Terwyl ons in Roemenië was het my seun ons ingelig dat hul vriende nie meer die vakansie na Eiland Spa kan meemaak nie. Die vriende se staanplek was op my naam bespreek omdat hulle ATKV-lidmaatskap nie op daardie stadium betaal was nie. Die gedagte was om die bespreking later op die vriende se naam oor te dra. Laasgenoemde het egter die volle besprekingsfooi betaal. Pappa se arm is toe gedraai (hy het mos maar 'n rubberarm) om saam te gaan.
'n Voorwaarde was dat hy (seun) moes reëlings tref om my karavaan te laat diens. Ek laat diens die "Ou Lady" elke keer voor ons langpad vat - dit gee my maar net 'n bietjie gemoedsrus. Dit is vandag hier by my huis gedoen voordat ons Sondag in die pad val.


Môre word 'n paar inkopies gedoen en Saterdag moet die inpakwerk afgehandel word vir Sondag se beplande wegtrek om 08:00.
Hulle het ingehaal...
leeus, luiperd en wildehonde
Voorwaar 'n goeie dag. Nou moet ek eers gaan kyk wat is 'n Sandslang - ken dit nie. Geniet die laaste aand op daardie lekker staanplek.
30 Julie
Ons het vandag ons kortste skof van die afgelope bykans 6 weke se toer gehad - slegs 292 km. Maar dit beteken dat môre se laaste skof die langste van die toer gaan wees - 535 km. Dit is a.g.v. die feit dat ons nie vanaand in die Karoo Nas Park geholpe kon raak nie en by Travalia (3 Susters) oornag. Ons is egter baie lief vir Travalia.
Na 'n rustige oggend is ons eers na 09:00 by Gariep weg. Na 'n lekker Wimpy-brekfis by Colesberg en aansienlik minder vragmotors, was ons net voor 14:00 hier by ons oornagbestemming waar ons vanaand 'n lamstjoppie gaan braai.
Tans skyn die son heerlik, maar dit is maar koelerig. Die Hilux het gewys dit is 13°C toe ons hier arriveer.


Woonwa vriendelik
Chris, is al die huisies so gerieflik om woonwa langsaan te parkeer, en net weer te ry??
Dis goed om te weet van alternatiewe oorslaapplekke langs die N1.
Wessel ...
... No's 21 & 24 is spesifiek baie geskik om jou karavaan langsaan (letterlik teen die huisie) te parkeer. Ek het vir No 24 gevra toe ek bespreek het. No's 21 tot 24 is ten volle ingerig met eetgerei, yskassie, mikrogolf en opwasbak. Groot dubbelbed en gerieflike badkamer.
Laaste aand
Geniet dit by Travalia en ook die heerlike tjoppies. Na so 'n lang "uit-en weg" glo ek julle sien uit daarna om weer tuis te wees. Veilig sleep die laaste skof.
31 Julie
Na 'n bitter koue inpak vanoggend (-1°C) het ons vandag lekker rustig huistoe gery. Ons was 15:45 by die huis en het reeds gedeeltelik uitgepak. Maar môre is nog 'n dag om voort te gaan. Die Hilux sal in die eerskomende week geneem word vir 'n volledige "valet". My tuiningenieur sal volgende Maandag moet karavaan, grondnette en ander kamptoerusting was.
Ek het uitgekyk vir Len se Pathfinder, maar ons het mekaar gemis (of nie opgelet nie).
Dit was 'n voorreg om vir meer as 3 weke saam met my kinders/kleinkinders te kuier. Die enkele dae in die wildtuin was ook besonders. Ek het die voorreg gehad om vir Paul Mulder van aangesig tot aangesig te ontmoet. By Phalaborwa Safari Park het ek ook vir Servaas Verster raakgekamp.
Al's en al's was dit 'n geseënde toertjie.
Kan mens....
jouself "uitasem" vakansie hou? Dink ek ken die antwoord![]()
Bly dat julle veilig tuis is en 'n lekker vakansie vol herinneringe beleef het.
Dankie dat jy soveel met ons gedeel het.
Geniet jou eie bed
Bly julle us veilig....geniet jul tuis bed en badkamers
Hilux 2.4GD6
Chris, na die lang woonwa-sleep vakansie, wat is jou indruk van jou trokkie. Ek weet daar ontbreek 'n paar luukshede, maar andersins, is jy tevrede met afskaal van 'n 2.8 Hilux.
NS: Jy het net betyds gekoop. Dit blyk dat die 2.4 outomaties [4x2] nie meer in Raider formaat beskikbaar is, of gaan wees nie.
2.4 vs 2.8
Die 2.4 staan, wat my aanbetref, geensins terug vir die 2.8 nie - behalwe vir een aspek. Wanneer ek 'n vragmotor wou verbygaan (ek gaan niks anders verby nie omdat ek so stadig ry), het die 2.8 beslis meer woema gehad as jy jou voet plattrap. Dit is of die 2.4 'n bietjie meer traag is om te reageer. Maar andersins is dit inderwaarheid 'n uitstekende sleepvoertuig.
Ek wil nou-nou gaan opvul met diesel ten einde my brandstofkostes en -verbruik te bepaal.
Maar kom ek wees eerlik - ek mis my 2.8 met sy paar ekstra laksjeries.
Nuttelose inligting
Ek het gou gaan opvul met diesel. My totale brandstofkoste vir die 5 423 km wat ons gery het, het R17 873 beloop - m.a.w. R3.30/liter (eish!!).
Ek het reeds vroeër genoem dat my gemiddelde brandstof vir die heenreis (al die pad gesleep tussen Kleinmond en Zebediela) was 8.5 km/liter. Met die terugkeer (sleep tussen Bela-Bela en Kleinmond) was die verbruik 9.3 km/liter.
Chris. Ek is nie seker wat…
Chris. Ek is nie seker wat jou diesel se prys is nie, maar wat ek nou gelees het is dit sowat R25.00/ liter. Dan as ek die R3.30/ km gebruik soos jy beteken het is jou gemiddelde verbruik hier by 7.5km/ l. Of ek is deurmekaar...wat baie moontlik is.
Dieselverbruik...
....vergelyk goed met wat ek kry. Hoewel ek vinniger sleep, is my wa aansienlik smaller as Chris se "ou lady". Dalk selfs laer ook.
Neef ...
... jou manier van sommetjies maak mag dalk reg wees, want hierdie mamparra hey nou weer deeglik deur sy brandstof-inligting gegaan en gesien dat hy 'n paar foutjies gemaak het. Op hierdie Sondagoggend is ek egter doodnugter (nie dat ek gister nie nugter was nie) en kan die volgende bevestig.
Ons het 'n totaal van 5 423 km gery (sleep en nie-sleep). My totale brandstofkoste het R17 873,31 beloop - wat inderdaad 'n koste van R3,30 per kilometer beloop het. Ek het oor die hele reis 603,38 liter diesel verbruik - wat neerkom op 'n gemiddelde koste van R29,62 per liter.
Ek het egter nog met die duurder diesel gedurende Junie na die noorde gery en met die goedkoper dieselprys teruggekeer. Met die heenreis was Springfontein (Engen) se dieselprys die goedkoopste - naamlik R29,77 per liter. En Zebediela Sasol se prys was die duurste met R33,71 per liter. Maar my berekeninge was foutief t.o.v. my gemiddelde dieselverbruik met die heenreis. Dit was slegs 7,6 km per liter - en nie soos wat ek voorheen gesê het 8,5 km per liter nie. Ek weet nie hoe ek daardie berekeningsfout gemaak het nie.
Met die terugkeer het ek al die pad gesleep vanaf Bela-Bela. Tussen my reis noorde toe en die terugkeer vanaf Bela-Bela het ek etlike kilometers gery sonder om te sleep, soos byvoorbeeld wildtuin toe. My gemiddelde brandstofverbruik tussen Bela-Bela en Kleinmond (al die pad sleep) was inderdaad 9,3 km per liter - 'n aansienlike verbetering op die heenreis se verbruik (seker afdraand versus opdraand
).
Vir die hele reis oor 5 423 km was my gemiddelde verbruik 9,0 km per liter.
Met die laer koste vir diesel in Julie, was die goedkoopste diesel by Eiland Spa se vulstasie, waar hulle Woensdae 'n sogenaamde winskoopdag vir gaste by die vulstasie bied - R26,75 per liter. Die duurste wat ek in Julie betaal het was R28,83 per liter by Sasol in Tzaneen.





Jammer
Jammer, maak ek weer dieselfde fout om op ChrisB se draad te plaas