Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Stem heeltemal saam Wessel… November 2026 neef Herman -3 hours ago
Herman... November 2026 Wessel Strydom -4 hours ago
Wessel, hierdie is n… November 2026 neef Herman -6 hours ago
Nou weet ek hoe.... November 2026 Wessel Strydom -11 hours ago
November brandstof prys November 2026 Geert -11 hours ago
Goeie more almal Cobb - Tips en idees Goeie Hout -17 hours ago

Berg-en-Dal

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Ons praat op ‘n ander gesprekslyn taamlik oor Berg-en-Dal in die Krugerwildtuin. Ek het al agtergekom dat hierdie kamp, soos seker enige ander kamp in die wildtuin, sy aanhangers het en dat daar ook mense is wat minder opgewonde raak oor hierdie kamp – wat ookal hul rede.

My persoonlike eerste kennismaking met Berg-en-Dal was in die winter-skoolvakansie van 1989 toe ons in een van die groter chalets gebly het omdat my oorlede ou moeder ook saam was. Dit was toe nog ‘n relatief nuwe kamp, wat eers in Februarie 1984 geopen is. Ek weet nie wie kan onthou dat dit ‘n gejaag om tyd was om die kamp te open nadat die kombuiskompleks in Januarie van dieselfde jaar in ‘n brand verwoes is. Die uitnodigings vir die kamp se opening was reeds gepos, voorbereidings vir die openingseremonie so te sê voltooi en die dinge moes dus aangaan.

Berg-en-Dal is die enigste kamp in ‘n taamlik bergagtige omgewing in die wildtuin. Daar is tydens die bouproses afgekom op argeologiese artefakte. Ontwerpe op stukke van potskerwe wat ontdek is het aangetoon dat dit dui op ‘n Afrikakultuur in die Ystertydperk.

Ons was as familie vanaf daardie heel eerste besoek verlief op die kamp en die omgewing. Dit is vir my eintlik onverklaarbaar dat ons eers 10 jaar later weer vir die eerste keer in dié kamp oorgebly het. Hierdie keer het ek en Ralie vir die eerste keer daar gekamp gedurende die eerste vier nagte van November 1999. Wat ek baie goed onthou van daardie besoek is dat dit vrekwarm was. En die lelikste, grillerigste goggas wat saans deur ligte aangetrek is. En o ja, die aantreklike mooi-bedeelde Duitse dame wat geen inhibisies gehad het om bostukloos in haar beligde “motor home” voor oop vensters te paradeer nie. Foeitog, sy’t seker maar net warm gekry – en nie besef hoe’t sy my ook nog warmer laat kry nie.

Weereens het ‘n lang periode verloop toe ons eers weer in November 2013 vir een nag in ‘n chalet oorgebly het. En twee jaar later gooi ons ons tent agter in die Hilux en kombineer werk met plesier en gaan kamp vir 5 aande tydens Oktober in Berg-en-Dal. Afgesien van al die ander wonderlike dinge wat ons ervaar het, bly die herinnering in my kop steek toe ons opblaasmatras skielik besluit om sommer met die eerste aand ‘n afblaasmatras te word.

‘n Verdere 2 jaar later (2017) kamp ons met die karavaan vir 7 aande op ‘n fantastiese staanplek teen die draad gedurende Mei. Ons laaste kuier in Berg-en-Dal was ‘n jaar later toe ons eintlik in Malelane-kamp vir 3 aande bespreek was. Laasgenoemde kampie het toe grootskaalse konstruksiewerk ondergaan en ons het dit verruil vir Berg-en-Dal.

Dit is een van min kampe waar ek al van die swembad gebruik gemaak het. As ek reg onthou was Skukuza die enigste ander kamp waar ek al geswem. Maar die dam in Matjuluspruit voor die hoofkompleks is vir ons een van die lekkerste plekke om tyd te verwyl. Nie dat ons al werklik iets besonders hier gesien het nie – maar die rustigheid om daar te sit en die mooiheid van die toneel voor jou in te drink, doen wondere vir die siel.

Al’s en al’s het ons al ‘n totaal van 23 nagte in Berg-en-Dal gebly. 23 Wonderlike nagte in een van die wildtuin se beter wildareas – altans wat ons ervaring aanbetref. Ek gee met ‘n volgende inset ‘n bietjie meer inligting oor hierdie stelling van my.

Terloops – ek het die inligting wat ek aan die begin noem, gaan naslaan in David Paynter se boek “Die Krugerwildtuin in woord en beeld”.

Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sat, 24/06/2023 - 14:15

.............baie interessant.  Ek hou ongelukkig nie deeglik statestiek van die tye en kere wat ons by spesifieke kampe gekamp het nie.  Wat datums betref, verlaat ek my op my fotos se detail.

Ons het al oor jare heen dikwels bt Berg-en-Dal gekamp en ek het dit nog altyd baie geniet.  My annerhelfte hou om een of ander onverklaarbare rede nie baie van dié kamp nie  -  sy weet self nie hoekom nie !  Ek vermoed dis maar iets te doen met nostalgie  -  die boustyl van die geboue wyk heeltemal af van die tradisionele kampe met hulle grasdakke.

Nietemin, ons laaste Wildtuin-kampervaring was juis in Berg-en-Dal verlede jaar, Mei 2022.  Ons het 'n heerlike staanplek gehad aan die agterkant van die eerste ablusieblok as jy inry, aan die linkerkant.  Ongelukkig is ons verblyf kortgeknip toe ek daar siek geword het en dringend in die Kaap moes kom vir die verwydering van my dikderm.

By 'n vorige geleentheid sit ek rustig die kamp en geniet terwyl die meeste mense uit is op 'n wildrit.  My oog vang toe 'n Sprite Super Sport waarvan die dak nie gesak was nie en daar klim 'n blouaap uit deur die oopgeskeurde gaas-luggat met 'n lemoen in die hand !  Ek spring op en verwilder die knaap wat toe vinnig op in 'n boom spring en met sy lemoen in die hand vir my van bo-af kyk.  Ek sleep toe 'n asdrom nader en probeer die opligdak afdruk.  Met 'n helse gesukkel val die dak skielik plat en ek voel tevrede met my hulp aan 'n mede kampeerder.  Ek sleep toe die asdrom terug tot waar ek dit gekry het en gaan kyk toe gou deur die Sprite se venster of ek kan sien wat die aantrekkingskrag vir die blouaap was.  Groot iwas my verbasing, daar sit nog 'n blouaap binne-in op 'n tafel !  Weer oplig van die dak weet ek is onmoontlik.  Ek gaan haal toe maar 'n mes en vroetel 'n vensternkip oop, maak die venster groot oop en staan 'n entjie weg en wag.  Nie lank daarna nie beweeg die gordyn en ta loer uit, kyk eers links en toe regs en laat spaander.  Met die terugkoms van die eienaar gaan verduidelik ek wat gebeur het en verwag ek gaan uit dankbaarheid 'n mooi woord hoor.  Die eienaar was glad nie gelukkig met my nie want met die val van die dak het die blouaap so geskrik dat hy die wa binne oral betjorts het !

0
Sedgefield
Profile picture for user Jan Meyer

Jan Meyer

Sat, 24/06/2023 - 15:36

Len lekker gelag.....................................weet ook nie of ek gelukkig  met jou hulp sou wees nie.

 Berg-en-dal staan my ook nie aan nie as gevolg van die een toegang pad na die kamp. Ons hou daarvan om elke dag in 'n ander rigting te ry. 

Moet noem ons het nog elke keer as ons daar aandoen op 'n rit renosters gekry. 

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 24/06/2023 - 19:27

Naand vriende

Chris B met sy historiese feite noop my om tog die volgende met julle te deel. Daar was groot hartseer rondom die inlywing/opening.

'n Vriend van my se familie/vriend [?] was die ontwikkelaar van B&D. Die aand terug van die amptelike oorhandiging/opening het hy sy lewe verloor in 'n motorongeluk. My vriend het later die weduwee ,met 3 bitter klein seuntjies getrou. Lank en gelukkig gelewe en die 3 knapies as sy eie aanvaar en behandel.

Elke keer wat ek daar kampeer kom die verhaal by my op. 

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Sat, 24/06/2023 - 20:42

Dankie vir die geskiedenis van Berg en Dal. Het al soms gewonder hoekom boustyl heeltemaal anders is as ander kampe. As mens dink is dit eintlik maar nog n bitter jong kamp...nooit so besef nie

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 24/06/2023 - 21:08

... Willem van der Riet (destydse bekende kanovaarder en een van die pioniers van die jaarlikse Bergrivier kanomarathon), 'n landskapsargitek wat tot 'n groot mate betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van Berg-&-Dal was.

Heelwat ou wildtuin tradisionaliste was nie te vinde vir die meer moderne styl van B&D nie. Dieselfde geld vir Mopani. Persoonlik reken ek weer dat die meer moderne style by baie (myself inkluis) aanklank vind. Snaaks dat Onder-Sabie se vaste akkommodasie só populêr is by ou geswore wildtuingangers - en tog verskil dit dramaties van die ou style.

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 25/06/2023 - 07:29

....oor die kamp. Verkies hom enige tyd bo Malelane en Krokodilbrug vir 1ste of laaste aand. Daar is geen plaas, dorp of suikermeule lawaai hoorbaar nie. 

Dit sal baie help as die staanplekke agter by ablusieblok 3 en die teen die draad baie duidelik afgemerk is. Ek is seker maar net rigied, maar ek verkies afgemerkte plekke, in plaas van raai-raai mogge troffe.

Die roetes S110, S114, S121, S118 en H2-2 is vir ons lekker om te verken.

My studente vriende is baie lief om die kamp te gebruik vir internasionale konferensies. Die konferensiegangers kry 1ste klas huisvesting en word ook trakteer op wildritte en die groter Kruger.

Chris B: jou Duitse dame het toe die naam gestand gedoen; oulike bergies en 'n dal om te waardeer. 

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Sun, 25/06/2023 - 07:49

 

Ek stem saam, ons verkies ook om te weet waar is jou grens. 2 Jaar terug het ons n grensdraad staanplek gehad. Toe ons terugkom van wildsbesigting het daar n jong paartjie hul tent tussen my en buurman ingeforseer...letterlik minder as n meter van beide ons karavane. Buurman was goed omgekrap gewees, maar wat kan mens eintlik doen as staanplekke nie afgemerk is nie. 

Die enigste ander klagte wat ek gereeld hoor van Berg en Dal is dat mense wat laat inkom nie staanplek kry nie...al het hul bespreking. Asof hul meer karavane toelaat as staanplekke. Dieselfde tyd hierbo wou ons vir 2x ekstra nagte gebly het....op website het hul gewys dis vol. Toe gaan ek ontvangs toe en sê ek sou graag nog 2x addisionele aande wou bly. Sonder enige vrae betaal ek net en ons kon bly.

Ek het laasjaar ook gesien hoe mense op en af ry in karavaanpark opsoek na n staanplek....dan soek hulle nie vir n nice staanplek nie, maar vir n oop een. 

Of daar is mense wat 1x staanplek bespreek en kom dan met ekstra tent en neem 2 of selfs 3 staanplekke op.

Plek soos Satara lyk of daar altyd weer heelwat oop spasies is

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 25/06/2023 - 17:20

Die meeste van die deelnemers aan hierdie forum weet  dat ek reeds sedert 1987 so deeglik moontlik rekord hou van ons wildtuinbesoeke. Daarom kan ek gou-gou my verblyfdatums en ander inligting van elke kamp gou-gou op my rekenaar opsoek.

Ek het vir myself sekere riglyne gestel. Ek wil my nie spreekwoordelik “vrek ry” in die wildtuin nie. My maksimum afstand wat ek op ‘n dag ry oorskry nie 125 km nie. Dan wil ek terug by my kamp wees of by my volgende kamp. Ons kuier lekker in die kamp en daar kom soms dae wat ons glad nie gaan ry nie. Gewoonlik mik ek om nie meer as 75 km met ons oggendritte te ry nie en nie meer as 50 km met ons namiddagritte. Hierdie neergelegde afstande gebruik ek dan om te bepaal watter toeristepaaie binne ‘n bepaalde kamp se paaie resorteer.

Ek het ook vir my ‘n doel gestel dat ek elke toeristepad in die wildtuin ‘n minimum van drie keer wil ry. Van hierdie paaie val buite die kriteria van 175 km (heen en terug) wat ek vir my gestel het. Dit was dus die uitsondering dat ek by geleentheid wel langer afstande afgelê het ten einde my doel van drie keer vir elke toeristeroete te bereik.Sonder om in detail in te gaan het ek dus ‘n rekord watter afstande ek oor die jare binne elke kamp se gebied afgelê het. So by so het ek oor die jare 1 961 km in die area van Berg-en-Dal/Malelane gery.

Gemeet aan die wild wat ek op die Berg-en-Dal/Malelane-roetes gesien het, kan ek ook ‘n waarde heg aan wildvoorkoms in dié area (en uiteraard ook alle ander kamp-areas). Ek werk met absoluut onwetenskaplike formules om waardes aan spesifieke wildsoorte te heg (en weereens gaan ek nie in detail hierop in nie). Tot ‘n groot mate dra ‘n skaarser diersoort ‘n hoër waarde, maar dit is nie al faktor wat gebruik word nie.

Tot en met 2021 (my laaste wildtuinbesoek) het ek sedert 1987 ‘n totaal van 30 031 km in die park gery het. Oor hierdie tydperk het ons ‘n totaal van 329 nagte in die wildtuin spandeer. Ek wil ook net noem dat sekere toeristepaaie binne meer as een kamp se gebied resorteer.

Met hierdie onwetenskaplike metode van rekordhouding (waaruit ék groot behae put), het ek tot die slotsom gekom dat volgens my kriteria is Berg-en-Dal/Malelane een van die beter wildareas in die wildtuin. Naas Mopani/Tsendze, Onder-Sabie en Krokodilbrug (die bestes) is hierdie area volgende op die lys – selfs beter as Satara, Shingwedzi en Punda Maria (in daardie volgorde).

Ek meld net die groter konvensionele ruskampe alhoewel ek ook die rekords het vir bosveldkampe. Nietemin, die volgende is (weereens volgens my rekords/kriteria) ondergemiddelde kampe wat wildbesigtiging aanbetref. Ek noem dit in volgorde van beter na swakker: Orpen/Maroela, Olifants, Letaba, Pretoriuskop en Skukuza

Ek weet andere sal met my verskil na aanleiding van hulle belewenis van spesifieke kampe se omgewings.

Ek gee later ‘n bietjie meer detail oor spesifiek Berg-en-Dal/Malelane se roetes en waarna ek verwys.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 26/06/2023 - 10:31

.................interessante inligting.

Ek kan nie saamgesels nie want oor my werk-jare heen moes ek altyd 'n pen vashou, en later op 'n rekenaar tik, en altyd sekere teikens behaal.  Ek sien dus nie kans om dit in die Wildtuin steeds te doen nie, alhoewel ek toegee dat die onderwerpe ter sprake baie meer aangenaam is.

Ek let daarop dat wildbesigting die kern van jou bogenoemde statistiek is en dalk is dit die meerderheid Wildtuin-besoekers se idee van 'n Wildtuin-vakansie.  Ek kyk weer anders daarna, vir my is die kampeerarea en toeristepaaie-omgewing se natuur die aspek wat my die meeste interesseer.  Byvoorbeeld, ek hou baie van Pretoriuskop en omgewing, waar daar nie noodwendig volop wild is nie, soos jou statistiek ook wys.

Wat my verbaas is dit Skukuza tel volgens jou statistiek onder 'n swak wildbesigtigingsarea.  Dit strook nie met my ervaring en wat toeriste op sodiale media met fotos rapporteer nie.  Jou inligting sal wel van waarde wees vir die meerderheid Wildtuin-gangers wat daar is om die wildlewe ervaring te beleef.

Dankie vir die moeite om jou ervaring met ons te deel.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 26/06/2023 - 11:26

Môre vriende

Ek plaas die foto sommer hier. Die woefie in teerpad gekry, nie die S110 nie, maar die pad tussen Afsaal en Malelane hek. Baie vreem, stoksielalleen.hond

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 26/06/2023 - 12:05

Ek haal graag weer aan uit David Paynter se boek “Die Krugerwildtuin in woord en beeld”. Hy noem in die inleiding dat “Puriste wys die vinger na Berg-en-Dal .... omdat die argitektuur daarvan heeltemal verskil van dié van ander kampe (hoewel dit heeltemal in harmonie met die omgewing is) ...”

Hy noem ook ‘n paar plekke waar geduld goed beloon word vir fotograwe. Hy meld dat “Die dam reg voor die kampgeboue” ‘n goeie plek is “vir voëllewe en diere wat drink.” Hy noem ook “die sirkelpad wat noord van die kamp verby die Matjulu-uitkykpunt gaan, vir koedoes en olifante en manjifieke landskappe ....”

My (Chris Boucher) se paaie wat in die Berg-en-Dal/Malelane-omgewing ingesluit word om aan die kriteria te voldoen (wat ek boontoe gemeld het), is die volgende: (Ek noem dit volgens padnommer alfabeties/numeries).

H2-2 tussen die S114 en H3 (m.a.w die mees suidoostelike deel van die Voortrekkerpad)

H3 teerpad tussen Malelane-hek en Afsaal

S25 (Krokodilrivierpad) tussen die S114 en die oostelike aansluiting aansluiting van die S119

S110 teer- en gruispadgedeeltes

S114 tussen die H3 en H2-2-aansluitings

S118 & S119 wat beide die Mlambanespruit volg

S120 oftewel die Steilbergpad

S121 (die Timfenene-ompad)

Van dié genoemde roetes wat vir my uitstaan is die gruisgedeelte van die S110 en beide die S118 en S119 wat die Mlambanespruit volg. Dit is die roetes wat ons die meeste ry wanneer ons in Berg-en-Dal tuisgaan.

Berg-en-Dal is (uit my perspektief) een van die mees uitstekende areas vir die volgende wildsoorte. Die persentasie-syfer in hakies is versus die gemiddeld vir die wildtuin.

Klipspringers (238.2%)

Luiperds (248.3%)

Wildehonde (348.9%)

Witrenosters (825,6%)

Die volgende wildsoorte se waarnemings is ook hoër as die gemiddeld vir die wildtuin:

Duikers

Kameelperde

Koedoes

Leeus

Rooibokke

Vlakvarke

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Mon, 26/06/2023 - 12:17

Ek was lank laas Suid van Satara in die wildtuin (2017 laas by Pretoriuskop) maar werklik lank laas in Malelane hek se omgewing. Die laaste keer wat ek kan onthou was seker omtrent 10 jaar gelede, toe ek moes gaan kyk het na ‘n tender naby Malelane. Dit was op ‘n Vrydag, en ons het vroeg genoeg klaargemaak dat ek deur die wildtuin kon ry van Malelane af om by Numbi uit te gaan. 
 

Ek raak half lus om Berg-en-Dal ‘n kans te gee noudat julle so liries raak daaroor. Maar hoe besig is dit in daardie omgewing tydens skoolvakansie? Ek sien nie kans vir die soort verkeer wat mens rondom Skukuza en Onder-Sabie kry nie. Dalk moet ek maar hou by Shingwedzi en Tsendze waar mens nog gereeld tydens skoolvakansie lang ente alleen op die paaie en by besigtigings kan wees. 

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 26/06/2023 - 12:39

Middag Chris S

Ge-oordeel aan die afgelope langnaweek wat ons daar vertoef het-----baie besig. Bo en behalwe die gewildheid van B&D, is die omgewing BAIE naby vir dagbesoekers.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 26/06/2023 - 12:45

... nie eerstehandse kommentaar lewer t.o.v. bedrywigheid in en rondom Berg-&-Dal gedurende die winter-skoolvakansie nie. Ons is maar gewoonlik in die gryskoptyd daar. Ek aanvaar dat dit ook maar besig sal wees.

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Mon, 26/06/2023 - 12:57

Skool vakansies in Julie in wildtuin is vir my oral aaklig. Ons was laasjaar in Satara met die oorgangs tydperk van skool vakansie tot buite seisoen. Alhoewel die kampe steeds vol is, is daar n hengse verskil in rustigheid in die wildtuin. Skool vakansies jaag die mense al vroeg oggend na picnic spots en as jy laat oggend daar aankom, kry jy nie eers plek nie. Satara se restaurant/winkel area was tydens skool vakansie onplesierig besig vir my gewees....die dag toe skool begin, was dit in die kamp soos n storm wat gaan lê het. Hierdie jaar gaan ons weer n paar dae skool vakansie vang, maar boek darem by Satara in die dag as skool vakansie eindig. Maar as jy kinders op skool het, het jy nie keuse nie.

By Berg en Dal dieselfde....in skool vakansie na Afsaal gegaan....moes meer as n uur wag vir sitplek en skottelbraai

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Mon, 26/06/2023 - 14:52

Dankie vir julle terugvoer. Ek sal maar Noord van Phalaborwa en tot Kgalagadi hou tot die kinders klaar is met skool en ons buite skoolvakansie kan gaan. Ek sien nie kans daarvoor om my siel te versondig met massas mense waarvan sommiges hulle padwoede kom uithaal in die wildtuin nie. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 26/06/2023 - 15:37

My skoondogter het vroeër vandag genoem dat hulle uiters gelukkig was om twee staanplekke langs mekaar te kry. Sy sê dit is te danke daaraan dat hulle vroeg (08:30) in die kamp was. Toe ek ongeveer 13:00 met haar praat, het die kampeerders wat nog inkom op en af in die kamp gery op soek na 'n staanplek. Hulle staan sommer knap by die eerste ablusieblok aan linkerkant - aangrensend aan die swembad.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 26/06/2023 - 18:11

.....................ander voorskryf waarvan hy/sy moet hou of nie.  Aan die anderkant moet 'n mens besef dat talle liefhebbers van die Wildtuin nie 'n ander keuse het as om in skoolvakansies Wildtuin toe te gaan nie en dan nog is jou aantal dae uiters beperk. Ek gun sulke mense ook die geleentheid om die Wildtuin te geniet en poog altyd (omdat ek kan) nie in skoolvakansies akkommodasie te beset nie.  Ek dink ek het dit al genoem dat ons wel in 2017 in die Julie skoolvakansie saam met my drie kinders en hulle gesinne daar gekamp het.  Ek het dit baie geniet ten spyte daarvan dat die kamp stampvol was met kinders wat hulle gate uit geniet het.  Ek het daarvan gehou, 'n ware vakansie "vibe".

Andersins kamp ons altyd buite skoolvakansies en langnaweke en is dankbaar dat ons ook dit kan geniet  -  netso lekker !

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 26/06/2023 - 19:26

.... ek wonder nou wat 'n vakansie "vibe" is. As dit is wat ek vermoed, dan hoort dit by Hartenbos of Badplaas.

 

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 26/06/2023 - 19:44

...........ander mense stem nie noodwendig saam nie en dit pla my ook nie.  Stemme van kinders wat hulle gate uit geniet is vir my wonderlik, al is dit nie my eie kinders nie.  As mense die Wildtuin verkies bo Hartenbos en hulle kroos kuier saam, is ek baie bly die Wildtuin bied bekoring vir hulle ook.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus