Môre vriende
Die nuwe maand het blykbaar almal onverhoeds oorrompel. Die ervare en kundige "ouderlinge" is so besig dat die junior outjie nou maar die gespreklyn open.
Laat loop asb. met insette en saam gesels.
Griep-inspuiting
Ons het ons s'n al sowat 'n maand terug ontvang. Discovery wil my amper verplig om die griepinspuiting te kry weens my ouderdom en diabetes-status. Hulle betaal darem daarvoor.
Hier begin die noordwes ook waai. En kan dit nie hier behoorlik waai nie!!! YR sê ons kry Donderdag groot reën.
Wie ken ....
.... hierdie Castle Lager? Nogal 2022 oesjaar.
Ek ontvang jaarliks van die spesiale oesjaar-verpakking van my kliënte wat gars vir moutdoeleindes aan SAB voorsien. Maar hierdie besending was seker die laaste synde ek nou 'n voltydse professionele leeglêer is.
Discovery het my ook nou…
Discovery het my ook nou vreeslik begin hinder om te gaan inspuit. Glo nou in n " hoë risiko groep". Nog nooit gehad nie, en vekoues ken ek omtrent nie. Die chemo het sekerlik my immuniteit bedonner??? So sal maar gaan.
Ek dink die gereeld n drankie skink, maak dalk die ou lyf tough soos Chris tereg noem. Kieme en virusse kry nie vatplek nie.
Chris praat jy van die…
Chris praat jy van die single malt Castle? Ek sien dit maar nog nie probeer nie.
Double malt
Oom Neef bedoel seker double malt. Dis nie sleg nie, maar ek koop dit net as dit op afslag is. Anders werk dit duur uit. Dis in so dun blikkie met net 410ml as ek reg onthou.
Dankie Wildehont, dit is die…
Dankie Wildehont, dit is die een.
So gaan lees ek gou op oor die voordele van n glasie of 2. Bloeddruk, dementia, gewigverlies en so gaan dit aan om te sê dat die wat in hul aftree jare ń ietsie vat langer leef!! En dan glo ek, n glimlag op die gesig as pasella.
Neef .....
.... nee, ek dink dit is gewone Castle Lager wat net in 'n spesiale blikkie verpak word en aan garsprodusente gegee word. Op die blikkie staan dit uitdruklik dat dit nie verkoop mag word nie. Dit word deur SAB aan gars koöps verskaf vir verspreiding onder produsente. En as 'n gewese insetverskaffer aan die garsbedryf, was ek ook elke jaar gelukkig om 'n paar blikkies te ontvang.
Castle Double Malt
BIER : Oor die algemeen is ek nie baie lief vir Castle Larger nie, maar nou die dag word ek 'n Castle Double Malt aangebied en was aangenaam verras hoe lekker dit vir my gesmaak het. Ek sal maar soos ChrisS wag vir 'n afslag-aanbod voor ek 'n kissie daarvan gaan koop.
Lekker dikbek
Sit ek nou hier lekker dikbek. Kom nounet van die tandarts af, ek dog dat ek groot moeilikheid het, kort voor wldtuin vakansie.
Genadiglik is dit net effe tandvleis ontsteking, hoofsaaklik veroorsaak deur tandsteen. Ek is van die persone wat ongelooflik vinnig tandsteen opbou. Ek kan elke 6 maande maar laat skoonmaak.
Volgens tandarts is daar ook nie veel wat mens kan doen om dit te keer nie, behalwe vlos en borsel. Hy beweer dis soos roes, as dit begin het, of as stukkie laat agterbly het, gaan dit onverpoos aan.
Gelukkig kan ek nou met geruste hart en bek wildtuin toe gaan.
My Trippie Napa Valley toe…
My Trippie Napa Valley toe is nou volkome gefinaliseerd en alle verblyf en reis reëlings getref.
Ek vlieg Vrydagaand via Heathrow na San Francisco toe en sal Saterdagmiddag 3pm daar land. Ek gaan dan sommer Saterdagaand in downtown San Francisco oorslaap en as ek die wil bykemaar skraap dalk die Golden Gate brug gaan besigtig en dalk ook probeer vir 'n "selfie" met Alcatraz in die agtergrond.
Sondagmiddag lê 'n vinnige 3 ure Greyhound bus rit voor vannaf San Francisco tot in Lodi waar ek sal vertoef tot Donderdagoggend waarna dit weer die pad terug is tot by San Francisco lughawe, sodat ek kan terugkom na die land van .... bosveld
Anton ....
... mooi wêreld daardie. Ek het jare gelede van Washington DC gevlieg tot in San Francisco en vandaar na Fresno. Toe weer San Francisco toe en daarvandaan na Seattle. Laasgenoemde is wat my aanbetref die mooiste stad (ek praat van die omgewing) wat ek ooit met my internasionale besigheidsreise besoek het.
Geniet dit. Sulke geleenthede kom nie elke dag oor jou pad nie.
Reënvoorspelling vir Kaapstad
Volgens verskeie weervoorspellings is ons hieronder in Kaapstad in vir 'n ding vannag en môre (Donderdag) wat koue en reën betref. Die maksimum temperatuur vir Donderdag is 13º en reën van 43mm - sopas opgedateer deur YR.
Dit is welkome nuus want die damvlakke wat water aan Kaapstad verskaf, is iewat laer as die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Koerantberigte so 'n maand of wat gelede het hierdie jaar 'n droër reënval vir die Wes-Kaap voorspel, maar ek hoop dit was verkeerd.
Aanvals versterkte voertuie
Môre vriende
Sit so en kyk na die pryse om voertuie bestand te maak teen vuurwapen aanvalle. Ek wonder hoeveel privaat persone kan dit bekostig, en laat hulle voertuie verhard.
Die kost vir 'n tipiese dubbelkajuit trokkie begin op ongeveer kR800. Dan kan dit 'n patroon van 'n handwapen tot 0.44 kaliber stuit. Indien jy opgradeer na nog sterker weerstand teen 'n R1, AK47, gaan die prys tot oor MR1.
Die feit dat daar WEL 'n aanvraag daarna is, en dat daar verskeie maatskappye is wat die diens lewer, spreek boekdele vir ons mafia-land situasie.
Goeie môre al die Maters,…
Goeie môre al die Maters, hier in J'baai raak dit nou koelerig, sien daar is ook reën oppad vir ons. Ek het die water van die tank onder die geut oorgepomp na 'n losstaande ene. Sou altwee vol is dan het ons so 10 000 l in voorraad. Ons sal maar die koue trotseer om hier by die see rustig te kan wees. Lekker dag vir julle en groete tot later.
Ten spyte ...
... van die voorspelling vir "heavy rain" die afgelope nag en vandag, het ons hier in Kleinmond nog weinig reën gehad. As ek die reënmeter so op 'n afstand beloer, het ons nog skaars 5 mm gehad. En dit lyk nie of daar veel drif in die weer is om vandag nog veel meer te reën nie - ten spyte van die voorspelling van verdere "heavy rain". Dalk sluk ek nog my woorde.
Lapskag - praat 'n ou wat Bloemfontein se koue ken dan nou van koud in Jeffreysbaai? Laasgenoemde se winterkoue moet mos soos lente vir 'n Bloemfonteiner voel.
Reën in Brackenfell
Ons kan darem spog met 24mm reën die afgelope 24 uur. My drie reënwater tenks is propvol en die munisipalewater-stopkraan bly toegedraai.
Ons kry darem ook water
Dit moes al 05:00 begin reën het volgens die voorspelling, maar het eers so 08:30 werklik begin val. Nou reën dit baie lekker. Ek wens ek kon tussen die velle gebly het met ‘n boek. Of ‘n blonde…
Reën en blonde
Middag Kapenaars
Julle sal my verskoon as ek sê dat julle gerus die komende maand die reën daaronder kan hou. Ek gaan Kruger toe, en verkies om droog te kamp.
Op my ouderdom is droog kamp 'n baie hoër prioriteit as selfs 'n natgereende blondine.
,
Worcester --MER program
Middag Chris S
Is julle van die gelukkige munisipaliteite wat ge-oormerk is, of dan oorweeg word vir die sonkrag ondersteunde projek. Ek sien Alan Winde het dit glo bespreek met 'n klomp burgemeesters, om sekere dorp beurtkrag vry te kry.





Al weer sulke tyd
Ons het sopas ons jaarlikse griep inenting ontvang. Ons het dit begin doen toe Salomien die eerste keer swanger was omdat haar immuniteit toe laer was, en maar volgehou daarmee sedertdien. Ek sien daar is juis ‘n lekker front oppad. Die NW wind het reeds begin opsteek hier.