Ek het n week gelede met my 2 seuntjies om die park gaan stap en soek vir avontuur. Klippe gegooi en met stokke gestap en klippe omgerol ens.
Met terugkoms huis toem net so 30m voor ons hek se my oudste, "kyk pappa, 'n skilpad!"
Ek draai om en daar sien ek hom langs die pad op die sypaadjie. Klein ou dingetjie.
Soos ek n tree nader gaan sien ek sy gatkant is gepak met vlieë. Ek dog toe so by myself.. "aggenee, wat gaan nou hier aan?" Stap nader en toe ek hom optel toe begin ek sien die wurms het die ou dingetjie al begin beet kry hier agter sy regter beentjie. Onder sy stert en ander agterbeen was dit toe met die eiertjies dat hy nie eens sy beentjie behoorlik kon beweeg nie... en 'n reukie daarby vat ons hom toe huis toe terwyl ons vliee wegjaar.
Engelse sout, detol water 3 keer per dag is ons nou al n week later. Ek het vir hom F10 wond sprei gekry. Van gisterogged af is hy / sy op en wakker en het en van die vetplantjies begin eet en ook water gedrink.
Dit is n klein leopard tortoise en so 7cm lank. Ons hoop nou maar die wond het nie kwaai geword nie. Lyk of n stukkie van sy dop langs sy regs agter been weggekraak het en toe weggeskeur het tussen dop en lyf, en dit is waar die wurms ingedring het.
Hierdie skilpad het dit…
Hierdie skilpad het dit nooit gemaak nie en het binne 'n week gevrek.
Inmeng met die natuur
Ek dink dis menslik om diere wat seergekry het te wil help. Maar op die ou end is dit beter om die natuur sy gang te laat gaan. Toe ek in Botswana gebly het, sien ek eendag ‘n trop volstruise met ‘n span kuikens. Die een outjie is mank, en raak ver agter die res toe hulle weghardloop van my voertuig af. Ek klim uit en sien sy been is erg geswel. Die res van sy familie is toe al weg. Ek het hom kamp toe gevat en baie opgelees oor volstruise. Ek het elke dag vir hom ‘n glas vol stokkiesdraers (termiete) gevang, hulle in water verdrink en hom gevoer. Ook ‘n rou eier elke dag. Ek het hom Zibi gedoop, en versorg tot die swelsel gesak het en hy weer perdfris gelyk het. Smiddae het ek met hom gestap om die kamp en hy het fluks self gevreet.
Uiteindelik het ‘n dag aangebreek waarop ons nie gaste gehad het nie, en ek hom kon gaan vrylaat. Vroeg die oggend stop daar egter ‘n onaangekondigde voertuig (iets wat baie min gebeur het) en die polisie en natuurbewaring klim uit. Hulle vra wie bestuur die kamp en ek sê dis ek. Hulle sê hulle hoor ek smokkel met volstruise en ivoor. Een van die personeel het my duidelik gaan verkla, en die amptenare het ses ure lank gery van Kasane af om die klagte teen die leBuru te kom ondersoek. Ek wys toe die kuiken en verduidelik wat gebeur het en dat ek hom dieselfde dag wou gaan vrylaat. Die enigste ivoor wat ek gehad het, was ‘n stuk wat afgebreek het van ‘n bul se tand toe hy ‘n skermutseling gehad het met ‘n ander bul by die watergat voor ons eetkamer tent. Dit was in die geweerkluis toegesluit want ek het nog nie tyd gehad om dit vir die konsessiebestuurder te neem nie. Ons moes alle ivoor bymekaarmaak, die oorsprong opteken met die oorsaak van dood as dit van ‘n dooie olifant afkomstig was en die GPS koördinate van waar dit gevind is en dit aan natuurbewaring oorhandig.
Die polisie is toe weg na die konsessiebestuurder om my storie met hom te bevestig. Ek het hom gelukkig in kennis gestel van die kuiken en stuk tand, want hulle het die natuurbewaringsbeampte by my gelos om seker te maak ek radio nie die konsessiebestuurder om hom te vertel wat ek vir hulle vertel het nie. Terwyl ons wag vir hulle om terug te kom sê die beampte vir my; You know, you shouldn’t have picked up that chick. You should have let nature take its course. Ek sê toe vir hom dat ek besef dit was ‘n fout, en dat ek my lees geleer het. Toe die polisie terugkom het hulle saamgegaan om te kyk hoe ek Zibi vrylaat. Sy familie het aanhou weghardloop vir my, toe sit ek hom maar neer en hy begin dadelik vreet. Daardie aand het ‘n jakkals of rooikat hom seker gevang, nes hulle sou die dag toe ek hom opgetel het. En ek het amper onnodig in die tronk beland.
Ons het nou 'n nuwe enetjie…
Ons het nou 'n nuwe enetjie gekry. 'n Leopard Tortoise - (ons pas hom tydelik op
)
Die outjie is nou 'n maand oud. Hulle was tweetjies wat my swaer gekry het vol bosluise daar op die Lodge. Hy het hulle ingeneem en vir 'n rukkie in 'n slanghok en hulle reptielpark aangehou sodat hulle weer kan krag opbou.
Die outjie is oulik, baie taai so klein soos hulle is. Om te dink hulle broei uit en dan is hulle op hulle eie.
Hierso is 'n video van hom wat ontbyt eet.
Donker slaaiblaar. Hy loop…
Donker slaaiblaar. Hy loop oor die wortels en ander slaai en gaan direk vir hulle.





Skilpadjie
Siestog, ek hoop hy herstel heeltemal. Hou hom maar so lank moontlik by julle om seker te maak. Dit was seker vir die twee seuntjies mooi om te sien hoe die skilpadjie gesond gedokter word. Mooi storie!