,
Wat n rustige plek om te kom ontlaai.Lieflike rivierfront vakansieoord.
Almal is so vriendelik.Ons kampeerders is mos so,of moet ek eerder se die meeste van ons is so.
So skuins voor ons karavaan is daar n put put baan.Ek en die seun gaan mekaar vandag daar tackle,hy speel nou op n 5 voorgee en het gister hier op Plet gaan speel, seker maar om vir ons put put voor te berei.
Maar dit is nie wat ek jul eintlik wil vertel nie.Gisteraand sit ons so by ons Kampvuur en dinge vertel.
Vertel ons seun se skoonouers,die Prof en sy vrou ons van die slag van die kampeerders langs hul daar in die Kaap.
Blykbaar het hul kampbure,n man en vrou,die dag vroeg vroeg begin kuier.
Op n stadium hoor die Prof net die man sê, "Vrou, het jy nou al die vleis in die marinade gesit".Sy sê, "Ja,lankal".
"Jy weet ek hou nie van taai vleis nie" sê hy.
So het dit laatmiddag geraak, toe buurman n bonfire begin maak.
Maar ek moet jul eers vertel hoe die braaiers lyk en werk,dit is nou sodat jul mooi kan verstaan.
Die braaiers is van daai met die enkelpyp so in sement gegiet.Bo is n skottelskaar met n pyp bo op hom vas gesweis.Aan die pyp hang dan die braai sif wat jy met n pennetjie hoog of laer kan verstel volgens die hitte wat jy verlang.
Jy kan ook sy sif sywaarts uitswaai van die vuur af sou die vlamme opvlam onder die vleis.
Hy vertel hul braai was seker so tien meter van buurman se braai af en dat hul omtrent gelyk begin braai het.
Buurman se vleis is op, maar kort kort gooi hul ietsie in.Vlam sy vuur op, draai hy hom af van die kole af.
Prof en Debbie het al klaar ge-eet toe is hul nog besig met die vyf liter wyn.
Hul kom later terug van die badkamer af.Daai twee sit nog daar,lekker gewyn.
Hul was al in die bed toe hoor hul die vrou vra, wanneer gaan die vleis nou gaar wees.
O my magties sê die man, die sif is nie bokant die kole nie.Hulle was toe gaar voor die vleis.
Hul vertel hul het uitgebars van die lag daar waar hul in die bed gelê het.
Wonder wat het die bure gedink.
Vreugde en vrede vir julle.
Jislaaik Willem, mis ek nou…
Jislaaik Willem, mis ek nou daai strand by die Beacon Isle. My vrou se familie kom van daai wereld, haar Oom was die onderhoof gewees van die Wittedrift skool (Wittedrift is so 'n regte klein plaas gehuggie net as jy die pad afdraai op die Prins Alfred pas, links oorkant die Bitou rivier. Oorle' skoonpa het grootgeword in Laredo Suid daar naby, vroulief se oupas en oumas le ook daar begrawe. Ons het op 'n stadium heelwat bosvark in die omgewing gaan jag. Dink dis nou tyd dat ons weer bietjie tyd daar spandeer en sommer die ou familie grafte ook besoek.
Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Wat n lieflike oggend is dit hier by Keerboomsrivier Forever Resort buite Plettenbergbaai.
Vir die ouens wat nou nog nie weet waar dit is nie,dit is by die see.
Gister het die ouens hier ingetrek,lyk my die oumense moes eers weer sorg dat die kleinkinders terug kom op die skoolbanke.
Die mense praat deesdae van n bevolkingsontploffing,as ek al die pensionarisse so kyk lyk dit vir my of dit al 60-80 jaar gelede plaasgevind het.Die kamp is nou goed vol met so hier en daar nog oop plekke.
Vertel ek gisteraand so om die kampvuur van die keer wat ons baie jare gelede by Saulspoortdam buite Bethlehem gaan visvang het.
