Ons is gereed om te vertrek op ons KNP trip. Dit gaan wees Krokodilbrug, dan Lower Sabie, dan Satara, dan Skukuza en laaste Berg en Dal.
Ablusie nr 3???
Geert, dit lyk of jy by ablusie nr 3 staan. Indien wel, dan het ek by daai rooiessenhoutboom gestaan Junie.
Jy het 'n lieflike staanplek gekry.
Ja, ablusie 3
Hi Wessel. Ja, ablusie 3 agter in karavaan park. 1ste keer dat ons hier agter plek kon kry
Dis al....
....waar ons Junie darem nog die gaatjie onder die boom kon kry. Dit was oorvol omdat dit die langnaweek oor 16 Junie was.
Is dit baie vol, of nie?
Die laaste keer ...
.... wat ek in B&D gekamp het, het ons net 'n bietjie verder links gestaan - daar waar die kampdraad die hoek maak. Uitstekende staanplek gewees en baie wild vanaf ons "stoep" gesien - witrenosters, olifante, koedoes, rooibokke en elke aand die siwetkat wat kom inspeksie loop het. Die ablusies was egter nie op standaard nie. Ek het 'n skriftelike klagte gerig, maar nooit enige terugvoering gekry nie.
Ek het destyds gewonder watter "slim ou" het die mans-ablusie ontwerp. By twee van die storthokkies moes jy deur swaaideurtjies deur die een hokkie se aantrekgedeelte loop om by die volgende een uit te kom. Is dit steeds die geval?
B&D ablusie
Middag Chris B, daai slim ou was seker maar 'n agtermekaar kêrel om die ablusie so netjies uit te lê. Dit is steeds so
Wildehonde
Wildehonde was blykbaar nounet by kamp. Ons het hulle egter gemis....hulle was meer sigbaar daar waar ChrisB gestaan het, einde van kamp
Geert, dis nou tyd...................
...............dat julle huis toe kom want hierdie lank, lekker gekuier in die Wildtuin bring die lelik in my uit - ek is verskriklik jaloers !
Stort hokkies
Ek het destyds gewonder watter "slim ou" het die mans-ablusie ontwerp. By twee van die storthokkies moes jy deur swaaideurtjies deur die een hokkie se aantrekgedeelte loop om by die volgende een uit te kom. Is dit steeds d
Ja, snaakse ontwerp....maak ook nie daarvan gebruik nie
B&D se Matjuludam
Volgens Geert se foto's lyk dit tog of my seun se kommentaar (toe hulle 'n maand gelede daar was) t.o.v. van die toeslik van die dam wel waar is. As jy kyk na daardie sandbank is daar maar 'n klein gedeelte van die dam se oorspronklike volume oor. Met Sanparks se huidige beleid t.o.v. van suipings en damme, sal dit my min verbaas as hulle wat hierdie geval aanbetref net god's water oor god's akker gaan laat loop. Indien wel, sal dit vir my 'n bietjie van B&D se siel uitruk. Ek het darem al baie ure daar op die bankies spandeer - veral saans met die spreiligte aan.
" Met Sanparks se huidige beleid t.o.v. van suipings en damme, "
ChrisB, ons het mos al die afsluiting van sommige kunsmatige drinkplekke en die nie-herstel van vloedbeskadigde damme bespreek. Dit is beslis nie slapgatgeit of onkunde van Sanparke dat kunsmatig-geskepte drinkplekke afgesluit is nie, dit word gestaaf deur deeglike navorsing van wetenskplikes binne en buite Sanparke dat dit die regte ding is om te doen.
Die toeslik van B&D se dam is iets heel anders en 'n mens behoort eers vas te stel wat die rede daarvoor is dat iets nog nie daaraan gedoen is nie. Sanparke het tans hulle hande vol om beskadigde paaie, brûe en akkommodasie te herstel om te voldoen aan die behoeftes van toeriste.
Ek dink ons moet net 'n bietjie kans gee vir hierdie dam om aan die beurt te kom.
Slapgatgeit???
Nee Len - dit is allermins waarop ek gesinspeel het. En ek spreek my geensins uit t.o.v. Sanparks se nuwe beleid nie. Ek noem dit net dat die nuwe beleid t.o.v. drinkplekke en damme dalk kan beteken dat niks aan die toedrag van sake by Matjuludam gedoen gaan word nie. Dit was nog altyd een van B&D se groot aantrekkingspunte, soos die watergat by Punda, en dit sal hartseer wees as dit in die slag bly indien die dam uiteindelik heeltemal toeslik.
Ek wil nie stry of in debat gaan t.o.v. Sanparks se nuwe beleid nie. Ek kan maar net nie help om te wonder watter kriteria gebruik word oor watter watergat kan bly voortbestaan en watter tot niet gemaak word nie.
Moontlik die...
....kriteria van "doen so min moontlik".
Soos met enige [vele] stadsrade, staatsinstellings met alternatiewe bestuurstyle, word voorkoming en instanthouding as westerse, apartheidsera beginsels beskou.
Ek mag verkeerd wees, maar ek vermoed dat die enigste damme en boorgate wat as prioriteit ge-ag word, die is wat groot kampe, en lodges van water voorsien. Dit is opvallend dat "suipings" of doelbewus gebreek word, of net nie weer herstel word nie, maar die kritiese damme in goeie toestand is.
Moontlik sal Sanparke tog later iets aan die "attraksie" by B&D se stoep doen, as daar geld is. Was die dammetjie buite sig in die veld, sal dit maar net verder toeslik. Net so is die moddergat by Punda 'n toeriste attraksie, maar die invloei van water is maar swak, en blykbaar kunsmatig.
Ons moet ook onthou dat;
1] Enige wildtuin kunsmatig is, van die dag dat heinings omgespan is.
2] Flora en fauna navorsing kan nie so maklik as korrek bevind word nie. Die omgewingsimpak se omkeertyd is soms net te stadig om die langtermyn korrektheid te toon.
Onvoorsiene werk
Jammer dat ons jou heerlike gesprekslyn so besoedel Geert. Tydens ons onlangse besoek was die trog by Lamont naby Shingwedzi leeg toe ons daar verby is op ons eerste oggend. Toe ons terugkeer kamp toe was hulle besig om daaraan te werk, en dit het daarna weer water gehad tydens die res van ons verblyf.
Bg is uiteraard ‘n klein werkie, veral in vergelyking met die dam by Berg en Dal. Lg het moontlik vol sand gespoel tydens swaar reëns. Om daardie volume sand te skuif het mens masjiene nodig. Soos uitgewys is SANPARKE besig met herstel van bv pad infrastruktuur. Mens moet ook onthou dat hulle ‘n begroting het. Sulke onvoorsiene onderhoud kom uit jou bedryfsbegroting, en soos genoem gaan dit nie kleingeld wees vanwee die volume nie. Doen jy die werk om die toeriste in die kamp tevrede te stel, boet jy geld in wat jy vir die bedryf van die kamp/groter park begroot het.
Ek praat maar uit die ondervinding in ons munisipaliteit, waar paaie en stormwater een van die afdelings is wat aan my rapporteer, en ons oor die tyd wat ek waarneem as senior bestuurder twee vloede gehad het met die gepaardgaande onbeplande herstel- en opruimingswerk. En die koek is net só groot, so as jy ‘n ekstra sny wil hê nadat almal s’n uitgedeel is aan die begin van die jaar kan jy nie altyd kry nie…
Baie dankie ChrisS....................
............ek stem honderd persent saam met jou mededeling hierbo - dis na my mening presies wat in die Kruger Wildtuin gebeur.
Jammer Geert, kom ons gaan voort met jou interessante mededelings.
Afsaal
Ek wonder hoekom is Afsaal se kos pryse so duur vergelyke met ander eetplekke. n Pie kos R75, pakkie chops R43.....roosterkoek met jam en kaas R65 waar dit by Tshokwane R25 kos. Ons hou nie eintlik daarvan om wildtuin tydens verblyf te verlaat nie, maar het n heerlike biefburger by Malelane golf club gaan eet met chips vir R65
Eetplekke
Middag Geert
Ek hou van Tsokwane se kos, gewoonlik sommer wegneem vir ons wat ons by trokkkie eet.
Afsaal se hele uitleg en manier van hot en haar bestel, betaal en ontvang steek my dwars in die krop. O gaats, met daai pryse is dit dalk dit wat in my krop vassit.





Berg en Dal
Ons het Skukuza vroeer verlaat as beplan en gaan nou 4 dae deurbring by Berg en Dal. Ons het n lekker staanplek gekry oorkant die ablusie teen die draad