As alles volgens plan verloop, skop ons 4-maande vakansie oor 2 weke af. Ons reisplan lyk as volg:
5 - 14 April: ATKV Hartenbos
15 - 21 April: Karoo Nasionale Park
22 April: Forever Gariep
23 April: Weltevrede, Parys
24 April - 3 Mei: ATKV Klein-Kariba
4 Mei - Malelane-kamp, Krugerwildtuin
5 Mei - 1 Junie: Krokodilbrug, Krugerwildtuin
2 Junie: Orpen, Krugerwildtuin
3 Junie - 3 Augustus: ATKV Eiland Spa
4 Augustus: ATKV Klein-Kariba
Die res van die beplanning terug huistoe moet nog gefinaliseer word, maar sal waarskynlik weer Weltevrede, Gariep en Karoo Nas Park insluit.
Ek het gister die Hilux by 4x4 Mega World in Somerset-Wes gehad vir die stofdigting en uitgly-laai vir die Snomaster. Op die oog af lyk dit of hulle 'n baie netjiese werk gedoen het. Ek het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my voorraad Joey's boerewors en patties te gaan koop. Dit is gou by die huis in porsies vakuumverpak.
Ek het ook gou by Cara-Camp aangegaan om die Thetford chemikalieë vir die Porta Potti aan te vul. Ek moet genoeg saamneem vir die 4 maande. Teen 60 ml elke 5de dag behoort ek sowat 1.5 liter te benodig.
Vandag sal voortgegaan word om alle items wat onnodig in die karavaan is uit te haal. Ons het die "gawe" om onnodige goed (wat dalk gebruik kan word, maar nooit nie) saam te karwei.
Stadig Chris
Teen hierdie tempo gaan daar oor 'n dag of so niks meer oor wees om te doen nie en wat dan?
Kan sien die opgewondenheid loop hoop. Geniet die uitsien!
Daai kussings......
...lyk baie netjies. Ek aanvaar Ralie het bypassende paslakens, duvet oorteksels en kopkussingslope wat daarby pas aangeskaf.![]()
Ons is nie ...
Ek aanvaar Ralie het bypassende paslakens, duvet oorteksels en kopkussingslope wat daarby pas aangeskaf.
... sulke "fancy" kampeerders soos die Strydoms nie.
Kleinkoppie
As 'n reël slaan ons minimalisties op wanneer ons kamp. Gewoonlik is dit slegs die stoeptent met sykante, dalk 'n grondnet (as ons nie op plaveisel staan nie), 'n kleiner tafel en twee stoele. Maar vir die lankstaan by ATKV Eiland Spa, gooi ons eers "drop sheet" onder die grondnet, span 'n afskorting voor helfte van die stoeptent, slaan die gazebo met twee sykante op, pak nog ('n groter) tafel uit met die stoof/oondjie daarop, span 'n skadunet-heining (ons praat van ons lapa) om ons erfie en, en, en.
Noudat ek die klomp goed wat moet saamgaan bymekaar gepak het vir Donderdag se inpak in die Hilux, begin ek nou kleinkoppie trek oor waar ek alles gaan inkry. En dan moet jy sodanig pak dat die dinge wat jy nie voor Eiland Spa gaan gebruik nie, nie in jou pad is tydens jou voorafgaande kampe nie. Ek het tydens ons laaste lankstaan by Eiland Spa (2021) vir Ralie gesê dat inpakkery vir die wildtuin en inpakkery vir lankstaan by Eiland Spa inderwaarheid twee verskillende dinge is en dat jy dit eintlik nie moet kombineer nie. Maar hier gaan ek alweer met dieselfde probleem. Die sagter items, soos die skadunette, moet noodwendig maar bo-op gepak word ten einde die stewiger items onder te pak. Dit bring mee dat jy maar gedwonge is om soms uit te pak om by sommige items te kom en dan weer terug te pak - ekstra werk. Maar ek is nou daarin en moet maar net daardeur.
Om 'n idee gee, dit is hoe ons gewoonlik opslaan (hierdie in Punda Maria):

Die volgende foto wys die afskorting (die silwer gedeelte links) wat ek voor helfte van die stoeptent oprig. Dit gee bietjie privaatheid voor die karavaandeur.

En die gazebo kom voor die ander (oop) helfte van die stoeptent.

'n Klein tentjie gaan ook saam vir stoorruimte van al die los goed sodat die Hilux so leeg moontlik is.
Hierdie is sommer net om 'n idee te gee van die skadunet-heining (lapa) wat ons rondom ons erfie span.

Chris B...
... hak maar 'n Ventertjie agter aan "Ou Lady" Jy wil mis maksimaal in styl kampeer.
Met so 'n vol staning loop jy die risiko om erfbelasting te betaal, bo die gewone tarief..
Chris B...
...as jy nie 'n Venter wil saamsleep nie, moet jy maar gou 'n dakrak op die kappie laat aanbring. Lekker pakplek vir goete met volume, en nie juis gewig nie.
Pizza op die Smokey Joe
My ou vroutjie kan in die spreekwoordelike wip gevang word met 'n lekker pizza - nie dat ek nie ook 'n pizza waardeer nie. Ons het twee doelgemaakte pizza-panne waarin ons nogal gereeld pizzas in die oond bak. Vir daardie doel koop ek sommer rou brooddeeg by een van ons plaaslike winkels. Vir 'n geruime tyd sê ek reeds vir Ralie ek wil nog poog om 'n pizza op die Smokey Joe te bak. Daar is egter geen manier hoe ek dit op indirekte hitte kan doen op die Smokey Joe nie - die pizza-pan lê die hele rooster vol. Ek kan dit slegs doen deur die kole se hitte te demp.d.m.v. die luggate.
En dit is presies wat ek gisteraand as 'n proefneming gedoen het. En watter sukses was dit nie! Gevolglik word die pizza-panne ook ingepak om soms 'n lekker pizza of twee te bak. Die inpaklys word net al hoe langer.
Yskas glyraam effek??
Chris, jy het sekerlik nog nie begin met die pakkery nie. Ek vermoed daai glyraam gaan ook jou normale pak-prosedure/metode bëinvloed.
Volgens jou fotos daarvan, sal jy mooi moet dink hoe jy die ruimte agter die glyraam optimaal kan benut.
Wessel ...
... die vrieskas-glyraam het ongetwyfeld 'n invloed op my pakruimte, maar daar kan net mooi 2 x 6 bottel wynkartonne tussen die glyraam en die bak se kant inpas - dalk 4 kartonne as ek twee-twee opmekaar stapel.
Ek was bekommerd oor spasie vir die karavaan se spaarwiel, wat gewoonlik plat in die agter in die linkerkantse hoek van die bak lê. Maar wraggies, dit pas net-net op sy gewone plekkie in.
Nietemin - dit gaan mooi meet en pas kos om al die goeters wat saamgaan sinvol te laai.
spaarwiel plat????
Chris, waarom nie regop nie?? Ek weet die volume bly dieselfde, maar die oppervlak benutting is stukke beter.
Darem nog 4 dae oor om te meet en pas![]()
Spaarwiel
Ek laai maar altyd die wa se spaarwiel plat in die bakkie. Bo-op dit laai ek my LK's Sitbraai (in sy oorspronklike verpakking) en daar bo-op my Weber Smokey Joe. Die sitbraai gaan net saam om houtvuur in te maak as die betrokke kampeerplek nie 'n braai verskaf nie (soos ATKV Hartenbos) - en ek wel wil houtvuur maak. Ek is mos maar eintlik 'n Smokey Joe kêrel, maar maak 'n houtvuur wanneer ek vis braai (daar gaan mos darem vier Henties-kabeljoutjies saam - waarvan die laaste een in Krokodilbrug gebraai sal word). Net om die bosveld met 'n visreuk te besoedel. Nugter weet wat ek daarna gaan doen om my vislus te bevredig. Seker maar I&J se Hake Fillets of dalk 'n paar garnale by geleentheid.
Andersins gebruik ek die sitbraai ook om die Smokey Joe op te plaas (vir 'n bietjie hoogte) asook wanneer ek potjie maak. Laasgenoemde doen ek met brikette, want dan brand die pot nie swart aan die buitekant nie. Ek verpes 'n swartgebrande swartpot, want die affêre moet saam gekarwei word. En daar sal verskeie potjies gemaak word.
Sunlight Liquid
Chris, smeer jou potjie met Sunlight liquid, net so uit die bottel, en ek waarborg jou die swart roet was vinniger en makliker af as die binnekant.
Sunlight Liquid
Dankie vir die tip.
Ek gaan dit probeer. Smeer jy dit aan voor jy pot maak of wanneer die pot gebere word.
Voor jy die pot gebruik…
Voor jy die pot gebruik smeer dit buite.
Maak jou pot, was dit, pak dit weg. Volgende keer voordat jy dit gebruik, smeer dit.
die pot...
lees nie so lekker nie.!!!!
Julle manne moet kwalifiseer dat dit 'n swart pot, vir kosmaak is waarvan julle praat.
Gelukkig gebruik ek nie so 'n kos swart pot nie.
Ek laai maar altyd die wa se…
Ek laai maar altyd die wa se spaarwiel plat in die bakkie.
Sal graag wil weet hoekom jou spaarwiel nie in die neuskas is nie.
Daar's te veel ...
... ander goetertjies in die neuskas waarsonder ek nie kan/wil klaarkom nie. As die spaarwiel plat lê in die Hilux se bak pak ek lekker daar bo-op.
En wat die swartpot aanbetref - met brikette het ek geen teken van swart roet aan die pot nie -m.a.w. op geen stadium swart gemors op hande nie. Ek't mos maar sulke sissierige handjies. Ek steek my brikette in 'n "chimney" aan, wag tot dit reg is, keer dit uit, plaas die driepootpot bo-op en voila! Dadelike hitte met geen rook. Afhangende hoe lank die pot neem, sal ek soms nog 'n briket of twee onderin druk.
Dit mag dalk klink ...
... of ek my lewe omwens as ek sê dat eerskomende Saterdag nou maar kan aanbreek. Ek is so reg as kan kom om die pad te vat. Die wa is gepak. Selfs die bed is opgemaak. Nog net die laaste kledingstukkies inpak.
Die vrieskaste is gepak. Die paar basiese kruideniers is gelaai. Nog net die Hilux moet gelaai word - wat eers Vrydag sal gebeur. Alles is egter bymekaar wat agterin gelaai moet word. Nou sukkel ek om die tyd om te kry. Nog gou môre die chroniese medikasie (vir die volgende 4 maande by die apteek gaan afhaal).





Ek is nogal baie ...
... "chuffed up" met ons nuwe kussings vir die "dinette" area. Die draagbare lugreëlaar gaan ook saam vir die warm middae tydens "siesta" tyd in die wildtuin en by Eiland Spa (selfs die warm dae wat ons dalk nog in April in Karoo Nas Park en by Klein-Kariba kan kry).
Vanoggend word die neuskas bygedam ten einde 'n bietjie orde in die deurmekaarspul te skep.