My beplande Oktober-kuier in Kgalagadi begin al meer in plek val. Met die uitsondering van een aand waarmee ek nog nie geholpe kon raak nie, begin die toerplan al hoe meer vorm aanneem.
Ons skop af met 2 aande in Twee Rivieren gevolg met 4 aande in Nossob. Beskikbaarheid van akkommodasie in Nossob, 'n dag later as die datum waarop besprekings geopen het, is net so goed soos om wors te soek in 'n hondehok. Maar geduld en gereelde loer op Sanparke se webblad, het vrugte afgewerp.
Intussen kon ek, na nog 'n aand in Twee Rivieren, ook 2 agtereenvolgende aande se akkommodasie in 'n rivierfront chalet in Mata Mata bekom en drie aande in Kalahari Tented Camp (KTC). Ek benodig nog 'n nag tussen Mata Mata en KTC maar ek is positief dat ek met die benodigde nag (15 Okt) in hetsy Mata Mata of KTC gaan regkom. Ek sal maar geduldig voortgaan met my soektog.
Ek sou wat wou gee om 'n nag of twee in hetsy Gharagab of Bitterpan te bekom. Ek het mos nou 'n 4x4.
11 Oktober
Ons het besluit om vanoggend 'n slag suid te ry. Nadat ons eers weer by Marie se Gat gaan draai het, het ons voortgegaan tot by Kaspersdraai waar ons 'n sekretarisvoël dopgehou het wat water drink. Ons het nogal heelwat sekretarisvoëls tot dusver gesien - selfs 'n nes met 'n kleintjie in bo in 'n kameeldoringboom.
Op pad na Kaspersdraai het Kaapse kobra nommer 4 die pad voor ons gekruis. Maar ongelukkig het ons ook 'n kobra en molslang, doodgery in die pad gekry. Sal daar waaragtig mense wees wat selfs in 'n natuurpark reken dat die enigste goeie slang is 'n dooie slang (soos ek sommiges al hoor sê het).
Weereens was wild skaars - maar ons geniet elke oomblik van hierdie voorreg om hier te kan wees. Tans lê ek op die naat van my rig en probeer inhaal op my agterstallige terugvoering. Dit is maar nog 'n warm dag. Ons beplan om na 16:00 weer 'n bietjie noord te ry en vanaand gerookte "pork belly" te braai.
Môre is weer die groot inpak vir die rit na Mata Mata vir die volgende 4 aande.
so 'n bloedrooie.
Hallo Chris B. Niks fout met so n pot. Ek het ook een. Maak n lekker kerrie pot.
Dankie vir die updates.
Park kaart
ek het nou weer jou insette gelees, maar aan die hand van die park se padkaart. Nou weet ek presies waar julle rondkruie en skud.
Ek sal die aweregse skimp laat verbygaan, ek lees maar oor sulke insette en verslind jou wedervaringe.
Ek sal graag die geveg tussen 'n sekretarisvoël en ''n koperkapel wil sien. Wonder wie gaan wen
Gaan jy so skelpies via Bitterpan na Mata Mata toer???
Bitterpan pad
Om by Bitterpan uit te kom, kry jy n permit by Nossob om deur die hek te gaan om op die pad te kom. Die hek sit so aan die kant van die kamp naby die " fancy" en nuwer kampeerplekke.
Daai pad het paar skurwe kolle wat jou lorrie se suspensie lekker uitrek!!





10 Oktober
Ons het weer die pad noord gevat. Ons is 07:30 uit die kamp weg en het besluit om tot 10:00 te bring ry voordat ons omdraai. Dit het ons tot by Kousant-suiping geneem - waar ons 'n mooi troppie koedoes gekry het. Terloops - ons is besonders gelukkig met koedoes hierdie keer.
Met die terugkeer het ons by 2 geleenthede groot molslange gekry wat die pad voor ons gekruis het. En een wat doodgery is - wie tree so op??
Namiddag het ons weer die sinkplaatpad na Marie se Gat aangedurf. Maar die somtotaal van die dag se wildbesigting was weereens uiters skraal.
Ek het net voor ons vertrek het vir my 'n emalje-bedekte driepootpot gekoop - so 'n bloedrooie. Dit was tyd om dit in te wy met 'n lamskerriepotjie. Daar kry Wessel alweer die horries. Maar dit het knap afgegaan met Van Loveren se River Red.
O ja - en ons het teen skemeraand 'n pragtige leeuwyfie by die watergat gehad.