So ent van ons af kamp n ou,ook van Bethlehem,by name Jarra, en sy seun Kiepie.
Hul het so klein hengelbootjie waarmee hul hul lyne invat in die dam.
Dié het so n klein motortjie op,van die wat jy so met die een hand bestuur asook die versneller beheer.
Jarra is n motorwerktuigkundige en hy vertel toe hy het die bootjie gekoop by iemand,maar die ou enjintjie was buite werking.
Hy en Kiepie het hom toe weer reggemaak,en na die einste dam gebring om uit te toets.
Nou beduie Jarra vir my waar het daar nog mense gekamp so langs die oewer af en waar hul die bootjie te water gelaat het.
Hy beduie hoe hul hom pluk aan die startertou, prrr..... prrr.... prrr en hoe hy naderhand vat.Ry hul so entjie dan vrek hy.Dan spook Jarra met sy tools weer aan die ou enjintjie.
Nou is dit weer prrrr..... prrrr van voor af.So het hy hom toe naderhand mooi ingestel gekry en hy en Kiepie vat hom vir n spin.
Hy beduie hy gaan ver in die dam in en draai regs om al langs die oewer af te vaar.
Maar hy beduie dat dit ver van die oewer af was sodat hy nou nie die kampeerders en hengelaars steur met die prrrrrr.... motortjie nie.
Naderhand sien hy n ou met n roeibootjie links van hulle,nog dieper as hy in die middel van die dam.Nou is die canoe links van Jarra en die oewer regs van hulle.
Nou,hy vertel dat die ouens op die oewer toe verskriklik begin waai en groet,hy en Kiepie groet terug maar hul bly groet asof hy hul dan nie raak sien nie, dan waai hy maar weer vir hulle.
Toe sal hy sien die ou op die roeibootjie het van rigting verander en is nou besig om hom en Kiepie te dice.Hy vertel dat die enjintjie nou lekker warm was en hy draai die petrol oop maar hierdie ou bly met sulke lang hale by.
Twee ouens met hul visstokke dice ook al met die oewer af.Ou Jarre besef toe hier is moeilikheid en bring toe die bootjie tot stilstand.
Hy vertel toe die man met die canoe by hul kom was sy twee groottone potblou.Hy was besig om hul lyne in te vat toe Jarra tussen hom en sy maats deur gery het, die ou enjintjie het toe die lyne gehak en hierdie man het nie gedice nie,hy is saam gesleep met die twee vislyn wat so om sy tone gedraai was om hul te gaan drop.
Hy vertel die ouens was goed de hel in vir hom en Kiepie.
Kyk, as jy n visserman kwaad wil maak moet jy met sy lyne peuter of oor hul gooi met jou lyne.
Hul raak omgekrap.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Net nog so n een en n ander oor die oord.
Behalwe dat dit baie mooi is in die kloof langs die rivier,word die oord goed in stand gehou.
Gister n lepeltjie gaan gooi hier in die rivier en gehoop op n ou vissie, maar nou ja.Sal maar vanoggend kyk of ek nie n ou vars vissie kan koop by iemand wat meer luck as ek gehad het nie.
Daar moes ek nou so halflyf in die water staan. Terug by die kamp n lekker shower gevat.Naderhand het die vrou gesê kyk hoe skurf is jou bene.En toe,toe word ek ge-cream.Elke keer vang ek haar met daai een.Kan miskien nie vis vang nie maar ek weet waaraan die vrou byt.
Laat my dink aan die storie wat hul vertel van die man en vrou wat al n paar jare getroud was.
Een dag sit hul so voor hul karavaan en sê sy vir hom,"Jy koop nooit meer vir my blomme,of reël romanties aande soos voor ons getroud was nie"
Hy sê, "Het jy al ooit n visserman gesien wat vir n vis wat hy klaar gevang het nog steeds aas uitsit"
Nou mans, jul moenie so wees met jul vrouens nie.Koester hulle, dit is nou maar eenmaal net so dat hul nie daarsonder kan gaan nie.
As jy dit nie doen nie gaan jy soos die Kaap se klonge sê "Hard gebl..... word"
Vreugde en vrede vir julle.

Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Vanoggend groet ek julle hier vanuit n papnat Keurboomsrivier Forever Resort se kampterrein.
Soos ek al gesê het is dit n baie gewilde oord vir lankstaaners en pensionarisse.
Sien baie swaeltjie kampeerders in die oord. Ek dink ons moet almal hier herdoop na "Die Paddavissies" toe.Julle moes seker al gesien het hoe spartel n paddavissie in vlak water.
So lyk dit vanoggend hier soos wat die ouens badkamer toe plas.
Dan is dit ook te interessant om die ouens dop te hou.Ouer mense het maar so n stadiger stappie aan hulle, sit nou reën by dan kry jy so n vinnege waggel stappie by.Lyk kompleet soos haastig pikkewyntjies.
Nou moet jul ook in gedagte hou dat die ouens maar geknyp het tot op die laaste.Dit is nou om nie te veel in die reën badkamer toe te gaan nie.
Dan kry jy n reënaangejaagte oumens, met noodgedwonge volspoed wat gly gly die waterplasse aandurf.
n Vol blaas en lopende water of die klank van reën op n sambreel oppad badkamer toe laat die ouens se turbo's inskop.
Dit is nogal iets om te sien.Van hier waar ons staan kan ons die ouens sien wat seker n goeie 100 meter of wat het om af te lê.
Teen volspoed nader hul daai smal badkamerdeurtjie en dan hoop jy vir hul part daar is vir hul n openingkie binne in die badkamers.
Gister het ons maar eerder in die reën wynplase besoek en die snoesigheid van hul proe areas opgesoek.
Gelukkig is hier baie om te doen in Plettenbergbaai area.
Vreugde en vrede vir julle.


Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Vir jul Saterdag vertel hoe lekker dit hier in Plet reën.Om dinge interessant te maak het ons gister wind bygekry saam met die reën.
Nou vat jy dieselfde wiegel waggel pikkewyntjies van nou die dag,vir die mannetjies druk jy n hamer in die hand en die ou wyfietjies hang aan die tente om hul staande te hou.
Die mans kap nog tentpenne by en trek die toue nou ekstra styf.Ekstra stormbande en nette kom by.
Die tannies hang soos vlermuise aan die tente.Party tannies het gewig aan hul kant en anker daai tent ordentlik vas,ander tannies wat ligter is van postuur lyk weer kompleet soos die ouens op die strand wat kite surfing doen en hul hang met tye met hul voete in die lug.
Trek die man daaikant weer n tou styf om weer die vrou af te bring aarde toe.
Sodra die tent weer mooi staan gryp die mans grawe.Nou word daar nog slote by gegrou om die water weg te probeer hou van die karafaan en tente af.
Gister ry ons so bietjie Knysna toe.Die vrouens wil gaan shop.Hierdie reënweer kos ons nou geld.Baadjies is nou nie meer warm genoeg nie.Ander se baadjies is ook nie dig genoeg nie.
Sien ek die wit karretjie met die gehekelde kombersie oor sy spaarwiel.Ai,die vrouens met hul planne,weet nie of daai een gewerk het nie.
Kry ook hierdie pragtige boom met sy blomme daar op n plek.n Vriendelike engelse oom en tannie beduie toe vir ons dit is n "Sausage tree" (Kygelia Africana) en hoe die blomme dan n peul vorm met sy sade.Nogal n inheemse boom wat eintlik meer noorde toe voorkom.
Terug in die kamp stap ons op n stadium toe die reën lig deur die kamp en ons sien iemand kamp met n Sherpa Tiny karavaantjie.
As jy nou wil lig sleep is dit die ding om te hê.Vertel ek vir die Prof en Debbie van die slag wat ons by Dwarskersbos gekamp het en ons bure oorkant ons het so een.
In die middae het die oom n slapie gaan vat.Kon hy nou vir jou snork die man.Sit ons een middag voor ons tent toe hy vir die vrou sê hy gaan n bietjie skuinslê.
Nie lank nie toe saag hy balke.
Nou laat ek jul vertel, daai man kon.Die een oomblik is dit n Sherpa karavaan met plooie soos n rosyntjie,as hy sy asem intrek.As hy uitblaas is dit n Sensation karavaan.So het hy daai karavaantjie seker vir n goeie uur op en af geblaas.
Gisteraand was ons net mooi klaar gebraai toe reën dit weer.Ons sit in die tent en eet en ons praat so van plooie.
Ek het mos nie plooie nie en almal wil weet hoe kry ek dit reg.Nou vertel ek vir die Prof-hulle van hierdie mediese prosedure wat ek jare gelede laat doen het wat plooie teenwerk.Die vrouens hang nou aan my lippe.
n Pêl van my het dit sommer een aand by n braai vir my gedoen nadat ek genoeg narkose gevat het.
Al wat jy nodig het is n skerp Joseph Roger knipmes en drie bullybeef opwennertjies.
Nou plant jy op jou voorkop,net bokant die haarlyn een in en agter elke oor net agter die haarlyn nog een.Die opwengedeelte met die gleufie word aan die vel geheg.
Sou jy dan sien die velle raak losserig,gee jy elkeen net n halwe draai.
Die Prof wat in die mediese veld is sê ek het hom waaragtig nou iets geleer.
Ja, sê ek, n mens is nooit te oud om iets te leer nie.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Gister het die reën n bietjie gelig hier by Plet en kon ons n bietjie gaan stap by Stormsrivier.Dit bly darem n pragtige plek.
Wat nogal vir my opmerklik was,is hoe leeg die woonwapark was.Vyf kampeerders vir die hele oord.Kyk,die wind kan n ou daar roer.
Die fototjie is daar geneem in 1989 terwyl ons daar vakansie gehou het.
Kom ons toe laatmiddag weer hier terug by Keurbooms Forever Resort.Die plek verbaas my meer en meer.
Hy is nou tot oorlopens toe vol.Gisteroggend nog oop plekke gehad,vanoggend vol.En dit vir buite seisoen.Voor die ouens vra wat dit kos.Jy sal moet skakel, hul het seisoen,lankstaan asook tariewe vir waar jy staan, voor of agter.Jy kan ook gaan kyk op www.foreverplettenberg. co.za
Hang,ek sal die ouens moet beginne geld vra vir my aanbevelings.
Lê nog heerlik in die bed en luister hoe die kamp ontwaak met die ligte reëntjie wat op die karavaan se dak val.
Jy hoor hoe die zips van die tente een vir een oopgetrek word.
Later sal die geure van koffie en vroeë ontbyt in die kamp rondhang.
Daar word dikwels op kampgroepe gevra van lankstaan kampeerders.As jy nou inligting soek daaroor is hierdie die plek om te kom rondvra.
Nou die dag met n ou gepraat wat dit al vir 17 jaar doen.Hul vertel dat hul vir ten minste 6 maande kamp elke jaar.
Ons bure,Pieter en Martie van Wyk van Pretoria doen dit al vier jaar.Hy sê hul is maksimum net een maand in n jaar by die huis,dan ry hul weer.
Hulle het bv.nou hiernatoe gekom van Club Amigo's van Ventersdorp af na n twee maande kamp daar.Hulle staan so twee maande dan skuif hulle.
Skuins voor hul wa het hul n kombuistent,as jy in hom instap voel jy sommer lus om kos te maak.Toegerus met twee Snappy Chef's en n oondjie.
By hul kamp kan jy tot warm water tap by hul opwas.
