Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Foto van ablusieblok Kgalagadi Oktober 2026 Goeie Hout -50 minutes ago
Augrabies Kgalagadi Oktober 2026 Goeie Hout -54 minutes ago
Augrabies Kgalagadi Oktober 2026 Geert -1 hour ago
Canyon... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -1 hour ago
Augrabies - 20 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -3 hours ago
Lig my laphoedjie.... 2025 Wonderland 45 Wessel Strydom -15 hours ago

Buffelspoort Klein Karoo langnaweek Aug 2020

Worcester
Submitted by Wildehont on
Forums

Alhoewel dit nie ‘n kampeernaweek was nie, deel ek graag die juweel wat ons die pas afgelope langnaweek besoek het met die forum in die vorm van ‘n fotoverslag. Ek sal dit dag vir dag hanteer soos die tyd dit toelaat. Ter inligting is die verblyf gelys op lekkeslaap as Buffelspoort Cottage and Camping en vir rus en vrede en natuurskoon in die Klein Karoo teen bekostigbare tariewe kan ek dit sterk aanbeveel. 

Worcester

Wildehont

Tue, 11/08/2020 - 13:47

7 Augustus 2020

 

Wanneer ons weggaan sê ek altyd vir Salomien (my vrou) dat ek ‘n uur vroeër wil ry as wat ek regtig wil ry. Gewoonlik kom ons dan ‘n uur later weg as wat ek gesê het ek wou, en dus op tyd. Vrydag het ons egter twee ure later as wat ek gesê het ek wou ry weggekom, en toe net voor 14:00 in die pad geval. Ek het besluit om eerder met die N1 te ry as die R62, en toe ons Worcester verlaat was ek bly ek het. Daar was baie motors wat duidelik oppad weg was vir die langnaweek van die Kaap se kant af, wat afgedraai het om R62 toe te gaan toe ons draai op die N1. Die pad was nie besig nie, en ons het lekker gery. Net voor Laingsburg was ‘n verkeerspolisie padblokkade en hulle het my afgetrek om my voertuig en bestuurderslisensie na te gaan. Ek het gelukkig onlangs al my voertuie se registrasie hernu. Ons het gou gestop in Laingsburg om water en biltong te koop. Ek het by die kar gewag want Chris Jnr en Kara was aan die slaap in hulle stoeltjies. Ek het die geleentheid gebruik om bene te rek. 
A

 Ons het Suid gedraai uit die dorp in die rigting van Ladismith. Na ‘n ent op die teer het ons afgedraai op die grondpad na Ladismith wat ook toegang gee tot Anysberg aan die Oostekant. Daar is ‘n hele paar motorfietsryers by ons verby van voor af.
A

Die grondpad was in heel goeie toestand, en die landskap al hoe mooier hoe nader ons aan die Klein Karoo gekom het. Dele het herinner aan Namibië. Ons het net na 17:00 die afdraai na die verblyf bereik, en die kort entjie grondpad gery tot by die kothuis waarin ons vir drie aande bespreek het.

A

A
Die boer se vrou was daar om ons vriendelik te ontvang. Die huisie is oud maar baie netjies. Daar is ‘n kombuisie, hoofslaapkamer met ‘n dubbelbed, tweede slaapkamer met ‘n stapelbed en badkamer. Die vertrekke is almal in ‘n lyn in die volgorde genoem, en alhoewel die kombuisie en tweede slaapkamer albei deure na die stoep toe het moet jy deur die tweede slaapkamer loop om by die badkamer (met ‘n wasbak, stort en toilet) uit te kom. Binne in die huis is dit ook net die badkamer wat ‘n deur in die raam het. Vir ons as gesin was dit egter nie ‘n probleem nie. Buite is daar ‘n lekker stoepie met ‘n afdak, wat uitkyk oor die ou kampterrein (tydens die droogte het die skape die gras daar opgevreet en hulle gebruik die klein kampterrein nie werklik meer nie), die groot amandelboord, die res van die plaas en die Touwsberge (ek het nie ‘n foto van die uitsig geneem nie).

A 

Die kinders is onmiddelik op hulle fietsies terwyl ons afgepak het.

A

Nadat alles afgepak is het ek met die kinders gaan speel by die klimraam voor die plaashuis wat so 50m van die kothuis is. Die boer het voorheen daar gewoon, maar sy suster wat die finansies van die boerdery hanteer woon tans alleen daar. Meer oor die redes hiervoor later, ‘n baie hartseer verhaal wat nou nog by my spook. Toe dit afkoel is ons in die huisie in en het ek vuur gemaak in die kombuis se kaggel met die groot sak wattle wat ek vooraf met die boer se vrou gereel het teen R1/stuk sodat ons nie hout hoef saam te ry nie. Die hout was maar nat, maar ek het my gas vuuraansteker saamgevat en kon dit brand kry na ‘n ruk. Daar was egter definitief ‘n probleem met die kaggel se trek, en ons het baie rook in die huisie gekry. Ons het ‘n waaier gebruik om ‘n trek te skep om die rook by die deur uit te kry totdat die vuur mooi aan die gang was en beter getrek het. Ons het die probleem onder die eienaars se aandag gebring, en hulle het onderneem om aandag te skenk daaraan.

 A

Hulle het ‘n pakkie met interessante vuuraanstekers voorsien wat ek nog nie voorheen gesien het nie. In my ondervinding is ‘n gas aansteker egter die enigste antwoord in die Wes-Kaap. 
 

A
 

Nadat die kinders versorg was en bed toe is, het ek en Salomien gekuier en gebraai. Gelukkig het die verkeerspolisie in die enigste padblokkade wat ons gekry het nie probeer om die drank wat ons wederegtelik saamgebring het af te neem nie, en kon ek ‘n tuisbrou of drie geniet en Salomien haar wyn.  

 A

Sy is ‘n professionele fotograaf met haar eie besigheid, en doen ook sosiale media bemarking vir kliente – onder andere die Hussar Grill in Worcester. Daar is geen selfoonsein by die kothuis nie (waaroor ek baie bly was) maar die boer se suster het wifi by haar huis langsaan, en het goedgunstiglik toegelaat dat Salomien enige tyd op haar huis se stoep kon gaan sit om haar sosiale media plasings te doen (wat gereeld moet gebeur). Soos alle restaurante kry Hussar Grill baie swaar tydens die inperking, en moes innoverende maniere uitdink om kop bo water te hou. Hulle verkoop onder andere die vleis wat hulle bedien ook rou, en gee die basting wat hulle gebruik om dit gaar te maak en die botter en kruie mengsel wat daarop kom voor dit bedien word saam. Salomien het vir ons sirloin en fillet gekry teen kosprys (R110/kg sirloin en R180/kg fillet) en ons het ‘n sirloin gebraai en saam met ‘n suurdeeg braaibroodjie geniet. Die vleis was doeksag en het vorentoe gesmaak saam met die lekker braaibroodjie. 

 A

Terwyl Salomien op die bank vis gevang het (‘n ou laai van haar wat sy om een of ander rede baie geniet), het ek nog vir so uur lank gelees en ons het toe gaan inkruip om uit te rus vir die avonture wat die Saterdag gewag het.       

 

 

 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 11/08/2020 - 14:02

Ek lees lekker Wildehont. Doe zoo voort!!

Dit sal darem lekker wees as almal op 'n soortgelyke wyse verslag doen oor hulle trippies - veral in hierdie tye wat ons uitgehonger is om self weg te kom.

Ek wag vir die volgende aflewering.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 11/08/2020 - 14:18

Ek stem saam, dis heerlike lees- en geselsstof en as elkeen 'n bydrae lewer, kan die forum weer lewe kry al kan ons nog nie gaan kamp nie.

Dankie ChrisWH

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 11/08/2020 - 14:45

Daardie verwysing na Salomien se visvangery op die bank, laat my onwillekeurig dink aan my kinderdae as ons gery het. My ma was so lief om vis te vang. Dan sou my pa subtiel ons kinders se aandag trek en dit op my ma vestig. Dan sou hy begin met sy kommentaar bv. "Dit was 'n lekker byt" of "Daardie een het amper soos 'n galjoen gebyt" - totdat sy sou wakker word van al die kommentaar en gegiggel in die kar. Haar normale kommentaar aan hom sou wees: "Jou oond man. Jy maak 'n ou 'ghai' van my voor die kinders". Ralie sit gewoonlik met haar kop agteroor as ons ry en sy wil oë toemaak. Sy vang nie vis nie, maar sodra haar mond oopgaan weet ek sy is nou weg.

0
Worcester

Wildehont

Wed, 12/08/2020 - 10:27

8 Augustus 2020: Die oggend

 

Die kinders wil sommer vroeg al weet wanneer kan hulle pap eet maar ons probeer uitstel so lank as wat ons kan. Toe ek uitstap op die stoep weet ek hoekom.

 A

 

Chris Jnr wil dadelik na die plaashuis gaan om een van die twee honde daar te gaan groet. Nala is ‘n opregte hond, en baie vriendelik. Sy en Vlooi (‘n Labrador/Husky kruising) slaap op beddens op die stoep van die plaashuis. Toe Salomien die vorige aand daarheen was om kliente se sosiale media plasings te doen, kom Nala aangestap met ‘n kombers oor die rug gedrapeer. Dit was koud, en Salomien wou haar weer toemaak op haar bed. Nala gaan lê toe met haar kop op ‘n kussing en Salomien gooi weer die kombers oor. Ons keer Chris, want dis Saterdag en ons wil nie vir Magdalena (die boer se suster) pla nie. Dis ook nog vrek koud. Nou wil hy weet wanneer kan ons krieket speel. Ek belowe hom dat ons later kan speel. Ons gaan eers ‘n ent in die kloof stap. ‘n 5-jarige kan nie stilsit nie en kort voor lank is hy vort om met sy nuwe maatjie te gaan speel. 

 A

 

‘n Voetpaadjie lei van voor die huis af in die kloof in, wat ‘n paar honderd meter verder begin. Toe ons die Vrydagmiddag ingery het van die hoofpad af, was daar ‘n trop bobbejane wat die weiveld met die skape en bokke gedeel het. Ons het hulle later die aand hoor roep uit die kloof uit. Nadat ons gestort het en van die heerlike beskuit geniet het wat die boervrou in ‘n blik in die kombuis vir ons gelos het saam met ‘n verwelkomingsbriefie, trek almal hulle stapskoene aan.

A

Ons het skaars weggetrek of Nala sluit haar by ons aan. Die res van die oggend stap sy voor ons uit, haar ore platgetrek asof sy heeltyd iets bekruip. Chris merk op dat sy soos ‘n jakkals lyk terwyl sy so voor ons uit draf. Die kloof is pragtig en grotendeels ongerep. Die kranse toring weerskante bo ons uit, die harde sand loop maklik en ons is die enigste mense daar. Dit is ‘n groot voorreg en my hart sing.

A

A 

A

Ons stap ‘n hele ent voordat ons ‘n plek sien wat geskik lyk vir die kinders om ietsie te eet en vir ons om ‘n vloeibare versnapering te geniet. Kara raak moeg en pappa moet haar 18kg op sy skouers tel. Ons stap van die tweespoor pad af na ‘n oorhangende krans met ‘n klein poeletjie water langsaan, wat na ‘n goeie uitspan plek lyk. Toe ons amper daar is sien ons die karkas van ‘n beeskalf. Ek het verder terug hier en daar ‘n been gesien lê. Die karkas is al baie oud, en ruik glad nie meer nie. Ons stap verby en rus eers bietjie, terwyl ons spekuleer oor die oorsaak van die bees se einde. Nala het aanhou hardloop verder die kloof in en ons geroep om haar te keer het op dowe ore geval. Ek troos Chris dat sy definitief al hier was en haar pad terug sal vind.

A 

A
Ten spyte van mamma se waarskuwings beweeg Chris te naby aan die water, en toe Kara agterna is gly sy in die modder en beland op haar sitvlak. Toe ons terugstap kan ek haar dus nie meer dra nie, en die driejarige stap teesinnig aan my hand terug. Elke nou en dan wil sy eers hande ruil en aan my ander kant gaan stap, terwyl sy my herhaaldelik inlig dat sy nou moeg is. Ma en seun stap voor ons.

 A

Dis nie lank nie, of Nala is weer by ons. Te midde van die dorre landskap (dis werklik droog hier, soos Magdalena ook later bevestig) gedy die vygies. Langs die pad terug Laingsburg toe en langs die N1 was daar ook plate helder oranje, geel, pienk en pers blommetjies en ek sien uit na lente in die Boland. 

 A

Terug by die kothuis is dit tyd vir ‘n middagslapie nadat ons middagete op die stoep geniet het. Ek vertel later verder, moet nou eers bietjie werk…  

 

 

0

Middag Chris

Dankie vir jou inset, ek kuier lekker saam.

Darem wragtig mooi daar, so tussen die berge.

Groete

0
Vaalpark

Johann L

Wed, 12/08/2020 - 11:37

Chris, dit is mos lewe, so tussen die berge!!!

Dankue gir die deel vsn jou uit stappie met ons.

So paar jaar terug, toe ek jog by volwasse opleiding betrokke was, het 'n kolega altyd gesê "Send Johann to Mpumalanga, he is the one for the mountains"

0
Worcester

Wildehont

Thu, 13/08/2020 - 15:57

8 Augustus: Die namiddag

 

Ek word gewoonlik eerste wakker op die dae wat ons dit regkry om ‘n middagslapie te neem. Dit was geen uitsondering die Saterdag nie, maar ek staan nie dadelik op nie. Dit klink elke nou en dan asof daar reen val op die sink afdak oor die stoep. Dit kom en gaan egter. Ek probeer luister of dit die wind, wat die oggend opgesteek het vanwee die aankomende koue front, kan wees. Dit klink egter soos reen. Deur die venster kan ek sien dat die son buite skyn, so ek staan op om ondersoek in te stel. Toe ek buite kom sien ek die water stroom van die afdak af, en klim op die muurtjie om te sien wat bo-op aangaan. ‘n Dun straal water spuit uit die PVC pyp wat op die afdak lê. Soms waai die wind dit weg van die afdak af, maar ander kere val dit op die afdak. Ek stap om die kothuis, soek die stopkraan en draai dit toe. Daarna stap ek oor na Magdalena se huis toe. Sy het die water sien spuit en haar broer probeer bel omdat sy nie weet waar die stopkraan is nie. Ek stel haar gerus dat dit toegedraai is, en dat die herstel nie dringend is nie.

 

Toe gaan sit ek op die stoep en geniet die voëllewe. Daar is ‘n rooivlerkstreepkoppie en twee janfrederiks wat rondhop en krap vir gelukkies wat van die stoep afgewaai het, of afgegooi is. Deur die naweek het ons ook ‘n witkruisarend, swartborsslangarend, jangroentjie, hoep-hoepe, ‘n mikstert byevanger, fiskaallaksman, bloureier en nog ‘n hele paar ander spesies gesien. Ek neem fotos met my slimfoon so ek het nie eers probeer om hulle af te neem nie. Toe die res van die gesin ontwaak is dit tyd om die krieketwedstryd te speel waarna Chris al die hele naweek smag. Ek kap die paaltjies in teen die vuurmaakplek in die kampterrein, en ons speel en lag lekker.

 

Later die middag maak ons gereed om in die kloof in te ry. Voglens Magdalena kan mens omtrent so 4km ver in die kloof in ry, solank jou voertuig hoog genoeg is en 4x4 het vir die bietjie sand wat daar is. Ons pak ietsie om te eet vir die kinders, en ‘n grootmens sappie vir elkeen van ons. Toe ek die Everest aansluit wag ‘n nare verrassing. Die liggies wat aandui dat dit in 4x4 en 4L is, is beide aan. Dit het verlede Januarie ook gebeur toe ons by Schoongezicht op die Koue Bokkeveld was en die 4x4 roete daar wou gaan verken. Ek het toe gedink Chris het dalk met die knop waarmee mens wissel tussen 2H, 4H en 4L gespeel terwyl die kar af was, maar die liggies wou nie afskakel toe ek dit na 2H draai nie. Ek het ook gou agtergekom dat die kar nie in 4x4 en definitief nie in 4L is nie. Ek het daaroor gaan oplees en om ‘n lang storie kort te maak, is daar ‘n rubber bus waarteen die selector stop wanneer die solenoid dit draai na 4L (die verste posisie) toe. Die bus raak afgeplat aan die een kant oor tyd, en dan draai die selector net te ver, en kan die stroombaan nie sien waar dit is nie. So raak die kar se kop deurmekaar; want omdat hy nie weet waar die selector is nie, weet hy nie waarheen om dit te draai nie. Die transfer casebly dan in die modus waarin dit was, in die geval 2H, en daar is geen manier om dit te verander nie.

 

Op die forum waarop ek daarvan gelees het, verduidelik hulle hoe om die bus te vervang en alles weer te belyn sodat dit reg werk. Dit is egter bo my vuurmaakplek, en die ander raad wat gegee word het gewerk. Dit is om die solenoid liggies te tik met ‘n hamer. In Maart verlede jaar het dit egter weer gebeur by Grootvadersbosch, en toe het ek sommer ‘n stuk vuurmaakhout gebruik. Daarna het ek die voertuig na my werktuigkundige geneem, want dit was duidelik dat die probleem nie sou weggaan nie. Pierre het alles uitmekaar gehaal, ordentlik skoongemaak en oor en oor getoets. Dit het perfek gewerk, en het so aangehou tot ons die afgelope Saterdagmiddag in die kloof wou gaan ry. Ek skuif toe maar tot groot vermaak van die kinders onder die kar in en kap die solenoid ‘n paar keer. Dit bly egter onveranderd en ek besluit om dit in die kloof in te waag sonder 4x4. Net toe kom die boer daar aan om die barspyp reg te maak. Ons gesels vlugtig en ek vra hom of hy hulp nodig het. Natuurlik sê hy nee, en ek voel baie sleg toe ons hom daar los om te gaan ry. Ons kon egter nie langer wag nie, want dit raak vroeër donker in die kloof vanwee die hoë wande.

 

Dit verskaf vir Chris groot genot om die drie plaashekke waardeur ons moet ry oop en weer toe te maak. Ek hoop stilletjies dat die hulpvaardigheid sal hou tot in sy tienerjare. Ons ry verby die punt in die kloof waar ons die oggend omgedraai het toe ons gestap het. Tot daar was die sand hard genoeg vir enige voertuig, en verder aan raak dit meer klipperig. Hoe dieper ons in die kloof ingaan, hoe mooier dit. Ons sien ‘n bokkie wegskarrel teen die wand uit. Salomien reken dis ‘n klipspringer, maar dit het vir my te groot gelyk. Dalk ‘n rietbok (mountain reedbuck). 

A

A

A
Ons begin spekuleer oor hoe ver ons nog moet ry. Daar is twee oorwegings; ons soek ‘n plek waar ons kan stop om verversings te geniet en ‘n plek waar ons kan omdraai. Chris is ‘n baie analitiese outjie, en wil weet wat gaan ek maak as daar nie plek is om om te draai nie. Hy weet die 4x4 werk nie vandag nie, maar hy glo die Ford (soos hy dit noem) is die sterkste voertuig op aarde en het volle vertroue daarin. Omdat hy dinge ooranaliseer kan hy egter soms onnodig bekommerd raak. Hy en sy ma dink ons moet liewers omdraai. Kara is ‘n regte klein rabbedoe en is bang vir niks. ‘n Hele ent vorentoe draai die kloof Wes, en die verste wand is in warm sonlig gebaai. Kara sê sy dink ons moet ry tot by “daardie rots met die lig in.” Pappa stem saam en ons druk voort. 

 

Ons kry ‘n stukkie losserige sand wat teen ‘n helling op loop vir so 20m en dan tussen die bosse verdwyn. Ek gee bietjie vet en ons ry sonder moeite teen die helling uit. Aan die ander kant sak dit weer af en raak rotsagtig. Daar is ‘n kanaal gegrawe aan die regterkant van die tweespoorpad en bome aan die linkerkant. Verder vorentoe verdwyn die pad om ‘n draai, en ek besluit om te stop en eers te gaan kyk hoe dit vorentoe lyk terwyl daar nog omdraaiplek is. Dit raak ook later, en terwyl ek stap en hulle in die kar wag, besluit ek om nie verder te gaan nie. Terug by die kar verklaar ek dat ons hier gaan stop om verversings te geniet. Ek neem ‘n paar fotos om te onthou hoe klein ons is in die grootse skepping, en geniet ‘n tuisbrou pale ale op ‘n klip. 

A

A

A

Net voor ons ry seil ek weer onder die kar in, en timmer die solenoid sommer met ‘n klip. Toe ek weer aansluit is die 4x4 en 4L liggies af, en die 4x4 skakelaar werk weer. Toe ons omdraai op die klippe is ek ook maar bly. Die een agterwiel tol bietjie op ‘n klip en ek sit 4x4 aan. Een nadeel van die Everest is dat dit ‘n limited slip diff het (nie ‘n ewenaarslot nie), en dit werk net wanneer dit in 4x4 is. Ons ry sonder noemenswaardige opwinding terug. Chris wil eers vir Nala gaan nag sê en Salomien moet die wifi op Magdalena se stoep gaan gebruik. Ek stoei solank om die vuur aan die gang te kry sonder om die hele kothuis te berook. Vanaand bak ons ‘n bierbrood met een van my pale ales, en ons braai fillet. Die broodjie kom lekker uit, en die kinders smul daaraan. Nadat hulle gaan slaap het is dit ons beurt, en ek geniet my broodjie saam met ‘n doeksagte beeshaas, sampioene en rou blomkool. Na ete vang Salomien weer vis en ek lees tot ons gaan inkruip.

A

A

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 13/08/2020 - 17:15

Lekker vertel man, lekker! Maar ek kan nie help om te vra nie - 'n ou wat rou blomkool eet en beweer dit is lekker, sal hy nie dalk oor ander goeters ook lieg nie?😉😉 Nou nie dat jy beweer het dit was lekker nie. Seker maar nog 'n kastrolletjie benodig wat daar nie was nie?🤪🤪

0
Worcester

Wildehont

Thu, 13/08/2020 - 18:06

Rou blomkool smaak eintlik na niks nie. Ek verkies dit effens gaarder, maar nie pap gekook nie. Die kinders eet dit rou, en ek het sommer hulle oorskiet geëet. 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 13/08/2020 - 20:00

Dankie Chris, ek lees ook lekker !  Soos wat die verhaal ontvou, wonder ek oor Arie se bewering : "Ford is darem maar die beste".

Jy is 'n heelwat beter mens as ek  -  as my kar lol as ek met vakansie is, is ek in sak en as. Gelukkig het nog net 'n pap battery my in die Wildtuin eenkeer so gevang. O ja en nog 'n keer (ook in die Wildtuin) wou my karavaan-kamera skielik nie werk nie  -  monitor morsdood.  'n Sekering het geblaas maar ek kon die blêddie ding nêrens in die handleiding opspoor nie.  Na gesels met die Nissan werkbestuurder in die Kaap, spoor hy toe nog 'n spul sekerings op in 'n opskure plek en whalla, daar werk die kamera en monitor toe weer !

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus