ATKV Eiland is 'n reuse bosveld vakansie-oord in die Limpopo Provinsie, 60km vanaf Tzaneen. Die afdraai na die Eiland is op die pad tussen Phalaborwa en Tzaneen en moet maar versigtig aangepak word. Die grootste gedeelte is 'n pragtige pad tussen vrugte boorde deur, maar op sommige plekke is daar liederlike slaggate. Die oord beskik ook oor 'n eie vulstasie en bied selfs op Woensdae 'n afslag van 50c per liter op 50ppm dieselbrandstof !
Die kampeer gedeelte is verdeel in ses groot blokke, elkeen met 'n eie, luukse, moderne, ablusieblok waarvan almal dieselfde uitleg het. Dis net jammer dat daar nie papier-handoeke beskikbaar is nie sodat jy die hande-wasbak en graniet-blad kan skoon en droogmaak na gebruik nie. Die oord is oortrek met veral mopani bome en net hier en daar is staanplekke wat nie een of ander tyd koelte geniet nie. Ons is hier teen die einde van Meimaand en dit is nog steeds baie warm.
Hier is ook 'n tent-opslaan spannetjie wat kan help met op- en afslaan van tente, maar ek het nie daarvan gebruik gemaak nie.
Fietsry deur oud en jonk is aan die orde van die dag op die verskeie geplaveide paaie. Hier is 'n reuse oop warmwater swembad, 'n groot kouewater swembad asook 'n vlak kleuter swembad. Daar is ook 'n baie groot, hoë waterwurm, rolbal-, tennis-, jukskei- en put-put bane. 'n Winkel verskaf alle basiese benodigdhede. Hier is ook 'n restourant, maar ons het dit nie op die proef gestel nie.
Elke staanplek het 'n kragpunt, vullisdrom en verskuifbare braai. Krane is ook gerieflik geplaas - die dubbelkraan is 'n oulike idee waar meer as een karavaan 'n kraan deel. Die vullisdromme het ongelukkig nie swart plastieksakke in nie en dit skep 'n hiëgeniese probleem - moontlik as gevolg van die wêreldwye protes teen die gebruik van plastiek.
Verder is dit opmerklik hoeveel werklike oues van dae hier kamp, heelwat met looprame, battery-shopper-karretjies en kieries. Baie van hierdie senior burgers is lede van die Swaeltjies Groep wat sommer maande aaneen hier staan.
Opsommend, hierdie is 'n puik oord en sal my beslis weer sien.
So lyk die badkamers :


Len, julle moet veilig…
Len, julle moet veilig terugsleep Kaap toe.





Eiland
Stem saam julle dis n puik oord genoeg om te doen en net lekke te rus