Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Nieuwoudville na Kambro.... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -7 hours ago
Selfde leeuwyfie? Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -7 hours ago
Wessel ... Oktober 2026 saam gesels Chris Boucher -8 hours ago
Wessel, Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -9 hours ago
Gemsbok... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -9 hours ago
Stil pad Tulbagh toe. Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -9 hours ago

Hentiesbaai 2025

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Ek begin die onderwerp, synde my trippie eintlik môre begin. My goeters is alles gepak vir môre se groot inpak op Grabouw.

As alles volgens plan verloop, val ons Saterdagoggend om 04:00 in die pad. Skof 1 neem ons tot Vanrhynsdorp waar by Kaap Agri met diesel volgemaak word. My seun is 'n lid van Kaap Agri en poog om sover moontlik by laasgenoemde se takke vol te maak. 

Daarvandaan druk ons vir Vioolsdrif grenspos, maar iewers sal daar eers langs die pad padkos genuttig word. Die volgende volmaakplek vir diesel is net anderkant die grens by Noordoewer waar ons die eerste goedkoper diesel kry as Suid-Afrika s'n.

Grünau Chalets is ons eerste oornagplek - 807 km vanaf Grabouw. Teen daardie tyd is hierdie oukêrel gatlam gery.

Ek sal poog om so gereeld moontlik terugvoering te gee, maar maak geen beloftes nie.

Brits

Wessel Strydom

Sat, 08/03/2025 - 08:49

Bly hulle vorder so fluks.

Nico sal nou verder die leisels so bietjie moet intrek. Of het julle genoeg vis vir omkoopgeskenke vir die blou baadjie manne.??? 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Sat, 08/03/2025 - 10:32

Met ons Henties-trips verdeel ons altyd die vis gelyk - maak nie saak wat elkeen se bydrae tot die vangste was nie.

So ‘n stelsel werk goed tussen vriende op ‘n eenmalige basis. As dit egter permanent so werk soos in Suid-Afrika raak die ouens wat alles vang gatvol daarvoor om heeltyd van hulle vis vir die passasiers te gee en later gaan vang hulle by ‘n ander strand. Dan ly die wat niks vang nie honger. Die ANC verstaan dit egter nie. 
 

Maar nou braak ek onnodig gal op die gesprekslyn, jammer daaroor. Is daar genoeg plek in die afskuwelike bakkie om al die vis gevries te hou as julle elkeen julle kwota sou vang elke dag? Bring julle heel visse of is dit gevlek en die binnegoed uit en koppe en sterte af? Verskoon my naïwiteit (hoe spel mens dit?) maar ek is nie ‘n visserman nie. Ek eet skaars die geskubte swemmers. 

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Sat, 08/03/2025 - 11:10

Julle manne " drool" oor die GR Sport nê !! Nou word dit kamma as ń sirkustent of afskuwelik beskryf.laugh Suur druiwe sê ek. As die ponde geklingel het, was hier heel paar met waens agterna. Ek vir een sal hom sommer elke dag was ook nog!! Pragtig en sporty.

Stywe stovepipe langbroek, bruin skerppunt skoene, ń blou blokkies hemp en ń Gazoo Racing Hilix.... my ou maat, jy het arriveer.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 08/03/2025 - 11:35

...sit daarby so 'n lekker GR-keps ok. Verkieslik moet daai hemp se kraag so lekker gestyf kan opslaan. 

Man---sommer lekker voor in die koor, seg ek jou!!!!wink

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 09:02

Die outoppie is dankbaar om terug te wees by die huis. Maar dat die ou lyf "op" is na die trip, is nie altemit nie. Daar was baie lekker aan verbonde, maar daar was vir 'n oumenslyf ook baie straf aan verbonde. Dit sal seker 'n paar dae neem voordat ek weer heeltemal mens voel.

Die langpad terug huistoe het my veral klaargemaak. 1200km op 'n dag is nie meer vir my bedoel nie - veral nie as jy met een of ander rede met 'n seer regterboud opgeskeep sit wat nie vir lang ente met 'n voertuig-sitplek akkordeer nie. Ek was Vrydag (en ook gister tydens die 700km skof) letterlik en figuurlik gatlam.

Maar voordat dit klink of ek net wil kla, moet ek darem sê dat daar was wonderlike oomblikke ook. Soos met enige vakansie is die heenreis mos gewoonlik lekkerder as die terugreis. Die eerste oggend se 03:00 opstaan im 04:00 te vertrek was dus baie maklik. Ons was laatmiddag in Grünau waar ons 'n gesellige aand deurgebring het. Dit kan dalk nét wees dat daar effens te veel polisiekoffie bedien was, maar darem binne perke.

Henties

Vier groot manne wat binne 'n enkelvertrek slaap is nie heeltemal sports as twee van hulle probeer om te kyk wie kan die hardste snork nie. Maar ons het dit gemaklik oorleef en kon uitgerus die Sondagoggend om 08:00 vir ons volgende dag se skof Windhoek toe vertrek.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 10:06

Ons kon dit 'n bietjie rustiger vat toe ons die Sondag vanaf Grünau na Windhoek gery het. Die skof was 'n bietjie korter as die vorige dag s'n. Ons het eers rustig 'n Wimpy brekkie by Keetmanshoop geëet, vleis in Mariental gekoop (by hulle netjiese Spar) vir die aand se braai en in Rehoboth gestop vir 'n hoender-burger (ala Hungry Lion). Die drie jonger manne het 'n eetlus aan hulle wat niks te kort skiet nie.

Ons was mid-middag by ons blyplek - Arebbusch Travel Lodge. Watter uitstekende plek!! Hulle het ook netjiese kampeergeriewe.

Henties

Na nog 'n lekker gesellige aand, met weereens lamstjops op die kole, het ons die volgende oggend eers 'n uitstekende buffet-ontbyt genuttig alvorens ons die laaste skof na Hentiesbaai aangepak het.

Henties

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 09/03/2025 - 11:14

hoeveel boude aan jou lyf!!!

Ek is bly om te hoor julle is almal veilig tuis.

Ek aanvaar jy is gister met chemico, sunlight liquid en Life boy geskrop en met tuinslang skoongespuit. Ralie sal mos nie so 'n ou visreuk in haar kooi verdra nie laugh

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Sun, 09/03/2025 - 11:18

Dankie vir die reisverslag. Ek sien uit na die res. 
 

So paar manne saam het mos nie remme nie, ek kan dink die aande se kaperjolle saam met dae se staan in die elemente eis sy tol. Spoel maar die stelsel uit met baie water. 
 

Ons het al die afgelope 22 jaar ‘n jaarlikse boys weekend waartydens ons paar skool- en universiteit vriende weggaan en braai, kuier en nonsies praat. Verlede September was ons in Seepunt, en ek het twee weke voor dit op die waterkar geklim. Dit was baie sagter op my liggaam (en goedkoper) as die ander jare. Maar dit was steeds vet pret. Mens lag altyd lekker op so ‘n uitstappie. 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Sun, 09/03/2025 - 11:20

as jy met een of ander rede met 'n seer regterboud opgeskeep sit

Is dit nie dalk sciatica nie? Dis ‘n bliksem, ek kry dit al ‘n paar jare en al wat help is so elke twee ure uitklim en strek.  

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 11:22

Laat die GR Sport maar lyk soos dit wil (nou nie in my smaak nie wat looks aanbetref), maar dat dit 'n lekker voertuig is, is nie altemit nie. Ekself het net twee skofte bestuur - met die heenreis tussen Keetmanshoop en Mariental, en met die terugkeer tussen Grünau en Noordoewer. Die voertuig ry en hanteer uitstekend. Wanneer jy krag nodig gehad het, was dit daar - ten spyte van 'n swaar vrag.

Die sandryery in 4x4 het goed afgeloop - dit was slegs my seun wat dit gedoen het weens sy 24 keer se ervaring wat hy van Henties se sand het. Sandryery in 4x4 knou maar die brandstofgebruik - soms tot 5km per liter. Maar ons algehele brandstofverbruik vir die hele trip was (aldus die voertuig se rekenaar) 8.0 km/liter. Ons het meer as 1 900km gery agter vis aan by Hentiesbaai. Ons was 3 keer tot bo teen die sogenaamde "draad" - die ingang tot die Skedelkuspark, nagenoeg 150 km vanaf Hentiesbaai met die soutpad.

Ek het nogal 'n foto van die nuutgeboude ingangshek na die Skedelkuspark geneem, maar dit is net "missing" op my foon. Seker maar bollie aangejaag.

 

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 09/03/2025 - 11:49

Julle moes maar ou Nico so bietjie praktiese sandry lesse gegee het. Van ratkeuse, momentum, 4x4 en uitgrawe!!! Nou is hy steeds onervare sadwink

0
Kaap

Goeie Hout

Sun, 09/03/2025 - 12:04

Dankie vir die verslag.

Jy is reg vroeg op staan as jy soon toe gaan is makliker.

 

Sien in Krokodil brug.  Bly julle is veilig.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 13:11

Sien in Krokodil brug.

Ongelukkig gaan daar nie iets kan kom i.v.m. die beloofde galjoen nie. Tydens 9 dae se hengel is slegs 1 galjoen gevang - die water was net nie reg daarvoor nie. En ek was die gelukkige een om die enigste (mooi groot) galjoen te vang. Ek en my ou vriend van Tzaneen kry mekaar in Hartenbos wanneer ons oor 4 weke via laasgenoemde wildtuin toe vertrek. Ek het vir hom ook 'n galjoen beloof, maar toe't hy voorgestel ek moet dit sommer in Hartenbos kom braai i.p.v. dat hy dit in bevrore toestand tot Tzaneen moet vervoer (en buitendien nie juis 'n visbraaier is nie). Dié galjoen sal darem ons 4 persone van 'n aandete voorsien.

Ja - Krokodilbrugtyd kruip nader. Maar ek sien nog eers uit na Hartenbos, Karoo Nas Park en Klein-Kariba voor die wldtuingedeelte aanbreek. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 13:39

... (Raymond) het ook die gedagte uitgespreek dat dit dalk sciatica mag wees. Al wat ek weet is dat dit baie ongemak veroorsaak

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 13:58

Ons is maar eers knap voor 09:00 weg by Arebbusch. Behalwe vir 'n piepiestop langs die pad tussen Okahandja en Karibib, was ons volgende stop by Usakos - reeds 'n tradisionele stopplek om biltong, droëwors en chili-bites, vir die dae wat voorlê langs die viswaters, te koop. My seun koop toe ook 'n handvol van hulle sogenaamde "Babbelas-mix". O donkie, dit is biltongskyfies sterk gegeur met chili's - vir almal, behalwe Raymond, te sterk om te eet. Laasgenoemde kan nie sterk genoeg souse kry nie. Hy gebruik blykbaar 'n groot bottel Tobasco per week. Hy gooi saans selfs Tobasco oor sy peanuts. Ek het maar die "Babbelas-mix" op sy broodrolletjies gesit wat ek daagliks vir ons ontbyt ingepak het. Daarby kom ek later.

Ons volgende stop was by Windpomp 14 (Myl 14) - 'n tradisionele stop vir ons eerste Hansa Draught.

Henties

Henties

Henties

Henties

Henties

Henties

Hulle kampeerplek beskik oor privaat-ablusies vir elke staanplek - netjies!!

Henties

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 16:08

... het ons gou eers ons huis se sleutels gaan optel en betaal. Die huis het ons R1350 per persoon gekos vir die 11 aande, maar was uit en uit die geld werd - 'n ruim relatief nuwe huis in 'n nuwe buurt.

Klaar afgepak, het ons gou die basiese kruideniersware by Woerman Brock gaan koop en daarna die visstokke ge-"rig". My seun glo in drie visstokke wat onderskeidelik vir galjoen, kabeljou en steenbras ge-"rig" is. Die stokke is op die Hilux se dak teruggeplaas en toe ons eerste besoek by die welbekende Skubbebar. Ons sardyne (kabeljou-aas) is vooraf daar bestel en moes opgetel word.

By Skubbe aangekom is ons dadelik gevul met opwinding en hoop vir 'n uitstekende begin. Groot kabeljoue - tot 18kg - was besig om skoongemaak te word. Nou kyk - 90+% van Henties se vissermanne gaan vir jou lieg as jy hulle vra waar hulle die vis gevang het. Hulle wil vermy dat daar die volgende dag 'n menigte voertuie, vissermanne en stokke met oormekaar lyne hulle pret kom bederf. Maar 'n baie eerlike Hentiesbaaier en sy vrou het my vertel waar hulle gevang het.

Ons aanvanklike idee was om die eerste dag met vroegoggend-laagwater te gaan sandkrappe vang (uitstekende aas vir groot steenbrasse). Maar skielik is ons beplanning omver gewerp. Ons sal vroegoggend daar by die area tussen Doep se Gat en Canopy wees om ons geluk ook te probeer met grootmenere.

Meer daaroor volgende keer.

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 16:37

Kwart voor f'n vier is ek wakker gemaak om donkeroggend te vertrek vir kabeljouvang. Omdat my ingooiery (casting) maar baie naby die hond se agterkant was, het ek maar gewag totdat dit lig geword het - anders sou dit een kraaines op die ander wees. Die ander manne het hulle aas ingestoot sonder om te weet hoe lyk see voor hulle. Toe dit lig word sien ons net 'n klomp donkerbruin water voor ons - rooi-gety het oornag verskyn. Nodeloos om te sê, daar is nie 'n skub gevang nie. Nie net ons wat aan die kortste end getrek het nie - daar was nie vis gesien by Skubbebar daardie aand nie. Dag een was dus 'n bloutjie.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Sun, 09/03/2025 - 17:27

ek hengel lekker saam en sien uit om in elke detail ook die res van die vertelling te hoor. Dankie Chris.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 09/03/2025 - 17:51

A.g.v. die donkerbruin water net noord van Hentiesbaai, dié deel meer bekend aan ons vir kabeljou en steenbras, het ons op dag 2 so noord moontlik gery. 145km soutpad in die donker is nou nie heeltemal my idee van sports nie. Maar danksy uitstekende spotlights wat Nico voor ons vertrek op die sirkus-Hilux laat installeer het, het dit die ry op die soutpad makliker gemaak. Toe ons by ons eerste bestemming, Angolaklip, aankom was die teleurstelling groot - die donker-water was ver noord versprei. Dit was net barber op barber. Ons het gooi-gooi suidwaarts beweeg - by bekende bakens soos die skeepswrakke van die Lighter en die Winston, verby Stoompypies, Rondeklip, Skilpadsklip en Blare. Maar nêrens kon ons hond haaraf maak nie - net barbers.

Ons het terugbeweeg soutpad toe, by Myl 108, Myl 106, Miketos Turn, Myl 87 en Sicombe Turn gaan inloer. Maar oral het dit dieselfde gelyk. Ons het maar die aftog geblaas en weereens kaalhand teruggekeer dorp toe. Ons kon maar net hoop dat omstandighede vinnig verander.

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 09/03/2025 - 18:40

...ek lees ook saam, hoewel ek nie gaan poog om elke keer repliek te lewer nie. 

 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus