Ek hoor gister op RSG dat hulle van 1 April af gaan wegdoen met Monitor, en dit klink my Praat Saam wat daarop volg ook. Daar kom ‘n nuwe “leefstyl” program van 07:00 tot 09:00 op weeks oggende met ander aanbieders as wat tans op Monitor uitsaai. Daar is ook ander aanbieders op naweek programme. Dit klink asof hulle die employment equity probeer aanspreek. Ek wil my nie daaroor uitspreek nie, ek luister nie na RSG om politieke redes nie.
Ek is egter bietjie hartseer dat met Monitor weggedoen word. Dit is ‘n goeie bron van plaaslike en internasionale nuus en onderwerpe. Spektrum word darem behou, en ek luister eintlik meer daarna as na Monitor vanwee oggende wat besig is met regmaak vir werk en skool en die rit na beide.
Maar kom ons behou ‘n oop gemoed en kyk wat ‘n “leefstyl” program is. Ek is nie een vir sulke catch phrases nie. Dis soos “sport nutsvoertuig”. Watter persentasie van eienaars gebruik die voertuie vir sport? Dis eintlik maar ‘n stasiewa op steroïde wat genoeg ruimte vir ‘n gesin en al hulle negosie het. Dis ook hoe ver die nut strek. As jy iets anders wil oplaai of vervoer moet jy ‘n bakkie koop (as jy dit kan bekostig).