Ai, hoe mooi klink die Albatrosse se geroep so by die rivier.
Wag,laat ek vir die vrou gaan koffie maak.
Julle moet n mooi dag hê.
Vreugde en vrede vir julle.

Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Dit reën nog steeds sag hier in Keurbooms Forever Resort.
Hierdie week het ons maar elke dag uitgery en droër kolle gaan opsoek in die omgewing.
Gelukkig is hier soveel dinge om te doen op die tuinroete.
Ongelukkig of miskien gelukkig is een daarvan eet.Kyk ons Suid Afrikaners is lief daarvoor om lekker te eet.
Kamp en kosmaak loop mos so hand aan hand.Die een kan nie sonder die ander nie.Hulle is soos Mpho en Mphojanie,onlosmaaklik deel van mekaar.
Braai het ons gebraai hierdie twee weke,potbrood en potjiekos,die is gemaak.Alles wat lekker was het uit ons kamp kombuise gekom.
Maar nou ja,alles moet ook tot n einde kom.Vandag begin ons opbreek en hopelik kan ons dit droog doen,dit is nou as die weer ons gaan toelaat.
Ek het so n effense sinus en keelseer ontwikkel hierdie week.
Nou, die vrou van my het die vermoë om presies te pinpoint waar ek dit opgedoen het.Dit is nooit die dag wat ons natgereën het toe ons padstalletjies besoek het nie.
Ook nie toe ons natgereën het op n staproete nie,en koud en warm gekry het nie.
Nog minder was dit die dag wat ons in winkels rondgehang het,by die een warm winkel in en uit in die koue net om in n volgende warm winkel in te loop.
Nee,sal sy sê.Jy het dit gekry toe jy die laatmiddag gaan visvang het.Daai wind het jou siek gemaak.Boonop was dit koelerig toe dit donker raak,daai koelerige aandlug het jou siek gemaak.
Ou broer,en durf jy nou stry of kapsie maak teen haar stelling.Jy gaan tweede kom.
Nee wat, bly eerder maar net stil en drink jou vitamien brousel en suig jou keelseerpilletjie.Môre skyn die son weer.
Vreugde en vrede vir julle.

Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Nou ja, half hartseer om te moet afskeid neem van ons kampmaters wat ons hier by Plettenberg Forever Resort gemaak het.
Was lekker om almal te ontmoet.
Gistermiddag stap Manie en Elize Groenewald hier by ons verby en hy sê,Jors, ek moet jou die storie vertel,kom maak n draai by ons karavaan.
Stap ek toe later na hul staanplek.
Manie en Elize het kamp,sommer vroeg in hul huwelik ingebring.Om die waarheid te sê hul het op hul honeymoon begin kamp.
Sy ouers het hul karavaan en n trek voertuig gegee vir die honeymoon en haar ouers het die brandstof en die oord betaal.
Hul trou in Oktober 1975.Al probleem is Manie kan verlof kry maar nie Elize nie.
Hul skuif hul honeymoon na Februarie 1976.
Manie vertel dat hy nog al die jare verskriklik lief was vir musiek.Daai jare het hy n draagbare radio met n bandspeler gehad wat met ses flitsbatterye gewerk het.
Hierdie radio met die verskillende bandjies met hul gunsteling musiek gaan ook saam op honeymoon geneem word.
So breek die tyd aan en hul vertrek uit Pretoria na Port Edward.Elize se pa wat in die polisie was het vir hul by die polisie kamp daar plek bespreek.
Daar aangekom die middag,begin hierdie jong getroudes die tente opslaan.
Omdat dit buite seisoen is, merk hul dadelik dat dit net n klomp ou mense is.
Sommer dadelik wil manie die radio aan die gang kry vir musiek.Om de dood wil die radio nie speel nie.Hy draai die volume vol oop.Skakel die aan af skakelaar af en aan, af en aan,maar verniet.
Hulle sukkel maar n bietjie met die opslaan en teen nege uur roep hul halt,hul sal môre verder gaan.
Doodmoeg is hul later in die bed.
Hier na middernag skrik hul wakker met musiek wat oorverdowend hard speel in die kamp met die klomp oumense.
Hy kan sy ore nie glo nie.Dat hierdie pensionarisse nou waaragtig in die middel van die nag al begin party hou.
Hul trek die kussings oor hul ore,nog steeds hoor hy die liedjie een na die ander speel.
Gelukkig het die oumense goeie musieksmaak.Hy ken al die liedjies.
Dinge raak vir hom net te snaaks,die liedjies is in dieselfde volgorde as sy musiek wat hy op n bandjie het.
Hy staan op.Die bure rondom hul sê ligte brand almal.Op een of ander manier het sy wireless aan die speel gekom.
Met die radio wat op full blast aan is skakel hy hom af.Een na die ander het die oumense ook tot ruste gekom en ligte afgesit.
Die volgende oggend het hul met rooi gesigte rondom hul omverskoning gevra.
Daai oumense het seker gedink hulle is in vir n ding met hierdie honeymoon couple.
Ek het Manie se storie uitgeluister maar ek weet darem nie so mooi nie, wat het hulle met hul harde musiek probeer wegsteek die nag op honeymoon.(Grap net Manie) 😁😁
Vreugde en vrede vir julle.
(Totsiens Plet, vanaand slaap ons oor op Gariep)
Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Baie kere lees ek op groepe dat ouens kla dat karavaan sleep,niks lekker vir hulle is nie.
Vir my is dit lekker.Ons het vandag amper 700km gesleep vanaf Plet tot op Gariep.Ek stem saam dat dit eintlik te ver is,maar die kinders werk weer Maandag en wil net Sondag,hul voete vind.
Ons verkies om net so +_400km op n dag te doen.
Dit was nog steeds lekker.Baie gestop met ons ingenieur wat wou,of speel,of nagaan of ons nog mooi gehak is.
Vir n sestien maande oue "camper in training" kan die pad lank raak in n babastoeltjie.
Dit het ons dus so amper nege ure geneem om dit af te lê.
Man,laat ek nou nie doekies omdraai nie,ek was lekker moeg,veral na n heerlike whiskey nadat ons die karavaan staan gemaak het.
Die weer was baie dreigend voor Colesberg,toe besluit ons om eerder te gaan uiteet, eerder as om te braai.
Ek kan met die grootste vrymoedigheid vir Tjailatyd Restaurant aanbeveel net voor jy indraai na Gariep Forever Resort.Die heerlikste kosse teen die billikste pryse.
Ek meen, n 500 gram T-been teen R150,n Large Pizza teen R99 met topping wat hom so vullend maak dat ek net die helfte kon eet.Twee stuurse pizzas,van jul weet wie,kan dit nie eers regkry om my vol te maak nie.
Gelukkig het ons nou genoeg padkos vir vandag.
Agter op Pieter en Martie van Wyk (ons kampbure die vakansie) se karavaan staan Tjailatyd, nou wonder ek of die restaurant iets met hul bates te doen het.
Dit was vir my lekker om jul saam met my op vakansie te neem.Baie dankie vir almal se likes en reaksie met boodskappies.
Kampeerders is en bly maar net in n ander klas.
Ek dink ek moet ou Rob,die Prof vra om vir my n ontleding te doen van jul almal se DNA. Ek is oortuig by kampeerders moet daar êrens n koneksie wees.
DNA is sy kos,hy sal die ropes bymekaar kan bring.
Vandag die laaste been van ons rit vanaf Gariep na Bethlehem, 435km.Dan is dit die groot afpak en skoonmaak van ons kamp toerusting.Selfs dit is vir my lekker want dit doen ek met afwagting, en beplanning vir n volgende kamp.
Vreugde en vrede vir jul almal.



Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Psalm147:3
Hy genees die gebrokenis van hart en verbind hul wonde.
Gebed
Onse Vader wat in die Hemel is.Ons dank U in hierdie oggend vir gespaarde lewens.
Ek kom in hierdie oggend en ek kom vra vir U om met elkeen op hierdie groep te wees, hulle families en geliefdes.
Wil U O Heer elkeen vashou in U Vaderhand,U ken elkeen se omstandighede.Vader,gee dat hul sal besef dat U hul elke dag dra.
Hou ons vas in ons blydskap maar omvou ons ook met U liefde,in elkeen se nood.
Dankie dat ons dit mag kom vra.
Vergewe ons ons sondes,en help ons om meer en meer soos Jesus kinders te leef.
Dankie dat U n God van Liefde is.
Amen.
Gaan dan nou en leef uit dankbaarheid.Mag jul elkeen Sy genade, Vreugde en vrede ervaar in hierdie dag.





Jors se Kampstories op fb ...
Môre vriende,
Gooi daar vir ons n koffietjie in.Daarsy,nou kan ons mos lekker gesels.
Gister gesê ons gaan n bietjie oor sleepgewig gesels as ons gaan kamp.
Dit is gewoonlik net ek en die vrou wat gaan kamp.Daar is ook darem ander wat saamgaan met hul eie waens.
So as ek nou gaan praat van ons,dan praat ek nou van een voertuig en een karavaan.
Saterdag ry ons Plet, eintlik Keurboomsrivier toe.En ons is nou besig om alles in plek te kry.
Bagasie ou broer,dit bly maar n lastige ding.Dit is en bly maar net ekstra gewig.
Ons het gisteraand vriende oor gehad vir ete.Hul besit n vliegtuig en praat ons so,ons moet gaan vlieg. Wat weeg jy nou vra hy en ek sê, jong n stewige spiermassa gewig van so 127 kg,dit terwyl ek my maag styf ingetrek hou.
Hy lag en sê, ons sal maar vroeg vroeg moet vlieg terwyl die lug nog dun is.
Ja,gewig en dik lug is moeilikheid.n Ander pêl van my is lief om te sê "Daai kite gaan nie vlieg nie"
Nou dit is hoe ek voel oor gewig in ons trek kombinasie.Hoe minder en ligter,hoe beter.
Ek het al genoeg,te veel goed saam gery.Ek het al vir julle vertel van die slag wat ons kampeertoerusting op n road trip gevat het vir drie duisende kilometer.
Maar kom ons praat nou oor die siftingsproses.Wat bly, en wat ry.
Dit is ek en Ann.Dan ry Miskien,Dalk,Ingeval en Netnou ook saam op vakansie.Hulle is ook mal oor kamp.
Miskien - Hy is n ander kalant.Miskien kry ons gaste,nou word eetgery vir twee sommer vir ses,twee stoele word ses stoele ens.
Dalk is net so n uitgeslape medekampeerder.Dalk is ons lus vir sushi.Daai stelletjie gaan saam asook die rys en bymiddels.Dalk kry ons lekker vars prawns, n swaarboompot kom by. So kan Dalk n hele klompie goed bysit.
Ingeval is ook uitgeslape.Hy tackle jou onverhoeds.Ingeval die weer sleg is. Nou kom daar reënjasse,sambrele en nog n hangkas se klere by.
Netnou - Dit is nou die ou waarvoor jy die versigtigste moet wees.Netnou surprise die ander kinders ons met n naweek kuier.Vinnig vinnig laai jy n ekstra tent, ekstra komberse en nog wat by.
Met die jare het ek besef ek moet iets doen.Doen dit nou al n ruk en dit werk.
Ek gebruik n skaal.Alles word uitgesit en dan begin ons weeg.
Môre weeg ons in. (Tong in die kies)
Vreugde en vrede vir julle.