Ons praat op ‘n ander gesprekslyn taamlik oor Berg-en-Dal in die Krugerwildtuin. Ek het al agtergekom dat hierdie kamp, soos seker enige ander kamp in die wildtuin, sy aanhangers het en dat daar ook mense is wat minder opgewonde raak oor hierdie kamp – wat ookal hul rede.
My persoonlike eerste kennismaking met Berg-en-Dal was in die winter-skoolvakansie van 1989 toe ons in een van die groter chalets gebly het omdat my oorlede ou moeder ook saam was. Dit was toe nog ‘n relatief nuwe kamp, wat eers in Februarie 1984 geopen is. Ek weet nie wie kan onthou dat dit ‘n gejaag om tyd was om die kamp te open nadat die kombuiskompleks in Januarie van dieselfde jaar in ‘n brand verwoes is. Die uitnodigings vir die kamp se opening was reeds gepos, voorbereidings vir die openingseremonie so te sê voltooi en die dinge moes dus aangaan.
Berg-en-Dal is die enigste kamp in ‘n taamlik bergagtige omgewing in die wildtuin. Daar is tydens die bouproses afgekom op argeologiese artefakte. Ontwerpe op stukke van potskerwe wat ontdek is het aangetoon dat dit dui op ‘n Afrikakultuur in die Ystertydperk.
Ons was as familie vanaf daardie heel eerste besoek verlief op die kamp en die omgewing. Dit is vir my eintlik onverklaarbaar dat ons eers 10 jaar later weer vir die eerste keer in dié kamp oorgebly het. Hierdie keer het ek en Ralie vir die eerste keer daar gekamp gedurende die eerste vier nagte van November 1999. Wat ek baie goed onthou van daardie besoek is dat dit vrekwarm was. En die lelikste, grillerigste goggas wat saans deur ligte aangetrek is. En o ja, die aantreklike mooi-bedeelde Duitse dame wat geen inhibisies gehad het om bostukloos in haar beligde “motor home” voor oop vensters te paradeer nie. Foeitog, sy’t seker maar net warm gekry – en nie besef hoe’t sy my ook nog warmer laat kry nie.
Weereens het ‘n lang periode verloop toe ons eers weer in November 2013 vir een nag in ‘n chalet oorgebly het. En twee jaar later gooi ons ons tent agter in die Hilux en kombineer werk met plesier en gaan kamp vir 5 aande tydens Oktober in Berg-en-Dal. Afgesien van al die ander wonderlike dinge wat ons ervaar het, bly die herinnering in my kop steek toe ons opblaasmatras skielik besluit om sommer met die eerste aand ‘n afblaasmatras te word.
‘n Verdere 2 jaar later (2017) kamp ons met die karavaan vir 7 aande op ‘n fantastiese staanplek teen die draad gedurende Mei. Ons laaste kuier in Berg-en-Dal was ‘n jaar later toe ons eintlik in Malelane-kamp vir 3 aande bespreek was. Laasgenoemde kampie het toe grootskaalse konstruksiewerk ondergaan en ons het dit verruil vir Berg-en-Dal.
Dit is een van min kampe waar ek al van die swembad gebruik gemaak het. As ek reg onthou was Skukuza die enigste ander kamp waar ek al geswem. Maar die dam in Matjuluspruit voor die hoofkompleks is vir ons een van die lekkerste plekke om tyd te verwyl. Nie dat ons al werklik iets besonders hier gesien het nie – maar die rustigheid om daar te sit en die mooiheid van die toneel voor jou in te drink, doen wondere vir die siel.
Al’s en al’s het ons al ‘n totaal van 23 nagte in Berg-en-Dal gebly. 23 Wonderlike nagte in een van die wildtuin se beter wildareas – altans wat ons ervaring aanbetref. Ek gee met ‘n volgende inset ‘n bietjie meer inligting oor hierdie stelling van my.
Terloops – ek het die inligting wat ek aan die begin noem, gaan naslaan in David Paynter se boek “Die Krugerwildtuin in woord en beeld”.
Ek sou graag..........
.............'n foto van die einste dam wou sien hoe dit deesdae lyk.
Berg-&-Dal
My seun sê dat 'n groot gedeelte van die kamp se omheining is nog net tydelik herstel nadat die Matjulu so sterk afgekom en dit weggespoel het. Die elektriese heining is onder andere glad nie in werking nie.
Matjulu
Ons was daar. Die Matjulu het wel sy walle oorstroom en die onderste deel van die kampeer terein was onder water maar die heining was nie beskadig nie. Ek het video's geneem maar ek kan dit nie hier plaas nie. Dit het 115mm in een nag gereën.
Ek sal n' foto van die boom plaas.
Dit laat mens.....
....dink. Ek soek altyd 'n boom om onder of naby te staan.
Dalk is dit ook nie so slim om in reentyd so knus langs 'n rivier op lopie te staan nie.
Die boom
Die boom het geen tekens van vrot of skade gahad nie. Dit het net skoon afgebreek so meter bo die grond. Gelukig het dit langs die woonwa op die heining en die rally tent geval. Dit was so 9 uur in die aand. Daar was ook geen onweer nie.
Vrats ongeluk.
Die kampeerder en sy vrou was nogal n' Eere Wagter's. Hulle het van daai staanplek na die staanplek langsaan ons geskuif en ons is nog steeds in kontak met mekaar. Dit was sy verjaarsdag gister.
Terwyl hulle gewag het vir nuwe Rally tent pale het hulle kamp goed onder ons tent dak gestaan.
Wow, dankie Paul ..............
................vir die baie interessante inligting en fotos.
Februarie-maande is dikwels bekend vir vloede/storms in die Wildtuin.
As ek na die tipiese.................
...............steenwerk kyk, lyk dit vir my of die luiperd reeds binne die kamp is en na buite kyk.
Dalk tuin....
by die hek???
Ek het nie so opgelet na die tuine langs die ingangshek nie. Dalk loet die luiperd tog na binne., dalk sien hy 'n paar sappige happies of oulike prooi by die swembad.
Siwet
Die laaste keer wat ons in B&D gekamp het, het ons ook 'n lekker staanplek langs die draad gehad. Die siwetkat het elke aand langs die draad kom patrolleer. Eenkeer ook een in Skukuza (in die kamp tussen die karavane) gesien.
Ek wonder hoe het dit aan die Afrikaanse naam gekom van siwetkat. Dieselfde geld vir muskeljaatkat. Nie een van die twee is lid van die katspesies nie. Die Engelse praat net van 'n "civet" en "genet" onderskeidelik. Die muskeljaatkat kan jou tot 'n mate aan 'n kat laat dink, maar waaragtig nie die siwetkat nie.





2016
Foto van dam by Berg en Dal toe dit so droog was