Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Neef ... Oktober 2026 saam gesels Chris Boucher -2 minutes ago
Auchterlonie Kgalagadi Oktober 2026 neef Herman -11 minutes ago
Molle Oktober 2026 saam gesels neef Herman -20 minutes ago
Knoffel Oktober 2026 saam gesels Johann L -54 minutes ago
Rona Rock View Lodge Nelspruit Johann L -1 hour ago
Knoffel Oktober 2026 saam gesels Geert -1 hour ago

Klein Kariba en Sensasie toets lopie

Irene
Submitted by Grootwind on
Forums

Noudat die oprit hek baie breër is as voorheen en die Sensasie met gemak sal deurkom is dit tyd vir 'n amptelike proeflopie. Gister by Klein Kariba bespreek vanaf 1 tot 5 Maart. Wel net 4 nagte maar dit behoort ons 'n idee te gee wat nog gedoen moet word aan die wa. Enige voorstelle watter staanplekke? Ons het vir nou ene met skadunet gekies.

Irene

Grootwind

Sat, 07/03/2026 - 11:55

Hier is gou 'n foto of twee van ons (vinnige) kamp opset. (Jammer dat hulle almal of onderstebo of oppie kant gedraai is, die Forum stelsel lyk asof dit weer 'n wil van sy eie het!). Soos voorheen genoem het ons besluit om nie te bodder met tent opslaan nie, en by gebrek aan die (toekomstige) awning toe sommer die gazebo opgeslaan. Lyk nou nie na die mooiste opset nie, maar dit het goed gewerk. Die skadunet oor die staanplek help ook baie met die reën wat heelweek aan en af uitgesak het. Ons kon droog buite sit en eet, en meestal in elk geval in een van die warm swembaddens geboer. Natuurlik kom gryswater altyd ter sprake, so 'n vinnige aankoop van 'n 20l plastiese bottel en 'n kort stukkie (50cm) "pool gobbler" pyp (die diameter is minder as die van 'n swembad skoonmaker (Kreepy)), skuif perfek oor die uitlaat pype van die wa se stort en wasbak en pas ook mooi binne die bottel se prop opening en dan pas die spul ook mooi onder die wa. Ek moet nog 'n Y-koppeling prakseer vir die wa se stort uitlaat sodat beide in die grys water bottel uitloop. Ons het nie die wa se stort gebruik nie aangesien die ablusies by KK silwerskoon is en die naaste ene aan ons staanplek was slegs sowat 30m weg. Die paar dae heel geniet en veral gevind dat die Sensasie uiters gemaklik is as dit by kamp kom. Tydens die kampery ook gevind dat ons 'n paar goed moet uitsorteer, een kasdeur skarnier is problematies en sal vervang word...eintlik wil ek alle kaste se skarniere vervang, tans is daar die sg. "overlay" skarniere in wat problematies is. Paar van die ligte se skakelaar posisies moet verander word, niks groot nie maar tans is die goed 'n irritasie. Donderdag weer terug gesleep en in die omgewing van Zambezi laan die moeder van alle wolk breuke getref, mens kon basies nie die baan strepe op die snelweg sien nie, skrikwekkend as mens met 'n wa agteraan en lorries wat steeds soos mal goed jaag moet trotseer. Gelukkig veilig deur die spul kon navigeer en veilig tuisgekom die middag. Vergeleke met die Fleetline is dit lekker om nie 'n dak te hoef opslaan nie asook die maklike skuif en posisionering van die wa met sy movers. Klomp goete wat nou voorlê voor ons Junie/Julie trippie Scotties toe!

 

 

 

 

 

0
Irene

Grootwind

Sat, 07/03/2026 - 12:35

Nou ja...Wessel brand seker al om te hoor van die "gatmaak" wat uit en uit self gemaak was!

Met die dat mens nie te vroeg by KK kan inklok nie (hulle paierwerk sê nie voor 14h00 nie) het ons gevoel dat synde die oord slegs sowat 90 minute se ry van ons huis af is 'n goeie tyd om te vertrek rondom 11 uur of 12 uur Sondag sou wees. Die Sensasie is reeds die Saterdag onder die afdak uitgeskuif en reg getrek vir net haak. Sondag rondom 11 uur die Trokkie nadergebring en beginne met die haak werk. Toe die spul netjies opgelyn was het die swaar donker wolke bokant ons besluit dis tyd om alle krane met mening oop te maak. Nou kyk, die Omie hou nie van koue water nie en nog minder van natreën. En toe word daar met mening en natuurlik spoed gehaak. Die Sensasie het een van daai fensie Duitse haak gedoentes met so 'n lang hefboom wat as laaste stap nadat die wa en Trokkie nou "gelock" is afgedruk word wat dan die gedoente met wrywings skywe aan die Trokkie se bal (nee dis nie wat julle dink nie!) vasknyp. Dit dien dan as stabiliseerder. Al die goete gebeur terwyl dit katten en honne sous. Op die stadium is ekke nou behoorlik gatvol en wil net innie trokkie klim en ry. Alles gaan eintlik goed tot op die stadium, selfs die uitsleep van die Sensasie deur die nuwe wyer hek. Sowat 50m innie pad af beginne ek voel/hoor iets is nie reg nie, die wa sleep rukkerig en daar is so 'n snaakse skuurgeluid wat dan daar is en dan nie. Stop net daar langs die pad (eintlik half innie pad) oortuig een van die briekdromme/skoene is die probleem...voel beide dromme maar hulle is yskoud. Ry maar weer verder en sowat 300m verder is die probleem steeds daar (en dit sous steeds)..weer stop en weer briekdromme voel. Nou beginne ek al vir die Goewerment verduidelik ons sal maar moet terug huistoe en die volgende dag is dit ekke en Silverlakes waar ek die wa gekoop het...ek is nat, bedonnerd en voel ingeloop, met verkeer wat agter ons ophoop. Boonop sal ek 'n ent so moet voort sleep om omdraai plek te kry. Die naaste plek vir so iets is by die Doringkloof winkelsentrum sowat 3km verder. Daar gekom, weer briek dromme gevoel, steeds net louwarm...beginne besef iets maak nie sin uit nie...handbriek? Nee, die is af. Dan moet dit seker een of beide van die wiel laers wees...des te meer rede om die dinges in te wees vir die verkoper, hulle het mos die wiel laers vervang as deel van die aflewerings diens, dalk was daar iets nie reg gedoen nie?

Beginne die spul omdraai vir die terugtog huis toe...toe gaan 'n liggie aan in die omie se kop. Stop weer en kyk maar weer (in tussentyd het die reën darem opgehou so my gemoed is ook ligter (net baie min ligter, verstaan!). Ek staan die spul so en kyk en beginne wonder hoekom die jockey wiel so laag is. Slaan my soos 'n bliksem straal, ek het met die haak by die huis die wiel soos gewoonlik gebruik om die wa se haak oppie trokkie se bal (alweer daai woord!) te laat sak maar nooit die spul daarna behoorlik opgetrek soos dit moet alvorens mens kan sleep. Die jockey was darem nie heel tyd in kontak met die pad oppervlak nie, dit was net-net bokant dit, maar met elke knik in die pad het die twee kontak gemaak wat die rukkerige sleep en snaakse geluide verklaar het. Het die spul toe opgetrek soos dit moet en weer die hoeveelste keer seker gemaak die res is ook alles soos dit moet wees. Daarna soos 'n droom gesleep. Hierdie is seker die mees basiese "beginner" fout wat 'n karavaan sleper kan maak, en dit na 30 jaar se sleep ondervinding...Eish! Omdraai was toe nie meer nodig nie en die res van die pad KK toe en weer terug 'n paar dae later was sonder enige verdere voorvalle. Ek en Juffrou Sensasie het nou behoorlik kennis gemaak. Sê juis vir die Goewerment gister ek sal maar 'n klomp van daai rooi vlaggies moet kry soos wat mens by die vliegtuig mense sien om by elke veiligheids kritiese ding op te hang as waarskuwing dat iets belangrik eers gedoen moet word alvorens die vlaggie verwyder mag word! As daar nog 'n vlaggie hang na mens gehaak het is iets vergete wat eers moet aandag kry! En o ja, ek doen simpel goed as ek besig is om nat te reënlaugh En die jockey? Wel die was nuut gepas deur Silverlakes voor aflewering, gelukkig niks oorgekom nie behalwe dat die wieletjie se loopvlak effe verweer lyk. En jammer Silverlakes, julle was onskuldig in die hele gedoente. smiley 

 

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 07/03/2026 - 14:55

...nee wat, daai is nie "gat maak" nie. Dit was 'n glips in die reën.  

As mens haastig en befoeterd is, kom mens sulke glipse oor. Gelukkig kan mens neuswieletjies los koop, en 'n handige ou met 'n stel oopbek spanners kan dit insit.

Ek verkies om nie geselskap te hê, behalwe die beterhelfte, tydens hak en afhak nie. Die laaste ding wat ek doen, is om neuswiel op te trek en met kettingkie vas te sluit.    

0
Oudtshoorn

neef Herman

Sat, 07/03/2026 - 18:08

Stem saam Wessel. Daar is seker maar min sleepers wat nog nie die oorgekom het nie. Ou Jurgie se wieletjie het ñ lekker "flat spot" op laugh.

Bly dat julle die Sensasie geniet. Kan net my indink hoe lekker luuks dit moet wees om in ñ Penthouse te kamp. 

0
Irene

Grootwind

Mon, 09/03/2026 - 10:30

So iets het my nog nooit oorgekom nie...ek het regtig soos die gat van Kimberley gevoel. Dis nou nie asof 'n jockey wiel so klein is dat mens hom vergeet nie. Maar nou ja, my paranoia kant sal my nie toelaat om dit ooit weer te vergeet nie! Oom Neef, Penthouse? Dis mos 'n ding wat heelbo 'n luukse gebou is? Gelukkig staan Juffrou Sensasie darem nog oppie vaste aarde en nie doer bo nielaugh

0
Worcester

Wildehont

Mon, 09/03/2026 - 12:39

Ek het al vertel hoe ek ‘n neuswiel verloor het die dag toe ek die wa gevat het om deur die toets te sit.  
Nadat die wa gehaak is haal ek sedertdien die Kavango se neuswiel af en dit ry in die wa saam. 

0
Pretoria

Geert

Mon, 09/03/2026 - 14:09

Ek is altyd bang ek vergeet om die movers van die bande af te haal voor ek ry....dink dit kan ook onaangename skade veroorsaak

0
Sedgefield

Jan Meyer

Mon, 09/03/2026 - 18:03

Geert,  ek het al my movers aan vergeet. Jy kom dit dadelik agter as jy wil wegtrek. Voel of die handrem aan is.

Seker maar omdat ek 'n Ford gery het. smiley

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 09/03/2026 - 19:39

My neuswiel het nie 'n tong in gleuf gerief/ontwerp nie. Dus kan die neuswiel tydens beweging in die rondte draai, en sodoende al laer afbeweeg. Daarom word dit vas geketting.Tweede voordeel is dat die hele  neuswiel samestel  nie per ongeluk in die ry afsak/skuif nie.

Chris S, my Kavango se hak is hoog, en as die wiel opgetrek is, kan dit eintlik nie haak nie. 

0
Oudtshoorn

neef Herman

Mon, 09/03/2026 - 20:25

Jurgie se jockey kan jy slegs met moeite uithaal/ afhaal. So ek trek dit tot heel bo en draai dit styf vas langsaan die disselboom. Hang nog se entjie uit.

Met ons laaste besoek daar in julle wêreld met die vreeslike spoedhobbels in die paaie, dink dit was tussen Rustenburg en Petoria, het die wieletjie by elke hobbel vasgedruk. Noodgedwonge in dik verkeer moes dit maar verduur word. Van daar die plat stukkie op die rubber.

.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus