Ek begin hierdie draad aangesien hier heelparty lede is wat graag die park besoek.
Ek probeer ‘n terugblik gee vir die herfsblare tussen ons na so ongeveer 50 jaar gelede.
Wie onthou nog die dae voor die pad tussen Upingon en Twee Revieren nog nie geteer was nie?
Die rit tussen die twee deur die los, dik Kalahari sand kon maklik ‘n hele dag geduur het.
Ek kan nie meer onthou watter jare die pad gebou is nie.
Twee Rivieren, Nossob en Mata Mata was aanvanklik net behuising vir die veldwagters voordat dit verder uitgebrei / ontwikkel is na volwaardige ruskampe vir besoekers. Bygesê was dit aanvanklik ook baie spartaans.
Die park het sy onstaan met die samevoeging van boere wat die gebied verlaat het se plase. Die boere het gesukkel om in die geharde wêreld te oorleef en ‘n bestaan te maak. Die feit dat dit nie bees of skaap wêreld is nie het ook daartoe bygedra.
Die Kalahari boere buite die park het Ford F100’s, Chev C83’s en enkeles ‘n Dodge gery. Geen 4x4 nie. Dit kom ook uit die jare van die groot Ford en Chev kampe.
Slegs die Veldwagters in die park het Land Rovers met 4x4 gehad.
Die boere het net geglo in hulle ‘Yankee Tanks’ en was maar baie skepties oor die ‘Engelse’ voertuie.
Dit was destyds meestal net die Parkeraad, Weermag en Polisie wat Land Rovers gehad het.
Ek is geen kenner van die park nie en staan gekorregeer te word op baie aspekte van die park.
Hier is heelparty herfsblare wat baie meer kennis het aangaande die park.
Kom ons hoor.
Anton
Die sandpad ken ek nie. Maar…
Die sandpad ken ek nie. Maar die eerste teerpad wat so op en oor die duine gegaan het, het n man seesiek gemaak. Vanaf Askam, dit is as ek die regte naam het nog geskraap.
Die geskiedenis van die park is baie interessant. Die klomp boorgate was gesink deur die destydse regering ter voorbereiding vir n inval van Duitsland tydens ww1. Die boorgate is so dag se stsp uit mekaar gesink. Later is plase om die boorgate toegeken asn die mense wat die bootgate moes oppas. Van hulle het met blikkies heel dag water getrek vir hulself en diere. Lang stories daaroor te vertelle.Van die boorgate het het vars water, ander ondrinkbaar. Let op dat die Gemsbokke sout oplek om die brak boorgat drinkplekke.
Die Landmeters wat destyds opgemert het, was 2 Skotte, en van daar die name soos Auchterlonie.
Loffie se draai. Prof Elof wat Leeus nagevors het. Kameelsleep, waar die laaste Giraf in die park gedkiet is. Die wat nou daar is dink ek ingebring van Etosha. Daar is regtig baie lekker boeke om te lees, Tot die " lost City of the Kalahari" het daar n draai gemaak.
Die totstandkoming van die park is ook wonderlik en voorbedagte jagtog vir n minister gewees. Lees gerus, te veel om te skryf.
Hallo Anton !..............
Ek kan my geensins uitgee as 'n Kgalagadi-kenner nie want ek was nog net eenkeer 'n paar jaar gelede daar met ons teerpad-karavaan en het net by Tweerivieren gekamp. Van ons kampvriende en ons kinders kamp egter gereeld daar en ek is dus redelik op hoogte van sake.
Wat ek wel weet is toe die destydse Parkeraad nog aanbewind was, het die park bekend gestaan as Kalahari Gemsbokpark, maar die nuwe beheerliggaam, SANParke het dit gewysig na Kgalagadi Transfrontier Park of Kgalagadi Oorgrenspark vanweë die samewerking van die aangrensende wildpark van Botswana.
Ons het ons kuier daar baie geniet ten spyte daarvan dat ons nie by Mata-Mata en Nossob kon uitkom nie. Ons is 'Krugerholics" en gaan jaarliks soontoe, maar miskien is Kgalagadi weer 'n besoek werd - dit is immers 1000km nader aan ons hier in Kaapstad.
Hier is 'n foto van ons gespook om by Twee Rivieren weer orde te kry na 'n hewige Kalahari reënstorm.
Strydoms se besoek in foto's
Môre Anton
Jy kan na ons besoek gaan kyk onder die titel;
"Strydoms in Kalaghadi".
Gebruik die soek-enjin op die forum se tuisblad, om dit te vind.
Kgalagadi
Ons eerste besoek aan die Kalahari Gemsbokpark was in 1986. Daardie jare was die algemene pad na die park via Noenieput. Vanaf Upington het jy eers etlike kilometer met die teerpad in die rigting van Ariamsvlei gery voordat jy noordwaarts op genoemde pad afgedraai het. Die minstens twee keer wat ek daardie pad gery het, voordat die huidige teerpad gebou is, was dié gruispad in 'n baie aanvaarbare toestand. Ek het my eerste besoeke met 'n sedan (Cressida) gedoen en geen probleme ervaar nie. Selfs die paaie in die park was in baie aanvaarbare toestand.
Die paaie in die park het dramaties verswak nadat die nuwe teerpad na die park gebou is. Die park het meer toeganklik vir toeriste (en gevolglik meer voertuie) geword. Dit is die enigste rede waarom ek in 2007 laas in die park was - ek kry my voertuig só jammer. Jy weet soms nie hoe om 'n sekere stuk pad te hanteer nie - moet jy vinniger of nog stadiger ry.
Ek het die park slegs 6 keer besoek tussen 1987 en 2007. Dit is 'n fantastiese plek, maar die paaie in die park is nie vir sissies soos ek gemaak nie. Ek het wonderlike herinneringe aan al 6 besoeke en brand inderwaarheid om weer daar besoek af te lê. Maar ons was verplig om vanjaar se besoek te kanselleer juis omdat ek bevrees was dat Ralie, wat op daardie stadium erge ongemak in haar een bors ervaar het, nie die geskud en gestamp sou kon hanteer nie. Maar wie weet, dalk word ons dit nog een keer gegun om dié park te besoek.
1986
Met ons eerste besoek in 1986 het ons slegs 2 nagte elk in Twee Rivieren en Mata Mata oorgebly. Ons was eintlik op pad Etosha toe. Destyds was SWA nog nie onafhanklik nie en kon jy sonder grensformaliteite by Mata Mata voortreis. Die gruispad tussen Mata Mata en Stampriet het amper soos 'n teerpad gery. Ek het 'n sleepwaentjie gesleep wat gelyk het of dit ge-"sandblast" was aan die voorkant na afloop van die vakansie.
Nadat ons vroegmiddag in Twee Rivieren arriveer het, komende vanaf Augrabies, het ons 'n laatmiddag "game drive" geneem. Naby Rooiputs was ons eerste roofdier wat ons in die park gesien het 'n luiperd. Sedertdien het ons etlike jagluiperds en leeus in die park gesien, maar eers weer in 2007 tydens ons laaste besoek weer 'n luiperd gesien.
Iets wat my ook bybly van daardie besoek is 'n piekniek by Melkvlei die volgende dag. Ons was op daardie stadium drie gesinne saam - elke gesin met 2 kinders. Die kinders het "hop-scotch" gespeel en my dogter het op een of ander manier dit reggekry om haar klip teen haar na se voorkop te gooi.
By Mata Mata het ons (toe nog 2 gesinne bymekaar) een aand nadat die kragopwekker reeds afgeskakel was, kaart gespeel. Daar's toe 'n klop aan ons deur. Toe ek oopmaak staan ene Piet Retief met 'n glasie Tassenberg in die hand en 'n vol bottel Tassenberg in die ander hand. Dit was baie duidelik dat hy waarskynlik al heelwat meer Tassenberg agter die blad gehad het. Hy't gesien by ons brand nog lig (gaslamp) en was nog nie lus vir slaap nie. Sy vrou het reeds gaan inkruip. Ek kan onthou dat ons só gelag het vir Piet Retief se stories daardie aand, dat ek bevrees was ons pla die ander besoekers.
Die volgende oggend toe ons oppak om tot Daan Viljoenwildtuin by Windhoek te ry, was Piet en sy vrou ook besig om in te pak. Toe ons hom groet kon hy ons glad nie van die vorige aand af onthou nie. Tassies!!! Jou blikskottel!
Die tweede keer
Ek het destyds gereeld in Upington gekom vir my werk. Tydens skoolvakansies het ek redelik gereeld vir Ralie en die kinders saamgeneem. Tydens 'n Sep/Okt skoolvakansie (die jaar ontgaan my) het ek besluit om gou vanaf Upington vir 'n naweek Kalahari Gemsbokpark toe te gaan. Ons kon akkommodasie vir die 2 aande in Nossob kry. Ons het tuisgegaan in 'n lang gebou (wat intussen opgradeer is) met 4 kamers. Twee kamers het elk 'n badkamer, toilet en kombuis gedeel. In die kamer langsaan ons was drie Nederlanders. Die vrou het ons gewaarsku dat ons saans die vensters en deure moes toehou a.g.v. vlermuise wat inkom. Die eerste aand het ons so gedoen. Die tweede aand was die Hollanders nie meer daar nie en ons vergeet van die raad wat hulle ons gegee het. In die nag jaag my blaas my toilet toe. Ek gaan by ons kamer uit, los die deur oop en gaan gou by die toilet in. Ek wil toe gou 'n slukkie water in die kombuis gaan drink. Toe ek my flits aanskakel, hang die vlermuise in hulle hordes aan die "cornice" reg rondom die kombuisplafon. Met my beweging en die flits se lig vlieg hulle toe uit die kombuis en 'n klomp beland in ons kamer waarvan ek die deur oopgelos het. Ek was nie baie gewild by die res van my gesin wat met hulle koppe onder die komberse ingeduik het. Dit het my 'n lang tyd geneem om dié lotjie uit die kamer te verjaag.
Die volgende oggend is ons vroeg by Nossob weg om die park te verlaat. Ons was beslis die eerste voertuig wat suid gery het, want 'n klein entjie van die kamp af kry ons die vars spore van 'n enkele leeu wat ook suid beweeg het. Dan's die spore links in die pad, dan is dit regs. Plek-plek kan jy sien die leeu het die pad verlaat om enkele honderde meters verder weer in die pad te loop. So hou ons maar ons oë oop. Die spore het oor die duin gegaan wat die langer draai na Marie se Gat uitsny. Nie ver anderkant die duinepaadjie nie sien ons vir ta loop aan die Botswana-kant van die Nossobrivier. Ek doen toe iets wat ek geweet het ek nie moet doen nie. Ek het 'n CD gehad met "Klanke van die Bosveld" waarop oorlede Gert van den Bergh nog die verteller was. Die tweede diergeluid op die CD was dié van 'n brullende leeu. Ek druk toe die CD in die radio, draai al die ruite van die Cressida af en speel die leeubrul op die radio se hardste. Die pragtige ou maanhaar het dadelik gaan stilstaan en in ons rigting gestaar - seker 'n goeie 200 meter van ons af. Ek speel toe weer die leeubrul vir 'n tweede keer - met die maanhaar wat steeds doodstil staan. Toe ek dit die derde keer speel begin hy in ons rigting draf. Hy gaan staan toe seker sowat 50 meter van ons af en begin brul. Toe speel ek die CD nog 'n keer en ta kom na ons toe, maar hy kruis die pad voor ons. Net voordat hy in die duine in verdwyn, speel ek dit weer. Toe's hy heeltemal "confuse". Hy kom staan langs ons kar en brul dat die spoeg letterlik spat. Na baie foto's (wat ek moet soek, want dit was voor die tyd van digitale kameras) besluit ons toe om te ry. Na 'n paar kilometer sien ek 'n blou Hilux bakkie in die truspieël - en hy haal ons in. Toe hulle verbykom ('n ouer man en vrou), wys hulle ons moet stop - wat ek toe wel doen. Hulle vra toe of ons die leeu 'n paar kilometer terug gesien het, waarop ons toe bevestigend antwoord. Die vrou sê toe dat hulle het nog nooit 'n leeu só sien of hoor brul nie. Ek het maar niks gesê van die stout ding wat ek aangevang het nie. Ek het daar en dan besluit ek doen dit nooit weer nie. Deesdae se voertuie het in elk geval nie meer CD-spelers in nie.
Foto's van foto's
Ek het gou 'n bietjie gesoek en die foto's waarna ek hierbo verwys, gevind. Ek moes dit gou met my selfoon afneem. Gevolglik is die gehalte maar swak. Die eerste twee is van die kamers waarin ons gebly het.


En dan die leeu.


Ons derde besoek
Weereens kan ek nie die jaar onthou nie, maar ons derde besoek het weer saamgeval met een van my werks-trips. Dit was gedurende Oktober en ek en Ralie het alleen die park besoek.
Die nuwe teerpad was deels voltooi vanuit Upington se rigting. Ons moes op 'n stadium wes draai in die rigting van Koopan-Suid, vanwaar ons weer op die ou gruispad moes ry. Ek kan onthou dat ons langs die teerpad 'n erdvark gekry het wat doodgery was. Watter pragdier! Dit het eintlik 'n hartseer gevoel ontketen toe ons stilhou en die erdvark in detail kon bekyk.
Ons was vir twee nagte elk in Mata Mata en Nossob onderskeidelik. Ons was verstom hoe warm dit in Oktober was. Toe ons in Mata Mata arriveer in die vroegmiddag, het my beter-helfte op die koeler sementstoep, met net 'n kussing onder haar kop, 'n siesta gevat.
Tydens ons 2 aande in Nossob was dit bykans onsmaaklik warm. Ons het saans die deure en vensters wyd oopgehou, maar ons het gou ons fout agtergekom. Ons het die eerste aand skaars gaan lê toe ons 'n vreemde geluid hoor. 'n Rooijakkals het by die agterdeur ingekom om te sien of daar nie iets te aas is nie. Die deure is toegemaak, maar later die nag het Ralie my wakker gemaak en subtiel gewys na die oop venster bokant ons beddens. In die vensterbank het 'n witwang-uiltjie ons gesit en dophou.
Watter park!! Ek kan verstaan dat mense (wat kans sien om die paaie te trotseer) jaar na jaar na hierdie wonderlike plek terugkeer.
Dankie ChrisB vir die.............
..............interssante vertellinge. Nooit kon dink jy, van alle mense, sou 'n leeu so onwettig kon irriteer nie. Maar, ek darem gelet op jou voorneme om dit nooit weer te doen nie.
Invloed van afstande!!!
Môre vriende
Reis-afstand speel darem deesdae 'n groot rol in ons vakansie keuses.
Vir julle uit die Kaap, is Kalahari BAIE nader, en behoort uit brandstof oogmerk, julle 1ste keuse te wees.
Vir my weer is Kruger weer die helfte nader as die 1100km Twee Rivieren toe. Indien ons weer wil gaan, sal ek dit moet kombineer met 'n ander paar besoekpunte daardie kant toe. Ongelukkig is daar tussen Brits en Upington, nou sovêr my kennis strek, nie juis ander interressante plekke nie.
As ek nou so na Geert se onlangse foto's kyk, en ek dink terug aan ons eie Junie 23 Kruger besoek, dan sukkel ek om myself te motiveer om dubbel die brandstof uit te sleep Kalahari toe. Dalk werk my kop verkeerd.
Vanaf Kaapsatd tot by Twee…
Vanaf Kaapsatd tot by Twee Rivieren is 1080,8km.Pretoria tot by Twee Rivieren is 1080,2 km. Ek het gewonder toe Wessel beweer dat dit BAIE nader vanaf Kaapstad is en het toe gaan kyk.
Kaapstad na Skukuza is n riller, 1860km
Herman, ek ....................
.............vertolk Wessel se redenasie dat dit vir hom baie nader is van Brits KNP toe as wat dit vir hom van Brits af tot in Kgalagadi toe is.
Vir ons Kapenaars is dit weer nader Kgalagdi as KNP toe. Vir die huidige verkies ons egter die verdere KNP toe as 'n wildtuin-bestemming omdat ons heelwat vriende en familie in Gauteng het by wie ons graag jaarliks ook kuier.
Alhoewel ...
.... ek die totale wildtuin-belewenis bo dié van Kgalagadi verkies, sal ek deesdae baie eerder Kgalagadi toe gaan - al's in ag genome (koste en die gevoel van veiligheid om daar te kom ens.). Al wat dit verhoed is die paaie in Kgalagadi. Regte ou sissie
Vergelyking
Aangesien ons binne die afgelope vier maande in albei parke was, mag ek seker maar vergelyk. Ek is verlief op die Kruger wildtuin. Die verliefdheid kom van kindsbeen af, omdat my ouers my elke jaar sedert geboorte saamgevat het. Die tradisie het ek voortgesit na skool, en was nog net 2020 deur die ANC verhoed om nie my gunsteling plek op aarde te besoek nie.
Kgalagadi het ek die eerste keer in 2007 besoek, en was intussen nog drie keer daar. Alhoewel ek elke besoek nog baie geniet het, sal ek nie elke jaar Kgalagadi toe gaan nie. Dit ten spyte daarvan dat dit, soos Wessel uitwys, heelwat nader aan Worcester is as die Kruger wildtuin.
Aan die ander kant is ek reeds besig om ons volgende vakansie Kruger wildtuin toe te beplan, en sal ek probeer besprekings kry wanneer dit oopmaak 24 Julie. Die Kalahari het ‘n definitiewe bekoring, maar daar is net iets aan die bosveld wat dit oortref.
ChrisS, ek stem...............
...............hierdie keer eenhonderd persent saam met jou - ek is ook verlief op KNP en die bosveld. Geen fout met Kgalagadi nie, maar ek kan nie na beide toe gaan in een jaar nie en in daardie een jaar wen KNP net-net.
Chris B....
Middag Chris B, jy hoef nie 'n sissie te wees nie. Sleep net tot by Twee Rivieren, en kampeer net daar. Jou trokkie sal die paaie na die ander kampe oorleef, mits jy die bande afblaas. Dis nou vir gaan wild soek ritte
Ons volgende kuier was ...
... ons eerste kampervaring in Kgalagadi. Ons en vriende het elk met 'n tent, die basiese kampeertoerusting en 'n gazebo met my destydse Colt 2.8 in al drie konvensionele kampe gaan kamp. Dit was end-Apr/begin-Mei 2002. Ons het afgeskop met 2 aande in Twee Rivieren, gevolg met 2 nagte elk in Mata Mata en Nossob.
Dit was die eerste keer wat ons met die nuwe teerpad gery het wat op daardie stadium verby Ashkam tot by die Molopo Kalahari Lodge gestrek het. Daarvandaan was dit nog gruispad tot Twee Rivieren. Ons kon toe reeds agterkom dat die pad tussen Kalahari Molopo Lodge en Twee Rivieren die slegste was wat ons in vergelyking met vorige besoeke ervaar het. Die tekens was duidelik dat dié pad, sowel as die paaie in die park dramaties versleg het met groter toeganklikheid vir toeriste. My bakkie was sommer van die derde dag af sonder lugreëling omrede 'n pype, waardeur die gas ontsnap het, deurgeskuur het a.g.v. die sinkplaatpaaie.
Nietemin het ons weereens 'n uitstekende tyd in die park beleef. Ek onthou hoe ek die eerste oggend wakker geword het met die gekwetter van die koringvoëls in die boom bokant ons tent. Dit is iets wat my altyd sal bybly - en sedertdien het 'n koringvoël 'n besondere sagte plekkie in my hart.
Ons het 'n lemoensakkie vol patats saamgeneem om saans in die kole gaar te maak. Toe ons terugkom in Mata Mata na 'n "game drive", sien ons oral in die kampeerterrein stukkies patat rondgestrooi lê. Die erdmannetjies, oftewel waaierstertmeerkatte, het dit ontdek en ons beroof van enige verdere patats in die kole.
Die laaste 2 aande in Nossob was 'n amperse laagtepunt wat verblyf aanbetref. Hulle was besig om die mans se ablusies op te gradeer en fasiliteite is tydelik in opslaangeboue verskaf. Dit was maar haglik. Maar Nossob se wildbesigtigings het gelukkig opgemaak daarvoor. Ons het o.a. die eerste keer tot by Unie-end gery en leeus by die tientalle gesien - danksy 'n leeusensus wat deur die park uitgevoer is. Parkeraad-amptenare het hulself in 'n verskuifbare draadhok veilig toegemaak. Vandaar het hulle snags hiëna-geluide oor luidsprekers gespeel en 'n bokkarkas aan 'n naby-geleë boom vasgemaak om die leeus te lok. Die leeus is ge-"dart" en gebrandmerk. Oral het groepies leeus, verspreid oor kilometers, dronk-dronk rondgelê.
Na ons vierde besoek aan die park was ons "hooked".
Wessel ..
Jou trokkie sal die paaie na die ander kampe oorleef, mits jy die bande afblaas
.. ons doen dit altyd as ons in die park is - volgens die aanbevelings. Maar jy't soms amper 'n mondskerm nodig en die vrouens nog 'n sportbra ook. Ek kan maar net bevestig wat Neef Herman geskryf het:
Elk geval, ons geniet die trip. F?k ons timing was sleg met die paaie.. die sinkplaat sandpaaie op hul heel beste, dit rillll en trilll deur die hele lyf. Arme Cruiser het seker n sak vol moere en washers afgeskud.
Klagtes is net die paaie, mense dit was bitter rof en skud jou kar letterlik in sy maai, Het n Prado teengekom wat se voorste buffer soos n stuk lap in die wind gewapper het. Op pad na Nossob n Jokkiewiel opgetel, die eienaar was baie gelukkig om dit terug tekry. Was maklik om te sien wie se waentjie staan op n paar klippe. Die se buurman het sy boks wyn verloor, daar was n reeks gate in die pad wat vol fyn stof was, en waneer jy dit tref, raak als "airborne" en jy word omhul in n hengse stofwolk.
Waneer die trekkers die paaie gesleep het, pragtig vir 2 dae, dan is die sinkplaat weer terug, en word daagliks net dieper uitgetrap.
Chris Wildehont het geskryf:
Dis ongelukkig hoe ek die paaie ken op drie uit ons vier besoeke sover.
Na my ses besoeke en wyd ry in die park, is my ervaring dat die afblaas van bande wel 'n bydrae lewer, maar o donner, die sinkplaat laat steeds veel te wense oor. Nie oral nie, maar daar waar jy dit sleg tref is dit f (met 'n okken) erg.






Kalahari
Naand Anton
Die ouens sal hierdie gesprek volpak met staaltjies en fotos.
Ons was nog net 1 keer soheentoe, en het dit vreeslik geniet. Weens onkunde en min tyd, was ons net tot by Twee Rivieren. Ons sal weer probeer gaan, want daar is nie olifante nie.
Ons het in Mei 2021 die park ongelooflik welig gekry, na goeie reens.