Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Snert Ertjie Sop! - Hester Kruis Geert -13 minutes ago
My jonger suster ... Ertjie Sop! - Hester Kruis Chris Boucher -40 minutes ago
Vegetaries Ertjie Sop! - Hester Kruis neef Herman -54 minutes ago
Angola Oktober 2026 saam gesels neef Herman -1 hour ago
Die 'probeer' werd Ertjie Sop! - Hester Kruis Rona du Plessis -1 hour ago
Prys van diesel Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -1 hour ago

Kgalagadi Oktober 2026

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

My beplande Oktober-kuier in Kgalagadi begin al meer in plek val. Met die uitsondering van een aand waarmee ek nog nie geholpe kon raak nie, begin die toerplan al hoe meer vorm aanneem.

Ons skop af met 2 aande in Twee Rivieren gevolg met 4 aande in Nossob. Beskikbaarheid van akkommodasie in Nossob, 'n dag later as die datum waarop besprekings geopen het, is net so goed soos om wors te soek in 'n hondehok. Maar geduld en gereelde loer op Sanparke se webblad, het vrugte afgewerp.

Intussen kon ek, na nog 'n aand in Twee Rivieren, ook 2 agtereenvolgende aande se akkommodasie in 'n rivierfront chalet in Mata Mata bekom en drie aande in Kalahari Tented Camp (KTC). Ek benodig nog 'n nag tussen Mata Mata en KTC maar ek is positief dat ek met die benodigde nag (15 Okt) in hetsy Mata Mata of KTC gaan regkom. Ek sal maar geduldig voortgaan met my soektog.

Ek sou wat wou gee om 'n nag of twee in hetsy Gharagab of Bitterpan te bekom. Ek het mos nou 'n 4x4.

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 14/10/2026 - 18:59

Elke dag in die lewe is mos nie maanskyn en rose nie. En wat die roofdiere aanbetref was dit beslis nie vandag die geval nie. Ons oggend- en middag-wildsritte het nie veel opgelewer nie, maar dat die Mata Mata-omgewing oor 'n gesonde kameelperd-populasie beskik, is nie altemit nie. Ons het troppe van tot 17 getel.

Len het melding gemaak van sy broer-hulle se besoek waartydens hulle o.a. volstruise met kuikens gesien het. Wel - as al die volstruiskuikens wat ons al gesien het, sedert ons in die park gekom het, moet grootword, dan wag daar 'n volstruis-populasie uitbraak.

Die Auobpad is plek-plek baie nat met groot poele water. Maar die bietjie reën wat laasnag uitgesak het sal wondere vir die reeds groen Kalahari doen.

Na 'n 32° dag is dit nou heerlik buite. 'n Koue goue gaan nou goed af. Die blaf-geitjies is ernstig aan die maats roep en die Smokey Joe is aan die gang vir 'n paar lamstjops en Joey's boerewors wat op die spyskaart is vanaand.

1
Dullstroom

Rona du Plessis

Wed, 14/10/2026 - 20:52

Lekker gelees aan jou skrywes met soveel detail. Laat my erg verlang na die Kalahari. Sien ook uit na foto's wanneer sein dit weer toelaat. Geniet die kuier verder.

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 15/10/2026 - 09:49

Ek sien nou 'n berig dat Askham gister of eergister 110mm reën gekry het.

Lyk my die Kalahari is papnat!!!

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 15/10/2026 - 11:47

... waar't jy die berig gelees oor Askham se reënval. Ek kon nog niks opspoor oor sulke hoë reënval die afgelope week nie. Ek weet dat dele van die Kalahari het goeie reën 2 of 3 weke gelede gehad.

Maar die Kalahari is pragtig voorwaar. 'n Mens kan amper nie glo wat jou oë in die Mata Mata-omgewing sien nie. Nossob se kant toe is dit nie so mooi soos hier nie.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 15/10/2026 - 12:01

Ons het weer tot by die nuwe piekniekplek by 14de Boorgat gery - en weer baie kameelperde gesien, maar verder niks noemenswaardig nie. 

Die paaie in die park se toestand is van die beste wat ek nog ooit hier ervaar het. Dit word gereeld gesleep. Maar o wee! - die donners wat nie kan stadig ry nie skop sommer weer gou die pad vol sinkplaat. Die skuldiges is veral die kampeerders wat van kamp verwissel en so vroeg moontlik by hul nuwe bestemming wil aankom. Gelukkig is hier nog heelwat ander besoekers wat by die reëls hou.

Vandag word 'n gematigde 33° voorspel - so ietswat van 'n lafenis.

Vanaand eet die oumense Roemeens. Die nuwe rooi driepoot sal weer gebruik word vir Tocanița de Cartoffe - iets wat ons by ons kinders leer eet het en wat meer deur my en Ralie gemaak word as deur my Roemeense kinders.

Diced Bacon, uie, aartappels, tamatiepasta en geurmiddels wat ons gereeld van Roemenië af terugbring. Ek sal weer môre-aand braai, wanneer ons in Twee Rivieren is.

1
Brits

Wessel Strydom

Thu, 15/10/2026 - 13:36

...het toe vasgehak oor Askham, vroegaand 13 Oktober.

Ek het die berig op Netwerk 24 gesien.

Daai vinnige donners is sekerlik die manne met 4x2 Hiluxe en Kavango's agterna. So bang vir vassit, verskoon hulle maar😁   

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 15/10/2026 - 21:06

... ek reken dat enigeen kan gereelde terugvoering - al beteken dit dat foto's nie dadelik geplaas kan word nie.

Doen net 'n bietjie moeite om 'n bietjie tyd af te staan vir terugvoering op die forum. Hoekom sal jy mense inlig oor jou beplande vakansie en dan jou bek hou oor wat jy ervaar.

Terloops - ons Roemeense gereg was heerlik. Ons pak intussen alle items in hulle plekke (die onderskeie houers wat almal gemerk is). Môre-oggend is ons rustig. Ons hoef eers 10:00 uit ons akkommosasie te wees en Twee Rivieren (waar ons eers 14:00 kan inboek) is net 120 km hiervandaan - met 3 stilhouplekke (piekniekplekke), te wete 14de Boorgat, Kamqua en Auchterlonie. 

Ek praat hopelik weer môre-aand.

0
Oudtshoorn

neef Herman

Fri, 16/10/2026 - 06:52

Die plek is vir my vreeslik spesiaal. Ek sien in my geestesoog die mense van lank gelede daar met hul dagtake aangaan. Was seker n konstante oorlwingsstryd teen die natuur. Daar is kinders gebore wat in die stof gespeel het, oupas wat oud en gedaan gewerk is, die verte in staar het. Hoop vir n buitjie reen.

En daai put wat in die rots gekap is op soek na ń bietjie water. Het hulle ooit water gekry, dit was nog elke keer droog as ons daar aandoen.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 16/10/2026 - 18:17

Ons het vanoggend (op pad Twee Rivieren toe - waar ons nou is), slegs 600 meter van Mata Mata se hek af, een van die mees spesiale "sightings" van alle tye gehad. Na Dinsdagnag se reën het daar nog 'n groot poel water in die pad gelê. 25 kameelperde het in die Auob aangeloop gekom en reg voor ons uit die poel modderwater kom drink. Só 'n groot groep kameelperde wat gesamentlik drink - baie spesiaal!!

In Mei 2024, toe ons saam met ons Roemeense kinders deur Kgalagadi na Namibië gereis het, het 'n persoon by Kamqua piekniekplek vir ons vertel van 'n Kaapse kobra wat nader aan Mata Mata besig was om 'n versamelvoëlnes te beroof. Hy't die presiese ligging vir ons verduidelik - en wraggies, daar kry ons steeds die slang in die nes (net sy stert sien uithang).

Sedert Maandag het ons etlike kere verby dié nes gery en elke keer gekyk of ons nie iets soortgelyks sien nie. En vanoggend is ta toe waaragtig besig om amok in die nes te maak. "What a sighting!!" - weereens.

En by 13de Boorgat kry ons 2 pragtige leeu-mannetjies (foto's kan ongelukkig eers later volg). Naby Kamqua het ons 'n luiperdwyfie onder 'n boom gesien - baie ver. Maar mense wat vroeër daar was het haar met haar 2 welpies oor die pad sien loop. Ons kon nie die welpies sien nie. Dit was slegs my derde luiperd sedert 1986 in dié park. Nou hoop ons nog vir 'n cheetah wat ons steeds ontwyk.

Vandag was ons warmste dag tot dusver - 39°C

Vanaand is dit weer 'n Van Rensburgs (George) se Dry Aged Angus Rump saam met krummelpap en sheba.

1
Brits

Wessel Strydom

Fri, 16/10/2026 - 19:16

...vir die fotos van al die genoemde spesiale besigtigings nie. Julle was wraggies baie gelukkig in die suide deel van die park.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 20/10/2026 - 15:27

Ons laaste 3 aande in Twee Rivieren (TR) was baie lekker - maar van die 3 kampe waar ons tydens ons 13 aande was het Mata Mata (MM) loshande gewen as die lekkerste kamp.

Maar terug by TR - dié kamp het maar net nie dieselfde atmosfeer as hetsy MM of Nossob nie. Dit is ook die kamp wat die grootste frustrasie opgelewer met data-sein - vandaar die feit dat ek stil was die afgelope dag of drie.

Maar dit is die area waar ons vanjaar die grootste springboktroppe gesien het - en groot hoeveelhede gemsbokke en blouwildebeeste.

Ons het daagliks met die Nossobrivierbedding-pad gery. Die eerste 10 km van die Auob-pad is jare gelede verlê om deur bossieveld te loop alvorens jy by die fisiese Auobbedding uitkom. Genoemde 10 km is 'n sieldodende stuk niks. Daarom het ons dié pad vermy.

Ons het gewoonlik soggens tot by Kij Kij-suiping gery waar 'n troppie leeus vir 2 dae lank sleg gelê het. Namiddae het ons meestal net toe Rooiputs-suiping gery.

Met die verandering van my bespreking vir die laaste 3 aande na TR, het dit beteken dat ons gister slegs 5 km moes ry tot ons aandbestemming - te wete Kgalagadi Lifestyle Lodge. Omdat ons aanvanklik gister vanaf Kalahari Tented Camp sou vertrek het ek by Lifestyle Lodge bespreek - wat ten volle betaal was.

Om die dag te benut het ons gisteroggend tot by Melkvlei piekniekplek gery en terug. Toe het ons middagete in TR se restaurant gaan nuttig ('n eerste). Ons was beïndruk met die kos.

Die Kalahari was gister koel - sodanig dat ek gisteraand 'n warm "top" moes aantrek toe ek my varktjops gebraai het.

Kalahari Lifestyle Lodge is 'n netjiese plek. Baie mense bly daar en ry daagliks in die park in.

Ons het net voor 14:00 hier by Augrabies aangekom waar ons vir 2 nagte oorbly. Ons rus nog eers 'n bietjie na die groot afpak en indra na die chalet toe, maar sal seker net-nou 'n draaitjie gaan ry. Besigtiging van die waterval sal maar moet wag tot môre. Ek verstaan die valle word nou saans tot 22:00 belig. Dit meng egter in met my braaityd. Sal maar moet sien of ons daarby sal uitkom.

Vanaand braai ons bees- en pork belly sosaties.

 

1
Dullstroom

Rona du Plessis

Tue, 20/10/2026 - 16:11

Dis goed om weer van julle wedervaringe te lees. Geniet die laaste paar dae. Nuus oor die waterval sal interessant wees. Ek dink 'n aandbesoek daar kan vir my werk wanneer die erge hitte effe bedaar het.

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 20/10/2026 - 16:33

Dankie vir die terugvoer.

Onthou om die pad te vat na Oranjekom en Echo corner. Dis waar ek die swart spoegkobra gekry het.

Gelukkig het jy 'n 4x4, so daar is nog 'n stuk veld wat jy kan gaan verken. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 21/10/2026 - 08:25

Dit was só lekker om deur 'n grasgroen Kalahari te ry na Upington. Ek reken die Kalahari-boere juig almal oor die uitstekende weidings-toestande vir hul vee. Die pad tussen Askham en Upington, wat maar vervelig kan wees, was 'n plesier om te ry.

In Upington is gou 'n paar items aangekoop en ons het sommer 'n "brunch" by die Dros geëet - die eerste keer in jare by 'n Dros (en ons was beïndruk met hul diens en kos). Vandaar het ons rustig gery tot Augrabies, want ons kon eers 14:00 inklok. Dit was pragtig om al die pad tussen Upington en die park se hek deur die lowergroen wingerde te ry.

Ons het laat-namiddag 'n draai gaan ry tot by Ararat- en Eggohoek-uitkykpunte - pragtig. Watter natuurwonder!! Die veld is lowergroen. Plek-plek blom die gras só dat dit eintlik wollerig lyk.

Met die terugkeer het ons by een van 4 plekke waar jy tussen riete deur die water moet ry 'n eerste (vir my) gesien - 'n woudapie, oftewel 'n kleinrietreier ('n raar voël om te sien).

'n Paar lekker sosaties later het die 2 oumense gaan kooi soek.

Dit was 'n verrassing om tydens inboek te verneem dat Augrabies Nas Park se tarief vir chalet-akkommodasie nou ook ontbyt insluit (soos Karoo Nas Park). Gevolglik gaan ons nou lekker aansit vir ete alvorens ons die valle gaan besigtig.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 21/10/2026 - 10:24

...is iets besonders om te sien, soos dit daar by Eggohoek lyk.

Wat is die rede vir daai groen water kleur? Is dit weens syferwater uit die lande wat lae [?] konsentrasie bemestingstowwe in rivier laat beland?  

0
Pretoria

Geert

Wed, 21/10/2026 - 10:34

Dis n plek waar ek nog baie graag by wil uitkom, veral as die rivier in vloed is. Plaas asb foto's hoe valle nou lyk...klink of rivier relatief sterk loop?

0
Kaap

Goeie Hout

Wed, 21/10/2026 - 10:42

Chris B.  Ons kamp altyd net voor die Augrabies Park by Kameeldoring Park.  Lekker staanplek met sy eie ablusie.  Hy het ook n rocket wat jy moet stook vir warm water.  Hulle gee ook die hout vir die rocket.

Dit is as jy uit park kom aan jou linker kant.  Dan gaan ons vir dag besoeke Augrabies toe.

Dankie Chris.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus