Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Aaaa! Dankie Padlangs Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -14 minutes ago
Brandstof vergelyking Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -43 minutes ago
Brandstof !!!! Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -47 minutes ago
Brandstof prys Oktober 2026 saam gesels Geert -1 hour ago
Brandstofheffing Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -1 hour ago
Augrabies canyon Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -1 hour ago

Die Bouchers en Dwarswegstrand

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Die bymekaarsit vir môre se inpak is in volle swang. Inderwaarheid moet nog slegs ons klere gepak word. Die res van die items staan in die leë garage waar die Hilux normaalweg staan - dié is mos by die paneelkloppers. Die koue goed word môre-oggend eers in die Coleman gepak. By gebrek aan 'n kampvrieskas word slegs die eerste 3 aande se vleis saamgeneem - Van Rensburg Foods in George kan dus 'n besoek of twee verwag.

Ons mik om 09:00 hier wegkom, maar as dit selfs later is sal dit nie die kind uit die kot laat val nie. Die reis sal tipiese Boucher-styl geskied - 'n rustige 100 kpu met baie stoppe. Die ouman se regterboud laat hom beswaarlik toe om langer as 1 uur skofte te ry. Omtrent al wat 'n Wimpy langs die roete is, sal dus besoek word vir 'n koffie-stop.

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 15/01/2026 - 17:33

Waar's my dae van lekker kerjakker in die branders. Ek kon nie genoeg van speel in die branders kry nie. Maar my ou maatjie weier om deesdae in die see te speel nadat 'n geniepsige brander haar bostuk by Klein-Brak se strand afgeruk het - ten aanskoue van ander mans wat rondom ons was. Nou bly ek ook maar op die "wal". Buitendien het ek 'n moerske vrees ontwikkel vir daardie ouens met die vaaljasse, "blade" oppie rug en die lang wit tande. Hoeka gister 'n donker gedaante in die vlakkerige branders gewaar, wat toe later duidelik geblyk het 'n rob te wees. Maar vir hulle is ek deesdae net so bang nadat daar verskeie voorvalle was van robbe naby Kaapstad wat baaiers aangeval het. En nou is daar vasgestel dat daar hondsdolheid onder die robbe voorkom.

Dus - ek kyk maar net vir die branders en dink met nostalgiese herinneringe terug aan my jonger dae. Buitendien is hierdie ou boeppens maar iets wat ek nie graag wys nie.

0
Oudtshoorn

neef Herman

Thu, 15/01/2026 - 17:43

Van Rensburg se biltong en droeëwors en Cabanossi is ook uit die boonste rakke vir my.

Volgende week ry ons spesiaal George toe om ons vrieskas aan te vul. Oa ñ lam wat ek uitsoek en dan laat opsny soos ons daarvan hou. 

Ek  was verbaas oor jou lieslap in die  groenbone bredie, nie geweet ander ken hom so nie. Seker Ralie se mense wat jou geleer het. Maak myne net so. Die stukkies vleis is gemaak vir ń potjie, en smaak..... Hier kerrie ek hom so bietjie. 

Daai worse met die geelperskes of dadels in sal ek net eet by ander se braai. Die dik wors, met so geskroeide velletjie buite, maar sapping binne is my beste.   Party mense gril, maar ñ stukkie rou wors is darem maar heerlik. Dalk 2 Duitse gene erens gekry.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 15/01/2026 - 18:44

Ek wou droëwors by Van Rensburgs koop, maar dit was baie nat - toe maar gelos. Ek hou van klammerige biltong, maar droëwors moet (vir my) soos die naam sê droog wees. Dit moet breek en nie net buig nie. Die persoon wat my by die droëwors/biltong-toonbank gehelp het, het darem dadelik gesê dat die wors nog natterig is. Ek het toe maar droëwors by 'n deli by Garden Route Mall gekoop - die biltong "shop" reg oorkant die Wimpy. Nie sleg nie, maar kom nie by Joey's se droëwors nie.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 16/01/2026 - 11:29

... wat die weer aanbetref hier by Dwarswegstrand - 'n absolute windstil dag met so hier en daar 'n wolkie in die lug.

Die 2 oumense het vanoggend geslaap totdat my selfoon se alarm om 08:00 afgegaan het vir ons "reminder" van ons oggendpille. En die ghawwermint kom nou eers uit die stort uit. Ons voorsien egter 'n baie bedrywige Vrydag vir die res van die dag, nl niksdoen tot vroegaand wanneer ons dit sal onderbreek deur die Smokey Joe op te "start" vir vanaand se hoender espetada en Van Rensburgs se bloukaas & vyewors. Ek sal darem so tussenin voortgaan met my huidige boek en dit afwissel met die invul van 'n Sudoko tussenin.

Geniet wat jy ookal doen vandag.

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 16/01/2026 - 11:48

Ek sal veel eerder 'n lekker stuk boerewors saam met vars gebakte brood, gesmeer met konfyte geniet. 

My voorkeur konfyte is perske, druiwe en appelkoos. 'n Lekker sny warm tuisgebakte brood met konfyt is amper lekkerder as poeding.

Ek het na my verpligte Vrydagoggend take, ou Grompie gewas, dat hy respektabel lyk vir 'n inruil by Malelane Toyota.

My familie het geboer buite Malelane. My skoonsuster bedel toe stukkie grond by haar man, en plant rooirissies. Sy slaan daai jaar die mark reg, en is omtrent alleenverskaffer van rooirissies. Al die Swaziland smouse kom koop kontant by haar stalletjie, oppad na Swaziland. So gooi sy al die kontant in 'n skooltas.

Sit sy af na Malelane Toyota aan die einde van seisoen. Seg sy vir die verkoopsman, sy wil 'n Hi Ace koop. Hy wil weet hoe sy gaan betaal, en sy antwoord kontant. Hy dink sy maak 'n grap, en sy vererg haar. Sy stap bakkie toe, kry haar skooltas en keer dit op sy tafel om. Hulle het die verkooplokaal gesluit en almal het kom geld tel. Tot sy verleentheid was daar nog geld oor. 

Elke keer as ek daar verby ry, dan lag ek maar net weer oor die verhaal.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 16/01/2026 - 12:01

Daar het ek vir die eerste keer die spelling "Malalane" gesien toe ek hulle belastingfaktuur sien. Gewonder of dit nie 'n drukfout is nie, want ek ken die spelling as Malelane - soos wat die wildtuinhek en nabygeleë kampie steeds gespel word. Ek het eers later besef dat die dorp se naam verander is na Malalane.

Na die een keer se diens van 'n Hilux by hulle (toe ons in Onder-Sabie gekamp het) kry ek tot vandag nog korrespondensie van Malalane Toyota af. Ek moes ook al in Tzaneen en Bela-Bela van my Hilux'e laat diens.

 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 16/01/2026 - 21:17

... oor Van Rensburgs se bloukaas & vyewors. Kortliks opgesom - ek sal dit nie weer koop nie. Die bloukaasgeur kom effentjies deur, maar ons kon geen "hint" van vye bespeur nie. 

Hopelik is die lamswors môre-aand meer in my smaak.

Ons kon lekker braai vanaand, maar dit was nie buite so lekker soos die vorige aande nie. 'n Ligte briesie vanuit die see het dit koelerig gemaak - maar steeds was dit 'n voorreg om buite op die stoep te braai en die voortdurende gedruis van die branders te hoor (en te sien).

Maar eintlik is Dwarswegstrand 'n kakka plek. Diegene wat nog nie hier was nie moenie moeite doen om ooit hier te kom uitspan nie. Dit is nie 'n lekker plek nie. Los dit maar vir ons ouens wat al die onaangenaamheid kan verdra.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 17/01/2026 - 17:15

In teenstelling met gister, is dit maar 'n grouerige dag vandag. Dit reën nie, maar bewolk en 'n koelerige luggie wat uit die see uit waai. Ons kuier sommer net rustig hier by ons kaia, maar het darem na die middag gou 'n paar inkopies by De Dekke gaan doen.

Toe ek Woensdag Van Loveren se wyn-afsetpunt by Kleinbrak sien, het ek besluit dat ek moét gaan kyk of hulle een van my gunsteling wyne (Van Loveren Colombar) beskikbaar het - wat toe wel die geval was. 3 Bottels Colombar en 3 bottels van hulle River Red later en R435 armer is ons daar weg.

Vanaand val 'n paar van Van Rensburgs se lamsbladtjops en lamswors op die Smokey Joe.

Ek geniet myself - hoop almal wat hier lees ook.

0
Worcester

Wildehont

Sat, 17/01/2026 - 18:04

Ons is nou skaars ‘n week tuis van daar af, so ek kan my goed inleef. Geniet die welverdiende kuier daar. Ons beurt kom darem DV weer van 27 Maart tot 5 April. 

0
Oudtshoorn

neef Herman

Sat, 17/01/2026 - 19:21

Chris, dit is ñ winskopie daai. Jitte jong, deesdae is so by R90.00 ñ bottel vir Rooi, wat darem so 2022/3 oesjaar is die norm. 

Gister kyk ek so bolangs vir ñ Wessel voorkeur. Pinot Noir.  Net ñ Rosé vir ñ skaflike 1/4 van ñ duisend. Kan ek indink wat ñ goed verouderde een se stowwerige price tag gaan lees.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 17/01/2026 - 19:33

... ek drink maar die ou "cheapies". As die woonstelletjie se yskas dit kon hanteer, sou ek sommer dooswyn gekoop het.

Nee - Colombar (soms gespel met 'n "d" op die einde) is maar een van die goedkoper cultivar-wyne. Dit word hoofsaaklik deur kelders in die Robertson-omgewing gemaak waar dit primêr as 'n rabat-variëteit aangeplant is. Oorlede oom Pon van Zyl van Robertson Kelder het jare gelede besluit dat Colombard het dalk goeie eienskappe vir 'n droë witwyn. Hy't die proses vervolmaak om van dié cultivar iets meer te maak as rabat vir brandewyn-doeleindes.

En Van Loveren se River Red is 'n lekker bekostigbare kuierwyn.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 17/01/2026 - 19:51

Ek het in 2023 by Muratie 'n paar bottel Pinot Noir gekoop vir R350/bottel. Dit was ook nie baie verouderd nie. 

Vir 'n Murati Pinot Noir en Shiraz is dit nie te erg nie.crying  

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 17/01/2026 - 20:04

Ek het nie só 'n gesofistikeerde tong om daardie pryse te waardeer nie. Dan gaan ek mos hoogstens 1 glasie op 'n aand drink - en dit klink nie vir my lekker nie. Van Loveren se River Red kos my R70 per bottel en smaak vir my moers lekker. Muratie s'n kos dieselfde vir 'n klein glasie. En buitendien is ek nie lief vir Pinot Noir nie. Maar nou ja -smaak verskil mos maar.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 17/01/2026 - 21:06

... lê klaar in die kasserol. Die lamswors lê nou en "tan" in die Smokey Joe.

Dwarswegstrand

En intussen word die volgende geniet.

Dwarswegstrand

En dan nog 'n braaibroodjie wat wag om gebraai te word.Die 2 oumense eet dus laat vanaand - maar ons tyd is mos ons eie.

0
Worcester

Wildehont

Sat, 17/01/2026 - 21:43

Dit lyk of daar kole onder die braaibak lê. Elke ou soen sy vrou soos hy wil, maar ek verkies dat my vleis direk van die rooster af bord toe gaan. Eintlik sommer direk mond toe. Anders word dit verder gaar in die braaibak en kan uitdroog.

Maar julle mag dit doen net soos julle wil. Dit is natuurlik nie altyd moontlik om alles gelyk gaar te kry nie, maar ons armgatte braai meestal net een soort vleis op ‘n aand. Ek dink wel ek sal ‘n droeë stukkie vleis afsluk met iets nat in ruil daarvoor om vanaand daar langs die see te slaap.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 17/01/2026 - 22:06

... na die vleis het 'n mens eintlik nie keuse om jou vooraf-gebraaide vleis eenkant warm te hou nie. Met die Smokey Joe moet ek eers

die kole bietjie demp om die braaibroodjies te braai - andersins is die brood buite ge-"tan" maar die binnegoedjies is nog nie gaar nie. 

Ek sal beslis weer Van Rensburgs se lamswors koop - PUIK!!

Môre moet ons die ghawwermint se uitstappie na Mosselbaai Punt onderneem. Sy kan mos nie in hierdie wêreld kom kuier sonder om by Die Punt uit te kom nie. My aanvanklike gedagte was om môre-middag daar in die Spur te gaan eet. Maar ek oorweeg dit nou om in Hartenbos by Ocean Basket te gaan eet. Sal maar sien hoe omstandighede ons lei. Maar uiteet gaan ons môre uiteet - om of oor Die Punt se branders uit te kyk of oor Hartenbos se strand.

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/01/2026 - 06:13

Chris B, die Murati wyn aankoop was hoofsaaklik om nostalgie te besweer. In my studentejare het 'n paar van ons gereeld daar gaan wyn proe, dis die tyd toe oom Ben Prins die wynmaker was.

Deesdae is die normale huiswyn ook die lekker dooswyne van Robertson kelders, soms Du Toitskloof. Voorkeur wyn bly dan Cabernet, Shiraz en Merlot. Gebottelde wyne is vir vriende met aanhuis kuiers, of soms saam kamp in KarooNP. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 18/01/2026 - 09:16

Dit wil my voorkom asof ons aanvanklike mooiweersdae eers verby is. Vanoggend is die eerste keer wat ons opstaan met 'n koelerige windjie wat trek - maar geensins van só 'n aard dat dit ons dag gaan bederf nie.

Hier sit die ou nog met sy nagklere aan, twee koppies koffie later en so pas eers klaar gelees aan Rapport op Netwerk24. Ons sal maar sien wanneer ons gaan wegkom na Die Punt toe en waar ons ons Sondag middagete gaan geniet.

Wat jy ookal doen - geniet dit. Ek geniet myne.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 19/01/2026 - 11:01

Ons is só dankbaar - dit is vandag weer een van daardie droomdae hier by Dwarswegstrand. Ons het vanoggend 'n lekker 4km stap op die strand geniet.

Ons geniet hierdie strandwoonstel dermate dat ek sommer weer dieselfde eenheid (4A) vir volgende jaar (25 Jan - 8 Feb) bespreek het. Ons bure in 5A (Riaan & Susan Myburgh van Moorreesburg - twee bakgat mense) is vanoggend hier weg nadat hulle ook eers vir 14 aande volgende Januarie bespreek het. Die tariewe gaan 'n bietjie op. Waar ons tans R717.50 p.n. betaal het, is volgende jaar se tarief R766 p.n. Om dít te betaal vir 'n uitstekend toegeruste eenheid met die wonderlikste onbelemmerde see-uitsig is eintlik 'n "bargain". Ek gaan nou-nou kantoor toe stap om die deposito te betaal.

Vanaand braai ons Van Rensburgs se "dry aged pork rashers" en hulle bekende boerewors. Verder word daar, na vanoggend se stappie, net 'n luilekker salige seedag van niksdoen beplan.

Geniet jou dag - ek geniet myne tot dusver en beplan ook só vir die res van die dag.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 19/01/2026 - 11:16

....grens aan diefstal vir wat julle kry in daardie eenheid.

My dag het effe verbeter, ek het my herstelde rooster teruggekry vanoggendlaugh

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus