Soos reeds op ander gesprekslyne genoem, gaan die Boucher's op 'n "driehoek-toertjie" gedurende Mei. Ek noem dit 'n driehoek-toer omdat die beplande roete min of meer 'n driehoek vorm. Hier van die huis-af is dit eers so te sê reguit oos tot by Ebb & Flow by Wildernis. Daarvandaan noordoos tot by die Bergkwaggapark en vandaar so te sê reg wes tot by Karoo Nas Park alvorens ons suidwes-waarts terugkeer huistoe.
Ek tob nog die hele tyd of ek nie Bontebokpark ook by die toer moet insluit nie. Ons is vanaf Sondag 7 Mei by Ebb & Flow bespreek waar ons vir al drie nagte 40% afslag kry. Sou ek egter die voorafgaande Vrydag- en Saterdagaand in Bontebokpark oorbly, gaan ek vol-tarief van R1 560 per nag betaal. Sou ek besluit om my 69ste verjaarsdag in dié park te vier, sal ek darem 40% afslag kry vir Donderdag 4 Mei. Terloops, ons kry vir 2 van die 3 aande by Bergkwagga 20% afslag en vir 2 van die 3 aande in Karoo ook 40% afslag.
Maar vandag sien ek toe op die forum "anderkant die draad" dat iemand navraag doen namens haar suster oor die moontlikheid om 'n vakansie-woonstel in Groot-Brak te adverteer. Om 'n lang storie kort te maak, ek het nadat die eienaar foto's en videos gestuur het van die woonstel, besluit om my 69ste in Groot-Brak te gaan vier. Ons is nou vanaf 4 Mei vir 3 aande bespreek in dié woonstel @ R800 per nag - darem aansienlik goedkoper as Bontebokpark en in 'n deel van ons land waarvoor ek baie lief is.
Baie netjies voorwaar
Môre Chris B
Ek het ook gou gaan loer
, dit lyk op internet na baie netjiese goed versorgde oord. Ek hou van die eie ablusie geriewe.
Enigste kritiek, dit lyk of staanplekke baie opmekaar is.
Oudtshoorn :
Kampplek : Ons kamp altyd by Kleinplaas in die dorp en vind dit 'n fantastiese, boomryke park met pragtige ablusie en baie ruim staanplekke. Vriende van ons het selfs eenkeer hulle boswa ook op ons staanplek staangemaak. Dis ons kampplek tydens KKNK, maar was 'n paar jaar gelede laas daar. Ek het egter gedink die laaste paar kere was dit nogals duur. Ons het nog nie by Oppidam ('n entjie buite die dorp) gekamp nie en ek kan dus nie kommentaar lewer nie. Ons ken nou nie die dorp so goed nie, maar hou daarvan as 'n oulike, groterige Karoo-dorp. Die dorp "groei" op 'n mens.
Meiringspoort bly darem maar…
Meiringspoort bly darem maar een van ons land se asemrowendste roetes.
Ek verwonder my ook aan die natuurskoon as ek daar deur ry. Inteendeel die hele roete vanaf Beaufort Wes tot deur Meiringspoort is vir my prentjie mooi.
Hennie....
....eintlik maar net van Klaarstroom tot by De Rust, die res is maar erge Karoo. Dit kan seker in 'n goeie jaar ook mooi wees.
Wat bedoel Oom Wessel met …
Wat bedoel Oom Wessel met "erge Karoo" Karoo. Plek met min water. Hier moet moet die met ander oë kyk as die tropiese laeveld. Hier leer mens om klein blommetjies en kort grasses te waardeer. Skoon lug, helder sternre, geen gasse en beste, geen geraas maak die " erge Karoo" beter as enige stad in ons land.
Ek sit en luister hoe dreun die waterval!! Priceless.
Die driehoek ...
.... (dalk eerder die sirkel-) toer is voltooi. Ons was 15:30 terug by die huis. Ons het in die reën vanaf Oudtshoorn tot Barrydale gery.
Ek laai nog foto's en vertel 'n bietjie meer as ek eers klaar afgepak, uitgepak en tot verhaal gekom het.
Terloops Wessel, my vrou sal jou ernstig aanvat as jy durf waag om negatiewe kommentaar oor die Karoo te gee. En ek wou twee keer om die kerk in Bonnievale ry, maar dit was "peak hour traffic".😝
Erge Karoo
Middag maters
Herman: Die Karoo moet op 'n mens groei. Ek het bloot bedoel dat Die deel wat ek genoem het darem baie mooier is as die plat wêreld. Net soos Klipspringer pas in KarooNP wat natuurskoon aanbetref, letterlik uitstaan bo die plat gedeelte.
Chris B: Ai tog, dis die gedagte wat tel. Het jy die dorpie in kerktyd getref. Dan is dit besig om die senterpunt, met die Mercedesse, BMW's, Hiluxe en Rangers. Kyk daai wingerdboere kan meer uithang kerktoe, as hulle vrouens, sonder hoede.
Miskien..............
...............kan die vervaardigers van Housewives oorweeg "Housewives of the Karoo"
Kyk daai wingerdboere kan meer uithang kerktoe, as hulle vrouens, sonder hoede.
Dit kan dalk 'n prettige affêre wees !
Waneer my lisensie eendag…
Waneer my lisensie eendag afgevat word, gaan hierdie ou man al wat n bustoer is mee-maak. Heel agter sit, rook en drink en al die ou girls aan die giggel sit. Kan nie wag nie.![]()
Die stukke wat so plat is in…
Die stukke wat so plat is in die Karoo, is waar n perfekte wêreld na neig Wessel. Erosie en tyd maak als plat, so die stuk Karoo is eintlik naby aan die aarde se perfekte toeststand.
Sonder grapples, die " Inselbergs" staan nog daar omrede erosie nog nie hulle plat gemaak het nie. Kyk die koppies mooi volgende keer, dan sien mens hoe die erosie werk aan hulle.
'n Laaste verslaggie
Dinsdag 16 Mei vat ons toe die pad Prins Albert toe. Omdat dit nie ver van Karoo Nas Park af is nie, het ons nog eers 'n laaste draai met Lammertjiesleegte gaan ry en o.a. twee troppies elande gesien.
Na 'n vinnige indraai by Leeu-Gamka se NG Kerk - Ralie-hulle se oud-gemeente - het ons by Rietfontein padstal skaapwors en lamstjops gekoop. Ek kan dit aan enigeen aanbeveel wat daar verbyry.
Ons het net na 14:00 by ons netjiese Lekkeslaap selfsorgplekkie, Koppie Cottage, in Prins Albert ingeboek. Ek kan hierdie plek met 'n oop gemoed aan enigeen aanbeveel wat beplan om hierdie juweeltjie van die Karoo, Prins Albert, te besoek.


Die namiddag het ons te voet die strate ingevaar om o.a. Ralie se ouma-hulle se huis en ander bekende plekke uit haar kinderjare te besoek. Hier staan sy voor haar ouma se huis waar sy as koshuiskind elke Woensdagmiddag by ouma en oupa gaan koffie en beskuit geniet het.

Haar ouers se dorpshuis was volgende aan die beurt.

Prins Albert het van die mooiste huise uit die Victoriaanse era, soos die NG pastorie.

In die ou Swartberg Hotel lê daar ook baie spreekwoordelike voetspore van my vrou. Die destydse eienaar se dogter was een van haar klasmaats en 'n groot skoolvriendin. As kosganger was dit dus 'n lekker plek om gereeld te gaan kuier. Ons het Woensdag en Vrydag by die hotel, wat nou aan 'n internasionale hotelgroep behoort, se bistro gaan eet. Dit is regtig aan te bevole.


Na 'n langerige gesukkel om by haar grootwordplaas se huidige eienaar ('n SEB-bemagtigde) uit te kom, het ons gelukkig via 'n middelganger met hom kontak gemaak. Ons kon toe Donderdag plaas toe gaan, waar my vrou in haar element was om verskeie grootword-herinneringe weer te gaan herontdek. Soos o.a. die Boesmantekeninge wat onder 'n oorhangkrans is.

Die ou plaashuis, met sy warmwater-donkie langsaan, het ook emosionele herinneringe opgeroep.


Haar pa het van die lekkerste nawel-lemoene op die plaas gehad. Enkele van die bome is nog oor en die eienaar het ons verras met 'n sakkie van die soetste nawels wat jy kan kry. Ons smul nou nog daaraan.
Soos reeds in 'n ander inset genoem, het ons die planne laat vaar om oor die Swartbergpas na Oudtshoorn te ry a.g.v. reën in die pas. Maar dit was lekker om weer na jare die mooi van Meiringspoort te beleef. Die Klein-Karoo was lekker nat en pragtig groen.
Ons Lekkeslaap-plekkie in Oudtshoorn was net 'n bitter koue huis. Weereens was ons só bly vir die gasverwarmer wat ons saamgeneem het. En het ons nie gas opgebrand tydens ons kort vakansie nie!! Ek moes twee keer die 4,5 kg silinder en een keer die 3 kg silinder laat volmaak.
Sondag 21 Mei het ons die laaste skof huistoe deur die volle lengte van die Klein-Karoo aangepak. Ons het ingepak in die reēn en in die reën gery tot in Barrydale waar ons knus langs 'n kaggelvuur by The Country Pumpkin brunch geniet het.
Nou ja, nou's dit terug na die normaal hier in Kleinmond na 'n lekker wegbrekie. Die volgende weggaan om na uit te sien is die 2 weke met die "ou lady" gedurende September in die Karoo Nas Park.
Dankie vir die saamkuier.
Drie Hoek-toer
Dankie Chris vir die lekker lees terugvoer. My broer tree einde Jullie af in Prins Albert en sal ons dan seker gereeld daar uit kom.
Môre Chris, dankie vir die…
Môre Chris, dankie vir die lekker verslag. Lekker gelees en baie geniet.
Van my kant af ook............
............dankie Chris - baie lekker saam met julle gekuier.
Ns. Ek sou wat wou gee om by my Ouma se huis in Voortrekkerstraat, Wolseley te gaan inloer waar ons Pretorianertjies Desembermaande gaan kuier het. Ongelukkig het die huis tydens die destydse aardbewing in duie gestort. As ek deur Wolseley ry, stop ek darem voor die erf waar die huis was en al wat oor is, is die sement lei-voor waar ek en my broer met ons bootjies gespeel het. Daar staan ook nog een hoekpaal op die erf.
Lekker getoer
Dankie vir die gereelde verslae. Dis altyd lekker om saam met ‘n forumlid weg te breek wanneer mens self nie kan wegkom nie. Dis ook goed om bietjie plekke te “sien” wat nie op die hoof toeriste roetes is nie. Veral met kinders op skool kan mens se tradisies (soos ons wat elke Julie vakansie Kruger wildtuin toe en Desember Dwarswegstrand toe gaan) jou soms weerhou daarvan om by die ander juwele in ons land uit te kom. Ons was darem so agt jaar gelede in Prins Albert op ‘n toer wat Baviaanskloof en die Hel ingesluit het. Ek sal graag weer Baviaanskloof toe wil gaan, om meer tyd in die wildernes gedeelte deur te bring.
Baviaanskloof
Ek sal graag weer Baviaanskloof toe wil gaan
Die Baviaanskloof is een van die plekke op my wenslysie. Ek was bevoorreg om by twee geleenthede darem die mak deel van die Baviaanskloof te sien - een keer vanaf Uniondale en een keer vanaf Willowmore tot by Studtis. By laasgenoemde was 'n paar appelkoosboere, o.a. die Nortjé broers (broerskinders van die destydse skrywer PH Nortjé). Die eerste keer het die boere nog net oorweeg om hulle appelkose te begin droog (ek was toe by die destydse Droëvrugteraad) en het die aand hulle boerevereniging gaan toespreek. Ek het by een van die Nortjé broers oornag. Hulle het vir my 'n hoekie van hulle plaas gaan wys wat, wonder bo wonder, 'n absolute stukkie subtropiese omgewing behels het. Daar het hulle al wat subtropiese gewas is verbou.
Die bietjie wat ek van die kloof gesien het was wondermooi. En sedertdien het ek 'n begeerte om die hele kloof te beleef. Toe ek die 4x4 Hilux gehad het, was dit beslis op my "te doen" lysie, maar ongelukkig het ek nooit daarby uitgekom nie. Maar wie weet - dalk gebeur dit nog.
Ons was darem so agt jaar gelede in Prins Albert op ‘n toer wat Baviaanskloof en die Hel ingesluit het.
Ek was ook bevoorreg om nog van die laaste boere (Mosterds en Cordiers) in my werkende hoedanigheid in Die Hel (Gamkaskloof) te besoek - slegs een keer en dit nog met 'n Ford Escort. In meer onlangse tye (ookal 'n paar jaar gelede) het ek by drie geleenthede vriende en my kinders daarnatoe geneem vir 'n dagbesoek. Na die laaste keer het ek besluit dat dit die laaste keer was. Dit is taamlik ver vir 'n dagbesoek vanaf Prins Albert. Eintlik nie so ver in afstand nie. Dit neem jou net so lank om daar te kom en weer terug. Eintlik moet mens vir minstens een aand oorbly.
Maar dat beide genoemde plekke iets besonders is, is nie altemit nie.
Servaas
My broer tree einde Jullie af in Prins Albert en sal ons dan seker gereeld daar uit kom.
Ek reken dit is 'n wonderlike aftreedorpie. Eiendomspryse het die hoogte ingeskiet juis a.g.v. die populariteit van Prins Albert as aftreedorp. En het dié dorp nie ver-Engels nie. Omtrent elke tweede persoon wat jy raakloop is Engelssprekens. Ralie sê dat die enigste Engels wat jy destyds in Prins Albert gehoor het was in die Engelse klas op skool.
Wolseley
Ek sou wat wou gee om by my Ouma se huis in Voortrekkerstraat, Wolseley te gaan inloer waar ons Pretorianertjies Desembermaande gaan kuier het. Ongelukkig het die huis tydens die destydse aardbewing in duie gestort.
Ek was in Std 8 (deesdae se Graad 10) in die buurdorp Tulbagh, toe die aardbewing op 29 September 1969 plaasgevind het. Ek was nie self teenwoordig die aand van die aardbewing nie - ek was by 'n Landsdienskamp in Jonkershoek. Gelukkig was daar ten tye van die aardbewing niemand in my ma-hulle se bad nie. Die muur tussen ons huis se kombuis en badkamer het heeltemal ineengestort - binne-in die bad.
Ons kon maande nie in die huis woon nie. Aanvanklik was dit in 'n geleende karavaan op ons grasperk en later in 'n tydelike opslaanhuis, ook op ons erf. Dit was die rede hoekom ek toe na 'n ander skool is omdat ons in tente skool gegaan het vir 'n geruime tyd.
My ouers se huis kon darem herstel word.
Tulbagh
So 22 jaar gelede het die Bank vir wie ek gewerk het, my verplaas Tulbagh toe. Ons het toe in die "Bank Huis" gewoon in Kerkstraat. Reg oorkant Paddagang Restaurant se uitgang. 'n Wonderlike tydperk in ons as gesin se lewens. Ons het ongelukkig slegs vir 2 jaar daar gewoon en ons gaan steeds gereeld terug om vriende en destydse kliente te besoek. My voorouers het van daardie area af gekom en dit was vir my vreeslik lekker om die familie geskiedenis na te vors en woon plekke van oupa en ouma grood op te soek.





Oppi Dam
Ons het gou vandag daar gaan loer. Dit is 'n netjiese woonwapark. Alhoewel hulle ander hekke vir jou kan oopmaak, is die normale ingangspad na dié park nie juis "karavaansleep-vriendelik" nie. Skerp draaitjies (amper 360°) en ongemaklike op- en afdraentjies is nie baie tegemoetkomend om 'n karavaan en in en uit te neem nie.
Maar dat dit netjies is, is gewis.