Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Vlieg kaartjies November 2026 Geert -15 minutes ago
Frankryk Springbok rugby Geert -13 hours ago
Frankryk of Engeland Springbok rugby Rona du Plessis -21 hours ago
Finaal Springbok rugby Geert -21 hours ago
Noordelike spanne Springbok rugby Geert -22 hours ago
Ja Springbok rugby Goeie Hout -23 hours ago

Die nadeel van beter toeganklikheid

Worcester
Profile picture for user Wildehont
Submitted by Wildehont on
Forums

Ek is bevoorreg om al redelik wyd te getoer het in Afrika. ‘n Toer wat ek egter een dag nog graag wou aanpak is om Mana Poele toe te gaan. Ek was ‘n hele paar keer daar verby op die Zambesirivier en aan die Zambië kant in Lower Zambezi National Park. Maar ek sou graag in Mana Poele wou gaan kampeer, en sommer ‘n draai maak in Matusadona terwyl mens nou so ver ry. 
 

Gister lees ek bietjie wat die mense op 4x4community forum sê oor Mana Poele. Daar was ‘n algemene sentiment dat daar te veel GP groepe is met 4x4 voertuie wat met alles toegerus is wat daarheen gaan om partytjie te hou en dit bederf vir die wat daarheen gaan om die natuur te geniet. Hulle drink en fuif, speel musiek tot laat in die aand en versteur die vrede. 
 

Ek weet bv Oom Len verskil van my, en gun ander mense dit om lekker saam te kuier op vakansie. Groepe in oorde is nie my gunsteling bure nie, veral nie as hulle kattemaai tot laat nie. Dis een van die redes waarom ons Dwarswegstrand so geniet, daar was nog nie een keer so lawaai terwyl ons daar was nie. 
 

Sulke afgeleë bestemmings soos Mana Poele en Sentraal-Kalahari het altyd vir my ‘n spesiale bekoring ingehou, onder andere omdat daar minder mense is en mens by sekere kampplekke baie ver van ander kampeerders af is. Dit mag wees omdat ek bederf is toe ek in Botswana gebly het, waar ons in ‘n 150 000ha konsessie hoogstens altesaam 24 gaste gehad het in die drie kampe en op die meeste vier wildrit voertuie wat op een slag beweeg. Daar het dit meestal gevoel asof mens die plek vir jouself het. 
 

Ander mense voel anders as ek. Die een lid op 4x4community vertel dat hy ‘n groep wat laat in die aand gekuier het in Mana Poele gaan vra het om nie so te raas nie, want hy het ver gereis om die stilte van die natuur te kom geniet. Die groep sê toe vir hom Well we came here to party. 
 

Dit is die nadeel van beter toeganklikheid. ‘n Viertrek was in my jong dae die uitsondering op die reel. Deesdae het elke Jan Rap en sy maat een, en al die bybehore wat klomp geld koop. Meer mense weet ook van al die afgeleë plekke wat net met ‘n viertrek bereik kan word want daar is YouTube video’s by dosyne en tydskrif artikels en webwerwe wat mense inlig en dit baie makliker maak om daarheen te gaan.
 

Lede hier het al hulle spyt uitgespreek dat al hoe meer mense bv Punda Maria toe gaan, en dat hulle as ‘n gevolg nie meer daarheen gaan/wil gaan nie. Ek gaan vir seker nie 2700km in een rigting ry en amper R2500/aand vir kampering betaal om bokkie-sokkie doef doef musiek te gaan luister nie. Dis hoekom ek aan die begin gesê het ek sou graag in Mana Poele wou gaan kampeer. Ek dink nie ek wil meer nie…

Brits

Wessel Strydom

Tue, 17/09/2024 - 09:01

....vir elke geleentheid.

As jy hou van bokkie-sokkie doefdoef, gaan dan Goudini toe oor 'n naweek. Ten minste weet jy waarvoor jy jou inlaat.

Ongelukkig verwag ek [verkeerdelik] dat almal wat na 'n wildtuin gaan, my sentimente deel. Mens gaan soheentoe eerstens vir die natuur en gepaardgaande geluide.

Ek het geen probleem as mense saam kuier en gesels om 'n vuur in die wildtuin nie, maar rondom 22h00 behoort dit stil te wees. 

Die laaste ding wat ek in 'n wildtuin wil hoor is 'n ander se musiek, ongeag of dit Snotkop se doefdoef, 'n Bach cantate of Mendelsohn se koraalmusiek is.   

Die probleem is nie soseer toeganklikheid nie, maar die tipe besoeker wat nou sulke ongerepte plekke besoek. 

0
Vaalpark
Profile picture for user Johann L

Johann L

Tue, 17/09/2024 - 10:23

Chris, ek stem 100% saam met jou siening in alle opsigte.

Ons gaan kamp om die natuur en die rustigheid te gaan geniet. Waar mense met kindertjies ook gaan, pla die spelende kleingoed ons nooit, dit is lekker om hul gebaljaar te sien en hoor. Maar ek het 'n kleintjie dood aan luidrugtigheid en harde musiek.

Die naweek by Klipdraai was ons hele naweek so ontsuur deur seker 20+ mense bymekaar op 4 staanplekke reg oor ons plek. Die eerste drank, wat ek kon sien, het al 07:30 reeds soggens begin vloei. (Dit sluit Sondag oggend in terwyl die mense op pak) Die musiek was ook baie hard, maar daai vloek woorde was so erg dat ons maar moes gaan praat, na een dronkgat die P woorde voor hul eie vroue en klein kindertjies uit geskree het.

Weet nie eers of die dronk goed veilig in Alberton terug is nie.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Tue, 17/09/2024 - 10:24

Die probleem is nie soseer toeganklikheid nie, maar die tipe besoeker wat nou sulke ongerepte plekke besoek. 

Die plekke is nie juis meer toeganklik nie, maar meer mense weet daarvan en hulle kan makliker daar uitkom want baie meer mense het deesdae die nodige voertuig en toerusting. Die wet van gemiddelde dikteer dat as meer mense daarvan weet en daarheen gaan, daar meer mense van ‘n spesifieke soort daar gaan wees. Ongelukkig ook van die “verkeerde” soort.
 

Mense raak ook al hoe beter ingerig, en dit maak dat mense wat voorheen nie sou wou sukkel op so afgeleë plek sonder ys vir hulle brandewyn en Coke na drie dae nie nou nie skroom om so ver uit te wyk nie. Een van die klagtes op 4x4community was juis dat daar selfs mense is wat kragopwekkers laat loop. 

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Tue, 17/09/2024 - 10:33

Dit is so jammer dat sommige mense genot daaruit put om die natuur te besoedel met geraas/harde musiek en meer.

Die uitdrukking "Geld wat stom is maak reg wat krom is" kom by my op. Deur die beste 4x4 voetuig te besit met elke moontlike aanhangsel bied skuiling - eie gebreke word so verbloem en nou kan ek my maar soos 'n idioot gedra....

Sekerlik maak net sommige mense hulself skuldig hieraan, maar  versuur die lewe vir ander. Ai tog!

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 17/09/2024 - 11:44

Ek weet bv Oom Len verskil van my, en gun ander mense dit om lekker saam te kuier op vakansie.

Miskien het ek my elders nie duidelik uitgedruk nie.

My standpunt is daar is 'n tyd en 'n plek vir alles en almal.  'n Vakansie-oord soos 'n vakansie-oord byvoorbeeld by die see of ander binnelandse oorde met jol-geriewe se besoekers tree heeltemal anders op as besoekers aan natuur-oorde soos byvoorbeeld wildtuine.  As ek sê "lewe en laat lewe" is my bedoeling dat toeriste, inagnemend die aard van die oord, hul gedrag behoort te bepaal.  Ek vind byvoorbeeld geen fout daarmee dat groot groepe saans in 'n wildtuin om 'n braaivuur hulleself geniet nie.  Daarmee bedoel ek nie (steurend vir ander mense) harde musiek en of die resultaat van oormatige alkohol-gebruik nie  -  dit hoort nie in 'n natuur-omgewing nie. Ek sal ook glo dat verantwoordelike mense sal teen 9nm hul kuiers tot 'n einde bring.

In die Julie 2017-skoolvakansie was ons vier gesinne (ons en ons drie kinders en hul gesinne) wat vir 12 dae in Skukuza gekamp het om my 70ste verjaardag te vier.  Dit was vir my 'n wonderlike belewenis, maar teen 9nm is almal bed toe.  Ek is vas oortuig dat ons geen himdernis was vir mede-kampeerders nie.

Wat Mana Pools betref, ons het vir 7 jaar in Zimbabwe gewoon en ek het nooit hierdie reservaat besoek nie, ten spyte daarvan dat ons dikwels op die Karibameer (naby aan Mana Pools) gekarjakker het.  Die enigste rede was ons het net 'n padkaravaan en het destyds nie oor 'n 4x4 beskik nie.

Wat Punda Maria betref, is ek een van 'n klompie wat hierdie kampie oor jare heen baie geniet het, maar my laaste paar besoeke het my laat besef die kampterrein is oorvol en die ablusies is nie naby genoeg ontwerp en geskik vir die hoeveelheid toeriste nie.  Dit is dus nie die baie mense wat pla nie, maar die terrein en ablusies kan nie  deesdae se groot hoeveelhede toeriste hanteer nie.

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 17/09/2024 - 12:21

Middag Chris S, wat bedoel jy met GP groepe?? Verwys jy na persone uit Gauteng provinsie?

Jy laat dit amper klink of jy 'n gewaagde verwantskap maak tussen Gautengers, rykdom[of skuld], besit van nuutste 4x4 voertuie ens en wangedrag in afgeleë kampplekke.

Ongelukkig is daar ook ander persone, wat nie in die bostaande kategorie val, wat hulle ook daaraan skuldig maak.  

Ongelukkig bewys jou voorbeeld/bekommernis net weer dat geld nie noodwendig goeie opvoeding ook beteken nie. 

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Tue, 17/09/2024 - 12:26

Reg opgesom Wildehont. Gelukkig het ons baie goeie herinneringe van die afgelêe plekke. Was self al baie ontnugter deur die vreemde gedrag waargeneem.

Ons 4x4 dae het begin omtrent 1983 Die wêreld was nog woes en leeg. Hier en daar iemand raakgeloop, en dan was dit jóu soort mense.  Ons het tot redelik onlangs nog toere Nam toe gedoen met net tente en ammo kiste. Daar is plekke wat ek regtig nie met ń waentjie sal aanpak nie. Soos jy noem, lees mens geteeld van " bosmense" wat met die Mobi Lodge of wat ook al in die boedoes is, en dan soos heroes voel. Die mense kry ek jammer, hulle verstaan nie eintlik nie.

Gelukkig voel ek darem vergenoegd met eie ondervindinge, en bêre die pragtige herinneringe hier bo vir stoepsit. Die nuwe bosmense sal hul eie memories maak en vertel van yskoue Gin en Tonic by Mana Pools saam die Kinderkransonderwyserskampeergroep.

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 17/09/2024 - 12:57

....jy laat my amper goed voel omdat ek net 'n 4x2 en Kavango het. Ek sal my laphoedjie gee vir 'n bul 4x4 en Gecko om net so 'n entjie in jou voetspore te kon verken. 

Ek is nie in groepering van G&T en kinderkransjuffroue nie, en sal my Windhoekblikkie by die huis kom weggooi.

Daai Mobi Lodge moet dan liefs ook nie 'n 12v TV in hê nielaughO gaats ons blinkblare sit mos sterk omsetters in, en sleep ons dood aan sonpanele om katoeters soos ysmasjiene aan te dryf.devil  

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Tue, 17/09/2024 - 13:30

Dankie vir die regstelling Oom Len. Ek kan akkoord gaan met die leef en laat leef siening maar ek verkies dit steeds om alleen met my eie mense in die bos te wees. Dis maar hoe bederf (selfsugtig?) ek is. 
 

Wessel, ja die 4x4community lede het verwys na die GP registrasie. Die provinsie is steeds die mees welvarende en van die mense wat so hard werk daar kan baie duur speelgoed en vakansies bekostig. Uiteraard as dit by Mana Poele kom is GP ook baie nader as enige registrasie wat met ‘n C begin. 
 

Dis vir my hartseer dat dit so duur geraak het om in plekke soos amper al Botswana se reservate en ook Zim en Zambië s’n te kampeer (digby R2500 per aand vir ‘n gesin van vier) en dat daar die risiko is dat mens langs ‘n brandewynbrigade kan beland wat daar is om partytjie te hou.
 

Gelukkig het ek ook soos Oom Neef ‘n rykdom van herinneringe wat net Alzheimers van my sal kan steel. Ek sou net graag vir my kinders dieselfde wou gee, maar ten minste kan ek hulle nog Krugerwildtuin toe vat elke jaar. 

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 17/09/2024 - 13:42

Onthou ek babbel saam met soms die tong in die kies. 

Ek het 'n vriend, wat baie gereeld gou sy LR kortgat Defender bespring en die pad vat Botswana toe [Khutse en Kwai], en hy het nog nooit genoem dat hulle sulke probleme ervaar het nie. 

Ja baie ervarings met olifante wat peule afsuig van sy daktent, leeus wat in LR se koelte kom lê, en veral die klam stortkol kom opsoek vir koeligheid. 

Dalk moet jy maar tog so 'n toer met jou kinders en vriende saam doen, en gaan in die hoop dat jy nie die erge blinkblare, suiplappe en katelaars gaan raakkamp nie.

Dis mos maar wat ons doen as ons na enige plek toe gaan, anders sal ons nêrens gaan kampeer nie.

Soms is daar voordele in as mens die hele oord moet bespreek. Dan is dit ten minste gevul met jou soort kampeerders. 

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 17/09/2024 - 13:45

Dis nie nodig om primitief te lewe of te kamp om die wonderlike natuurlewe te belewe nie.  Ons voorouers wat met ossewaens gekampeer het het seker destyds gesê daardie ouens wat deesdae met hulle T-Fordjies en olie-lampe gaan kamp weet nie eintlik nie.

Los die jonger geslag wat met al hul nuwer katoeters die buitelewe en natuur op hulle manier geniet  -  die bewondering, beskerming en bewaring van die natuurlewe deur almal is baie belangriker as die toerusting wat hulle gebruik om daarby uit te kom.

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 17/09/2024 - 14:05

....ek stem saam met jou stelling hierbo.

Ek dink Chris S het dit eintlik maar net teen absolute wangedrag van kampeerders. Diesulkes waarteen Chris te velde trek, is juis die tipe wat nie bewonder en bewaar nie. Vir hulle gaan dit net oor "ek het met my 4x4 ook tot hier gekom en gekamp"

 

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Tue, 17/09/2024 - 14:42

Stem saam Len. Die ou fossiel sal moet leer om verandering te aanvaar. 

Die jonger geslag bosmense sal hulle eie stel reels en waardes ontwikkel, en daarmee sal hulle dan die natuur geniet.

Lees nou die dag. "Dit het my twee jaar geleer om te praat. En sestig jaar om te leer om my mond te hou." Moet erken, ek is ń stadige leerder.laugh

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus