Ek weet dis nog 6 maande voor Augustus, maar ek weet ook Kampforum-vrinne hou daarvan om deel te wees van 'n ou se beplanning op 'n lekker wegbreek. Gegewe dat my omstandighede tot gevolg het dat ek nie meer kan karavaankamp nie, het ek gewonder met wie gaan ek nou my opgewondenheid deel oor 'n nie-kamp Wildtuin-vakansie ? Gelukkig het ChrisB vir my gewys dat die Kampforum-vrinne netso lekker saamgesels al is daar nie 'n karavaan ter sprake nie.
Nouja, hier begin my storie : Vandat my karavaan verkoop is, kyk ek daagliks die TV-program WildEarth wat 24-uur daagliks vir jou in-tyds opreis neem met 'n toergids by verskeie wildtuine in SA en omliggende lande, maar veral by SabiSands en ander kleiner wildtuine. Hierdie program het my lus vir die Kruger Wildtuin aangevuur om plan te maak om so gou moontlik weer daar te kom. Dis nogal 'n helse aanpassing om nie 'n kampeer-bespreking te doen nie, maar wel 'n vaste-akkommodasie bespreking, maar ek is daardeur en dis gedoen.
My kinders deel my opgewondenheid, maar was uiter bekommerd dat hulle 79-jarige pa alleen die tog van 2000km van die Kaap af en nog 2000km weer terug aanpak. Hulle wou gehad het ek moet eerder vlieg en 'n kar huur. Ek is egter allergies vir vliegtuie (het oorgenoeg daarvan in my werker-dae gehad) en dit sal 'n gelol wees om my getroue Nissan Pathfinder tuis te laat. Dus :-
Ek en my broer (hy is 81) is ons ouers se enigste kinders en ons het geen ander oorlewende familie nie, behalwe ons eie kinders. My broer en skoonsuster woon die afgelope 29 jaar in Oostenryk waar hy verbonde was aan die Universiteit van Wenen voor sy aftrede. Hy was ook vir jare lank 'n ere-veldwagter in die Kruger Wildtuin en is netso lief vir dié plek soos ek. Maar ek en hy was laas saam met my ouers in die Wildtuin toe ons nog skoolkinders was. Ek kom toe op die blink gedagte af om hom en my skoonsuster te nooi om saam met my aan te sluit in die Wildtuin dan kuier ons sommer in die wildtuin saam. Die uitnodiging is onmiddellik aanvaar. Nou vir my kinders se beswaar dat ek alleen van die Kaap af Wildtuin toe ry : My broer se ongetroude dogter is 'n lektor aan die Universiteit van Bournemouth in Engeland en sy wil graag saam ! Toevallig werk haar universiteit en die Universiteit van Kaapstad saam aan een of ander projek en daarvoor moet sy Kaap toe kom. Sy gaan dus Kaap toe vlieg vir die projek en dan ry sy saam met my tot in Pretoia, natuurlik met my Pathfinder ! Haar ouers vlieg dan van Oostenryk af Pretoria toe en alvier van ons ry saam in die Pathfinder Wildtuin toe.
Ons het drie hutte in Berg-en-dal en drie hutte in Letaba bespreek, 5 dae in elke kamp, vanaf 6 Augustus tot 16 Augustus 2026. Dis nogal wyd om die 240km te ry vanaf Berg-en-dal tot by Letaba, maar teen 30kpu (ChrisB se spoed) behoort dit 8ure te duur terwyl ons 12ure beskikbare het vanaf 06:00 t0t 18:00
Nouja, dis die plan tot dusver. Ek vertel later verder as ek julle nie vereel het nie.
Goeie middag al my..............
............Kampforum-pêlle en pêllinne !
Ja, drie weke is verby sedert ek uit die Kaap Wildtuin toe vertrek het. Ek is tans oppad terug en sit in Reyneke Park Bloemfontein. Ek ry maar so rus-rus soos dit 'n ouman betaam. Môre ry ek tot by Travalia by Driesusters. ChrisB se aanbeveling oor hierdie plek is absoluut in die kol - van die beste oornag plekke wat ek nog beleef het. Reyneke Park is nie so luuks soos Travalia nie, maar tog ook 'n heerlike oornag plek.
Ons Wildtuin-vakansie was wonderlik - werklikwaar baie verskillende soorte wild gesien, selfs 'n trop wildehonde, maar luiperde en jagluiperds het ons ongelukkig nie raakgeloop nie. Ons het olifante getel en toe maar opgehou toe ons by 406 gekom het - hulle as egter almal rustig verkeer en aangegaan met vreet, drink en staan en slaap.
Die 265 km wat ons moes aflê vanaf Bergendal tot by Mopani het toe goed afgeloop. Op dié dag het dit kwaai gereën met 'n geweldige wind wat gewaai het en geen spietkop sou dit daarbuite gewaag het nie. Ek het toe maar so 'n bietjie aangestoot. Hierdie was 'n reisdag en die slegte weer het dus nie gepla nie.
My broer, sy vrou (hulle is van Oostenryk) en hulle dogter van Engeland het my op hierdie trippie vergesel. My broer was op sy dag 'n ereveldwagter in die Kruger Wildtuin en het self talle ereveldwagters opgelei. Sy kennis van die diereryk, die voëllewe, en die demografie in die Wildtuin was vir my 'n belewenis waarvan ek nie eers bewus was nie. Hulle dogter is 'n lektor in Media Production (die vervaardiging van dokumentêre films) aan die Universiteit van Massatusetts in Engeland. Haar kennis van die wildlewe (veral voëls) in die Kruger Wildtuin was verstommend. Dit was vir my 'n openbaring hoe min ek werklik weet van hierdie plek waarvoor ek so lief is.
Fotos sal volg as ek by die huis is.
Ns. Ek wou nog sê, in Bergendal kry ek baie interessante besoekers : Daan en Rona du Plessis het spesiaal vanaf Pretoriuskop gery om vir die eerste keer blad te skud ! Ek het 'n mooi foto van ons drie, maar daarvoor sal julle moet wag. Ek het selfs geleentheid gehad om hulle "bus" te bekyk en op die koop toe 'n bak beskuit gekry. Dié het ek weggesteek en sal dit alleen by die huis verorber !
Dankie
Dankie vir die terugvoering en veilig verder reis. Ek is bly julle het so n goeie tyd in die wildtuin ervaar en sien uit na meer vertellinge en natuurlik altyd lekker om fotos te loer. Sjoe, Rona bederf ons darem vreeslik met al haar lekkernye waarmee sy ons forum lede mee verras.
Travalia & Aldam
Ek 's bly om te hoor dat jy ook Travalia geniet het Len. Wat my aanbetref - werklik 'n puik oornagplek as jy in vaste akkommodasie wil oorbly. Ons vra altyd vir een van die toegeruste chalets (No's 21 - 24). En ons bestel gewoonlik hulle braaipak wat bestaan uit 2 x lamstjops en 2 x (baie lekker) stukkies boerewors per persoon. En as jy nie self wil kosmaak nie kan jy baie lekker tuisgekookte etes in hulle eetkamer gaan eet.
Maar terselfdertyd wil ek noem van Aldam se uitstekende vaste akkommodasie en puik restaurant - as jy nie in jou karavaan oorbly nie. Hulle kampeerplek is niks om oor huistoe te skryf nie. En dit is maar 10 km vanaf die N1 per teerpad. En dan praat ek nie eens van die prag-uitsig oor die Allemanskraaldam nie.
Ek sien uit na jou terugvoering oor die afgelope wildtuinvakansie Len. En ek is baie nuuskierig om te verneem of julle deur die wildtuin, of buite-om, tussen B&D en Mopani gery het. En sover ek kan onthou was dit die eerste keer wat jy in Mopani gebly het. Ons lief dié kamp. Dit is jammer dat julle waarskynlik ook nog die restaurant en die lekker stoepdek voor die restaurant gesluit gevind het (a.g.v restourasiewerk). Vanaf daardie restaurant-stoepdek het jy die heel mooiste uitsig oor die Pionierdam.
Pas gearriveer by Travalia.
Wessel, nee my broer en skoonsuster het tussen Kaapstad en Oliver Tambo gevlieg op advies van sy mediese span in Oostenryk om nie die kar-ryery te ver te voer nie as gevolg van sy rugprobleem. Sy dogter het wel saam met my die pad tussen Kaapstad en die Wildtuin en weer terug aangepak.
Môre is dit die laaste 500 km skof tot by die huis in Kaapstad.
Travalia Padstal
Indien jy nie by Travalia se padstal gaan brekfis eet nie moet jy ten minste net daar gaan inloer vir hulle uitstekende vakuumverpakte bevrore vleise. Nie die goedkoopste wat jy sal kry nie, maar uitstekende gehalte. Amper soos Chargo by Colesberg.
Geert ...
... daar was voorheen 2 staanplekke - maar of dit nóg die geval is, sal ek nie kan sê nie.
Ons was nou daar, met die terugkeer vanaf die noorde net omdat ons nie in Karoo Nas Park geholpe kon raak nie. Maar ons het in No 24 oorgebly, met die wa knap teenaan die chalet.
As ek met die wa reis, sal Karoo Nas Park (KNP) altyd my eerste keuse wees. Maar as jy vaste akkommodasie verlang, staan Travalia nie 'n tree terug vir KNP se chalets nie - en aansienlik goedkoper.
Travalia
Puik!! Puik!! Puik!! Aag hoe verlang ek nou.
Daar was eens 'n hond ('n Wire-hair Terrier) - ene Bubbles. Ons het skaars afgepak, dan is Bubbles daar. Hy't 'n groot affiniteit met Ralie gehad. Styf teen haar op die bed gaan lê - en durf ek waag om hom af te jaag, word ek met 'n diep grom gewaarsku.
Soggens as ek die deur oopmaak, sit Bubbles reeds daar en wag om by sy nooi te gaan lê. Ek en Ralie was beide onder trane toe ons verneem dat Bubbles dood is. Blykbaar 'n been in die ingewande gehad wat die derm geperforeer het. Weer 'n les - moet nooit vir honde klein beentjies voer nie.
Dankie OOM LEN.
Jislaaik baie dankie. Chargo en Travalia se kos is ek liries oor.
Ek koop by elkeen van hulle daardie regte egte kerrie sosaties. Dan steek ek dit weg en as ek by huis is dan braai ek dit vir mamma. Heerlik nes kamp.
Groete
Goeie môre Kampforum-maters !
Soos Wessel hierbo bevestig is my 21 dae Wildtuin-vakansie op sy rug en ek is veilig tuis na 'n terugry-rit van 2000 km en drie oornag-stoppe by Pretoria (familie), Bloemfontein (Reyneke Park) en Travalia (Driesusters). My broer en skoonsuster het eers vanaf Oostenryk na Kaapstad gevlieg en toe vanaf Kaapstad tot by Oliver Tambo. My kinders wou nie dat ek die pad alleen aanpak nie en het toe met hulle niggie in Engeland (Reina-Marie, my broer se dogter) ooreengekom dat sy Kaapstad toe vlieg en dan saam met my ry, Wildtuin toe en terug. Ons het toe haar ouers in Pretoria opgelaai en alvier van ons het die pad met die Pathfinder Malelane-hek toe aangepak.
Soos wat meeste mense se gebruik is, het ons voor Nelspruit by Milly's gestop vir ontbyt. Net om sake 'n bietjie opwindend te maak op ons eerste Wildtuin-dag, voeter ek mos toe van bo-af af tot onder op die trappe voor die restourant, vooroor en plat op my gesig dat my bril dáár trek! Gelukkig is my bril toe nie stukkend nie en behalwe vir 'n paar bebloede bewyse, is ek darem oraait.
So lyk my getroue 13 jaar oue Pathie met sy 42-jarige sleepsel agterna, direk voor ons vertrek op 31 Julie :-

Behalwe vir die volgelaaide sleepwaentjie, het ons 4 se bagasie agterin die Pathie só gelyk :-

Berg-en-dal-kamp
So lyk ons blyplek in Bergendal, drie chalets langsmekaar :-

En die braaiplek :



Fotos
Met hierdie Wildtuin-besoek was ek maar die motorbestuurder en was gelukkig om 'n puik fotograaf van Engeland langs my te hê. Reina-Marie is my broer se dogter wat 'n lektor by 'n universiteit in Engeland is waar sy haar nagraadse studente onderrig in "Media Production" spesifiek in die vervaardiging van dokumentêre films.
Ons sal maar geduldig moet wag tot sy haar fotos in Engeland geredigeer het en vir my aangestuur het.
Verrassing
Ek het 'n heerlike verrassing gekry toe Daan en Rona du Plessis kom kennis maak het in Bergendal. Hulle het wraggies vanaf Pretoriuskop met hul bussie gery om amptelik blad te kom skud. En ek het nogal ook 'n heerlike tuisgebakte bak beskuit van Rona gekry wat ek weggesteek het van my mede-Wildtuinbesoekers en vanaand hier by die huis dit op die proef gestel - een woord : puik !
Hier is my bewys van hulle besoek, ek in die middel en Rona en Daan weerskante.

Verskoning
Verskoon tog maar as julle my op volgende fotos met my swart baadjie aan sien. My dogter in Kaapstad, Sarinda, het 'n boodskap vir haar niggie, Reina-Marie gestuur en gesê : "sê tog vir my Pa hy moet 'n ander trui aantrek want hy het op elke foto dieselfde baadjie aan !"
Ai tog, die kinders reël ook 'n oumens se lewe darem.
Verskoning nr 2 : Verskoon tog maar, ek sien hier en daar herhaal ek goeters wat ek voorheen al gesê het.





Oppad terug
Volgens beplanning hierbo is oom Len oppad terug? Veilig terug reis oom Len....sien uit na vertellinge van ervarings